Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/06 bl. 4-6
  • Waarom word ons oud?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom word ons oud?
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is veroudering vooraf geprogrammeer?
  • Is daar ’n middel teen veroudering?
  • Navorsing lei tot ’n uiters belangrike gevolgtrekking
  • Kan jy veroudering vermy?
    Ontwaak!—2006
  • Ontwerp om vir ewig te lewe
    Ontwaak!—1995
  • Die soeke na die “onsterflikheidsgeen”
    Ontwaak!—2000
  • Die wêreld word gryser
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 5/06 bl. 4-6

Waarom word ons oud?

“Die mens, uit ’n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus.”—JOB 14:1, DIE BYBEL, 1983.

JY MEEN dalk dat alle lewende dinge uiteindelik afslyt. Motors en stofsuiers wat daagliks gebruik word, sal uiteindelik ophou werk. Dit is maklik om te veronderstel dat diere op soortgelyke wyse oud word en sterf. Maar Steven Austad, professor van soölogie, verduidelik: “Lewende organismes is baie anders as masjiene. Trouens, die mees unieke kenmerk van lewende organismes is waarskynlik hulle vermoë om hulleself te herstel.”

Die manier waarop jou liggaam ná ’n besering herstel, is ’n wonderwerk, maar die herstelwerk wat dit op ’n gereelde grondslag doen, is in sekere opsigte selfs merkwaardiger. Dink byvoorbeeld aan jou gebeente. “Hoewel dit oënskynlik leweloos is wanneer dit van buite af beskou word, is been in werklikheid lewende weefsel wat tydens die volwasse jare voortdurend afgebreek en weer opgebou word”, verduidelik die tydskrif Scientific American. “Deur hierdie heropbouing word feitlik die hele skelet elke 10 jaar vervang.” Ander liggaamsdele word meer dikwels hernieu. Party selle in jou vel, lewer en ingewande kan byna daagliks vervang word. Jou liggaam vervaardig elke sekonde sowat 25 miljoen nuwe selle om oues te vervang. As dit nie so was nie en al die dele van jou liggaam nie voortdurend herstel of vervang is nie, sou jy al tydens jou kinderjare verouder het.

Die feit dat ons nie afslyt nie, was selfs merkwaardiger toe bioloë die molekules binne-in lewende selle begin bestudeer het. Wanneer jou selle vervang word, moet elke nuwe sel ’n kopie van jou DNS hê, die molekule wat baie van die nodige inligting bevat om jou hele liggaam te kan herbou. Stel jou voor hoeveel keer DNS al gekopieer is, nie net gedurende jou leeftyd in jou eie liggaam nie, maar sedert menselewe begin het! Om te verstaan hoe wonderlik dit is, kan jy dink aan wat sou gebeur as jy ’n fotokopieerder gebruik om ’n dokument te kopieer en dan die kopie gebruik om die volgende kopie te maak. As jy dit herhaaldelik sou doen, sou die gehalte van die kopieë agteruitgaan en uiteindelik onleesbaar word. Gelukkig verswak die gehalte van ons DNS nie wanneer ons selle aanhoudend verdeel nie. Waarom nie? Omdat ons selle oor baie maniere beskik om DNS-kopiefoute reg te stel. As dit nie die geval was nie, sou die mensdom al lank terug net ’n hoop stof gewees het!

Omdat al die dele van ons liggaam—van die vernaamste strukture tot die kleinste molekules—voortdurend vervang of herstel word, is slytasie nie ’n bevredigende verklaring vir veroudering nie. Die liggaam se menigte stelsels herstel of vervang hulleself dekades lank, elkeen op sy eie manier en teen sy eie pas. Waarom begin al hierdie stelsels dan op ongeveer dieselfde tyd ophou werk?

Is veroudering vooraf geprogrammeer?

Waarom lewe ’n huiskat 20 jaar lank, terwyl ’n buidelrot van soortgelyke grootte slegs 3 jaar lank lewe?a Waarom kan ’n vlermuis 20 of 30 jaar lank lewe, maar ’n muis slegs 3 jaar? Waarom kan ’n reuseskilpad 150 jaar lank lewe, maar ’n olifant slegs 70 jaar? Faktore soos dieet, liggaamsgewig, breingrootte of lewenstempo verklaar nie sulke groot verskille in lewensduur nie. Die Encyclopædia Britannica sê: “In die kode van die genetiese materiaal lê instruksies opgesluit wat die hoogste moontlike ouderdom vir ’n betrokke spesie bepaal.” Die maksimum lewensduur is in die gene opgeskryf. Maar wat veroorsaak dat al die liggaamsfunksies geleidelik ophou werk namate die einde van daardie lewensduur nader kom?

Molekulêre bioloog dr. John Medina skryf: “Dit wil voorkom of daar raaiselagtige seine is wat op sekere tye eenvoudig verskyn en selle aansê om hulle normale volwasse funksies te staak.” Hy maak ook hierdie opmerking: “Daar is gene wat selle, en in werklikheid hele organismes, kan aansê om oud te word en te sterf.”

Ons liggaam kan vergelyk word met ’n maatskappy wat al dekades lank suksesvol besigheid doen. Skielik hou die bestuurders op om nuwe personeel aan te stel en op te lei, om die masjiene te herstel en te vervang en om die geboue te onderhou en te herbou. Die besigheid sal gou begin agteruitgaan. Maar waarom het al daardie bestuurders hulle suksesvolle beleid verander? Bioloë wat veroudering bestudeer, kom voor ’n soortgelyke vraag te staan. Die boek The Clock of Ages sê: “Een van die groot raaisels in die navorsing oor veroudering is om te probeer verstaan waarom selle ophou repliseer en begin doodgaan.”

Is daar ’n middel teen veroudering?

Veroudering is al “die kompleksste van alle biologiese probleme” genoem. Ná dekades van inspanning het wetenskaplike navorsing nog steeds nie die oorsaak van veroudering onthul nie en nog minder met ’n oplossing daarvoor vorendag gekom. In 2004 het die tydskrif Scientific American ’n waarskuwing gepubliseer wat uitgereik is deur 51 wetenskaplikes wat veroudering bestudeer. Dit het gesê: “Geen middel wat tans bemark word—nie ’n enkele een nie—was tot dusver in staat om menslike veroudering te vertraag, stop te sit of om te keer nie.” Hoewel ’n gebalanseerde dieet en oefening jou gesondheid kan verbeter en die risiko van ’n vroeë dood as gevolg van siekte kan verlaag, is daar nog niks gevind wat veroudering kan vertraag nie. Hierdie gevolgtrekkings herinner ons aan die woorde van Jesus wat in die Bybel gevind word: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?”—Matteus 6:27.

Medina som die vooruitgang op wat tot dusver gemaak is in die soeke na ’n middel teen veroudering: “Ons weet nie werklik waarom ons in die eerste plek oud word nie. . . . Ons het dekades gelede oorlog teen kanker verklaar, maar ons het nog steeds nie ’n geneesmiddel daarvoor gevind nie. En die verouderingsproses is oneindig meer kompleks as die onderliggende meganismes van kanker.”

Navorsing lei tot ’n uiters belangrike gevolgtrekking

Navorsing oor hoe lewende dinge werk en waarom hulle oud word, het nie alle hoop op ’n langer lewe vernietig nie. Party het gevind dat hulle navorsing hulle dwing om tot ’n gevolgtrekking te kom wat uiters belangrik is om veroudering te verstaan. Molekulêre biochemikus Michael Behe skryf: “Oor die afgelope vier dekades het moderne biochemie die geheime van die sel ontrafel. . . . Die resultaat van hierdie kumulatiewe pogings om die sel te ondersoek—om lewe op molekulêre vlak te ondersoek—is ’n harde, duidelike, deurdringende uitroep ten gunste van ‘ontwerp!’” Iemand het lewende dinge op ’n intelligente wyse ontwerp. Behe is natuurlik nie die eerste om tot daardie gevolgtrekking te kom nie. Nadat ’n eertydse psalmis oor die samestelling van die menseliggaam gepeins het, het hy geskryf: “Ek [is] op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak.”—Psalm 139:14.

As alle lewende dinge dus ontwerp is, ontstaan ’n interessante vraag: Het God, die Groot Ontwerper, die mensdom geskep met ’n lewensduur wat omtrent dieselfde is as dié van baie diere, of wil hy hê dat ons langer as diere moet lewe?

[Voetnoot]

a Die gewone buidelrot is ’n buideldier wat in Noord-Amerika gevind word.

[Lokteks op bladsy 6]

‘Ons is wonderbaar gemaak’

[Prent op bladsy 4, 5]

Word veroudering deur slytasie veroorsaak?

[Foto-erkenning op bladsy 6]

DNS: Photo: www.comstock.com

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel