Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Waarom is Kersfees so maklik in Korea aanvaar?
In Korea en ’n paar ander lande was daar ’n ou volksgeloof oor ’n kombuisgod wat glo in Desember deur die skoorsteen gekom en geskenke gebring het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Amerikaanse soldate ook by plaaslike kerke geskenke uitgedeel en noodleniging voorsien.—12/15, bladsye 4, 5.
• Watter “wag” gebruik God in ons dag, ter vervulling van Jesaja 21:8 (NW)?
Geesgesalfde Christene, wat as ’n wagklas dien, het mense bewus gemaak van die betekenis van wêreldgebeure wat Bybelprofesieë vervul. Hulle het ook Bybelstudente gehelp om onskriftuurlike leerstellings en gebruike te identifiseer en te vermy.—1/1, bladsye 8, 9.
• Wie was die “Poolse Broeders”?
Hulle was ’n godsdiensgroepie in die 16de en 17de eeu in Pole, wat getrouheid aan die Bybel voorgestaan en gevolglik algemene kerkleerstellings soos die Drie-eenheid, kinderdoop en die helse vuur verwerp het. Mettertyd is hulle hewig vervolg en gedwing om na ander lande te trek.—1/1, bladsye 21-3.
• Waarom behoort ons eerder Bybelprofesieë te vertrou as voorspellings deur toekomskundiges of astroloë?
Hierdie sogenaamde profete is onbetroubaar, want hulle ignoreer Jehovah en die Bybel. Slegs Bybelprofesieë kan jou help om te verstaan hoe gebeure in God se voorneme inpas en hoe jy en jou gesin vir ewig daarby baat kan vind.—1/15, bladsy 3.
• Wat is van die bewyse dat ons in die laaste dae lewe?
Ons kan sien watter uitwerking dit gehad het toe Satan uit die hemel gewerp is (Openbaring 12:9). Ons lewe in die tyd van die laaste “koning” wat in Openbaring 17:9-11 gemeld word. Die aantal ware gesalfde Christene raak al hoe minder, hoewel party klaarblyklik nog op die aarde sal wees wanneer die groot verdrukking begin.—1/15, bladsye 12, 13.
• Wanneer is die boek Habakuk geskryf, en waarom moet ons daarin belangstel?
Die Bybelboek is omstreeks 628 v.G.J. geskryf. Dit bevat Jehovah se oordeel teen eertydse Juda en teen Babilon. Dit bespreek ook die Goddelike oordeel wat binnekort aan die huidige goddelose stelsel voltrek gaan word.—2/1, bladsy 8.
• Waar in die Bybel kan ons ’n moeder se wyse raad vir deugsame vrouens vind?
Die laaste hoofstuk, hoofstuk 31, van die boek Spreuke is ’n uitstekende bron van sulke raad.—2/1, bladsye 30, 31.
• Waarom kan ons dankbaar wees dat Jehovah “die denke van Christus” aan ons geopenbaar het (1 Korintiërs 2:16).
Jehovah het ons die Evangelieverslag gegee sodat ons kan leer wat Jesus se denke, gevoelens, bedrywighede en prioriteite was. Dit kan ons help om meer soos Jesus te wees, veral wanneer dit kom by die klem wat ons op die lewensreddende predikingswerk plaas.—2/15, bladsy 25.
• Verhoor God vandag gebede?
Ja. Hoewel die Bybel toon dat God nie alle gebede verhoor nie, bewys hedendaagse ondervindinge dat hy al dikwels geluister het na mense wat vir vertroosting en hulp gebid het om byvoorbeeld huweliksprobleme op te los.—3/1, bladsye 3-7.
• Hoe verkry ons krag van God?
Ons kan in gebed daarvoor vra, geestelike krag uit die Bybel verkry en deur Christelike assosiasie versterk word.—3/1, bladsye 15, 16.
• Hoe kan ouers hulle kinders help om groter baat by Christelike vergaderinge te vind?
Hulle kan hulle kinders help om wakker te bly deur hulle dalk voor die tyd ’n bietjie te laat slaap. Kinders kan aangemoedig word om “aantekeninge” te maak, soos om ’n merkie op ’n vel papier te maak elke keer as bekende woorde of name gebruik word.—3/15, bladsye 17, 18.
• Wat is ’n paar dinge wat ons uit Job se voorbeeld kan leer?
Job het sy verhouding met God eerste gestel, sy medemens regverdig behandel, daarna gestreef om lojaal teenoor sy vrou te wees, besorgdheid getoon oor die geestelikheid van sy gesin en getrou volhard tydens beproewing.—3/15, bladsye 25-7.
• Bevat die Bybel ’n geheime kode wat insig in verborge boodskappe gee?
Nee. Bewerings oor ’n sogenaamde geheime kode kan net sowel oor sekere sekulêre boeke gemaak word. Variasies in spelling in Hebreeuse manuskripte maak beweerde kodes in die Bybel sinloos.—4/1, bladsye 30, 31.