‘Maak vriende deur middel van die onregverdige rykdom’
“Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom . . . Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou.”—LUKAS 16:9, 10, NW.
1. Hoe het Moses en die kinders van Israel Jehovah geloof ná hulle verlossing uit Egipte?
GERED deur ’n wonderwerk—wat ’n geloofversterkende ondervinding is dit tog! Israel se uittog uit Egipte kon aan niemand anders as Jehovah, die Almagtige, toegeskryf word nie. Dit is geen wonder nie dat Moses en die Israeliete gesing het: “Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.”—Exodus 15:1, 2; Deuteronomium 29:2.
2. Wat het Jehovah se volk saam het hulle geneem toe hulle Egipte verlaat het?
2 Hoe het Israel se nuutgevonde vryheid tog van hulle situasie in Egipte verskil! Nou kon hulle Jehovah ongehinderd aanbid. En hulle het Egipte nie met leë hande verlaat nie. Moses vertel: “Die kinders van Israel . . . het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe” (Exodus 12:35, 36). Maar hoe het hulle hierdie rykdom van Egipte gebruik? Het dit daartoe gelei dat ‘Jehovah verhef is’? Wat kan ons uit hulle voorbeeld leer?—Vergelyk 1 Korinthiërs 10:11.
“’n Bydrae vir Jehovah”
3. Wat was Jehovah se reaksie op Israel se gebruik van goud in valse aanbidding?
3 Terwyl Moses 40 dae op die berg Sinai deurgebring het om God se voorskrifte vir die nasie Israel te ontvang, het die volk rusteloos geraak terwyl hulle daar onder gewag het. Hulle het hulle goue oorringe afgeruk en Aäron aangesê om ’n afgodsbeeld te maak wat hulle kon aanbid. Aäron het ook vir hulle ’n altaar gebou, en hulle het vroeg die volgende dag hulle offerandes daar gebring. Het hierdie gebruik van hulle goud hulle bemind gemaak by hulle Verlosser? Nouliks! “Laat My dan nou begaan”, het Jehovah vir Moses gesê, “dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer.” Dit was slegs omdat Moses Jehovah om genade gesmeek het, dat hy die nasie gespaar het, hoewel die rebelse voorbokke met ’n plaag van God getref is.—Exodus 32:1-6, 10-14, 30-35.
4. Wat was die “bydrae vir Jehovah”, en wie het dit geoffer?
4 Later het Israel die geleentheid gehad om die rykdom wat hulle gehad het op ’n manier te gebruik wat Jehovah wel behaag het. Hulle het “’n bydrae vir Jehovah” ingesamel.a Goud, silwer, koper, blou draad, verskillende gekleurde weefstowwe, ramsvelle, robbevelle en akasiahout was van die bydraes wat vir die oprigting en versiering van die tabernakel gebring is. Die verslag vestig ons aandag op die gesindheid van diegene wat bygedra het. “Laat elkeen met ’n gewillige hart dit as ’n bydrae vir Jehovah bring” (Exodus 32:5-9, vgl. NW). Israel het oorweldigend hierop gereageer. Gevolglik was die tabernakel volgens een geleerde ’n struktuur van “skoonheid en verhewe grootsheid”.
Bydraes vir die tempel
5, 6. Hoe het Dawid sy rykdom in verband met die tempel gebruik, en hoe het ander gereageer?
5 Hoewel die oprigting van ’n permanente huis vir die aanbidding van Jehovah onder koning Salomo van Israel se leiding geskied het, het Dawid, sy vader, omvattende voorbereidsels daarvoor getref. Dawid het ’n groot hoeveelheid goud, silwer, koper, yster, hout en edelgesteentes versamel. “Omdat ek behae het in die huis van my God”, het Dawid vir sy volk gesê, “besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het: drieduisend talente goud . . . en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek.” Dawid het ander aangemoedig om ook vrygewig te wees. Daar is oorvloedig bygedra: nog goud, silwer, koper, yster en edelgesteentes. “Met ’n volkome hart” het die volk “vrywillig aan die HERE gegee”.—1 Kronieke 22:5; 29:1-9.
6 Deur hierdie vrywillige bydraes het die Israeliete diepe waardering vir Jehovah se aanbidding getoon. Dawid het nederig gebid: “Wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk?” Waarom? “Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee. . . . Ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee.”—1 Kronieke 29:14, 17.
7. Watter waarskuwende les leer ons uit Amos se dag?
7 Tog het die stamme van Israel nie aangehou om die aanbidding van Jehovah eerste in hulle verstand en hart te stel nie. Teen die negende eeu v.G.J. het ’n verdeelde Israel hulle aan geestelike verwaarlosing skuldig gemaak. Jehovah het deur Amos aangaande die noordelike tienstammeryk van Israel gesê: “Wee die gerustes in Sion en die sorgelose op die berg van Samaria”! Hy het hulle beskryf as manne “wat op bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke en die lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet . . . wat uit offerkomme wyn drink”. Maar hulle weelde was nie ’n beskerming nie. God het gewaarsku: “Daarom sal hulle nou op die voorpunt van die ballinge in ballingskap gaan, en daar sal ’n end kom aan die rumoerige gejubel van die leeglêers.” In 740 v.G.J. het Israel onder die Assiriërs gely (Amos 6:1, 4, 6, 7). Mettertyd het die suidelike koninkryk van Juda ook die slagoffer van materialisme geword.—Jeremia 5:26-29.
Behoorlike gebruik van materiële middele in Christelike tye
8. Watter goeie voorbeeld het Josef en Maria gestel met betrekking tot die gebruik van materiële middele?
8 In teenstelling hiermee het die betreklik arm toestand van God se knegte in latere tye hulle nie daarvan weerhou om ywer vir ware aanbidding te toon nie. Neem die voorbeeld van Maria en Josef. In gehoorsaamheid aan keiser Augustus se bevel, het hulle na hulle familie se tuisdorp, Betlehem, gereis (Lukas 2:4, 5). Daar is Jesus gebore. Veertig dae later het Josef en Maria die tempel in nabygeleë Jerusalem besoek om die voorgeskrewe reinigingsofferande te bring. Die feit dat Maria twee voëltjies geoffer het, is ’n aanduiding dat hulle materieël min gehad het. Nie sy of Josef het hulle armoede as ’n verskoning gebruik nie. Hulle het eerder hulle beperkte materiële middele gehoorsaam gebruik.—Levitikus 12:8; Lukas 2:22-24.
9-11. (a) Watter riglyn voorsien Jesus se woorde in Mattheüs 22:21 met betrekking tot hoe ons ons geld gebruik? (b) Waarom was die weduwee se klein bydrae nie nutteloos nie?
9 Later het die Fariseërs en partyaanhangers van Herodus Jesus probeer uitvang en gesê: “Sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?” Jesus se antwoord het sy onderskeidingsvermoë getoon. Jesus het na die penning verwys wat hulle hom gegee het en gevra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Hulle het geantwoord: “Die keiser s’n.” Hy het met wysheid geantwoord: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:17-21). Jesus het geweet dat die gesag wat die penning uitgereik het, verwag het dat belasting betaal moet word. Maar hy het sy volgelinge sowel as sy vyande by daardie geleentheid gehelp om te besef dat ’n ware Christen poog om ‘aan God te betaal wat God toekom’. Dit sluit die behoorlike gebruik van ’n mens se materiële bates in.
10 ’n Voorval wat Jesus in die tempel aanskou het, lig dit toe. Hy het pas die hebsugtige skrifgeleerdes, wat ‘die huise van weduwees opgeëet het’, veroordeel. “Toe Hy opkyk, sien hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi”, vertel Lukas. “En [Jesus] het ook ’n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe” (Lukas 20:46, 47; 21:1-4). Party van die mense het gesê dat die tempel met kosbare stene versier was. Jesus het daarop geantwoord: “Hierdie dinge wat julle sien—daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie” (Lukas 21:5, 6). Was die weduwee se bydrae dan nutteloos? Beslis nie. Sy het die reëling ondersteun wat Jehovah op daardie tydstip gehad het.
11 Jesus het vir sy ware volgelinge gesê: “Geen huiskneg kan ’n slaaf van twee here wees nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie” (Lukas 16:13, NW). Hoe kan ons dan die regte balans toon in die gebruik van ons geldmiddele?
Getroue bestuurders
12-14. (a) Van watter middele is Christene bestuurders? (b) Op watter uitsonderlike maniere sien Jehovah se volk vandag getrou na hulle bestuurderskap om? (c) Waar kom die geld vandaan wat God se werk vandag steun?
12 Wanneer ons ons lewe aan Jehovah toewy, sê ons in werklikheid dat alles wat ons het, al ons materiële middele, aan hom behoort. Hoe moet ons dít wat ons het dan gebruik? Waar broer C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Christelike diens in die gemeente bespreek het, het hy geskryf: “Elkeen moet homself beskou as die bestuurder van sy eie tyd, invloed, geld, ens., en elkeen moet hierdie talente na die beste van sy vermoë, tot eer van die Meester, gebruik.”—The New Creation, bladsy 345.
13 “Wat . . . van bestuurders verwag word, is dat ’n man getrou bevind moet word”, sê 1 Korinthiërs 4:2 (NW). As ’n internasionale liggaam streef Jehovah se Getuies daarna om in ooreenstemming met daardie beskrywing te leef, en bestee hulle soveel tyd moontlik in die Christelike bediening terwyl hulle hulle onderrigvermoëns noukeurig ontwikkel. Daarbenewens gebruik spanne vrywilligers onder die leiding van Streekboukomitees hulle tyd, krag en vaardighede om pragtige vergaderplekke vir aanbidding op te rig. Dit alles verskaf Jehovah groot vreugde.
14 Waar kom die geld vandaan om hierdie ontsaglike onderrigtingskampanje en bouwerk te steun? Van mense met gewillige harte, net soos die tyd toe die tabernakel gebou is. Het ons persoonlik ’n aandeel hieraan? Toon die manier waarop ons ons geldmiddele gebruik dat Jehovah se diens vir ons van die allergrootse belang is? Laat ons getroue bestuurders wees wanneer dit by geldsake kom.
Vrygewigheid—’n lewenspatroon
15, 16. (a) Hoe het die Christene van Paulus se dag vrygewigheid getoon? (b) Hoe moet ons hierdie bespreking beskou?
15 Die apostel Paulus het oor die vrygewigheid van die Christene in Macedonië en Achaje geskryf (Romeine 15:26). Hoewel hulle self beproewing deurgemaak het, het hulle geredelik bygedra om hulle broers te help. Paulus het die Korinthiese Christene eweneens aangemoedig om mildelik te gee en hulle oorvloed te skenk om ander se gebrek aan te vul. Niemand kon Paulus met reg van afpersing beskuldig nie. Hy het geskryf: “Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korinthiërs 8:1-3, 14; 9:5-7, 13.
16 Die ruimhartige bydraes wat ons broers en belangstellendes vandag tot die wêreldwye Koninkrykswerk maak, lewer bewys van die groot waarde wat hulle aan hierdie voorreg heg. Maar soos Paulus die Korinthiërs herinner het, sal dit vir ons ook goed wees om hierdie bespreking as ’n herinnering te beskou.
17. Volgens watter patroon het Paulus ons aangemoedig om te gee, en kan dit vandag toegepas word?
17 Paulus het die broers aangespoor om ’n patroon te volg wanneer hulle gee. “Op elke eerste dag van die week”, het hy gesê, “moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is” (1 Korinthiërs 16:1, 2). Dit kan as voorbeeld dien vir ons en ons kinders in die manier waarop ons ons bydraes maak, of ons dit nou deur die gemeente doen of direk aan die naaste takkantoor van die Wagtoringgenootskap stuur. ’n Sendingegpaar wat na ’n dorp in Oos-Afrika gestuur is, het belangstellendes genooi om by hulle aan te sluit vir ’n Bybelstudie. Aan die einde van hierdie eerste vergadering het die sendelinge sonder groot vertoon ’n paar muntstukke in ’n bussie gegooi waarop “Bydraes vir die Koninkrykswerk” gestaan het. Ander wat die Bybelstudie bygewoon het, het dieselfde gedoen. Later, nadat hierdie nuwelinge in ’n Christengemeente georganiseer is, het die kringopsiener die gemeente besoek en kommentaar gelewer oor hoe gereeld hulle bydraes is.—Psalm 50:10, 14, 23.
18. Hoe kan ons ons broers in nood help?
18 Ons het ook die voorreg om ons materiële middele te gebruik om slagoffers van natuurrampe en diegene wat in oorloggeteisterde gebiede woon te help. Hoe verheug was ons tog om te lees van die noodlenigingsvoorrade wat na Oos-Europa toe gestuur is toe daardie deel van die wêreld deur ekonomiese en politieke omwentelinge getref is! Die goedere sowel as geld wat bygedra is, was ’n bewys van ons broers se vrygewigheid en hulle eenheid met minder bevoorregte Christene.b—2 Korinthiërs 8:13, 14.
19. Watter praktiese dinge kan ons doen om diegene in die voltydse diens te help?
19 Ons stel die werk van ons broers hoog op prys wat aan die voltydse diens deelneem as pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Bethelvrywilligers, nie waar nie? Na gelang van ons omstandighede kan ons hulle dalk direk materiële hulp aanbied. Wanneer die kringopsiener byvoorbeeld jou gemeente besoek, kan jy hom dalk van verblyf of maaltye voorsien of dalk iets bydra om sy reiskoste te dek. Sulke vrygewigheid gaan nie ongemerk by ons hemelse Vader verby nie, want hy wil hê dat daar na sy knegte omgesien word (Psalm 37:25). ’n Paar jaar gelede het ’n broer wat net ligte verversings kon aanbied ’n reisende opsiener en sy vrou na sy huis uitgenooi. Toe die egpaar vir die aand se velddiens vertrek het, het die broer sy besoekers ’n koevert gegee. Binne-in was ’n banknoot (gelykstaande aan een rand) saam met hierdie handgeskrewe briefie: “Vir ’n koppie tee of ’n gelling petrol.” Wat ’n nederige blyk van opregte waardering!
20. Watter voorreg en verantwoordelikheid wil ons nie verwaarloos nie?
20 Jehovah se volk is inderdaad op geestelike wyse geseën! Ons geniet geestelike feesmaaltye by ons streek- en kringbyeenkomste, waar ons nuwe publikasies, uitstekende onderrigting en praktiese raad ontvang. Met harte vol waardering vir ons geestelike seëninge vergeet ons nie ons voorreg en verantwoordelikheid om geldelike bydraes te maak wat gebruik kan word om die belange van God se Koninkryk wêreldwyd te bevorder nie.
‘Maak vriende deur middel van die onregverdige rykdom’
21, 22. Wat gaan binnekort met “onregverdige rykdom” gebeur, en wat moet ons dan nou doen?
21 Daar is waarlik ’n oorvloed van maniere waarop ons kan toon dat Jehovah se aanbidding eerste in ons lewens kom, en ’n belangrike manier waarop ons dit kan toon, is deur Jesus se raad te volg: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit faal, hulle julle in die ewige woonplekke sal ontvang.”—Lukas 16:9, NW.
22 Let op dat Jesus gepraat het van onregverdige rykdom wat sal faal. Ja, die dag sal kom wanneer die geld van hierdie stelsel waardeloos sal wees. “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees”, het Esegiël geprofeteer. “Hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie” (Esegiël 7:19). Tot dit gebeur, moet ons wysheid en onderskeidingsvermoë aan die dag lê in die manier waarop ons ons materiële bates gebruik. Sodoende sal ons nie met berou hoef terug te kyk omdat ons nie op Jesus se waarskuwing ag geslaan het nie: “As julle julle dan nie getrou betoon het in verband met die onregverdige rykdom nie, wie sal aan julle toevertrou wat waar is? . . . Julle kan nie slawe van God en van Rykdom wees nie.”—Lukas 16:11-13, NW.
23. Wat moet ons verstandig gebruik, en wat sal ons beloning wees?
23 Laat ons almal dus getrou ag slaan op hierdie herinneringe om Jehovah se aanbidding eerste in ons lewe te stel en ons materiële bates verstandig te gebruik. Sodoende sal ons ons vriendskap met Jehovah en Jesus behou, en hulle belowe dat wanneer geld faal, hulle ons in “die ewige woonplekke” sal ontvang, met die vooruitsig op die ewige lewe in die hemelse Koninkryk of op ’n paradysaarde.—Lukas 16:9, NW.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse woord wat met “bydrae” vertaal word, kom van ’n werkwoord wat letterlik beteken “om hoog te wees; om verhewe te wees; om op te hef”.
b Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 307-15, wat in 1993 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is.
Onthou jy?
◻ Hoe het Israel op Jehovah se uitnodiging gereageer om tot die bou van die tabernakel by te dra?
◻ Waarom was die weduwee se bydrae nie nutteloos nie?
◻ Watter verantwoordelikheid dra Christene met betrekking tot die manier waarop hulle hulle materiële middele gebruik?
◻ Hoe kan ons dit vermy om berou te hê oor hoe ons ons geld gebruik het?
[Prent op bladsy 15]
Die weduwee se bydrae, hoewel klein, was nie nutteloos nie
[Prente op bladsy 16, 17]
Ons bydraes ondersteun die wêreldwye Koninkrykswerk