Koninkryksverkondigers berig
Teokratiese uitbreiding in Namibië
DIE goeie nuus van God se Koninkryk het Namibië die eerste keer in die laat twintigerjare bereik. Sedertdien het honderde opregtes van hart gunstig op God se boodskap van redding gereageer. Die volgende ondervindinge toon hoe Jehovah hierdie begeerlikes in sy kudde versamel.—Haggai 2:7, NW.
◻ Paulus, ’n selfversorgende boer wat in noordoostelike Namibië woon, het die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom toe hy Windhoek, die hoofstad, besoek het. Paulus het gou besef dat hy die waarheid gevind het. Hy het met die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe teruggekeer huis toe. Toe hy na Rundu toe gegaan het, die naaste dorp waar daar ’n Koninkryksaal is, het Paulus die Getuies gevind en hulle gesmeek om hom te besoek.
Dit was egter vir die Getuies te ver om ’n weeklikse Bybelstudie met Paulus te gaan hou. Paulus is nie daardeur ontmoedig nie, maar het die Bybel op sy eie begin bestudeer. Hy het ook ywerig vir ander getuig van die dinge wat hy geleer het. Mettertyd is ’n Bybelstudiegroep gevorm. Toe die klein groepie oor die radio hoor dat ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Rundu gehou gaan word, het hulle hulle skrale inkomste bymekaargeskraap en vervoer gereël sodat hulle die byeenkoms kon bywoon.
Wat ’n wonderlike ondervinding was dit tog vir hulle om vir die eerste keer met Jehovah se Getuies te assosieer! Reëlings is weldra getref sodat bekwame broers hierdie groep gereeld kon besoek. Vandag is daar ses verkondigers in die dorpie waar Paulus woon.
◻ Johanna se belangstelling in God se naam is geprikkel toe sy gehoor het hoe iemand sleg praat van Jehovah se Getuies. Sy sê: “Die heel eerste keer toe ek die naam Jehovah gehoor het, het dit so ’n groot indruk op my gemaak dat ek dit nooit vergeet het nie, en ek het begin wonder wie Jehovah is. Ek en my man het naby Walvisbaai aan die Namibiese kus gewoon. Ons het eenkeer dorp toe gegaan, en ek het ’n paar Getuies gesien wat Die Wagtoring op straat versprei het. Ek het ’n tydskrif geneem en ’n Bybelstudie gevra, aangesien ek baie vrae gehad het. Ek het gehuil toe hulle vir my gesê het dat hulle nie kon kom nie omdat hulle voertuig gebreek het. Kort daarna is my man oorlede en het ek in Keetmanshoop gaan woon. ’n Spesiale pionier (voltydse evangeliedienaar) is gestuur om daar te werk, en ek het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe by hom gekry. Uit die staanspoor uit het ek besef dat dit die waarheid is.
“Later is ek genooi om aan die predikingswerk deel te neem, maar mensevrees het my oorweldig. Terwyl ek van deur tot deur geloop het, het ek tot Jehovah gebid dat hy my eerder moet laat sterf voordat ek die predikingswerk moet doen. Toe ek die eerste keer straatgetuieniswerk gedoen het, het ek in ’n nou straatjie gaan staan en gehoop dat niemand my sou sien nie. Eindelik het ek genoeg moed bymekaargeskraap om ’n tydskrif vir ’n verbyganger te wys, en toe eers was ek in staat om iets te sê. Ek het daardie dag, met Jehovah se hulp, vir baie mense van my Bybelse hoop vertel.
“Hoewel ek materieel arm is, koester ek vandag, 12 jaar later, nog steeds die voorreg van die pionierdiens en put ek steeds groot vreugde daaruit om Koninkrykswaarheid aan ander te verkondig.”