Wat weet jy omtrent heksery?
HEKSERY! Waaraan laat hierdie woord jou dink?
Vir baie het dit te doen met bygelowigheid en fantasie, iets wat nie ernstig opgeneem moet word nie. Vir hulle bestaan heksery net in die verbeelding—ou, lelike vroue geklee in mantels met kappies, wat vlermuisvlerke in ’n borrelende hekseketel gooi, mense in paddas verander en met hulle boosaardige kekkellag op besemstokke deur die naghemel vlieg.
Vir ander is heksery geen grap nie. Party navorsers sê dat meer as die helfte van die wêreld se bevolking glo dat hekse bestaan en ’n invloed op mense se lewe kan hê. Miljoene glo dat heksery boos en gevaarlik is, asook iets waarvoor ’n mens beslis versigtig moet wees. ’n Boek oor Afrikagodsdienste sê byvoorbeeld: “Geloof in die bestaan en gevare van slegte toorkuns, duiwelskuns en heksery is ’n wesenlike deel van die lewe in Afrika . . . Hekse en duiwelskunstenaars is die mees gehate mense in hulle gemeenskap. Selfs vandag nog is daar plekke en sekere geleenthede waar hulle deur die res van die inwoners doodgeslaan word.”
In Westerse lande dra heksery egter nou ’n nuwe masker van eerbiedwaardigheid. Boeke, die televisie en rolprente het die vrees vir heksery in groot mate laat afneem. Die vermaaklikheidsresensent David Davis sê: “Skielik is hekse jonger en aantrekliker, beslis aantrekliker. Hollywood sien vinnig nuwe tendense raak. . . . Deur die hekse aantrekliker en beminliker te maak, kan hulle ’n groter gehoor lok, wat vroue en jonger kinders insluit.” Hollywood weet hoe om van enige tendens ’n winsgewende onderneming te maak.
Sommige sê dat heksery tans een van die snelgroeiendste geestelike bewegings in die Verenigde State is. Oral in die ontwikkelde wêreld soek al hoe meer mense, wat deur vrouebewegings aangespoor word en teleurgestel is in hoofstroomgodsdienste, na geestelike vervulling in verskillende vorme van heksery. Trouens, daar is so baie vorme van heksery dat mense selfs verskil oor die betekenis van die woord “heks”. Hoe dit ook al sy, verklaarde hekse vereenselwig hulle dikwels met Wicca—wat in een woordeboek beskryf word as “’n heidense natuurgodsdiens wat in voor-Christelike tye in Wes-Europa ontstaan het en nou in die 20ste eeu herleef”.a Gevolglik noem baie ook hulleself heidene of aanhangers van die nuwe heidendom.
Deur die geskiedenis heen is hekse gehaat, vervolg, gemartel en selfs doodgemaak. Dit is dus geen wonder dat hedendaagse beoefenaars van heksery graag hulle beeld wil verbeter nie. In een opname is tientalle hekse gevra watter boodskap hulle die graagste aan die publiek wou oordra. Die navorser Margot Adler het hulle antwoord soos volg opgesom: “Ons is nie boos nie. Ons aanbid nie die Duiwel nie. Ons doen mense nie kwaad aan nie en ons verlei hulle nie. Ons is nie gevaarlik nie. Ons is doodgewone mense. Ons het gesinne, beroepe, verwagtinge en drome. Ons is nie ’n kultus nie. Ons is nie eienaardig nie. . . . Julle hoef nie bang te wees vir ons nie. . . . Ons is baie meer soos julle as wat julle dink.”
Hierdie boodskap word deur al hoe meer mense aanvaar. Maar beteken dit dat daar geen rede is om besorg te wees oor die beoefening van heksery nie? Ons sal hierdie vraag in die volgende artikel bespreek.
[Voetnoot]
a Die Engelse woord witchcraft kom van die Ou Engelse woorde wicce en wicca, wat onderskeidelik na die vroulike en manlike beoefenaars van heksery verwys.