Gemoedsrus—Kan jy dit vind?
In 1854 het die Amerikaanse skrywer Henry Thoreau geskryf: “Die meeste mense lei ’n lewe van stille wanhoop.”
Klaarblyklik het die meeste mense in sy dag nie gemoedsrus gehad nie. Maar dit was byna 150 jaar gelede. Is dinge vandag anders? Of is Thoreau se woorde nog van toepassing? Wat van jou? Is jy vergenoeg, tevrede? Of voel jy onveilig, onseker oor die toekoms, ‘stilweg wanhopig’, om Thoreau se woorde te parafraseer?
ONGELUKKIG is daar baie dinge in die wêreld wat mense van hulle gemoedsrus beroof. Ons gaan net ’n paar meld. In baie lande lei werkloosheid en ’n lae inkomste tot armoede en daarmee saam ekonomiese wanhoop. In ander lande gebruik baie mense die meeste van hulle energie om rykdom en materiële besittings na te jaag. Maar hierdie mededingende lewenswyse bring dikwels onrus mee, nie vrede nie. Siekte, oorlog, misdaad, ongeregtigheid en onderdrukking beroof mense ook van vrede.
Hulle soeke na gemoedsrus
Baie is nie gewillig om die wêreld te aanvaar soos dit is nie. Antônioa was ’n arbeidsleier in ’n baie groot fabriek in Sao Paulo, Brasilië. Hy wou graag die lewensomstandighede verbeter, en daarom het hy aan protesoptogte en demonstrasies deelgeneem, maar dit het hom nie gemoedsrus gegee nie.
Party hoop dat die huwelik ’n mate van rustigheid in hulle lewe sal bring, maar hulle kan teleurgestel word. Marcos was ’n suksesvolle sakeman. Hy het by die politiek betrokke geraak en die burgemeester van ’n nywerheidstad geword. Maar hy het ’n ongelukkige gesinslewe gehad. Ná sy kinders die huis verlaat het, het hy en sy vrou uitmekaar gegaan weens onversoenbare verskille.
Gerson, ’n straatkind in Salvador, Brasilië, was op soek na avontuur. Hy het van stad tot stad geswerf deur saam met vragmotorbestuurders te ry. Kort voor lank was hy ’n dwelmverslaafde en het hy mense beroof om vir sy verslawing te betaal. Hy is verskeie kere deur die polisie gevang. Maar ten spyte van sy aggressiewe, gewelddadige persoonlikheid het Gerson na gemoedsrus gesmag. Sou hy dit ooit kon vind?
Terwyl Vania nog jonk was, is haar moeder oorlede, en Vania moes al die huislike verantwoordelikhede behartig, asook haar siek suster versorg. Vania het kerk toe gegaan, maar het gevoel dat God haar verlaat het. Sy het beslis nie gemoedsrus gehad nie.
Dan was daar Marcelo. Marcelo het net plesier nagejaag. Hy het daarvan gehou om saam met ander jongmense partytjies te hou—te dans, te drink en dwelms te gebruik. Eenkeer het hy by ’n bakleiery betrokke geraak en ’n ander jongmens beseer. Daarna was hy baie spyt oor wat hy gedoen het en het hy tot God gebid vir hulp. Hy wou ook gemoedsrus hê.
Hierdie ondervindinge lig party van die situasies toe wat ’n mens se gemoedsrus kan versteur. Was daar hoegenaamd ’n manier waarop die arbeidsleier, die politikus, die straatkind, die oorwerkte dogter en die partytjieganger die gemoedsrus kon kry waarna hulle gesoek het? Kan ons enigiets leer uit wat met hulle gebeur het? Die antwoord op albei vrae is ja, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Prent op bladsy 3]
Smag jy na gemoedsrus?