Wat kan omtrent ontmoediging gedoen word?
HOE kan ’n mens teen ontmoediging stry? Hierdie vraag is vir ’n hele paar reisende opsieners gevra, wat gereeld die gemeentes van Jehovah se Getuies besoek. Hulle antwoorde kan ons help om die oorsake van ontmoediging te ontleed asook die teenmiddels om hierdie toestand wat enige Christen kan raak teë te werk.
Meer as ’n ontleding is nodig om ontmoediging die hoof te bied, maar die simptome kan die volgende insluit: geen begeerte om te bid of persoonlike studie te doen nie, ’n afname in vergaderingbywoning, geen geesdrif nie en selfs ’n sekere mate van kilheid teenoor Christenmetgeselle. Maar een van die duidelikste tekens is ’n afname in ywer vir die evangelisasiewerk. Kom ons ondersoek die simptome en kyk na ’n paar teenmiddels.
Ontmoediging in ons evangelisasiewerk
Jesus Christus was bewus van die probleme wat gepaardgaan met die opdrag om dissipels te maak (Matteus 28:19, 20). Hy het sy volgelinge uitgestuur soos “skape onder wolwe”, in die wete dat hulle predikingswerk vervolging oor hulle sou bring (Matteus 10:16-23). Maar dit moes hulle nie ontmoedig nie. Trouens, knegte van God wat biddend op Jehovah vertrou het, is dikwels deur vervolging versterk.—Handelinge 4:29-31; 5:41, 42.
Selfs toe Christus se volgelinge nie intense vervolging ondergaan het nie, is hulle nie altyd gunstig ontvang nie (Matteus 10:11-15). Die predikingswerk van Jehovah se Getuies word vandag eweneens nie altyd onder maklike omstandighede gedoen nie.a Vir baie mense is geloof in God ’n persoonlike saak wat hulle nie wil bespreek nie. Ander wil niks te doen hê met ’n godsdiensorganisasie waarteen hulle sekere vooroordele het nie. Onverskilligheid, geen resultate nie of verskeie ander probleme kan ongetwyfeld groot redes vir ontmoediging wees. Hoe kan hierdie struikelblokke oorkom word?
Hoe om beter resultate te verkry
Die vreugde wat ons uit ons bediening put, hou in ’n mate verband met die resultate wat ons verkry. Hoe kan ons dus ’n produktiewer bediening hê? Wel, ons is “vissers van mense” (Markus 1:16-18). Vissers in eertydse Israel het in die nag gaan visvang wanneer hulle die meeste visse kon vang. Ons moet ook ons gebied ontleed sodat ons kan gaan “visvang” wanneer die meeste mense by die huis is en hulle meer ontvanklik is vir ons boodskap. Dit kan in die aand, oor naweke of op ’n ander tyd wees. Volgens ’n reisende opsiener is dit prakties in gebiede waar mense die hele dag werk. Hy sê dat aandgetuieniswerk dikwels uitstekende resultate lewer. Telefoon- of informele getuieniswerk stel ons ook in staat om meer mense te bereik.
Volharding in die bediening bring ook goeie resultate voort. In Oos-Europa en in sekere Afrikalande vorder die Koninkrykspredikingswerk baie goed, en dit het goeie vermeerderings tot gevolg gehad. Baie gemeentes is eweneens in gebiede gevorm wat lank as onproduktief beskou is of selfs in gebiede wat dikwels gedek word. Maar sê nou julle gebied lewer nie sulke resultate nie?
Behou ’n goeie gesindheid
As ons die doelwitte wat Jesus gestel het duidelik in gedagte hou, sal dit ons help om nie ontmoedig te raak as ons met onverskilligheid in die bediening te kampe het nie. Christus wou hê dat sy dissipels die verdienstelikes moes soek, nie massabekerings moes doen nie. By verskeie geleenthede het hy daarop gewys dat die meeste mense nie die goeie nuus sou aanneem nie, net soos die meeste Israeliete nie na die profete van die ou tyd geluister het nie.—Esegiël 9:4; Matteus 10:11-15; Markus 4:14-20.
Die “goeie nuus van die koninkryk” word met dankbaarheid ontvang deur diegene “wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3; 24:14). Hulle wil God dien op die manier wat hy voorskryf. Die resultate van ons werk hou dus meer verband met die hartstoestand van die mense as met ons bekwaamheid wanneer ons die boodskap oordra. Ons moet natuurlik ons bes doen om die goeie nuus aantreklik te maak. Maar die resultate hang van God af, want Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.”—Johannes 6:44.
Ons evangelisasiewerk maak Jehovah se naam bekend. Hetsy mense luister of nie, ons predikingswerk dra tot die heiliging van Jehovah se naam by. Daarbenewens bewys ons deur middel van ons evangelisasiewerk dat ons Christus se dissipels is, en ons het die voorreg om ’n aandeel te hê aan die belangrikste werk wat in ons dag uitgevoer word.—Matteus 6:9; Johannes 15:8.
Ontmoediging en verhoudinge
Sekere menseverhoudinge, in die gesin of in die gemeente, kan ontmoediging veroorsaak. Daar is byvoorbeeld die gevoel dat ’n mens nie verstaan word nie. Die onvolmaakthede van ons medegelowiges kan ons ook ontmoedig. Die Skrif kan weer eens vir ons van groot hulp wees.
“Die hele gemeenskap van broers” regoor die wêreld vorm ’n groot geestelike familie (1 Petrus 2:17). Maar die gevoel dat ’n mens tot ’n verenigde volk behoort, kan verflou wanneer probleme weens persoonlikheidsgeskille ontstaan. Eerste-eeuse Christene was klaarblyklik nie immuun teen sulke probleme nie, aangesien die apostel Paulus hulle herhaaldelik moes herinner om in eenheid saam te woon. Hy het byvoorbeeld twee Christenvroue—Euodia en Sintige—vermaan om hulle verskille op te los.—1 Korintiërs 1:10; Efesiërs 4:1-3; Filippense 4:2, 3.
As dit die probleem is, hoe kan ons weer ’n opregte liefde vir ons broers en susters opbou? Deur onsself te herinner aan die feit dat Christus vir hulle gesterf het en dat hulle, soos ons, geloof in sy losprysofferande beoefen het. Ons kan ook in gedagte hou dat baie van ons broers bereid is om Jesus Christus na te volg deur hulle lewe vir ons te waag.
’n Aantal jare gelede het ’n jong Getuie in Parys, Frankryk, nie geaarsel om ’n tas met ’n bom in te verwyder wat buite die Koninkryksaal gesit is nie. Hy het etlike trappe afgehardloop voordat hy dit in ’n fontein gegooi het, waar dit ontplof het. Toe hy gevra is wat hom beweeg het om sy lewe op hierdie manier te waag, het hy geantwoord: “Ek het besef dat ons lewens in gevaar is. Ek het gedink dat dit beter sou wees dat ek alleen sterf as dat almal omkom.”b Wat ’n seën is dit tog om sulke metgeselle te hê wat bereid is om Jesus se voorbeeld so noukeurig na te volg!
Ons kan ook peins oor die gees van samewerking wat bestaan het onder Jehovah se Getuies wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die konsentrasiekampe was.c In onlangser jare het ons broers en susters in Malawi as ware Christene net so standvastig gebly. Beweeg die gedagte dat ons broers in die plaaslike gemeente onder ongunstige omstandighede dieselfde sal optree, ons nie om daaglikse wrywings en moeilikhede oor die hoof te sien of dit ten minste as onbeduidend te beskou nie? As ons die denke van Christus aankweek, sal ons daaglikse verhoudinge met medeaanbidders ’n bron van verkwikking wees, nie van ontmoediging nie.
Ontmoedigende persoonlike gevoelens
“’n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar ’n wens wat uitkom, is ’n lewensboom” (Spreuke 13:12). Party van Jehovah se knegte meen dat die einde van hierdie stelsel van dinge nie gou genoeg kom nie. Vir Christene is die tyd waarin ons lewe ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, net soos dit vir baie ongelowiges is.—2 Timoteus 3:1-5.
Maar in teenstelling met ongelowiges behoort Christene verheug te wees dat hulle kan onderskei dat hierdie moeilike toestande die “teken” van Jesus se teenwoordigheid is, wat aandui dat God se Koninkryk binnekort ’n einde gaan maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge (Matteus 24:3-14). Selfs wanneer die situasie vererger—wat beslis gedurende die “groot verdrukking” sal gebeur—is hierdie gebeure ’n bron van vreugde vir ons omdat dit God se inkomende nuwe wêreld inlui.—Matteus 24:21; 2 Petrus 3:13.
As ’n Christen die Koninkryk se ingryping in hedendaagse aangeleenthede in sy gedagtes uitstel, kan dit veroorsaak dat hy al hoe meer tyd aan materiële strewes wy. As hy sou toelaat dat dinge soos sekulêre werk en vermaak al sy tyd en energie in beslag neem, sou dit vir hom moeilik wees om sy skriftuurlike verantwoordelikhede behoorlik na te kom (Matteus 6:24, 33, 34). So ’n gesindheid bevorder frustrasie en sodoende ontmoediging. Een reisende opsiener het gesê: “Dit is onrealisties om in hierdie stelsel van dinge ’n swak nabootsing van die nuwe stelsel te probeer bou.”
Twee van die beste teenmiddels
Hoe kan ’n mens ’n goeie teenmiddel vind sodra jy vasgestel het wat verkeerd is? Persoonlike studie is een van die beste metodes wat beskikbaar is. Waarom? “Dit help ons om te onthou waarom ons moet doen wat ons doen”, het ’n reisende opsiener gesê. Nog een het verduidelik: “Dit word mettertyd moeilik om bloot uit verpligting die predikingswerk te doen.” Maar goeie persoonlike studie help ons om weer ’n duidelike begrip van ons rol te kry namate ons die einde nader. In dieselfde trant herinner die Skrif ons herhaaldelik aan die belangrikheid daarvan om geestelik goed gevoed te wees as ons ware vreugde daaruit wil put om God se wil te doen.—Psalm 1:1-3; 19:8-11; 119:1, 2.
Ouer manne kan ander help om ontmoediging die hoof te bied deur bemoedigende herdersbesoeke by hulle te doen. Gedurende hierdie privaat besoeke kan ouer manne toon dat elkeen van ons baie waardeer word en ’n belangrike plek onder Jehovah se volk het (1 Korintiërs 12:20-26). ’n Ouer man het na mede-Christene verwys en gesê: “Om die aandag op hulle waarde te vestig, herinner ek hulle aan wat hulle in die verlede bereik het. Ek wys daarop dat hulle in Jehovah se oë kosbaar is en dat die bloed van sy Seun om hulle ontwil uitgestort is. Hierdie redenasie word altyd verwelkom. Wanneer dit bevestig word deur gegronde Bybelse verwysings is diegene wat ontmoedig is in ’n posisie om nuwe doelwitte te stel, soos om as ’n gesin saam te bid, te studeer en die Bybel te lees.”—Hebreërs 6:10.
Gedurende herdersbesoeke moet ouer manne versigtig wees om dit nie te laat lyk asof dit onmoontlik is om God te behaag nie. Die ouer manne kan medeaanbidders wat ontmoedig is eerder help om te sien dat die vrag van Jesus se volgelinge lig is. Gevolglik is ons Christelike diens ’n bron van vreugde.—Matteus 11:28-30.
Oorwin ontmoediging
Wat ook al die oorsake van ontmoediging is, dit is ’n plaag wat bestry moet word. Maar onthou dat ons nie alleen in hierdie stryd is nie. As ons ontmoedig is, moet ons die hulp van ons Christenmetgeselle, veral die ouer manne, aanvaar. Sodoende kan ons gevoelens van ontmoediging laat afneem.
Bowenal moet ons ons tot God wend vir hulp om ontmoediging die hoof te bied. As ons biddend op Jehovah vertrou, kan hy ons help om ontmoediging heeltemal te oorwin (Psalm 55:23; Filippense 4:6, 7). In elk geval, as sy volk kan ons dieselfde voel as die psalmis wat gesing het: “Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.”—Psalm 89:16-18.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Die uitdaging van die huis-tot-huiswerk” in Die Wagtoring van 1 Augustus 1981.
b Sien bladsye 20 en 21 in die Ontwaak! van 8 September 1985, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
c Sien die artikels “Ek het die ‘tog na die dood’ oorleef” in Die Wagtoring van 1 November 1980 en “Hoe ek my onkreukbaarheid in Nazi-Duitsland behou het” in die Ontwaak! van 22 Junie 1985.
[Prent op bladsy 31]
Opbouende herdersbesoeke deur liefdevolle ouer manne kan Christene help om ontmoediging die hoof te bied