Hulle het Jehovah se wil gedoen
’n Vrywillige bydrae om rein aanbidding te bevorder
DIE Israeliete was ooggetuies van Jehovah se reddende krag. Hulle het gesien hoe die water van die Rooi See wonderdadig in twee verdeel word, sodat hulle op droë grond kon deurgaan en van die Egiptiese leër gered kon word. Toe hulle aan die oorkant kom, het hulle van ’n veilige afstand af gekyk hoe daardie selfde water hulle agtervolgers verswelg. Jehovah het hulle lewe gered!—Exodus 14:21-31.
Maar ongelukkig het sommige Israeliete nie waardeer wat hulle God gedoen het nie. Terwyl Moses op die berg Sinai was, het hulle hulle goue juwele aan Aäron gegee en geëis dat hy vir hulle ’n afgod maak om te aanbid. Toe Moses terugkeer, was hierdie skare opstandelinge besig om te eet, te drink, te dans en voor ’n goue kalf neer te buig! Op bevel van Jehovah is sowat 3 000 doodgemaak—waarskynlik die voorbokke van die opstand. God se volk het op daardie dag ’n belangrike les geleer oor die noodsaaklikheid om uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee.—Exodus 32:1-6, 19-29.
Kort ná hierdie voorval het Moses voorbereidings getref om God se bevel uit te voer om ’n tabernakel, ’n vervoerbare tent van aanbidding, te bou. Vir hierdie bouprojek sou duur materiaal en bedrewe ambagsmanne nodig wees. Waar sou hulle die materiaal en mense kry? En wat kan ons uit hierdie Bybelverslag leer?
Materiaal en vaardighede word beskikbaar gestel
Jehovah het die Israeliete deur Moses beveel: “Samel uit julle midde ’n bydrae vir Jehovah in. Laat elkeen wat gewillig van hart is dit as ’n bydrae vir Jehovah bring.” Watter soort bydrae moes hulle bring? Van die dinge wat Moses genoem het, was goud, silwer, koper, gare, weefstof, velle, hout en edelstene.—Exodus 35:5-9, NW.
Die Israeliete het meer as genoeg materiële middele gehad om so ’n groot bydrae te gee. Onthou dat hulle goue en silwervoorwerpe asook baie kledingstukke saam met hulle geneem het toe hulle Egipte verlaat het. Trouens, “hulle het die Egiptenaars gestroop”a (Exodus 12:35, 36, NW). Vroeër het die Israeliete hulle juwele gewillig gegee om ’n afgod vir valse aanbidding te maak. Sou hulle nou net so gewillig wees om ’n bydrae te gee om ware aanbidding te bevorder?
Let op dat Moses nie gesê het presies hoeveel elkeen moes gee nie, en hy het hulle ook nie skuldig of skaam laat voel sodat hulle ’n bydrae sou gee nie. Hy het eerder bloot ’n beroep op elkeen gedoen wat “gewillig van hart” was. Moses het klaarblyklik nie gedink dat God se volk gedwing hoef te word nie. Hy was vol vertroue dat elkeen alles sou gee wat hy of sy kon gee.—Vergelyk 2 Korintiërs 8:10-12.
Maar daar sou meer as net materiaal vir die bouprojek bygedra moes word. Jehovah het ook vir die Israeliete gesê: “Laat al die wyses van hart onder julle kom en alles maak wat Jehovah beveel het.” Ja, bedrewe ambagsmanne was nodig vir hierdie bouprojek. Trouens, “elke soort vakmanskap”—insluitend skrynwerk, metaalwerk en juwelierswerk—sou nodig wees om hierdie projek te voltooi. Jehovah sou natuurlik die werkers rig, en hy sou tereg die eer ontvang vir die suksesvolle voltooiing van die projek.—Exodus 35:10, 30-35, NW; 36:1, 2.
Die Israeliete het goed gereageer op die uitnodiging om van hulle besittings sowel as hulle vaardighede te gee. Die Bybelverslag sê: “Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere; die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was.”—Exodus 35:21, 22.
’n Les vir ons
Vandag word die reusetaak om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig deur middel van vrywillige bydraes gedoen. Hierdie bydraes is dikwels in die vorm van geld. In ander gevalle gebruik Christenbroers en -susters hulle skat van ondervinding om Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite te bou. Dan is daar die werk wat in meer as honderd Bethelhuise regoor die wêreld gedoen word, werk wat talle uiteenlopende vaardighede vereis. Almal wat met ’n gewillige hart sulke bydraes gee, kan daarvan seker wees dat Jehovah nie hulle harde werk sal vergeet nie!—Hebreërs 6:10.
Dit geld ook vir die werk wat elkeen van ons in die Christelike bediening doen. Elkeen word aangespoor om tyd uit te koop sodat hy ’n ywerige deelname aan die predikingswerk kan hê (Matteus 24:14; Efesiërs 5:15-17). Party doen dit as voltydse evangeliedienaars, of pioniers. Weens omstandighede kan ander nie soveel tyd as ’n pionier in die bediening deurbring nie. Nietemin behaag hulle Jehovah ook. Soos met die bydraes wat vir die tabernakel gegee is, sê Jehovah nie presies hoeveel elkeen moet gee nie. Maar wat hy wel vereis, is dat elkeen van ons hom met ons hele hart, siel, verstand en krag dien (Markus 12:30). As ons dit doen, kan ons seker wees dat hy ons sal beloon vir die vrywillige bydraes wat ons gee om ware aanbidding te bevorder.—Hebreërs 11:6.
[Voetnoot]
a Dit was nie diefstal nie. Die Israeliete het die Egiptenaars vir bydraes gevra, en dit is vryelik gegee. Aangesien die Egiptenaars in elk geval geen reg gehad het om slawe van die Israeliete te maak nie, het hulle God se volk na regte lone geskuld vir die jare van dwangarbeid.