Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 8/1 bl. 24-28
  • Ek het wapens gebou, maar nou red ek lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het wapens gebou, maar nou red ek lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Nuwe lewe in die Verenigde State
  • ’n Volhardende kêrel
  • ’n Moeilike besluit
  • Ons maak ons kinders groot om Jehovah lief te hê
  • Die gelukkigste tyd van my lewe
  • My eerste liefde het my gehelp om te volhard
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Nie meer ’n rots of ’n eiland nie
    Ontwaak!—1994
  • Laat jy die Groot Pottebakker toe om jou te vorm?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 8/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

Ek het wapens gebou, maar nou red ek lewens

SOOS VERTEL DEUR ISIDOROS ISMAILIDIS

Ek was op my knieë terwyl trane oor my wange gerol het. “O, God, my gewete sê vir my dat ek nie kan voortgaan om wapens te bou nie”, het ek gebid. “Ek het hard probeer om ander werk te kry, maar ek kon nie. Ek gaan môre bedank. Asseblief, Jehovah, moenie toelaat dat ons vier kinders honger ly nie.” Hoe het ek hierdie punt bereik?

DIE lewe was vreedsaam en eenvoudig in Dráma, in noordelike Griekeland, waar ek in 1932 gebore is. My pa het altyd met my gepraat oor wat hy wou hê ek moet doen. Hy het my aangemoedig om na die Verenigde State te gaan om ’n goeie geleerdheid te kry. Nadat Griekeland gedurende die Tweede Wêreldoorlog geplunder is, was ’n algemene leuse onder die Grieke: “Julle kan ons besittings steel, maar julle kan nooit steel wat in ons verstand is nie.” Ek was vasbeslote om verder te studeer sodat ek iets kon hê wat niemand ooit sou kon steel nie.

Van jongs af het ek by verskillende jeuggroepe aangesluit wat deur die Grieks-Ortodokse Kerk gesteun is. Hulle het daar vir ons gesê om gevaarlike sektes te vermy. Ek onthou spesifiek dat een groep—Jehovah se Getuies—gemeld is, aangesien hulle na bewering die antichris verteenwoordig het.

Nadat ek in 1953 my skoolopleiding aan ’n tegniese skool in Atene voltooi het, het ek na Duitsland gegaan om te sien of ek werk kon kry en terselfdertyd verder kon leer. Maar my planne het nie geslaag nie; daarom het ek na ander lande gereis. Ná ’n paar weke het ek heeltemal platsak langs ’n hawe in België gesit. Ek onthou dat ek in ’n kerk ingestap het, gaan sit het en só gehuil het dat my trane op die vloer voor my geval het. Ek het in gebed vir God gesê dat ek nie materiële dinge sou nastreef nie, maar dat ek ’n geleerdheid sou verkry en ’n goeie Christen en goeie burger sou probeer wees as hy my help om in die Verenigde State te kom. Uiteindelik, in 1957, het ek daar aangekom.

’n Nuwe lewe in die Verenigde State

Die lewe in die Verenigde State was moeilik vir ’n immigrant wat nie die taal kon praat en geen geld gehad het nie. Ek het snags twee werke gehad en gedurende die dag gesukkel om kollege toe te gaan. Ek het na verskeie kolleges gegaan en ’n diploma verwerf. Toe het ek na die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles gegaan en ’n B.Sc.-graad in toegepaste fisika verwerf. Wat my pa oor ’n goeie geleerdheid gesê het, het my gedurende daardie moeilike jare aan die gang gehou.

Om en by daardie tyd het ek ’n lieflike Griekse meisie, Ekaterini, ontmoet, en ons is in 1964 getroud. Ons eerste seun is drie jaar later gebore, en in minder as vier jaar het ons nog twee seuns en ’n dogter gehad. Dit was beslis ’n uitdaging om ’n gesin te onderhou en terselfdertyd aan die universiteit te studeer.

Ek het vir die Amerikaanse Lugmag gewerk by ’n missiel- en ruimtemaatskappy in Sunnyvale, Kalifornië. Ek was betrokke by ’n verskeidenheid lug- en ruimteprojekte, waaronder die Agena- en Apollo-programme. Ek het selfs medaljes ontvang vir my bydrae tot die Apollo 8- en Apollo 11-sendings. Daarna het ek my universiteitsopleiding voortgesit en baie betrokke geraak by verskeie militêre ruimteprojekte. Op hierdie stadium het ek gedink dat ek alles het—’n dierbare vrou, vier wonderlike kinders, ’n vername posisie by die werk en ’n mooi huis.

’n Volhardende kêrel

Vroeg in 1967 het ek Jim, ’n baie nederige en gawe man, by die werk ontmoet. Jim het altyd geglimlag, en hy het nooit ’n uitnodiging om saam met my te gaan koffie drink van die hand gewys nie. Hy het hierdie geleenthede gebruik om my van dinge uit die Bybel te vertel. Jim het vir my gesê dat hy saam met Jehovah se Getuies studeer.

Ek was geskok om te hoor dat Jim by hierdie godsdiensgroep betrokke geraak het. Hoe kon so ’n gawe persoon die slagoffer van die sekte van die antichris word? Maar ek kon nie Jim se persoonlike belangstelling in my en sy goedhartigheid weerstaan nie. Dit het gelyk of hy elke dag iets anders vir my gehad het om te lees. Hy het byvoorbeeld eendag na my kantoor toe gekom en gesê: “Isidoros, hierdie artikel in Die Wagtoring bespreek hoe ’n mens ’n gelukkiger gesinslewe kan geniet. Neem dit gerus huis toe en lees dit saam met jou vrou.” Ek het vir hom gesê dat ek die tydskrif sou lees, maar later het ek na die ruskamer toe gegaan en die tydskrif in klein stukkies opgeskeur en dit in die asblik gegooi.

Ek het drie jaar lank elke boek en tydskrif vernietig wat Jim my gegee het. Omdat ek bevooroordeeld was teen Jehovah se Getuies, maar Jim tog as my vriend probeer behou het, het ek gedink dat dit beter is om te luister na wat hy sê en dit dan onmiddellik uit my gedagtes te sit.

Maar uit daardie besprekings het ek gesien dat die meeste dinge waarin ek geglo het en wat ek beoefen het nie op die Bybel gebaseer is nie. Ek het besef dat die leerstellings van die Drie-eenheid, helse vuur en die onsterflikheid van die siel onskriftuurlik is (Prediker 9:10; Esegiël 18:4; Johannes 20:17). As ’n trotse lid van die Grieks-Ortodokse Kerk wou ek nie openlik erken dat Jim reg was nie. Maar aangesien hy altyd die Bybel gebruik het en nooit sy persoonlike mening gegee het nie, het ek uiteindelik besef dat hierdie man ’n waardevolle boodskap uit die Bybel vir my het.

My vrou het agtergekom dat iets aan die gang was, en sy het gevra of ek met my vriend gepraat het wat met die Getuies assosieer. Toe ek ja geantwoord het, het sy gesê: “Kom ons gaan na enige ander kerk toe behalwe Jehovah se Getuies.” Maar weldra het ek en my vrou, saam met ons kinders, die vergaderinge van die Getuies gereeld bygewoon.

’n Moeilike besluit

Terwyl ek die Bybel bestudeer het, het ek op dié woorde van die profeet Jesaja afgekom: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Ek het my afgevra: ‘Hoe kan ’n kneg van ’n vredeliewende God vernietigende wapens ontwerp en bou?’ (Psalm 46:10). Dit het my nie lank geneem om tot die gevolgtrekking te kom dat ek van werk moes verander nie.

Dit was vanselfsprekend ’n groot uitdaging. My werk het my groot aansien besorg. Ek het deur jare van harde werk, opleiding en opofferinge gesukkel om sover in die lewe te kom. Ek het die korporatiewe leer geklim, en hier moes ek besluit of ek my loopbaan gaan opgee. Maar my innige liefde vir Jehovah en ’n vurige begeerte om sy wil te doen, het uiteindelik oorwin.—Matteus 7:21.

Ek het besluit om by ’n maatskappy in Seattle, Washington, te gaan werk. Maar tot my teleurstelling het ek gou gevind dat ek selfs meer betrokke was by werk wat nie met Jesaja 2:4 ooreengestem het nie. My pogings om net aan ander projekte te werk, het nie geslaag nie, en my gewete het my weer gekwel. Ek het duidelik gesien dat ek nie my werk kon behou en terselfdertyd ’n skoon gewete kon hê nie.—1 Petrus 3:21.

Dit het duidelik geword dat ons belangrike veranderinge sou moes aanbring. In minder as ses maande het ons ons lewenstyl verander en ons gesin se uitgawes met die helfte verminder. Toe het ons ons weelderige huis verkoop en ’n klein huisie in Denver, Colorado, gekoop. Ek was toe reg vir die laaste groot stap—om uit my werk te bedank. Ek het my bedanking getik en my gewetensgetroue standpunt verduidelik. Daardie nag, nadat die kinders gaan slaap het, het ek en my vrou saam gekniel en tot Jehovah gebid, soos ek in die begin van hierdie artikel beskryf het.

In minder as ’n maand het ons Denver toe getrek, en twee weke later, in Julie 1975, is ek en my vrou gedoop. Ek kon ses maande lank nie werk kry nie, en ons spaargeld het geleidelik begin opraak. Teen die sewende maand was die saldo van ons spaarrekening minder as die maandelikse betaling op die huis. Ek het begin soek na enige los werkies wat ek kon doen, maar onmiddellik daarna het ek werk as ’n ingenieur gekry. Die salaris was ongeveer die helfte van wat ek voorheen verdien het; dit was nietemin meer as waarvoor ek Jehovah gevra het. Hoe bly was ek tog dat ek geestelike belange eerste gestel het!—Matteus 6:33.

Ons maak ons kinders groot om Jehovah lief te hê

Intussen was ek en Ekaterini besig met die veeleisende taak om ons vier kinders in ooreenstemming met Goddelike beginsels groot te maak. Gelukkig het ons gesien hoe almal van hulle, met Jehovah se hulp, ryp Christene word, wat hulle lewe ten volle wy aan die belangrike werk om die Koninkryk te verkondig. Ons drie seuns, Christos, Lakes en Gregory het almal aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer en dien nou in verskeie toewysings waar hulle gemeentes besoek en versterk. Toula, ons dogter, werk as ’n vrywilliger by die hoofkantoor van Jehovah se Getuies in New York. Dit was vir ons hartroerend om te sien hoe hulle almal belowende loopbane en goed besoldigde betrekkings opoffer om Jehovah te dien.

Baie het al gevra hoe ons dit reggekry het om ons kinders so suksesvol groot te maak. Daar is natuurlik geen vaste formule om kinders groot te maak nie, maar ons het hard probeer om hulle harte met liefde vir Jehovah en hulle naaste te vul (Deuteronomium 6:6, 7; Matteus 22:37-39). Die kinders het geleer dat ons nie vir Jehovah kan sê dat ons hom liefhet nie tensy ons dade toon dat ons hom liefhet.

Ons het een dag per week, gewoonlik op ’n Saterdag, as ’n gesin aan die bediening deelgeneem. Ons het gereeld Maandagaande ná aandete ’n gesinsbybelstudie gehad, en ons het ook met elke individuele kind ’n Bybelstudie gehad. Toe die kinders jonger was, het ons ’n paar keer per week vir kort rukkies met elke kind gestudeer, en namate hulle ouer geword het, het ons een keer per week langer studies gehad. Gedurende hierdie studies was ons kinders openhartig en het hulle hulle probleme met ons bespreek.

Ons het ook as ’n gesin opbouende ontspanning geniet. Ons het daarvan gehou om musiekinstrumente saam te speel, en elke kind was lief daarvoor om sy of haar gunstelingliedjies te speel. Party naweke het ons ander gesinne oorgenooi vir opbouende assosiasie. Ons het ook as ’n gesin saam op vakansie gegaan. Gedurende een vakansie het ons twee weke lank die berge van Colorado verken en saam met die plaaslike gemeentes in die veldbediening gewerk. Ons kinders het goeie herinneringe van al die kere toe ons by streekbyeenkomste in verskillende afdelings gewerk het en Koninkryksale op verskillende plekke help bou het. Toe ons die kinders Griekeland toe geneem het om by die familie te gaan kuier, kon hulle ook talle getroue Getuies ontmoet wat vroeër weens hulle geloof in die tronk was. Dit het ’n diep indruk op hulle gemaak en hulle help besluit om standvastig en moedig vir die waarheid te bly.

Soms het die kinders hulle natuurlik sleg gedra of die verkeerde keuse in verband met assosiasie gemaak. Ander kere het ons dit vir hulle moeilik gemaak deur op party gebiede moontlik te beperkend te wees. Maar ons het gebruik gemaak van die “verstandsregulering van Jehovah”, wat in die Bybel gevind word, om sake vir ons almal reg te stel.—Efesiërs 6:4; 2 Timoteus 3:16, 17.

Die gelukkigste tyd van my lewe

Nadat ons kinders aan die voltydse bediening begin deelneem het, het ek en Ekaterini ernstig begin dink aan wat ons kon doen om ’n groter aandeel aan hierdie lewensreddende werk te hê. Ons albei het dus in 1994, nadat ek vroeg afgetree het, as gewone pioniers begin dien. Ons bediening sluit in dat ons plaaslike kolleges en universiteite besoek, waar ons vir die studente getuig en Bybelstudies met party van hulle hou. Omdat ek met hulle probleme kan simpatiseer—aangesien ek nie so lank gelede nie nog in hulle skoene gestaan het—het ek heelwat sukses gehad om hulle te help om Jehovah te leer ken. Wat ’n vreugde was dit tog om met studente uit Bolivia, Brasilië, Chili, China, Egipte, Etiopië, Mexiko, Thailand en Turkye te studeer! Ek geniet dit ook om oor die telefoon te getuig, veral vir mense wat my moedertaal praat.

Hoewel ek baie beperkings het as gevolg van my swaar Griekse aksent en my ouderdom, het ek altyd probeer om myself beskikbaar te stel en die gees van Jesaja te hê, wat gesê het: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Ons het die vreugde gesmaak om meer as ’n halfdosyn mense te help om hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Hierdie tyd is beslis vir ons die gelukkigste tyd.

Vroeër het my hele lewe gedraai om die bou van verskriklike wapens om my medemens dood te maak. Maar Jehovah het deur sy onverdiende goedhartigheid die weg gebaan sodat ek en my gesin sy toegewyde knegte kon word en ons lewens daaraan kan wy om mense van die goeie nuus van ewige lewe op ’n paradysaarde te vertel. Wanneer ek nadink oor die moeilike besluite wat ek moes neem, kom die woorde van Maleagi 3:10 by my op: “Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.” Hy het dit beslis gedoen—soveel as wat ons hart begeer!

[Venster/Prent op bladsy 27]

Lakes: My pa het huigelary verag. Hy het baie hard probeer om nie huigelagtig te wees nie, veral in die voorbeeld wat hy vir sy gesin gestel het. Hy het dikwels vir ons gesê: “As ’n mens jou lewe aan Jehovah toewy, beteken dit iets. Jy moet gewillig wees om opofferinge vir Jehovah te maak. Dit is wat dit in werklikheid beteken om ’n Christen te wees.” Daardie woorde het my bygebly en my gehelp om sy voorbeeld te volg om opofferinge vir Jehovah te maak.

[Venster/Prent op bladsy 27]

Christos: Ek het my ouers se heelhartige lojaliteit aan Jehovah en hulle sterk verbintenis tot hulle verantwoordelikheid as ouers werklik waardeer. As ’n gesin het ons alles saamgedoen—van velddiens tot vakansies. Hoewel my ouers by soveel ander dinge betrokke kon geraak het, het hulle hulle lewe eenvoudig gehou en hulle op die bediening toegespits. Vandag weet ek dat ek waarlik die gelukkigste is wanneer ek heeltemal verdiep is in Jehovah se diens.

[Venster/Prent op bladsy 28]

Gregory: Nog meer as my ouers se woorde van aanmoediging om my bediening uit te brei, het hulle voorbeeld en die bewyse van hulle vreugde in Jehovah se diens my beweeg om my omstandighede in heroorweging te neem, om enige vrese om die voltydse bediening te betree uit die weg te ruim en om my nog meer op Jehovah se werk toe te lê. Ek dank my ouers dat hulle my gehelp het om die vreugde te smaak wat daaruit voortspruit as jy jou inspan.

[Venster/Prent op bladsy 28]

Toula: My ouers het altyd beklemtoon dat ons verhouding met Jehovah die kosbaarste ding is wat ons ooit kan hê en dat die enigste manier waarop ons ooit waarlik gelukkig kan wees, is om Jehovah ons beste te gee. Hulle het Jehovah vir ons ’n baie werklike persoon gemaak. My pa het dikwels vir ons gesê dat dit ’n onbeskryflike gevoel is om snags met ’n skoon gewete te gaan slaap en te weet dat jy jou bes gedoen het om Jehovah gelukkig te maak.

[Prent op bladsy 25]

Toe ek ’n soldaat in Griekeland was, 1951

[Prent op bladsy 25]

Saam met Ekaterini in 1966

[Prent op bladsy 26]

My gesin in 1996: (links na regs, agter) Gregory, Christos, Toula; (voor) Lakes, Ekaterini en ek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel