Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 10/15 bl. 4-7
  • Hoe kan die soeke na ’n langer lewe suksesvol wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan die soeke na ’n langer lewe suksesvol wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hormoonterapie en genetika—redes vir hoop?
  • Het nanotegnologie en krionika die oplossing?
  • Waarop moet ons vertrou?
  • Die grondoorsaak van veroudering en die dood
  • Die ware hoop
  • Ewige lewe op ’n paradysaarde
  • Die soeke na die “onsterflikheidsgeen”
    Ontwaak!—2000
  • Waarom word ons oud?
    Ontwaak!—2006
  • Die soeke na ’n lang lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2019
  • Waarom word ons oud en gaan ons dood?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 10/15 bl. 4-7

Hoe kan die soeke na ’n langer lewe suksesvol wees?

PARTY koester die hoop dat daar in die nuwe millennium ’n deurbraak sal wees in die mens se pogings om die lewe te verleng. Dr. Ronald Klatz is een van hulle. Hy is die president van die Amerikaanse Akademie van Anti-Verouderingsgeneeskunde, ’n organisasie van geneeskundiges en wetenskaplikes wat hulle daarop toespits om die mens se lewensduur te verleng. Hy en sy kollegas beplan om baie lank te lewe. “Ek verwag om ten minste 130 jaar te lewe”, sê dr. Klatz. “Ons glo dat veroudering nie onvermydelik is nie. Ons beskik nou oor die tegnologie om fisiese agteruitgang en siekte, wat tans natuurlike veroudering genoem word, te vertraag, stop te sit en om moontlik selfs ’n aansienlike ommekeer daarin teweeg te bring.” Dr. Klatz self drink elke dag omtrent 60 pille in ’n poging om langer te lewe.

Hormoonterapie en genetika—redes vir hoop?

Hormoonterapie is een gebied wat hoop laat ontstaan. Eksperimente met die hormoon wat as DHEA bekend staan, vertraag blykbaar die verouderingsproses in laboratoriumdiere.

Die Sweedse dagblad Aftonbladet het dr. Suresh Rattan, ’n professor aan die Universiteit van Aarhus, Denemarke, aangehaal wat aangaande die planthormoon kinetien gesê het: “Toetse in ons laboratorium toon dat selle van die mens se vel wat in kinetien gekweek is nie op die normale manier verouder nie. Hulle bly regdeur hulle lewe jonk.” Insekte wat met die hormoon behandel is, lewe na bewering van 30 tot 45 persent langer as gewoonlik.

Melatonienbehandeling het die lewensduur van muise na bewering met tot 25 persent verleng. Daarbenewens het die muise jonger, gesonder en sterker voorgekom.

Voorstanders van die menslike groeihormoon (mGH) beweer dat dit bydra tot ’n pragtige vel, groter spiermassa, ’n verhoogde geslagsdrang, ’n opgewekter luim, ’n skerper verstand en die metabolisme van ’n tiener.

Baie maak ook staat op genetika. Wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat hulle deur middel van geenmanipulering die lewensduur van ’n nematode, oftewel rondewurm, kan beheer. Trouens, hulle het daarin geslaag om party van hulle ses keer langer as hulle normale lewensduur aan die lewe te hou. Dit het verwagtinge gewek dat hulle soortgelyke gene in mense kan vind en manipuleer. Die tydskrif Time het dr. Siegfried Hekimi van McGill-universiteit, Montreal, se woorde aangehaal: “As ons al die hormone vind wat die menslike lewensduur bepaal, kan ons hulle dalk net ’n bietjie vertraag en sodoende die lewe verleng.”

Bioloë weet al lank dat einddele van chromosome, wat telomere genoem word, verkort word elke keer wanneer die sel voortplant. Wanneer die telomere ongeveer 20 persent van hulle lengte verloor, word die sel se vermoë om voort te plant beëindig en gaan die sel dood. ’n Spesifieke ensiem wat telomerase genoem word, kan die telomere tot hulle volle lengte herstel en die sel dus in staat stel om aan te hou verdeel. In die meeste selle word hierdie ensiem onderdruk en is dit onaktief, maar aktiewe telomerase is al met welslae in sekere selle ingeplant, wat dit veel meer as die normale aantal kere laat groei en verdeel.

Volgens navorsers skep dit sensasionele moontlikhede in die stryd teen siektes wat met veroudering verband hou. Wat van die vervanging van die liggaam se stamselle (selle wat sorg dat liggaamsweefsel hernieu word) met stamselle wat met aktiewe telomerase “onsterflik gemaak is”? Dr. William A. Haseltine sê: “Dit is ’n visie van menslike onsterflikheid wat duidelik beskryf is en gedurende die volgende 50 jaar stadigaan sal posvat.”—The New York Times.

Het nanotegnologie en krionika die oplossing?

Nanotegnologie, die wetenskap van manipulering op ’n vlak van nanometers (een miljardste van ’n meter), laat ook hoop ontstaan. Diegene wat daardie veld bestudeer, beweer dat gerekenariseerde masjientjies, wat baie kleiner is as selle, dalk in die toekoms gebruik sal word om verouderende selle, weefsel en organe op ’n molekulêre vlak te herstel en te hernieu. By ’n anti-verouderingskonferensie het een navorser gesê dat 21ste-eeuse geneeskundiges moontlik nanotegnologie sal gebruik om die mens in staat te stel om fisies onsterflik te word.

Krionika is die gebruik om menseliggame te vries in die hoop dat die wetenskap dooie selle sal kan laat herleef en sodoende mense weer kan laat lewe. Die hele liggaam, of net die brein, kan gevries word. Een man het selfs ’n laken laat vries. Waarom ’n laken? Dit het aan ’n vermiste vriend behoort en daar was ’n paar velselle en hare daarop. Hy wou dit laat vries sodat sy vriend die kans sou hê om weer te lewe as die wetenskap die punt bereik waar hulle mense uit net ’n paar of selfs een van hulle selle kon herskep.

Waarop moet ons vertrou?

Die mens het ’n natuurlike begeerte om te lewe, nie om te sterf nie. Daarom word wetenskaplike vooruitgang op hierdie gebied geredelik verwelkom en gaan dit met hoë verwagtinge gepaard. Maar tot dusver is daar geen konkrete bewyse dat DHEA, kinetien, melatonien, mGH of enige ander middel veroudering in mense werklik kan vertraag nie. Skeptici vrees dat die manipulering van die telomerase in selle niks anders sal doen as om potensiële kankerselle voort te bring nie. En die gebruik van nanotegnologie en krionika is nog steeds meer wetenskapsfiksie as werklikheid.

Die wetenskap het bygedra tot, en sal dalk nog bydra tot, ’n langer en gesonder lewe vir party, maar dit sal nooit vir enigiemand die ewige lewe gee nie. Waarom nie? Kortom, dit is omdat die grondoorsaak van veroudering en die dood buite die gebied van die menslike wetenskap lê.

Die grondoorsaak van veroudering en die dood

Die meeste wetenskaplikes is dit eens dat veroudering en die dood blykbaar op die een of ander manier in ons gene geprogrammeer is. Die vraag is: Wanneer, hoe en waarom het dit as ’t ware ons genetiese kode binnegedring?

Die Bybel gee ons die eenvoudige antwoord—al word dit nie in terme van die genetika of DNS gegee nie. Romeine 5:12 sê: “Daarom, net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde, en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”

Die eerste mens, Adam, het die vooruitsig gehad om vir ewig te lewe. Sy liggaam was ontwerp met die nodige vermoëns om te lewe en ewige lewe te geniet. Maar ewige lewe was voorwaardelik. Adam moes met die Bron van lewe, sy Skepper, saamwerk en aan hom gehoorsaam wees sodat hy eindelose lewe kon geniet.—Genesis 1:31; 2:15-17.

Adam het gekies om ongehoorsaam te wees aan die Skepper. Adam het as ’t ware beweer dat die mens beter daaraan toe is as hy, onafhanklik van God, oor homself regeer. Hy het dus gesondig. Van daardie tyd af aan was dit asof sy genetiese kode verander is. Pleks dat Adam die ewige lewe aan sy nageslag oorgedra het, het hy sonde en die dood oorgedra.—Genesis 3:6, 19; Romeine 6:23.

Die ware hoop

Daardie situasie sou egter nie permanent wees nie. Romeine 8:20 sê: “Die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop.” Die mens se Skepper, Jehovah God, het die mens aan die dood onderwerp omdat hulle teen hom gesondig het, maar nadat hy dit gedoen het, het hy ook ’n grondslag vir hoop voorsien.

Hierdie grondslag is duidelik geïdentifiseer toe Jesus Christus aarde toe gekom het. Johannes 3:16 sê: “Want God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Maar hoe kan dit ons van die dood red as ons geloof in Jesus Christus beoefen?

As sonde die oorsaak van die dood is, moet sonde verwyder word voordat die dood uit die weg geruim kan word. Vroeg in Jesus se bediening as die Christus het Johannes die Doper gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29). Jesus Christus was heeltemal sonder sonde. Hy was dus nie aan die dood, wat die straf vir die sonde is, onderworpe nie. Hy het nietemin toegelaat dat ander hom doodmaak. Waarom? Omdat hy sodoende die prys vir ons sondes betaal het.—Matteus 20:28; 1 Petrus 3:18.

Toe daardie prys betaal is, het dit vir almal wat geloof in Jesus beoefen moontlik geword om te lewe sonder om ooit te sterf. Die wetenskap dra dalk daartoe by dat ons lewe in baie beperkte mate verleng word, maar om geloof in Jesus te beoefen, is die werklike weg na die ewige lewe. Jesus het hierdie lewe in die hemel verkry, en sy getroue apostels en party ander sal ook. Maar vir die meeste van ons wat geloof in Jesus beoefen, sal die ewige lewe op die aarde wees, wanneer Jehovah God die aardse Paradys herstel het.—Jesaja 25:8; 1 Korintiërs 15:48, 49; 2 Korintiërs 5:1.

Ewige lewe op ’n paradysaarde

Een man het gevra: “Hoeveel mense sal die lewe waardeer wanneer hulle nie meer hoef te sterf nie?” Sal eindelose lewe vervelig wees? Die Bybel verseker ons dat dit nie die geval sal wees nie. “Alles het hy mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het van begin tot einde kan uitvind nie” (Prediker 3:11, NW). Jehovah God se skepping is so ryk en kompleks dat dit ons altyd sal fassineer, ons aandag sal boei en ons gelukkig sal maak solank as wat ons lewe—selfs vir ewig.

’n Man wat ’n voël bestudeer het wat die Siberiese gaai genoem word, het hom “’n buitengewone, bekoorlike voëltjie” genoem en gesê dat dit vir hom een van die aangenaamste lewensondervindinge was om hierdie voël dop te hou. Hoe meer hy die voël bestudeer het, hoe meer is hy gefassineer. Hy het gesê dat sy studie, selfs ná 18 jaar, nog lank nie klaar is nie. As een voëlsoort ’n intelligente man gedurende ’n 18 jaar lange intense studie kan fassineer, sy aandag kan boei en hom gelukkig hou, dink net watter potensiaal vir vreugde en bevrediging daar moet wees om die hele aardse skepping te bestudeer.

Dink aan al die interessante aspekte van die natuurwetenskappe wat iemand wat nie deur tyd beperk word nie, sal ontdek. Stel jou al die fassinerende plekke voor wat ’n mens sal kan verken en al die interessante mense wat ’n mens sal kan ontmoet. Probeer begryp watter eindelose moontlikhede daar is om dinge uit te dink, te skep en te bou. Daar sal geen perke wees aan die geleenthede om ons skeppingsvermoë te ontwikkel en te gebruik nie. Wanneer ons aan die groot verskeidenheid in die skepping dink, is dit duidelik dat net ’n ewigheid genoeg sal wees om al die moontlikhede van die lewe te verken.

Die Bybel toon dat diegene wat dood is deur middel van ’n opstanding ook vir ewig sal kan lewe (Johannes 5:28, 29). Baie van die raaisels van die geskiedenis sal moontlik vir ons opgelos word wanneer diegene wat destyds gelewe het vir ons die besonderhede daarvan kan gee en ons vrae kan beantwoord. Dink net aan al die insig in verskillende tydperke in die geskiedenis wat verresenes ons sal gee.—Handelinge 24:15.

Wanneer ’n mens oor daardie tyd nadink, kan jy insien waarom die verrese Job moontlik die stelling in Job 14:1 sal wil verander. Miskien sal hy eerder wil sê: ‘Die mens uit ’n vrou gebore, lewe nou vir ewig en geniet volkome tevredenheid.’

Vir diegene wat op Jehovah vertrou en geloof in Jesus beoefen, is dit nie net ’n ontwykende droom om ons lewe verder as die grense van tyd te verleng nie. Dit sal binnekort ’n werklikheid word. Veroudering en die dood sal tot ’n einde kom. Dit is in ooreenstemming met Psalm 68:20 (NW) wat sê: “Aan Jehovah, die Soewereine Heer, behoort die weë wat uit die dood lei.”—Openbaring 21:3, 4.

[Prente op bladsy 4, 5]

Die vooruitgang van die wetenskap het verwagtinge gewek aangaande die moontlikheid om baie langer te lewe

[Prent op bladsy 7]

Net ’n ewigheid sal genoeg wees om al die moontlikhede wat die lewe bied te verken

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel