Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 7/1 bl. 28-31
  • Christenherders, ‘verruim julle hart’!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christenherders, ‘verruim julle hart’!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte beweegrede
  • Lei ander op om herders te word
  • Te alle tye herders en onderrigters
  • Benewens herdersbesoeke
  • Hoe Christenherders jou dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Herders wat “voorbeelde vir die kudde” is
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Liefdevolle herderswerk onder Jehovah se kosbare skape
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 7/1 bl. 28-31

Christenherders, ‘verruim julle hart’!

‘JEHOVAH is my herder; niks sal my ontbreek nie.’ Met hierdie woorde het Dawid sy volle vertroue in sy God uitgespreek. Jehovah het hom geestelik gesproke gelei na “groen weivelde” en na “waters waar rus is”, en hy het hom “in die spore van geregtigheid” gelei. Wanneer Dawid deur teenstanders omring was, het hy ondersteuning en bemoediging ontvang, wat hom beweeg het om vir Jehovah te sê: “Ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my.” Met so ’n Opperherder was Dawid vasbeslote om ‘in die huis van Jehovah te bly in lengte van dae’.—Psalm 23:1-6.

God se enigverwekte Seun het ook die liefdevolle sorg van Jehovah ervaar, en hy het hierdie sorg volmaak weerspieël in sy handelinge met sy dissipels gedurende sy aardse lewe. Daarom verwys die Skrif na hom as “die voortreflike herder”, “die groot herder” en die “hoofherder”.—Johannes 10:11; Hebreërs 13:20; 1 Petrus 5:2-4.

Jehovah en Jesus Christus is steeds herders oor diegene wat vir hulle lief is. Hulle toesig as herders word deels gesien in die liefdevolle voorsiening van onderherders in die gemeente. Paulus het met hierdie onderherders gepraat toe hy gesê het: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het.”—Handelinge 20:28.

Om die voorbeeld na te volg wat Jehovah en Jesus Christus as herders gestel het, is nie maklik nie, maar dit is nou belangriker as ooit tevore. Dink aan die meer as eenmiljoen Getuies wat in die afgelope drie jaar gedoop is! Hierdie nuwelinge het nie die geestelike ervaring wat in jare lange diens opgedoen word nie. Dink ook aan daardie Getuies wat nog kinders of tieners is. Hulle het nie net die aandag van hulle ouers nodig nie, maar ook die aandag van die gemeente se onderherders.

Trouens, elke Christen kry druk van buite, en dit sluit portuurdwang in. Almal moet hard stry teen die sterk trekkrag om die wêreld se weg van selfbevrediging te volg. In party lande kan Koninkryksverkondigers mismoedig word omdat mense nie gunstig reageer op hulle boodskap nie. Baie verkondigers het ernstige gesondheidsprobleme. Geldelike probleme kan ander beroof van hulle dryfkrag om die Koninkryk eerste te soek. Om die waarheid te sê, almal van ons—met inbegrip van diegene wat al lank in die waarheid is—het die hulp van liefdevolle herders nodig en verdien dit.

Die regte beweegrede

Eerste-eeuse Christene is vermaan: ‘Verruim julle hart’! (2 Korintiërs 6:11-13). Dit sal goed wees as Christen- ouer manne hierdie raad volg terwyl hulle hulle pligte as herders nakom. Hoe kan hulle dit doen? En wat van bedieningsknegte, waarvan baie toekomstige herders is?

As Christen- ouer manne ’n seën vir die kudde wil wees, moet hulle nie net deur ’n pligsgevoel gemotiveer word nie. Hulle word hierdie raad gegee: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig” (1 Petrus 5:2). Doeltreffende herderswerk behels dus gewilligheid en gretigheid om ander te dien (Johannes 21:15-17). Dit beteken om die behoeftes van die skape raak te sien en vinnig op te tree. Dit beteken dat hulle die goeie Christelike eienskappe wat as die vrugte van God se gees bekend is in hulle handelinge met ander aan die dag sal lê.—Galasiërs 5:22, 23.

Herderswerk sluit soms in om broers by hulle huise te besoek.a Maar herders wat hulle ‘hart verruim’, sal hulleself inspan. Dit wil sê, hulle doen nie net nou en dan herdersbesoeke nie. Hulle benut elke geleentheid om as herders toesig te hou oor ander in die kudde.

Lei ander op om herders te word

Enige broer, ongeag hoe oud hy is, wat “na ’n opsienersamp streef, begeer . . . ’n voortreflike werk” (1 Timoteus 3:1). Baie bedieningsknegte toon dat hulle gewillig is om bykomende voorregte na te streef. Ouer manne help dus hierdie gewillige broers met graagte om hierdie belangrike stap te neem in hulle ‘strewe na ’n opsienersamp’. Dit beteken dat hulle opgelei moet word om bekwame herders te wees.

Omdat Jehovah se Christengemeente streng by God se hoë standaarde bly, is dit nie verswak deur valse herders soos dié wat in Esegiël 34:2-6 beskryf word nie. Hulle was veragtelik in Jehovah se oë en tereg ook. In plaas van die kudde te voed, het hulle hulleself gevoed. Hulle het nie die swakkes versterk, die siekes gesond gemaak, die gewondes verbind of diegene teruggebring wat weggedryf of verlore was nie. Hulle het meer soos wolwe as herders opgetree en die skape met wreedheid behandel. Die verwaarloosde skape is verstrooi en het doelloos rondgedwaal sonder iemand wat vir hulle sorg.—Jeremia 23:1, 2; Nahum 3:18; Matteus 9:36.

Anders as daardie ontroue herders volg Christenherders Jehovah se voorbeeld. Hulle help om die skape na geestelike “groen weivelde” en “waters waar rus is” te lei. Hulle strewe daarna om hulle “in die spore van geregtigheid” te lei deur hulle te help om die regte begrip van Jehovah se Woord te kry en dit in hulle lewe toe te pas. Hulle kan dit op doeltreffende wyse doen omdat hulle “bekwaam [is] om te onderrig”.—1 Timoteus 3:2.

Die ouer manne onderrig grotendeels van die verhoog af gedurende gemeentelike vergaderinge. Maar ouer manne onderrig ook op ’n persoonlike vlak. Party is natuurlik beter in private onderrigting terwyl ander meer die gawe het om toesprake te hou. Maar die feit dat iemand minder begaaf in een aspek van onderrigting is, maak hom nie noodwendig onbevoeg as ’n onderrigter nie. Ouer manne onderrig deur van alle beskikbare metodes gebruik te maak, en dit sluit herdersbesoeke in. Van die herderswerk word formeel gedoen, byvoorbeeld georganiseerde besoeke. Maar ’n groot deel van die herderswerk kan ook op ’n informeler manier gedoen word, wat ander ook tot groot voordeel strek.

Te alle tye herders en onderrigters

’n Dokter het kennis en ondervinding nodig om sy werk te doen. Maar sy pasiënte waardeer dit as hy goedhartigheid, medelye, besorgdheid en opregte belangstelling toon. Hierdie eienskappe moet deel van sy persoonlikheid vorm. Soortgelyke eienskappe moet eweneens ’n deel word van ’n goeie onderrigter en herder se persoonlikheid, ’n deel van sy daaglikse lewe. ’n Ware onderrigter sal bereid wees om diegene om hom te onderrig wanneer dit ook al nodig is. “Hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!” sê Spreuke 15:23 (NW). Die “regte tyd” kan wees wanneer hy van die verhoog af praat, wanneer hy van huis tot huis getuig of wanneer hy ’n gesprek in die Koninkryksaal of oor die telefoon het. ’n Goeie herder strewe eweneens daarna om te alle tye mooi, liefdevolle eienskappe aan die dag te lê, nie net wanneer hy herdersbesoeke doen nie. Aangesien hy ‘sy hart verruim het’, sal hy van elke geleentheid gebruik maak om oor die skape toesig te hou en hulle op die regte tyd die hulp te gee wat hulle nodig het. Dit maak hom gelief in die oë van die skape.—Markus 10:43.

Wolfgang, wat nou ’n ouer man is, onthou die keer toe ’n bedieningskneg en sy vrou vir hulle gesin kom kuier het. Hy sê: “Ons kinders was baie bly oor die aandag wat hulle gekry het en die aangename tyd wat ons gehad het. Hulle praat nou nog daaroor.” Ja, hierdie bedieningskneg het getoon dat hy omgee; hy het ‘sy hart verruim’.

Nog ’n geleentheid om ‘jou hart te verruim’, is deur die siekes te besoek, ’n kort, bemoedigende briefie vir hulle te stuur of hulle te skakel—enigiets wat vir hulle sal toon dat jy omgee! Bied hulp aan wanneer nodig. As hulle wil gesels, moet jy aandagtig luister. Praat oor positiewe, opwindende teokratiese bedrywighede in die plaaslike gemeente en elders. Help hulle om hulle oë gerig te hou op die wonderlike toekoms wat wag op diegene wat Jehovah liefhet.—2 Korintiërs 4:16-18.

Benewens herdersbesoeke

As ’n mens die doel van herderswerk in gedagte hou, is dit duidelik dat formele herdersbesoeke by broers se huise, hoewel dit belangrik is, net ’n deel daarvan is. ’n Liefdevolle herder ‘verruim sy hart’ deur onder alle omstandighede en te alle tye genaakbaar te wees. Die hartlike verhouding wat hy met sy broers opbou, verseker hulle dat hulle in donker tye geen onheil hoef te vrees nie, want hulle weet dat hulle liefdevolle broer, die Christenherder, vir hulle omgee.—Psalm 23:4.

Ja, al julle Christenherders ‘verruim julle hart’. Toon opregte liefde vir julle broers—moedig hulle aan, verkwik hulle, bou hulle in elke moontlike opsig geestelik op. Help hulle om standvastig in die geloof te wees (Kolossense 1:23). Geseën met Christenherders wat ‘hulle hart verruim’, sal die skape niks ontbreek nie. Hulle sal, soos Dawid, vasbeslote wees om in die huis van Jehovah te bly tot in lengte van dae (Psalm 23:1, 6). Wat wil ’n liefdevolle herder meer hê?

[Voetnoot]

a Wenke vir herdersbesoeke kan gevind word in Die Wagtoring van 15 September 1993, bladsye 20-3, en van 15 Maart 1996, bladsye 24-7.

[Venster op bladsy 30]

Christenherders

• Dien gretig en gewillig

• Voed die kudde en sorg vir hulle

• Help ander om daarna te streef om herders te word

• Besoek die siekes en sien om na hulle

• Is te alle tye gereed om hulle broers te help

[Prente op bladsy 31]

Ouer manne is altyd herders, hetsy in die velddiens, by vergaderinge of by gesellighede

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel