Nuwe lede van die Bestuursliggaam
OP Saterdag, 2 Oktober 1999, is die Jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië afgesluit met ’n onverwagte aankondiging. Die 10 594 wat dit bygewoon het of wat deur middel van telefoonverbinding daarna geluister het, was verheug om te hoor dat vier nuwe lede by die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gevoeg is. Die nuwe lede, almal gesalfde Christene, is Samuel F. Herd; M. Stephen Lett; Guy H. Pierce en David H. Splane.
• Samuel Herd het in 1958 as pionier begin dien, en van 1965 tot 1997 het hy kring- en streekwerk gedoen. Daarna het hy en sy vrou, Gloria, deel van die Verenigde State se Bethelgesin geword, waar broer Herd in die Diensafdeling gewerk het. Hy het ook as ’n helper van die Dienskomitee gedien.
• Stephen Lett het in Desember 1966 pionierdiens begin doen, en van 1967 tot 1971 by Bethel in die Verenigde State gedien. In Oktober 1971 het hy met Susan getrou, en hulle het die spesiale pionierdiens betree. Van 1979 tot 1998 het hy as kringopsiener gedien. Vanaf April 1998 is hy en Susan deel van die Verenigde State se Bethelgesin. Daar het hy in die Diensafdeling gewerk en as ’n helper van die Onderrigtingskomitee gedien.
• Guy Pierce het ’n gesin grootgemaak en toe saam met sy vrou in April 1982 die pionierdiens betree. Hy was van 1986 tot 1997 ’n kringopsiener, en daarna het hy en sy vrou, Penny, deel geword van die Verenigde State se Bethelgesin. Broer Pierce het as ’n helper van die Personeelkomitee gedien.
• David Splane het in September 1963 ’n pionier geword. Hy het aan die 42ste Gileadklas gegradueer en as sendeling in Senegal, Afrika, gedien, waarna hy 19 jaar lank kringwerk in Kanada gedoen het. Hy en sy vrou, Linda, is vanaf 1990 by die Bethel in die Verenigde State, waar broer Splane in die Diens- en Skryfafdeling gewerk het. Sedert 1998 was hy ’n helper van die Skryfkomitee.
Benewens die vier nuwe lede, bestaan die Bestuursliggaam nou uit C. W. Barber, J. E. Barr, M. G. Henschel, G. Lösch, T. Jaracz, K. F. Klein, A. D. Schroeder, L. A. Swingle en D. Sydlik. Dit is die bede van almal dat Jehovah sal aanhou om die Bestuursliggaam, wat nou vergroot is, te seën en te versterk terwyl hulle voortgaan om toesig te hou oor die bedrywighede van God se volk regoor die wêreld en na sy volk se geestelike belange om te sien.