Waaraan meet jy sukses?
EEN woordeboek definieer sukses as “die verkryging van rykdom, guns of vernaamheid”. Is dit ’n volledige definisie? Is rykdom, guns of vernaamheid die enigste maatstawwe waaraan sukses gemeet word? Voordat jy antwoord, dink hieraan: Jesus Christus het gedurende sy lewe geen materiële rykdom versamel nie. Hy het nie die guns van die meeste mense geniet nie; hy is ook nie hooggeag deur die toonaangewers van sy dag nie. En tog was Jesus ’n suksesvolle man. Hoe so?
Terwyl Jesus op aarde was, was hy ‘ryk teenoor God’ (Lukas 12:21). Ná sy opstanding het God hom beloon deur hom “met heerlikheid en eer” te kroon. Jehovah het sy Seun “tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is” (Hebreërs 2:9; Filippense 2:9). Jesus se lewenswandel het Jehovah se hart verbly (Spreuke 27:11). Sy aardse lewe was suksesvol omdat dit aan die doel daarvan beantwoord het. Jesus het God se wil gedoen en Sy naam geëer. Op sy beurt het God Jesus vereer met die soort rykdom, guns en vernaamheid wat geen akademikus, politikus of sportheld ooit sal geniet nie. Jesus was waarlik die suksesvolste man wat nog op die aarde was.
Christenouers besef dat hulle kinders nou ryk seëninge en in die komende stelsel van dinge wonderlike belonings sal ontvang as hulle in Christus se voetstappe volg en ryk word teenoor God in die sin wat Jesus was. Daar is geen beter manier waarop ’n jong persoon in Christus se voetstappe kan volg as om die werk te doen wat Jesus gedoen het nie—deur indien moontlik aan die voltydse bediening deel te neem.
In party kulture is die algemene tendens egter dat jongmense nie die voltydse bediening betree nie. Wanneer ’n jong man sy skoolloopbaan voltooi, word daar moontlik van hom verwag om voltydse werk te kry, te trou en gevestig te raak. Jongmense uit sulke agtergronde hou hulle soms verkeerdelik daarvan terug om die voltydse bediening te betree (Spreuke 3:27). Waarom? Weens druk skik hulle hulle na die heersende kulturele standaarde. Dit is wat met Robert gebeur het.a
Wanneer kultuur en gewete bots
Robert is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak. In sy tienerjare het sy gedrag en keuse van maats veel te wense oorgelaat. Sy ma het haar oor hom begin bekommer. Daarom het sy ’n pionier, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, gevra om hom aan te moedig. Robert verduidelik wat toe gebeur het.
“Ek het werklik die belangstelling waardeer wat die pionierbroer in my getoon het. Weens sy goeie voorbeeld wou ek ook ’n pionier word sodra ek die skool verlaat het. Dit is toe dat my ma weer bekommerd geraak het—maar om ’n ander rede. Jy sien, in ons kultuur is dit in orde vir ’n meisie om direk ná skool aan die pionierdiens te begin deelneem, maar daar word van ’n seun verwag om eers finansiële sekuriteit te verkry, en dan kan hy daaraan dink om ’n pionier te word.
“Ek het ’n ambag geleer en my eie sakeonderneming begin. Ek was kort voor lank diep betrokke by die sakeonderneming en het bloot werktuiglik vergaderinge bygewoon en die predikingswerk gedoen. My gewete het my gepla—ek het geweet dat ek meer in Jehovah se diens kon doen. Dit was nietemin werklik ’n stryd om weg te breek van wat ander van my verwag het, maar ek is bly dat ek dit gedoen het. Ek is nou getroud, en ek en my vrou dien die afgelope twee jaar al as pioniers. ’n Rukkie gelede is ek as ’n bedieningskneg in die gemeente aangestel. Ek kan eerlikwaar sê dat ek nou tevrede voel dat ek Jehovah met my hele hart dien, na die beste van my vermoë.”
Hierdie tydskrif het jongmense al herhaaldelik aangemoedig om ’n ambag te leer of die een of ander nuttige kwalifikasie te verkry—indien moontlik terwyl hulle nog op skool is. Met watter doel? Om ryk te word? Nee. Die hoofrede is sodat hulle hulle as volwassenes behoorlik sal kan onderhou en Jehovah na die beste van hulle vermoë sal kan dien, veral in die voltydse bediening. Maar dit het al dikwels gebeur dat jong mans en vroue so betrokke geraak het by ’n sekulêre loopbaan dat die bediening onbelangrik raak. Party dink nie eers daaraan om die voltydse bediening te betree nie. Waarom nie?
Robert se kommentare werp ’n bietjie lig op hierdie onderwerp. Nadat hy sy ambag geleer het, het Robert ’n sakeonderneming begin. Kort voor lank was hy op ’n figuurlike trapmeule wat hom nêrens heen gelei het nie. Sy doelwit was om finansiële sekuriteit te verkry. Maar bereik enigiemand binne of buite die Christengemeente daardie doelwit ooit ten volle? Christene moet daarna streef om finansieel verantwoordelik te word, deur hulle finansiële verpligtinge pligsgetrou na te kom; maar hulle moet ook besef dat min mense in hierdie onseker tye ooit ’n punt bereik waar hulle werklik kan sê dat hulle algehele finansiële sekuriteit het. Dit is waarom Jesus se belofte in Matteus 6:33 vir Christene so bemoedigend is.
Robert is bly dat hy besluit het om eerder die begeertes van sy hart as die voorskrifte van sy kultuur te volg. Vandag geniet hy ’n loopbaan in die voltydse diens. Ja, die voltydse bediening is ’n eerbare loopbaan. Robert geniet gemoedsrus omdat hy Jehovah, soos hy sê, ‘na die beste van sy vermoë dien’.
Woeker met jou talente
Daar is talle begaafde mense onder Jehovah se Getuies. Party het uitsonderlike intellektuele vermoëns; ander kan baie goed met hulle hande werk. Al hierdie gawes kom van Jehovah, wat “aan almal lewe en asem en alles” gee (Handelinge 17:25). Sonder die lewe sou hierdie gawes van geen waarde gewees het nie.
Dit is dan net gepas dat ons ons toegewyde lewe in Jehovah se diens gebruik. Dit is wat een talentvolle jong man besluit het om te doen. Hy het in die eerste eeu G.J. gelewe. As ’n lid van ’n vooraanstaande gesin het hy sy jeug in die welbekende stad Tarsus van Silisië deurgebring. Hoewel hy Joods van geboorte was, het hy Romeinse burgerskap van sy vader geërf. Dit het baie regte en voorregte vir hom moontlik gemaak. Toe hy ouer geword het, het hy die Wet onder een van die vernaamste “professore” van die tyd gestudeer—Gamaliël. Dit het gelyk of hy weldra ‘rykdom, guns en vernaamheid’ sou verkry.—Handelinge 21:39; 22:3, 27, 28.
Wie was hierdie jong man? Sy naam was Saulus. Maar Saulus het ’n Christen en uiteindelik die apostel Paulus geword. Hy het sy oorspronklike strewes laat vaar en as ’n Christen sy hele lewe aan Jehovah se diens gewy. Paulus het nie as ’n vooraanstaande regsgeleerde bekend geword nie, maar as ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus. Nadat hy byna 30 jaar as ’n sendeling gedien het, het Paulus ’n brief aan vriende in Filippi geskryf. Hierin het hy melding gemaak van ’n paar van sy vroeëre prestasies voordat hy ’n Christen geword het, en toe het hy gesê: “Weens [Jesus Christus] het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Filippense 3:8). Nee, Paulus was nie spyt oor die manier waarop hy sy lewe gelei het nie!
Wat van die opleiding wat Paulus van Gamaliël ontvang het? Was dit ooit vir hom nuttig? Ja! By verskeie geleenthede het hy bygedra tot “die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”. Maar Paulus se vernaamste werk was om ’n verkondiger van die goeie nuus te wees—iets wat sy vroeëre opleiding hom nooit kon geleer het nie.—Filippense 1:7; Handelinge 26:24, 25.
Vandag is party eweneens in staat om hulle gawes en talente en selfs hulle geleerdheid te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Amy het byvoorbeeld ’n graad in die handel en nog een in die regte. Sy het vroeër ’n goed besoldigde werk by ’n prokureursfirma gehad, maar vandag dien sy as ’n onbetaalde vrywillige bedienaar by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore. Amy beskryf die lewe wat sy nou lei as volg: “Ek glo dat ek die beste keuse moontlik in my lewe gemaak het. . . . Ek het geen begeerte om plekke te ruil met enigeen wat saam met my op universiteit was nie. Ek is trots op die loopbaan wat ek gekies het. Ek het alles wat ek nodig het en wil hê—’n vergenoegde, gelukkige lewe en ’n loopbaan wat sinvol en bevredigend is.”
Amy het ’n weg gekies wat haar gemoedsrus, bevrediging en Jehovah se seën meegebring het. Christenouers wil ongetwyfeld niks minder vir hulle kinders hê nie!
Sukses in die Christelike bediening
Dit is natuurlik noodsaaklik dat ons die regte beskouing van sukses in die Christelike bediening self het. Dit is nie moeilik om suksesvol te voel wanneer ons ’n aangename tyd in die veldbediening gehad het, Bybellektuur versprei het of stimulerende Bybelbesprekings met huisbewoners gehad het nie. Maar as ons selde ’n horende oor vind, kan ons in die versoeking kom om te dink dat ons ons tyd mors. Onthou egter dat een van die definisies van sukses ‘die verkryging van guns’ is. Wie se guns wil ons graag verkry? Jehovah s’n, natuurlik. Dit kan ons kry hetsy mense na ons boodskap luister of nie. Jesus het sy dissipels ’n kragtige les geleer in dié verband.
Jy onthou dalk dat Jesus 70 Koninkryksverkondigers uitgestuur het “na elke stad en plek waar hy self sou kom” (Lukas 10:1). Hulle moes sonder Jesus in die stede en dorpe die predikingswerk doen. Dit was vir hulle ’n nuwe ondervinding. Jesus het dus vir hulle breedvoerige instruksies gegee voordat hy hulle uitgestuur het. Wanneer hulle “’n vriend van vrede” ontmoet het, moes hulle hom ’n deeglike getuienis aangaande die Koninkryk gee. Maar as hulle nie vriendelik ontvang is nie, moes hulle onbesorg verder gaan. Jesus het verduidelik dat diegene wat geweier het om na hulle te luister in werklikheid Jehovah self verwerp het.—Lukas 10:4-7, 16.
Toe die 70 hulle predikingstoewysing voltooi het, het hulle “met vreugde [na Jesus] teruggekeer en gesê: ‘Here, selfs die demone word deur die gebruik van u naam aan ons onderwerp’” (Lukas 10:17). Dit moes vir daardie onvolmaakte manne opwindend gewees het om magtige geesskepsele uit te dryf! Maar Jesus het sy geesdriftige dissipels vermaan: “Moet julle . . . nie verheug oor die feit dat die geeste aan julle onderwerp word nie, maar verheug julle omdat julle name in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20). Die 70 sou dalk nie altyd die mag hê om demone uit te dryf nie, en hulle sou ook nie altyd positiewe resultate in die bediening hê nie. Maar as hulle getrou gebly het, sou hulle altyd Jehovah se goedkeuring wegdra.
Waardeer jy voltydse dienaars?
’n Jong man het eenkeer vir ’n Christen- ouer man gesê: “Wanneer ek die skool verlaat, sal ek werk probeer kry. As ek nie werk kan kry nie, sal ek dit oorweeg om die voltydse diens te betree.” Dit is egter nie die siening van die meeste wat pioniers geword het nie. Party het die kans om ’n betalende loopbaan na te streef, prysgegee sodat hulle as pioniers kon dien. Ander het opwindende geleenthede om verder te studeer van die hand gewys. Soos die apostel Paulus het hulle opofferinge gemaak, maar hulle is, soos Paulus, Robert en Amy, nie spyt oor die keuses wat hulle gemaak het nie. Hulle waardeer hulle voorreg om hulle talente te gebruik om Jehovah te loof, wat die beste verdien wat hulle hom kan bied.
Baie getroue Getuies van Jehovah is om verskeie redes nie in staat om aan die pionierdiens deel te neem nie. Miskien het hulle skriftuurlike verpligtinge wat hulle moet nakom. Maar as hulle God met hulle hele ‘hart, siel en verstand’ dien, skep Jehovah behae in hulle (Matteus 22:37). Hoewel hulle nie self aan die pionierdiens kan deelneem nie, besef hulle dat diegene wat wel as pioniers dien, ’n voortreflike loopbaan gekies het.
Die apostel Paulus het geskryf: “Hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word” (Romeine 12:2). In ooreenstemming met Paulus se raad moet ons nie toelaat dat die kulturele of sekulêre standaarde van hierdie stelsel ons denke vorm nie. Hetsy jy aan die pionierdiens kan deelneem of nie, jy moet jou lewe om Jehovah se diens laat draai. Jy sal suksesvol wees solank jy Jehovah se goedkeuring wegdra.
[Voetnoot]
a Die name is verander.
[Prent op bladsy 19]
Moenie op ’n figuurlike trapmeule vassit wat nêrens heen gaan nie