Respek vir gesag—Waarom so skaars?
“Die verset teen gevestigde gesag, godsdienstig en sekulêr, sosiaal en polities, as ’n wêreldwye verskynsel sal heel moontlik eendag beskou word as die uitstaande gebeurtenis van die laaste dekade.”
JARE het al verloop sedert die 1960’s, die dekade waarna die geskiedskrywer en filosoof Hannah Arendt hier verwys het. Vandag vier oneerbiedigheid teenoor gesag meer as ooit tevore hoogty.
’n Onlangse berig in The Times van Londen sê byvoorbeeld: “Party ouers weier om die gesag van die onderwyser oor hulle kind te aanvaar, en wanneer pogings aangewend word om hulle kind te dissiplineer, kla hulle.” Dikwels, wanneer kinders by die skool gedissiplineer word, daag hulle ouers daar op, nie net om die onderwysers te dreig nie, maar ook om hulle aan te val.
’n Woordvoerder vir die Nasionale Vereniging van Skoolhoofde in Brittanje het volgens berig gesê: “Die publiek sê: ‘Ek het regte’, pleks van: ‘Ek het verantwoordelikhede.’” Party ouers versuim nie net om ’n heilsame respek vir gesag by hulle kinders in te boesem nie, maar hulle wys ook nie hulle kinders tereg nie—en hulle weier dat ander dit doen. Kinders wat op hulle “regte” aanspraak maak, word toegelaat om die gesag van ouers sowel as onderwysers te minag, en die gevolg is voorspelbaar—“’n nuwe geslag wat geen respek vir gesag het nie en geen benul van reg en verkeerd het nie”, skryf die rubriekskrywer Margarette Driscoll.
Die tydskrif Time het in sy artikel “Verlore geslag” die aandag gevestig op die ontnugtering van baie Russiese jongmense deur ’n bekende rap-kunstenaar aan te haal wat gesê het: “Hoe kan enigiemand wat in hierdie wêreld gebore word, waar niks lank hou nie en niks regverdig is nie, in die gemeenskap vertroue stel?” Die sosioloog Michail Topalof het met hierdie mening saamgestem: “Hierdie kinders is nie dom nie. Hulle het al gesien hoe die staat vir hulle ouers gelieg het, hulle het gesien hoe hulle ouers hulle spaargeld en hulle werk verloor het. Kan ons van hulle verwag om gesag te respekteer?”
Dit sou egter verkeerd wees om tot die slotsom te kom dat wantroue teen gesag net kenmerkend van die jonger geslag is. Vandag wantrou mense van alle ouderdomme enige soort gesag, hulle minag dit selfs. Beteken dit dat daar geen gesag is wat ons kan vertrou nie? As gesag, wat omskryf word as “die mag of reg om die gedrag van ander te beheer, te oordeel of te verbied”, reg uitgeoefen word, kan dit ’n krag ten goede wees. Dit kan vir individue sowel as vir die gemeenskap voordelig wees. Die volgende artikel sal bespreek hoe dit moontlik is.