Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 8/15 bl. 4-7
  • Die enigste manier om haat uit te wis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die enigste manier om haat uit te wis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Haat gevoed deur vrees
  • Veranderende gesindhede
  • Haat sal uitgewis word!
  • Hoekom is daar soveel haat? – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • Hoekom is daar ’n siklus van haat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2022
  • “’n Tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Waarom soveel haat?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 8/15 bl. 4-7

Die enigste manier om haat uit te wis

“Daar is geen haat sonder vrees nie. . . . Ons haat wat ons vrees, en waar daar dus haat is, skuil vrees.”—CYRIL CONNOLLY, LETTERKUNDIGE KRITIKUS EN REDAKTEUR.

BAIE sosioloë glo dat haat diepgewortel in die mens se onderbewussyn is. “’n Groot deel daarvan is dalk selfs permanent”, ingebou in die mens se natuur, het ’n politoloog gesê.

Dit is te verstane dat mense wat die menslike natuur bestudeer tot sulke gevolgtrekkings kom. Die enigste persone wat hulle kan bestudeer, is mans en vroue wat, volgens die geïnspireerde verslag van die Bybel, “in ongeregtigheid” en “in sonde” gebore is (Psalm 51:7). Toe die Skepper self millenniums gelede onvolmaakte mense beoordeel het, het selfs hy gesien “dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”.—Genesis 6:5.

Vooroordeel, diskriminasie en die gevolglike haat is die resultate van die mens se inherente onvolmaaktheid en selfsugtigheid (Deuteronomium 32:5). Ongelukkig kan geen menseinstelling of -regering, ongeag sy beleid, wette maak wat ’n verandering in mense se hartstoestand kan teweegbring wat hierdie sake betref nie. Johanna McGeary, ’n buitelandse korrespondent, het gesê: “Geen globale polisieman, ongeag hoe magtig hy is, kan ingryp om die haat uit te wis wat aanleiding gegee het tot soveel bloedvergieting in Bosnië, Somalië, Liberië, Kasjmir en die Kaukasus nie.”

Voordat ons egter oplossings begin soek, moet ons eers ’n basiese begrip verkry van wat agter die openlike uitinge van haat skuil.

Haat gevoed deur vrees

Daar is soveel verskillende vorme van haat. Die skrywer Andrew Sullivan het die saak so opgesom: “Daar is haat wat vrees en haat wat bloot minagting voel; daar is haat wat mag uitoefen en haat wat die gevolg is van magteloosheid; daar is wraak en daar is haat wat die gevolg is van afguns. . . . Daar is die onderdrukker se haat en die slagoffer se haat. Daar is haat wat stadig kook, en haat wat verflou. En daar is haat wat ontplof en haat wat nooit ontbrand nie.”

Maatskaplike en ekonomiese faktore is ongetwyfeld van die hooffaktore wat hatige konflik in ons tyd veroorsaak. Sterk vooroordele en haat wat skielik opvlam, word dikwels gevind in gebiede waar die groep wat ekonomies gesproke ’n gunstiger posisie beklee in die minderheid is. Haat bestaan ook dikwels waar die lewenstandaard van ’n deel van die gemeenskap deur ’n instroming van buitelanders bedreig word.

Party meen dat hierdie nuwelinge sal meeding om betrekkings en vir laer lone sal werk of dat hulle die waarde van eiendom sal laat verminder. Of hierdie vrese geregverdig is of nie, is ’n ander saak. Vrees vir ekonomiese verliese en vrees dat die standaarde van die gemeenskap of die lewenstandaard sal afneem, is kragtige faktore wat vooroordeel en haat veroorsaak.

Wat moet die eerste stap wees om haat uit te wis? ’n Verandering in gesindhede.

Veranderende gesindhede

“Ware verandering kan slegs plaasvind as die mense wat daarby betrokke is werklik wil”, het McGeary gesê. Hoe kan mense se gesindheid dan verander word? Ondervinding het getoon dat God se Woord, die Bybel, die kragtigste, motiverendste en blywendste invloed kan hê om die ontwikkeling van haat teë te werk. Dit is omdat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen en skerper is as enige tweesnydende swaard en selfs deurdring tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en gedagtes en bedoelinge van die hart kan onderskei’.—Hebreërs 4:12.

Die uitwissing van vooroordeel en haat gebeur weliswaar nie vanself nie, en dit gebeur ook nie oornag nie. Maar dit kan gedoen word. Jesus Christus, wat ’n groot invloed op mense se harte en gewetens het, kon mense beweeg om te verander. Miljoene het dit reggekry om Jesus Christus se wyse raad te volg: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg.”—Matteus 5:44.

Jesus het in ooreenstemming met sy leringe vir Matteus, ’n voormalige belastinggaarder wat ’n gehate uitgeworpene in die Joodse gemeenskap was, in die groep van sy mees vertroude vriende ingesluit (Matteus 9:9; 11:19). Jesus het verder ’n manier van ware aanbidding ingestel wat uiteindelik duisende nie-Jode sou insluit wat voorheen uitgesluit en gehaat is (Galasiërs 3:28). Mense van regoor die destyds bekende wêreld het volgelinge van Jesus Christus geword (Handelinge 10:34, 35). Hierdie individue het vir hulle onvergelyklike liefde bekend geword (Johannes 13:35). Toe manne wat vol haat was Jesus se dissipel Stefanus gestenig het, was sy laaste woorde: “Jehovah, moet hulle nie hierdie sonde toereken nie.” Stefanus wou die beste hê vir diegene wat hom gehaat het.—Handelinge 6:8-14; 7:54-60.

Hedendaagse ware Christene het op soortgelyke wyse gereageer op Jesus se raad om goed te doen, nie net aan hulle Christenbroers nie, maar selfs aan diegene wat hulle haat (Galasiërs 6:10). Hulle werk hard om kwaadwillige haat uit hulle lewens te verwyder. Aangesien hulle besef dat daar sterk kragte in hulle is wat haat kan opwek, tree hulle daadwerklik op en vervang hulle haat met liefde. Ja, soos ’n wyse man van die ou tyd gesê het: “Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge.”—Spreuke 10:12.

Die apostel Johannes het gesê: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n mensemoordenaar, en julle weet dat die ewige lewe in geen mensemoordenaar bly nie” (1 Johannes 3:15). Jehovah se Getuies glo dit. Gevolglik word hulle nou al verenig—uit alle etniese, kulturele, godsdienstige en politieke agtergronde—in een verenigde gemeenskap sonder haat, ’n ware wêreldwye broederskap.—Sien bygaande vensters.

Haat sal uitgewis word!

‘Maar’, sê jy dalk, ‘dis alles goed en wel vir diegene wat betrokke is. Dit sal egter nie haat heeltemal van ons aarde af laat verdwyn nie.’ Ja, selfs as jy nie haat in jou hart het nie, kan jy nog steeds die slagoffer daarvan wees. Ons moet dus op God vertrou om die ware oplossing tot hierdie wêreldwye probleem te voorsien.

Dit is God se voorneme dat alle spore van haat binnekort van die aarde af verwyder sal word. Dit sal plaasvind onder die heerskappy van die hemelse regering waarvoor Jesus ons leer bid het: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.

Wanneer hierdie gebed ten volle vervul is, sal toestande wat haat opwek nie meer bestaan nie. Situasies wat haat uitbuit, sal verwyder wees. Propaganda, onkunde en vooroordeel sal vervang word deur verligting, waarheid en regverdigheid. Dan sal God seer seker ‘elke traan van hulle oë afgevee het, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie’.—Openbaring 21:1-4.

En nou selfs beter nuus! Daar is onweerlegbare bewyse dat ons in “die laaste dae” lewe. Ons kan dus vol vertroue wees dat ons binnekort sal sien hoe goddelose haat van hierdie aarde af verdwyn (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:3-14). In God se beloofde nuwe wêreld sal ’n ware gees van broederskap bestaan omdat die mensdom tot volmaaktheid herstel sal word.—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13.

Maar jy hoef nie tot dan te wag om deel uit te maak van ’n ware broederskap nie. Trouens, soos die bygaande verslae toelig, bestaan Christelike liefde reeds in miljoene harte wat andersins met haat gevul kon wees. Jy word ook genooi om ’n deel te word van hierdie liefdevolle broederskap!

[Venster op bladsy 5]

“Wat sou Jesus gedoen het?”

In Junie 1998 het drie wit mans op die platteland in Texas in die Verenigde State vir James Byrd jr., ’n swart man, aangeval. Hulle het hom na ’n afgeleë, verlate plek geneem, hom geslaan en sy bene aan mekaar vasgeketting. Toe het hulle hom aan ’n ligte vragmotor vasgemaak en hom vyf kilometer in die pad af gesleep totdat sy liggaam ’n afvoersloot getref het. Dit is al die dekade (1990’s) se afgryslikste haatmisdaad genoem.

Drie susters van James Byrd is Jehovah se Getuies. Hoe voel hulle oor die mense wat hierdie verskriklike misdaad gepleeg het? In ’n gesamentlike verklaring het hulle gesê: “Dit het ’n onuitspreeklike gevoel van verlies en pyn veroorsaak toe ons geliefde gemartel en gelynch is. Hoe reageer ’n mens op so ’n wrede daad? Vergelding, hatige praatjies of om haatgevulde propaganda te bevorder, het nooit by ons opgekom nie. Ons het gedink: ‘Wat sou Jesus gedoen het? Hoe sou hy gereageer het?’ Die antwoord was baie duidelik. Sy boodskap sou ’n boodskap van vrede en hoop gewees het.”

Een van die Bybeltekste wat hulle gehelp het om te keer dat haat in hulle hart ontwikkel, was Romeine 12:​17-19. Die apostel Paulus het geskryf: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’”

Hulle het verder gesê: “Ons onthou die realistiese stellings wat in ons publikasies gemaak is dat party ongeregtighede of misdade so verskriklik is dat dit moeiliker sal wees om te sê: ‘Ek vergewe jou’, en net aan te gaan. Vergifnis kan in sulke gevalle eenvoudig beteken dat ’n mens ontslae raak van ’n wrok sodat jy met jou lewe kan aangaan en nie fisies of verstandelik siek word omdat jy ’n wrok koester nie.” Wat ’n sprekende bewys van die krag wat die Bybel het om te voorkom dat diepgewortelde haat posvat!

[Venster op bladsy 6]

Vyandigheid verander in vriendskap

In onlangse jare het duisende immigrante in Griekeland ingestroom op soek na werk. Maar verslegtende ekonomiese toestande het werksgeleenthede verminder en dit moeiliker gemaak om werk te kry. As gevolg hiervan is daar baie vyandigheid tussen verskillende etniese groepe. ’n Tipiese voorbeeld is die mededinging tussen immigrante uit Albanië en dié uit Bulgarye. In baie dele van Griekeland is daar hewige mededinging tussen mense van hierdie twee groepe.

In die dorp Kiato, in noordoostelike Peloponnesos, het ’n Bulgaarse gesin en ’n Albanese man die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en mekaar leer ken. Die toepassing van Bybelbeginsels het die vyandigheid laat verdwyn wat tussen baie mense uit hierdie twee etniese groepe bestaan. Dit het ook bygedra tot ’n ware broederlike vriendskap tussen hierdie individue. Ivan, ’n Bulgaar, het Loulis, die Albanees, selfs gehelp om huisvesting langs sy huis te kry. Die twee gesinne deel dikwels hulle kos en die paar materiële dinge wat hulle besit. Albei mans is nou gedoopte Getuies van Jehovah en werk ten nouste saam in die verkondiging van die goeie nuus. Dit is onnodig om te sê dat die bure hierdie Christelike vriendskap opgemerk het.

[Prent op bladsy 7]

Onder God se Koninkryk sal alle spore van haat van die aarde af verwyder word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel