“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”
“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel.”—PREDIKER 3:1, NW.
1. Watter probleem het onvolmaakte mense, en waartoe het dit in sommige gevalle gelei?
MENSE sê dikwels: “Ek moes dit eintlik vroeër gedoen het.” Of moontlik as hulle terugdink: “Ek moes liewer gewag het.” Sulke reaksies toon hoe moeilik dit vir onvolmaakte mense is om te bepaal wat die regte tyd is om sekere dinge te doen. Hierdie beperking het al veroorsaak dat verhoudings verbrokkel. Dit het tot teleurstelling en frustrasie gelei. En die ergste van alles is dat dit party mense se geloof in Jehovah en sy organisasie laat verswak het.
2, 3. (a) Waarom is dit verstandig om Jehovah se vasstelling van tye te aanvaar? (b) Watter gebalanseerde beskouing moet ons hê wat die vervulling van Bybelprofesieë betref?
2 Jehovah het die wysheid en insig wat mense nie het nie, en hy kan, as hy wil, vooruitsien wat die uiteinde van elke saak sal wees. Hy het die vermoë om ‘van die begin af te weet wat die einde’ sal wees (Jesaja 46:10). Gevolglik kan hy sonder om ’n fout te begaan die beste tyd kies om enigiets te doen wat hy wil. Ons sal dus verstandig wees as ons eerder Jehovah se vasstelling van tye aanvaar en nie ons onbetroubare gevoel van wat die regte tyd is nie!
3 Ryp Christene wag byvoorbeeld lojaal op Jehovah se vasgestelde tyd vir die vervulling van sekere Bybelprofesieë. Hulle bly besig in sy diens en hou te alle tye die beginsel in Klaagliedere 3:26 helder in gedagte: “Dit is goed om in stilheid te hoop [“wag”, NW] op die hulp van die HERE.” (Vergelyk Habakuk 3:16.) Terselfdertyd is hulle daarvan oortuig dat Jehovah se geopenbaarde voltrekking van oordeel ‘alte seker sal kom en nie sal versuim nie’, selfs “as dit mag vertoef”.—Habakuk 2:3.
4. Hoe behoort Amos 3:7 en Matteus 24:45 ons te help om geduldig op Jehovah te wag?
4 Maar beteken dit dat ons rede het om ongeduldig te raak as daar sekere Bybeltekste of verduidelikings in die Wagtoringpublikasies is wat ons nie heeltemal verstaan nie? Dit is verstandig om op Jehovah se vasgestelde tyd te wag om sake duideliker te maak. “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit [“vertroulike saak”, NW] aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). Wat ’n wonderlike belofte! Maar ons moet besef dat Jehovah sy vertroulike sake bekend maak op die tyd wat hy as gepas beskou. Om dié rede het God ’n “getroue en verstandige slaaf” aangestel om sy volk “hulle [geestelike] voedsel op die regte tyd te gee” (Matteus 24:45). Ons het dus geen rede om oorbesorg, of selfs angstig, daaroor te raak dat sekere sake nie ten volle verduidelik is nie. Ons kan eerder vol vertroue wees dat Jehovah, deur middel van die getroue slaaf, “op die regte tyd” sal voorsien wat nodig is, as ons geduldig op hom wag.
5. Hoe kan ons baat vind by ’n bespreking van Prediker 3:1-8?
5 Die wyse koning Salomo het van 28 verskillende dinge gepraat wat elkeen ’n “vasgestelde tyd” het (Prediker 3:1-8, vgl. NW). As ons verstaan wat Salomo se woorde beteken en watter implikasies dit het, sal dit ons help om te bepaal wat uit God se oogpunt die regte tyd en die verkeerde tyd vir sekere sake is (Hebreërs 5:14). Dit sal ons in staat stel om ons lewe daarvolgens te vorm.
“’n Tyd om te ween en ’n tyd om te lag”
6, 7. (a) Wat laat besorgde mense vandag “ween”? (b) Wat doen die wêreld om die ernstige situasie waarin dit verkeer minder ernstig te laat lyk?
6 Daar is “’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag” (Prediker 3:4). Maar wie verkies nie eerder om te lag as om te ween nie? Ongelukkig lewe ons in ’n wêreld wat ons hoofsaaklik rede gee om te ween. Ontstellende nuus is volop in die media. Ons word met afgryse vervul wanneer ons hoor van jongmense wat hulle medeleerlinge by die skool doodskiet, van ouers wat hulle kinders mishandel, van terroriste wat onskuldige slagoffers doodmaak of vermink en van sogenaamde natuurrampe wat mense se lewens en eiendom verwoes. Ons sien gereeld op televisie beeldmateriaal van honger, hol-oog kinders en ontwortelde vlugtelinge wat aan die rondtrek is. Uitdrukkings wat ons voorheen nie geken het nie, soos etniese suiwering, vigs, kiemoorlogvoering en El Niño, vervul deesdae ons harte en verstande met angs—elkeen op sy eie manier.
7 Dit ly geen twyfel nie, vandag se wêreld is vol tragedies en hartseer. Die vermaaklikheidsbedryf probeer egter om dit te laat lyk of die situasie nie so ernstig is nie, en daarom word oppervlakkige, onsmaaklike, dikwels onsedelike en gewelddadige aanbiedings gereeld vir mense opgedis, wat bedoel is om ons aandag af te trek van ander se lyding. Maar ’n mens moet nie die lughartige gees van lawwe skertsery en ligsinnige gelag wat deur sulke vermaak aangemoedig word met ware vreugde verwar nie. Die vreugde wat ’n vrug van God se gees is, is iets wat Satan se wêreld eenvoudig nie vir ons kan gee nie.—Galasiërs 5:22, 23; Efesiërs 5:3, 4.
8. Moet dit vandag vir Christene belangriker wees om te ween of om te lag? Verduidelik.
8 Wanneer ons besef in watter betreurenswaardige toestand die wêreld is, kan ons verstaan waarom dit vandag beslis nie die tyd is om plesier, oftewel gelag, een van die belangrikste dinge in ons lewe te maak nie. Dit is nie die tyd om net vir ontspanning en vermaak te lewe of toe te laat dat dit vir ons belangriker is om “pret te hê” as om geestelike dinge na te streef nie. (Vergelyk Prediker 7:2-4.) “Dié wat van die wêreld gebruik maak”, moet wees “soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie”, het die apostel Paulus gesê. Waarom? Want “die toneel van hierdie wêreld is aan die verander “ (1 Korintiërs 7:31). Ware Christene lewe elke dag met volle bewustheid van die erns van die tyd waarin ons lewe.—Filippense 4:8.
Waarlik gelukkig, al ween hulle!
9. Watter betreurenswaardige situasie het in die dae voor die Vloed bestaan, en wat beteken dit vir ons vandag?
9 Die mense wat in die tyd van die wêreldvloed gelewe het, het nie ’n ernstige beskouing van die lewe gehad nie. Hulle het met hulle daaglikse roetine voortgegaan en nie geween oor die “boosheid van die mens op die aarde” wat so oorvloedig was nie, maar het onverskillig gestaan teenoor die feit dat die ‘aarde vol geweld was’ (Genesis 6:5, 11). Jesus het na daardie betreurenswaardige toestand verwys en voorspel dat mense in ons tyd ’n soortgelyke gesindheid sou hê. Hy het gewaarsku: “Soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:38, 39.
10. Hoe het die Israeliete wat in die dae van Haggai gelewe het, getoon dat hulle nie waardering vir Jehovah se vasgestelde tyd gehad het nie?
10 Ongeveer 1 850 jaar ná die Vloed, in die dae van Haggai, het baie Israeliete ook nie geestelike sake in ’n ernstige lig beskou nie. Hulle was besig om persoonlike belange na te streef en het nie onderskei dat hulle in ’n tyd geleef het waarin hulle Jehovah se belange eerste moes stel nie. Ons lees: “Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie. So het die woord van die HERE dan gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê: Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het [“Rig julle hart op julle weë”, NW].”—Haggai 1:1-5.
11. Watter vrae kan ons ons gepas afvra?
11 As hedendaagse Getuies van Jehovah, met verantwoordelikhede en voorregte voor Jehovah soos dié van die Israeliete van Haggai se tyd, sal ons ook verstandig optree as ons ons hart op ons weë rig, en dit in alle erns doen. “Ween” ons oor wêreldtoestande en die smaad wat dit op God se naam bring? Ontstel dit ons wanneer mense nie God se bestaan erken nie of sy regverdige beginsels openlik ignoreer? Reageer ons soos die persone wat die teken ontvang het in ’n visioen wat Esegiël 2 500 jaar gelede gehad het? Ons lees van hulle: “Die HERE sê vir [die man met die skrywer se inkpot]: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.”—Esegiël 9:4.
12. Wat beteken Esegiël 9:5, 6 vir mense wat vandag leef?
12 Ons kom agter wat hierdie verslag beteken vir ons wat vandag leef wanneer ons die instruksies lees aan die ses manne wat wapens het om mee te verbrysel: “Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom” (Esegiël 9:5, 6). Ons behoud deur daardie vinnig naderende groot verdrukking hang daarvan af dat ons besef dat dit vandag hoofsaaklik ’n tyd is om te ween.
13, 14. (a) Watter soort mense is deur Jesus gelukkig verklaar? (b) Verduidelik waarom jy dink dat Jehovah se Getuies goed aan hierdie beskrywing beantwoord.
13 Maar die feit dat Jehovah se knegte oor die benarde toestand van die wêreld “ween”, beteken nie dat hulle ongelukkig is nie! Inteendeel! Hulle is in werklikheid die gelukkigste groep mense op aarde. Jesus het die maatstaf vir geluk voorsien toe hy gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, . . . dié wat treur, . . . die saggeaardes, . . . dié wat honger en dors na regverdigheid, . . . die barmhartiges, . . . dié wat suiwer van hart is, . . . die vredeliewendes, . . . dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is” (Matteus 5:3-10). Daar is oorvloedige getuienis dat Jehovah se Getuies as ’n groep, meer as enige ander godsdiensorganisasie, aan hierdie beskrywing beantwoord.
14 Dit is veral sedert die herstel van ware aanbidding in 1919 dat Jehovah se gelukkige volk rede het om te “lag”. Hulle het in geestelike sin dieselfde opwindende ondervinding gehad as diegene wat in die sesde eeu v.G.J. uit Babilon teruggekeer het: “Toe die HERE die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel . . . Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!” (Psalm 126:1-3). Maar selfs te midde van geestelike gelag hou Jehovah se Getuies wyslik die erns van die tyd in gedagte. Eers wanneer die nuwe wêreld ’n werklikheid word en die aarde se bewoners “’n stewige houvas op die werklike lewe” kry, sal die tyd aangebreek het vir geween om vir ewig vervang te word deur gelag.—1 Timoteus 6:19; Openbaring 21:3, 4.
“’n Tyd om te omhels en ’n tyd om ver te wees van omhelsing”
15. Waarom is Christene selektief in hulle keuse van vriende?
15 Christene is selektief wat hulle keuse betref van mense wat hulle as vriende omhels. Hulle hou Paulus se waarskuwing in gedagte: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). En die wyse koning Salomo het gesê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.”—Spreuke 13:20.
16, 17. Hoe beskou Jehovah se Getuies vriendskap, hofmakery en die huwelik, en waarom?
16 Knegte van Jehovah kies as hulle vriende mense wat hulle liefde vir Jehovah en sy regverdigheid deel. Hulle waardeer en geniet die geselskap van hulle vriende, maar vermy wyslik die permissiewe, uiters liberale beskouing van hofmakery wat vandag algemeen in party lande is. Vir hulle is hofmakery nie onskuldige pret nie, maar hulle beskou dit as ’n ernstige stap wat die huwelik voorafgaan en slegs geneem moet word wanneer ’n mens fisies, verstandelik en geestelik gereed—sowel as skriftuurlik vry—is om ’n blywende verbintenis aan te gaan.—1 Korintiërs 7:36.
17 Party meen dalk dat dit outyds is om so ’n beskouing van hofmakery en die huwelik te hê. Maar Jehovah se Getuies laat nie toe dat portuurdwang hulle keuse van vriende of hulle besluite aangaande hofmakery en die huwelik beïnvloed nie. Hulle weet dat “die wysheid deur sy werke geregverdig” word (Matteus 11:19). Jehovah weet altyd wat die beste is, en daarom neem hulle sy raad om “net in die Here” te trou ernstig op (1 Korintiërs 7:39; 2 Korintiërs 6:14). Hulle begewe hulle nie oorhaastig in ’n huwelik terwyl hulle verkeerdelik redeneer dat dit aanvaarbaar is om later ’n egskeiding te kry of uitmekaar te gaan as die verhouding nie slaag nie. Hulle soek tydsaam na ’n geskikte huweliksmaat, in die besef dat, sodra hulle die huweliksgeloftes afgelê het, Jehovah se wet van toepassing is: “Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matteus 19:6; Markus 10:9.
18. Wat kan as ’n goeie grondslag vir ’n gelukkige huwelik dien?
18 Die huwelik is ’n lewenslange verbintenis wat sorgvuldig beplan moet word. ’n Man sal hom logieserwys afvra: ‘Is sy werklik die regte persoon vir my?’ Maar dit is vir hom net so belangrik om te vra: ‘Is ek werklik die regte persoon vir haar? Is ek ’n ryp Christen wat na haar geestelike behoeftes kan omsien?’ Albei voornemende huweliksmaats het voor Jehovah ’n verpligting om geestelik sterk te wees, in staat om ’n stewige huweliksband te vorm wat God se goedkeuring wegdra. Duisende Christenegpare kan daarvan getuig dat die voltydse bediening, wat die klem daarop plaas om te gee eerder as om te ontvang, ’n uitstekende grondslag vir ’n gelukkige huwelik is.
19. Waarom bly party Christene ongetroud?
19 Party Christene bly ‘ver van omhelsing’ deur te kies om ongetroud te bly ter wille van die goeie nuus (Prediker 3:5). Ander besluit om te wag en eers aan trou te dink wanneer hulle voel dat hulle geestelik bekwaam is sodat die regte huweliksmaat in hulle sal belangstel. Ons moet egter ook daardie ongetroude Christene in gedagte hou wat graag die intiemheid en voordele van die huwelik wil geniet, maar nie ’n huweliksmaat kan vind nie. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah verheug is omdat hulle weier om Goddelike beginsels prys te gee terwyl hulle wag vir iemand om mee te trou. Dit sal ook goed wees as ons hulle lojaliteit waardeer en hulle die nodige ondersteuning gee wat hulle verdien.
20. Waarom moet selfs huweliksmaats soms ‘ver wees van omhelsing’?
20 Moet selfs getroude paartjies soms ‘ver wees van omhelsing’? Blykbaar in sekere sin, want Paulus het gesê: “Ek [sê] dít, broers: die oorblywende tyd is kort. Laat dié wat vrouens het van nou af wees asof hulle nie het nie” (1 Korintiërs 7:29). Dit beteken dat die vreugdes en seëninge van die huwelik soms op die agtergrond geskuif moet word ter wille van teokratiese verantwoordelikhede. ’n Gebalanseerde beskouing van hierdie saak sal nie ’n huwelik verswak nie, maar dit versterk omdat dit albei huweliksmaats help om te onthou dat Jehovah altyd die sentrale figuur in hulle verhouding moet wees wat stabiliteit daaraan verleen.—Prediker 4:12.
21. Waarom moet ons nie egpare oordeel wanneer dit by die kwessie van ouerskap kom nie?
21 Party egpare het boonop besluit om nie kinders te hê nie sodat hulle meer tyd het om hulle diens aan God te verrig. Dit is vir hulle ’n opoffering, en Jehovah sal hulle dienooreenkomstig beloon. Terloops, hoewel die Bybel persone aanmoedig om ongetroud te bly ter wille van die goeie nuus, lewer dit nie direk kommentaar oor die feit dat ’n mens om dieselfde rede kinderloos moet bly nie. (Matteus 19:10-12; 1 Korintiërs 7:38; vergelyk Matteus 24:19 en Lukas 23:28-30.) Egpare moet dus hulle eie besluit neem op grond van hulle persoonlike omstandighede en in ooreenstemming met hulle eie gewete. Wat daardie besluit ook al mag wees, egpare moet nie gekritiseer word nie.
22. Wat is vir ons belangrik om te bepaal?
22 “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel”. Daar is selfs “’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede” (Prediker 3:1, 8, NW). Die volgende artikel sal verduidelik waarom dit vir ons belangrik is om te bepaal vir watter een van die twee dit nou die tyd is.
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom is dit vir ons noodsaaklik om te weet dat daar ‘vir alles ’n vasgestelde tyd’ is?
◻ Waarom is dit vandag hoofsaaklik “’n tyd om te ween”?
◻ Waarom is Christene werklik gelukkig, al “ween” hulle?
◻ Hoe toon party Christene dat hulle ons tyd beskou as “’n tyd om ver te wees van omhelsing”?
[Prente op bladsy 6, 7]
Hoewel Christene “ween” as gevolg van die wêreldtoestande . . .
. . . is hulle in werklikheid die gelukkigste mense in die wêreld
[Prent op bladsy 8]
Die voltydse bediening is ’n uitstekende grondslag vir ’n gelukkige huwelik