Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 4/1 bl. 29-31
  • Het die Bybel ’n geheime kode?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het die Bybel ’n geheime kode?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe idee?
  • Rekenaars “onthul” die kode
  • Bewys van inspirasie?
  • Het ons ’n geheime Bybelkode nodig?
  • Die aantrekkingskrag van syfers
    Ontwaak!—2002
  • Wat is die Masoretiese teks?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • A3 Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 4/1 bl. 29-31

Het die Bybel ’n geheime kode?

ONGEVEER twee jaar ná die sluipmoord op die Eerste Minister van Israel, Yitzhak Rabin, in 1995 het ’n joernalis beweer dat hy met behulp van rekenaartegnologie ’n verskuilde voorspelling van daardie gebeurtenis in die oorspronklike Hebreeuse Bybelteks ontdek het. Die joernalis, Michael Drosnin, het geskryf dat hy die eerste minister meer as ’n jaar voor die sluipmoord tevergeefs probeer waarsku het.

Ander boeke en artikels is nou gepubliseer wat beweer dat hierdie geheime kode onweerlegbare bewys lewer dat God die Bybel geïnspireer het. Bestaan so ’n kode? Behoort ’n geheime kode die grondslag te wees om te glo dat die Bybel deur God geïnspireer is?

’n Nuwe idee?

Die idee van ’n geheime kode in die Bybelteks is nie nuut nie. Dit is een van die vernaamste konsepte in die Kabbala, of tradisionele Joodse mistisisme. Volgens Kabbalistiese onderrigters is die eenvoudige betekenis van die Bybelteks nie die ware betekenis daarvan nie. Hulle glo dat God die individuele letters van die Hebreeuse Bybelteks gebruik het as simbole, wat ’n groter waarheid openbaar wanneer dit reg verstaan word. Volgens hulle is elke Hebreeuse letter en sy posisie in die Bybelteks met ’n spesifieke doel deur God vasgestel.

Volgens Jeffrey Satinover, ’n navorser van die Bybelkode, glo hierdie Joodse mistici dat die Hebreeuse letters wat gebruik is om die skeppingsverslag in Genesis op te teken ongelooflike mistieke krag het. Hy skryf: “Kortom, Genesis is nie bloot ’n beskrywing nie; dit is die instrument van die skeppingsdaad self, ’n bloudruk in die verstand van God wat in fisiese vorm openbaar gemaak is.”

’n Kabbalistiese rabbi van die 13de eeu, Bagja ben Asjer van Saragossa, Spanje, het geskryf van sekere geheime inligting wat aan hom geopenbaar is deur elke 42ste letter in ’n gedeelte van Genesis te lees. Hierdie metode om letters oor te slaan volgens ’n spesifieke volgorde in ’n poging om verskuilde boodskappe te ontdek, is die grondslag vir die hedendaagse idee van ’n Bybelkode.

Rekenaars “onthul” die kode

Voor die rekenaareeu was die mens se vermoë om die Bybelteks op hierdie manier te ontleed, beperk. Maar in Augustus 1994 het die tydskrif Statistical Science ’n artikel gepubliseer waarin Elijahoe Rips van Jerusalem se Hebreeuse Universiteit en sy medenavorsers ’n paar verrassende bewerings gemaak het. Hulle het verduidelik dat hulle die name van 34 beroemde rabbi’s ontdek het wat in kode in die teks geskryf was, sowel as ander inligting, soos hulle geboortedatums of sterfdatums nie ver van hulle name nie, deur al die spasies tussen letters uit te haal en elke keer dieselfde aantal letters oor te slaan.a Ná herhaalde toetse het die navorsers hulle gevolgtrekking gepubliseer dat dit volgens statistiek onmoontlik is dat die inligting wat in Genesis in kode geskryf is enigsins aan toeval toegeskryf kan word—’n bewys van geïnspireerde inligting wat doelbewus duisende jare gelede in die vorm van ’n kode in Genesis versteek is.

Die joernalis Drosnin het op hierdie metode voortgebou en sy eie toetse gedoen op soek na verborge inligting in die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel. Volgens Drosnin het hy die naam van Yitzhak Rabin in die Bybelteks gevind deur elke 4 772ste letter te gebruik. Met die Bybelteks in reëls van 4 772 letters elk gerangskik, het hy gesien dat Rabin se naam (vertikaal gelees) ’n reël (Deuteronomium 4:42, horisontaal gelees) gekruis het, wat Drosnin as “sluipmoordenaar wat ’n sluipmoord sal pleeg” vertaal het.

Deuteronomium 4:42 praat eintlik van iemand wat iemand anders per ongeluk doodgemaak het. Daarom het baie Drosnin se arbitrêre benadering gekritiseer en aangevoer dat sy onwetenskaplike metodes gebruik kan word om soortgelyke boodskappe in enige teks te vind. Maar Drosnin het voet by stuk gehou en hierdie uitdaging gerig: “Wanneer my kritici ’n versteekte boodskap oor die sluipmoord op ’n Eerste Minister in [die roman] Moby Dick vind, sal ek hulle glo.”

Bewys van inspirasie?

Professor Brendan McKay, van die Departement van Rekenaarwetenskap aan die Nasionale Universiteit van Australië, het Drosnin se uitdaging aanvaar en ’n intensiewe soektog op rekenaar deur die Engelse teks van Moby Dick gedoen.b McKay het dieselfde metode gebruik wat deur Drosnin beskryf is, en hy sê dat hy “voorspellings” van die sluipmoorde op Indira Gandhi, Martin Luther King jr., John F. Kennedy, Abraham Lincoln en ander gevind het. Volgens McKay het hy ontdek dat Moby Dick ook die moord op Yitzhak Rabin “voorspel” het.

Om terug te keer na die Hebreeuse teks van Genesis, professor McKay en sy medewerkers het ook die eksperimentele bevindings van Rips en sy medewerkers betwis. Die aantyging was dat die bevindings minder te doen het met ’n geïnspireerde kodeboodskap as met die navorsers se metode en benadering—die manier waarop data hoofsaaklik na die navorsers se goeddunke georganiseer is. Geleerdes debatteer nog steeds hieroor.

’n Ander vraag ontstaan wanneer daar beweer word dat sulke kodeboodskappe doelbewus in die “standaardteks” of die “oorspronklike” Hebreeuse teks versteek is. Rips en sy medenavorsers sê dat hulle die “standaardteks, die algemeen aanvaarde teks van Genesis”, in hulle navorsing gebruik het. Drosnin skryf: “Alle Bybels in die oorspronklike Hebreeus wat tans bestaan, is letter vir letter dieselfde.” Maar is dit die geval? Pleks van ’n “standaardteks”, word verskeie uitgawes van die Hebreeuse Bybel vandag gebruik, wat op verskillende antieke manuskripte gebaseer is. Hoewel die Bybelboodskap nie verskil nie, kom die individuele manuskripte nie letter vir letter met mekaar ooreen nie.

Vandag is baie vertalings gebaseer op die Leningrad-kodeks—die oudste volledige Masoretiese manuskrip in Hebreeus—wat omstreeks 1000 G.J. oorgeskryf is. Maar Rips en Drosnin het ’n ander teks gebruik, naamlik die Koren. Sjlomo Sternberg, ’n Ortodokse rabbi en wiskundige aan die Harvard-universiteit, verduidelik dat die Leningrad-kodeks “in Deuteronomium alleen met 41 letters verskil van die Koren-uitgawe wat Drosnin gebruik het”. Die Dooie See-rolle sluit dele van die Bybelteks in wat meer as 2 000 jaar gelede oorgeskryf is. Die spelling in hierdie rolle verskil dikwels aansienlik van latere Masoretiese tekste. In sommige rolle is sekere letters vryelik ingevoeg om vokaalklanke aan te dui, aangesien vokaaltekens toe nog nie uitgevind is nie. In ander rolle is minder letters gebruik. ’n Vergelyking van alle bestaande Bybelmanuskripte toon dat die betekenis van die Bybelteks dieselfde bly. Maar dit toon ook duidelik dat die spelling en aantal letters van manuskrip tot manuskrip verskil.

Om ’n beweerde geheime boodskap te kan vind, moet daar ’n absoluut onveranderde teks wees. As een letter verander is, sou dit die volgorde—en boodskap, as daar een was—heeltemal verander. God het sy boodskap deur middel van die Bybel bewaar. Maar hy het nie elke letter bewaar asof hy behep was met kleinighede soos veranderinge in spelling met die verloop van eeue nie. Bewys dit nie dat hy nie ’n geheime boodskap in die Bybel versteek het nie?—Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:24, 25.

Het ons ’n geheime Bybelkode nodig?

Die apostel Paulus het baie duidelik geskryf dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk’ (2 Timoteus 3:16, 17). Die duidelike en eenvoudige boodskap in die Bybel is nie te moeilik om te verstaan of toe te pas nie, maar baie mense verkies om dit te ignoreer (Deuteronomium 30:11-14). Die profesieë wat heeltemal verstaanbaar in die Bybel aangegee word, vorm ’n stewige grondslag vir geloof dat dit geïnspireer is.c Anders as ’n geheime kode is Bybelprofesieë nie arbitrêr nie, en hulle ‘spruit nie uit enige eie uitlegging voort nie’.—2 Petrus 1:19-21.

Die apostel Petrus het geskryf: “Dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie” (2 Petrus 1:16). Die idee van ’n Bybelkode het in Joodse mistisisme ontstaan, wat “kunstig versinde” metodes gebruik wat die eenvoudige betekenis van die Bybel se geïnspireerde teks verberg en verdraai. Die Hebreeuse Geskrifte het self so ’n mistieke benadering op ondubbelsinnige wyse veroordeel.—Deuteronomium 13:1-5; 18:9-13.

Hoe bly is ons tog om die Bybel se duidelike boodskap en onderrigting te hê, wat ons kan help om God te ken! Dit is baie beter as om van ons Skepper te probeer leer deur verborge boodskappe te soek wat die gevolg is van eie uitlegging en rekenaargesteunde verbeelding.—Matteus 7:24, 25.

[Voetnote]

a In Hebreeus kan numeriese waardes ook deur letters voorgestel word. Gevolglik is hierdie datums in die Hebreeuse teks deur letters vasgestel en nie deur syfers nie.

b Hebreeus is ’n taal sonder vokaalletters. Vokale word volgens die konteks deur die leser ingevoeg. As die konteks geïgnoreer word, kan ’n woord se betekenis heeltemal verander deur ander vokale in te voeg. Engels het vaste vokaalletters, wat so ’n woordsoektog baie moeiliker maak en dit beperk.

c Sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir meer inligting oor die inspirasie van die Bybel en die profesieë daarin.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel