Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 11/1 bl. 22-27
  • “Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ouers se voorbeeld
  • Ek verlaat die huis
  • ’n Onstuimige begin
  • Ek begin in Nederland werk
  • ’n Getroue metgesel
  • Dreigende oorlogswolke
  • Ons werk word verbied en ek word gesoek
  • Hoe my gesin die mas opgekom het
  • Ek werk sy aan sy met moedige broers
  • Hartseer en vreugde
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Jehovah het my ondersteun
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 11/1 bl. 22-27

Lewensverhaal

“Gee ons geloof wat nie sal kwyn”!

SOOS VERTEL DEUR HERBERT MÜLLER

’n Paar maande nadat Hitler se leër Nederland binnegeval het, is die werk van Jehovah se Getuies verbied. Kort voor lank het my naam op die lys van mense verskyn waarna die Nazi’s naarstig gesoek het, en ek is soos ’n dier gejag.

EK WAS eenkeer so moeg van wegkruip en op die vlug wees dat ek vir my vrou gesê het dat dit dalk selfs ’n verligting sou wees om deur die leër gevang te word. Toe het ek die woorde van ’n lied onthou: “O for a faith that will not shrink, tho’ pressed by ev’ry foe.” (“Gee ons geloof wat nie sal kwyn, hoewel geknel uit elke oord.”)a Toe ek oor daardie lied nadink, is ek versterk en het dit my laat terugdink aan my ouers in Duitsland en aan die dag toe my vriende hierdie lied gesing het om van my afskeid te neem. Kan ek julle van ’n paar van hierdie herinneringe vertel?

My ouers se voorbeeld

Toe ek in 1913 in die dorp Copitz in Duitsland gebore is, was my ouers lede van die Evangeliese Kerk.b Sewe jaar later, in 1920, het my pa die kerk verlaat. Op 6 April het hy gevra vir ’n Kirchenaustrittsbescheinigung (Verklaring van beëindiging van kerklidmaatskap). Die dorp se burgerlike registrasiebeampte het hierdie verklaring ingevul. ’n Week later was my pa egter weer in die kantoor en het hy verduidelik dat die naam van sy dogter nie op die verklaring verskyn het nie. Die beampte het ’n tweede dokument ingevul wat gesê het dat die beëindiging van kerklidmaatskap ook op Martha Margaretha Müller van toepassing is. Op daardie tydstip was Margaretha, my suster, een en ’n half jaar oud. Wanneer dit by diens aan Jehovah gekom het, sou my pa nie tevrede wees met iets wat half gedoen is nie!

Daardie selfde jaar is my ouers deur die Bybelstudente gedoop, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. My pa het ons streng grootgemaak, maar sy lojaliteit aan Jehovah het dit vir ons makliker gemaak om sy leiding te aanvaar. Lojaliteit het my ouers ook beweeg om aanpassings te maak. Daar was byvoorbeeld ’n tyd toe ons nie toegelaat is om Sondae buite te speel nie. Maar een Sondag in 1925 het ons ouers vir ons gesê dat ons gaan stap. Ons het eetgoed saamgeneem en ’n aangename tyd gehad—hoe anders tog as om heeldag in die huis te sit! My pa het gesê dat hy by ’n onlangse streekbyeenkoms ’n paar punte geleer het wat sy beskouing oor bedrywighede op Sondae reggestel het. Ook by ander geleenthede het hy dieselfde gewilligheid geopenbaar om aanpassings te maak.

Hoewel my ouers se gesondheid swak was, het dit hulle nie teruggehou om aan die predikingswerk deel te neem nie. Om die traktaat Ecclesiastics Indicted te versprei, het ons byvoorbeeld een aand saam met die res van die gemeente op ’n trein geklim en na die dorp Regensburg gereis, wat ongeveer 300 kilometer van Dresden af is. Die volgende dag het ons die traktate in die hele dorp versprei, en toe ons klaar was, het ons met die trein teruggegaan. Teen die tyd dat ons weer by die huis aangekom het, was dit byna 24 uur later.

Ek verlaat die huis

My omgang met die Jugendgruppe (Jeuggroep) in ons gemeente het my ook gehelp om geestelik te groei. Elke week het jongmense wat ouer as 14 jaar was, saam met party van die gemeente se ouer broers bymekaargekom. Ons het speletjies en musiekinstrumente gespeel, die Bybel bestudeer en oor die skepping en die wetenskap gesels. Maar in 1932, toe ek 19 jaar oud was, moes ek afskeid neem van die groep.

In April van daardie jaar het my pa ’n brief van die Wagtoringgenootskap se kantoor in Maagdenburg ontvang. Die Genootskap het iemand gesoek wat ’n motor kon bestuur en aan die pionierdiens wou deelneem. Ek het geweet dat dit my ouers se begeerte was dat ek ’n pionier word, maar ek het gevoel dat ek nie kon nie. Aangesien my ouers arm was, het ek op 14-jarige ouderdom fietse en naaimasjiene begin regmaak, sowel as tikmasjiene en ander kantoortoerusting. Hoe kon ek my gesin verlaat? Hulle het my hulp nodig gehad. Daarbenewens was ek nie eers gedoop nie. My pa het saam met my gesit en my ’n paar vrae gevra om te sien of ek verstaan wat doop behels. Toe my antwoorde hom oortuig het dat ek genoeg geestelike vordering gemaak het om gedoop te word, het hy gesê: “Jy moet jouself aanbied vir hierdie toewysing.” Ek het toe.

’n Week later het ek ’n uitnodiging ontvang om na Maagdenburg te kom. Toe ek my vriende in die Jeuggroep vertel het, wou hulle met ’n opgewekte lied van my afskeid neem. Hulle was verbaas oor die lied wat ek gekies het omdat hulle gemeen het dat dit ’n baie ernstige lied is. Party het nogtans hulle viole, mandoliene en ghitare geneem en almal het gesing: “O for a faith that will not shrink, tho’ pressed by ev’ry foe; that will not tremble on the brink of any earthly woe.” (“Gee ons geloof wat nie sal kwyn, hoewel geknel uit elke oord; wat nie sal wankel of verdwyn weens aardse weë van enig’ soort.”) Daardie dag het ek nie besef hoe dikwels dié woorde my in latere jare sou versterk nie.

’n Onstuimige begin

Nadat die broers in Maagdenburg my bestuursvermoë getoets het, het hulle ’n motor aan my en vier ander pioniers toevertrou, en ons het na die Schneifel, ’n streek naby België, vertrek. Ons het gou uitgevind dat ons motor ’n noodsaaklikheid is. Die Katolieke Kerk in daardie streek het glad nie van ons teenwoordigheid gehou nie, en die dorpenaars, wat deur priesters aangehits is, het dikwels net gewag om ons weg te jaag. Baie keer het die motor ons gehelp om net betyds van hulle skoffels en hooivurke af weg te kom.

Ná die Gedenkmaal in 1933 het die streekopsiener, Paul Grossmann, vir ons gesê dat die Genootskap se werk in Duitsland verbied is. Kort daarna het die broers by die takkantoor my gevra om met die motor na Maagdenburg te kom, om daar lektuur op te laai en dit na die staat Sakse te vervoer, wat ongeveer 100 kilometer van Maagdenburg af was. Maar teen die tyd dat ek Maagdenburg bereik het, het die Gestapo (die Nazi- geheime polisie) reeds die Genootskap se kantoor gesluit. Ek het die motor by ’n broer in Leipzig gelaat en teruggegaan huis toe—maar nie vir lank nie.

Die Genootskap se kantoor in Switserland het my gevra om in Nederland as pionier te dien. Ek het beplan om binne ’n week of twee te vertrek. Maar my pa het my aangeraai om onmiddellik te vertrek. Ek het sy raad gevolg, en binne ’n paar uur het ek die huis verlaat. Die volgende dag het die polisie na my pa se huis toe gekom om my in hegtenis te neem op aanklag van versuim om vir diensplig aan te meld. Hulle was te laat.

Ek begin in Nederland werk

Op 15 Augustus 1933 het ek by ’n pionierhuis aangekom in Heemstede, ’n dorp wat omtrent 25 kilometer van Amsterdam af geleë is. Die volgende dag het ek die predikingswerk gaan doen sonder dat ek ’n woord Nederlands kon praat. Toegerus met ’n getuieniskaart, waarop daar ’n gedrukte preek was, het ek begin. Hoe aanmoedigend was dit tog toe ’n Katolieke vrou die boek Reconciliation geneem het! Daardie selfde dag het ek ook 27 boekies by mense gelaat. Aan die einde van daardie eerste dag was ek verheug dat ek die predikingswerk weer in vryheid kon doen.

In daardie dae het pioniers geen ander bron van inkomste gehad as die bydraes wat hulle ontvang het wanneer mense lektuur geneem het nie. Daardie geld is gebruik om kos en ander noodsaaklikhede te koop. As ’n bietjie geld aan die einde van die maand oorgebly het, is dit onder die pioniers verdeel vir persoonlike uitgawes. Ons het materieel min gehad, maar Jehovah het so goed in ons behoeftes voorsien dat ek in 1934 ’n streekbyeenkoms in Switserland kon bywoon.

’n Getroue metgesel

By die streekbyeenkoms het ek die 18-jarige Erika Finke gesien. Ek het haar geken van die tyd toe ek nog by die huis was. Sy was ’n vriendin van my suster, Margaretha, en ek was nog altyd beïndruk deur Erika se ferm standpunt vir die waarheid. Nie lank nadat sy in 1932 gedoop is nie, het iemand die Gestapo in kennis gestel dat Erika geweier het om “Heil Hitler!” te sê. Die Gestapo het haar opgespoor en wou weet waarom sy geweier het. Erika het Handelinge 17:3 vir die polisieman in die polisiekantoor gelees en verduidelik dat God net een man as Redder aangestel het, Jesus Christus. “Is daar ander wat dieselfde as jy glo?” wou die polisieman weet. Erika het geweier om enige name te gee. Toe die polisieman dreig om haar gevange te hou, het Erika vir hom gesê dat sy eerder sou sterf as om name te gee. Hy het haar aangestaar en toe geskreeu: “Loop hier uit. Gaan huis toe. Heil Hitler!”

Ná die streekbyeenkoms het ek na Nederland teruggekeer terwyl Erika in Switserland gebly het. Maar ons albei het gevoel dat ons vriendskap hegter geword het. Terwyl Erika nog in Switserland was, het sy gehoor dat die Gestapo in Duitsland na haar soek. Sy het besluit om in Switserland te bly en daar aan die pionierdiens deel te neem. ’n Paar maande later het die Genootskap haar gevra om Spanje toe te gaan. Sy het in Madrid, toe in Bilbao en later in San Sebastian as pionier gedien, waar vervolging wat deur geestelikes aangestig is, haar en haar pioniermaat in die tronk laat beland het. In 1935 is hulle beveel om Spanje te verlaat. Erika het na Nederland toe gekom, en ons is daardie selfde jaar getroud.

Dreigende oorlogswolke

Ná ons troue het ons in Heemstede aan die pionierdiens deelgeneem, en later het ons na die stad Rotterdam getrek. Ons seun, Wolfgang, is in 1937 daar gebore. ’n Jaar later het ons na die stad Groningen, in die noorde van Nederland, getrek waar ons ’n huis met die Duitse pioniers Ferdinand en Helga Holtorf en hulle dogter gedeel het. In Julie 1938 het die Genootskap vir ons gesê dat die Nederlandse regering ’n waarskuwing gegee het dat Getuies wat Duitse burgers is nie meer toegelaat sou word om die predikingswerk te doen nie. Omstreeks daardie selfde tyd is ek as sonekneg (kringopsiener) aangestel, en ons gesin het na die Lichtdrager (Ligdraer) getrek, die Genootskap se boot wat die tuiste was van pioniers wat die predikingswerk in die noordelike deel van Nederland gedoen het. Ek was die meeste van die tyd weg van my gesin af en het met ’n fiets van een gemeente na die ander gery om die broers aan te moedig om met die predikingswerk vol te hou. En dit is presies wat die broers gedoen het. Party het selfs meer begin doen. Wim Kettelarij is ’n goeie voorbeeld.

Toe ek Wim ontmoet het, was hy ’n jong man wat die waarheid herken het, maar wat baie besig was as ’n plaaswerker. “As jy tyd wil hê om Jehovah te dien”, het ek hom aangeraai, “moet jy ander werk kry.” Hy het ook. Later, toe ons mekaar weer gesien het, het ek hom aangemoedig om die pionierdiens te betree. “Maar ek moet werk om te eet”, het hy geantwoord. “Jy sal eet”, het ek hom verseker. “Jehovah sal na jou omsien.” Wim het ’n pionier geword. Later het hy, selfs gedurende die Tweede Wêreldoorlog, as ’n reisende opsiener gedien. Vandag is Wim, hoewel hy in sy tagtigerjare is, nog steeds ’n ywerige Getuie. Jehovah het inderdaad na hom omgesien.

Ons werk word verbied en ek word gesoek

In Mei 1940, omtrent ’n jaar nadat ons tweede kind, Reina, gebore is, het die Nederlandse leër oorgegee, en die Nazi’s het Nederland beset. In Julie het die Gestapo op die Genootskap se kantoor en drukkery beslag gelê. Die volgende jaar is ’n klomp Getuies gearresteer, en ek is gevange geneem. Omdat ek ’n Getuie en ’n Duitser was wat oud genoeg was om opgeroep te word, kon ek my net indink wat die Gestapo met my sou maak. Ek het probeer gewoond raak aan die idee dat ek my gesin nooit weer sou sien nie.

Toe, in Mei 1941, het die Gestapo my uit die gevangenis vrygelaat en my beveel om my vir militêre diens te gaan aanmeld. Ek kon dit nie glo nie. Daardie selfde dag het ek spoorloos verdwyn en dieselfde maand nog was ek terug in die kringwerk. Die Gestapo het my op hulle lys gesit van mense waarna hulle naarstig gesoek het.

Hoe my gesin die mas opgekom het

My vrou en kinders het na die dorpie Vorden in die ooste van die land getrek. Om hulle so min as moontlik in gevaar te stel, moes ek egter my besoeke aan die huis drasties beperk (Matteus 10:16). Veiligheidshalwe het die broers nie my regte naam gebruik nie, net my skuilnaam Duitse Jan. Selfs my vierjarige seun, Wolfgang, is nie toegelaat om van “Pa” te praat nie, maar net van “Oom Jan”. Vir hom was dit emosioneel baie moeilik.

Terwyl ek ’n voortvlugtige was, het Erika vir die kinders gesorg en aangehou om die predikingswerk te doen. Toe Reina twee jaar oud was, het Erika haar op die fiets se bagasierakkie gesit en haar saamgeneem wanneer hulle die predikingswerk in die plattelandse gebiede gaan doen het. Hoewel dit moeilik geword het om kos te kry, het Erika en ons gesin nooit honger gely nie (Matteus 6:33). ’n Katolieke boer, vir wie ek eenkeer ’n naaimasjien reggemaak het, het haar aartappels gegee. Hy het ook boodskappe van my aan Erika oorgedra. Eenkeer het sy een gulde betaal vir ’n item in ’n apteek. Die eienaar, wat geweet het dat sy wegkruip en nie kaartjies kon kry vir voedselrantsoene nie, het haar die item en ook twee gulde gegee. Sulke goedgesindheid het haar gehelp om aan die lewe te bly.—Hebreërs 13:5.

Ek werk sy aan sy met moedige broers

Intussen het ek aangehou om die gemeentes te besoek—hoewel ek net met die verantwoordelike broers in die gemeentes in aanraking gekom het. Omdat die Gestapo op my hakke was, kon ek nooit langer as ’n paar uur op een plek bly nie. Die meeste van die broers en susters is nie toegelaat om my te ontmoet nie. Hulle het net dié Getuies geken wat in hulle klein Bybelstudiegroepie was. Gevolglik het twee vleeslike susters wat in verskillende dele van dieselfde stad gewoon het eers ná die Tweede Wêreldoorlog uitgevind dat hulle albei gedurende die oorlog Getuies geword het.

Nog een van my take was om plekke te vind waar ons die Genootskap se lektuur kon wegsteek. Ons het ook papier, sjabloonmasjiene en tikmasjiene weggesteek sodat ons afskrifte van Die Wagtoring kon maak, ingeval dit nodig sou wees. Soms moes ons die boeke wat deur die Genootskap gedruk is van die een wegsteekplek na die ander verskuif. Ek onthou nog hoe ek eenkeer 30 bokse vol lektuur vervoer het terwyl ek probeer het om nie aandag te trek nie—’n senutergende taak!

Ons het boonop gereël dat kos van plase in die ooste van Nederland na die stede in die weste vervoer word, hoewel dit verbode was. Ons het kos op ’n perdekar gelaai en weswaarts gereis. Wanneer ons by ’n rivier gekom het, kon ons nie een van die brûe gebruik nie omdat hulle deur soldate bewaak is. Ons het eerder die vrag in klein bootjies gelaai, met die kos oor die rivier gevaar en die vrag dan weer op ’n ander perdekar gelaai. Wanneer ons die stad bereik het wat ons bestemming was, het ons gewag tot dit donker word, kouse oor die perde se hoewe aangetrek en stilletjies na die gemeente se geheime kosdepot gegaan. Van daar is die kos aan behoeftige broers uitgedeel.

As die Duitse leër so ’n kosdepot sou vind, kon dit iemand sy lewe kos. Verskeie broers het nietemin aangebied om te help. Die Bloemink-gesin in die dorp Amersfoort het byvoorbeeld toegelaat dat hulle woonkamer as ’n pakhuis vir kos gebruik word, hoewel hulle huis net ’n hanetree van ’n Duitse leërgarnisoen af was! Moedige Getuies soos hierdie gesin het hulle lewe gewaag ter wille van hulle broers.

Jehovah het my en my vrou deur die jare van die verbod heen gehelp om getrou te bly. In Mei 1945 is die Duitse leër verslaan, en my lewe as ’n voortvlugtige het uiteindelik tot ’n einde gekom. Die Genootskap het my gevra om aan te hou dien as ’n reisende opsiener totdat ander broers beskikbaar geword het. In 1947 het Bertus van der Bijl my werk oorgeneem.c Teen daardie tyd is ons derde kind gebore, en ons het ons in die ooste van die land gevestig.

Hartseer en vreugde

Ná die oorlog het ek uitgevind dat my pa ongeveer ’n jaar nadat ek die huis verlaat het en Nederland toe gekom het in die tronk gesit is. Hy is twee keer weens swak gesondheid vrygelaat, maar hy is elke keer weer in die tronk gesit. In Februarie 1938 is hy na die Buchenwald-konsentrasiekamp gestuur en toe na Dachau. Daar is my pa op 14 Mei 1942 oorlede. Hy het tot die einde toe ferm en lojaal gebly.

My ma is ook na die Dachau-kamp gestuur. Sy het daar gebly totdat sy in 1945 vrygelaat is. Aangesien die goeie voorbeeld van albei my ouers soveel bygedra het tot die geestelike seëninge wat ek geniet het, was dit ’n voorreg toe my ma in 1954 by ons kom bly het. My suster Margaretha—wat sedert 1945 in Kommunistiese Oos-Duitsland as ’n pionier gedien het—het saamgekom. Hoewel my ma siek was en glad nie Nederlands kon praat nie, het sy voortgegaan om velddiens te doen totdat sy in Oktober 1957 getrou haar aardse loopbaan voltooi het.

Die streekbyeenkoms in Neurenberg, Duitsland, in 1955 was spesiaal. Nadat ons daar aangekom het, het broers uit Dresden vir Erika gesê dat haar ma ook by die byeenkoms was. Aangesien Dresden destyds onder die beheer van Oos-Duitsland was, het Erika haar ma 21 jaar lank nie gesien nie. ’n Ontmoeting is gereël, en ma en dogter het mekaar om die hals geval en vasgedruk. Wat ’n vreugdevolle hereniging was dit tog!

Mettertyd het ons gesin tot agt kinders gegroei. Ongelukkig het ons een van ons seuns in ’n motorongeluk verloor. Maar om te sien hoedat al ons ander kinders Jehovah dien, verskaf ons groot vreugde. Ons is bly dat ons seun Wolfgang en sy vrou aan die kringwerk deelneem en dat hulle seun ook as ’n kringopsiener dien.

Ek is dankbaar dat ek die vordering van Jehovah se werk in Nederland kon sien. Toe ek in 1933 hier as ’n pionier begin dien het, was daar sowat honderd Getuies. Vandag is daar meer as 30 000. Hoewel ons fisiese kragte nou afneem, is ek en Erika nog steeds vasbeslote om volgens die woorde van daardie lied uit die ou dae te lewe: “Gee ons geloof wat nie sal kwyn.”

[Voetnote]

a Lied 194.—Songs of Praise to Jehovah (1928).

b Die dorp Copitz, wat nou Pirna genoem word, is langs die Elberivier geleë, 18 kilometer van die stad Dresden af.

c Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1998 vir broer Van der Bijl se lewensverhaal, “Daar is niks beter as die waarheid nie”.

[Prent op bladsy 23]

Die “Jugendgruppe” gedurende ’n ruskansie ná velddiens

[Prent op bladsy 24]

Ek en medepioniers het die gebied in Schneifel gedek. Ek was 20 jaar oud

[Prent op bladsy 25]

Saam met Erika en Wolfgang in 1940

[Prent op bladsy 26]

Van links na regs: My kleinseun Jonathan en sy vrou, Mirjam; Erika, ek, my seun Wolfgang en sy vrou, Julia

[Prent op bladsy 26]

’n Broer wat saam met my pa in die tronk was, het in 1941 hierdie prent van hom geteken

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel