Wie is vandag God se bedienaars?
“Die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God, wat ons inderdaad voldoende bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees.”—2 KORINTIËRS 3:5, 6.
1, 2. Watter verantwoordelikheid het alle eerste-eeuse Christene gehad, maar hoe het dinge verander?
IN DIE eerste eeu van ons Gewone Jaartelling het alle Christene ’n belangrike verantwoordelikheid gehad—die taak om die goeie nuus te verkondig. Hulle was almal gesalfdes en bedienaars van die nuwe verbond. Party het bykomende verantwoordelikhede gehad, soos om in die gemeente te onderrig (1 Korintiërs 12:27-29; Efesiërs 4:11). Ouers het groot verpligtinge in die gesin gehad (Kolossense 3:18-21). Maar almal het aan die basiese en noodsaaklike predikingswerk deelgeneem. In die oorspronklike Grieks van die Christelike Geskrifte was hierdie verantwoordelikheid ’n di·a·ko·niʹa—’n diens, of ’n bediening.—Kolossense 4:17.
2 Met verloop van tyd het dinge verander. ’n Klas het ontwikkel, wat geestelikes genoem is, wat hulle die voorreg van prediking voorbehou het (Handelinge 20:30). Die geestelikes was ’n klein minderheid van dié wat hulleself Christene genoem het. Die oorgrote meerderheid het as die leke bekend geword. Hoewel daar vir die leke geleer is dat hulle sekere pligte het, soos om bydraes te gee vir die onderhoud van die geestelikes, het die meeste van hulle maar net passiewe luisteraars geword wat prediking betref.
3, 4. (a) Hoe word persone in die Christendom bedienaars? (b) Wie word in die Christendom as ’n bedienaar beskou, en waarom is dinge anders onder Jehovah se Getuies?
3 Die geestelikes beweer dat hulle bedienaars is (van die Griekse woord di·aʹko·nos, “dienaar”).a Om dié rede gradueer hulle aan universiteite of kweekskole en word hulle georden. The International Standard Bible Encyclopedia sê: “‘Orden’ en ‘ordening’ verwys gewoonlik na die spesiale status wat aan bedienaars of priesters gegee word deur rites wat amptelik goedgekeur is, met gepaardgaande klem op die gesag om die Woord te verkondig of sakramente toe te dien of om albei te doen.” Deur wie word die bedienaars georden? The New Encyclopædia Britannica sê: “In kerke wat die historiese bisdom behou het, is die bedienaar wat die ordening doen altyd ’n biskop. In Presbiteriaanse kerke doen die bedienaars van die kerklike ring die ordening.”
4 Die voorreg om ’n bedienaar te wees, is dus in die kerke van die Christendom streng beperk. Maar dit is nie die geval onder Jehovah se Getuies nie. Waarom nie? Omdat dit nie in die eerste-eeuse Christengemeente die geval was nie.
Wie is werklik God se bedienaars?
5. Wie is almal bedienaars volgens die Bybel?
5 Volgens die Bybel is al Jehovah se aanbidders—in die hemel en op die aarde—bedienaars. Engele het Jesus bedien (Matteus 4:11; 26:53; Lukas 22:43). En engele “dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf” (Hebreërs 1:14; Matteus 18:10). Jesus was ’n bedienaar. Hy het gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien” (Matteus 20:28; Romeine 15:8). Aangesien Jesus se volgelinge “sy voetstappe noukeurig [moet] volg”, is dit dus nie verbasend dat hulle ook bedienaars moet wees nie.—1 Petrus 2:21.
6. Hoe het Jesus aangedui dat sy dissipels bedienaars moet wees?
6 Kort voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Jesus se dissipels moes dissipelmakers wees—bedienaars. Die nuwe dissipels wat hulle gemaak het, sou leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het, insluitende die opdrag om uit te gaan en dissipels te maak. Man of vrou, volwassene of kind, ’n ware dissipel van Jesus Christus sou ’n bedienaar wees.—Joël 2:28, 29.
7, 8. (a) Watter tekste toon dat alle ware Christene bedienaars is? (b) Watter vrae ontstaan oor ordening?
7 In ooreenstemming hiermee het al Jesus se dissipels wat op Pinksterdag 33 G.J. teenwoordig was, mans en vroue, “die luisterryke dinge van God” verkondig (Handelinge 2:1-11). Verder het die apostel Paulus geskryf: “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding” (Romeine 10:10). Paulus het nie daardie woorde tot ’n beperkte geestelikeklas gerig nie, maar tot “almal wat in Rome [was] as God se geliefdes” (Romeine 1:1, 7). Net so ook moes al ‘die heiliges in Efese en die getroues in eenheid met Christus Jesus’ hulle “voete geskoei [hê] met die toerusting van die goeie nuus van vrede” (Efesiërs 1:1; 6:15). En almal wat die woorde van die brief aan die Hebreërs gehoor het, moes ‘vashou aan die openbare bekendmaking van hulle hoop sonder om te wankel’.—Hebreërs 10:23.
8 Maar wanneer word iemand ’n bedienaar? Met ander woorde, wanneer word hy georden? En deur wie word hy georden?
Ordening as ’n bedienaar—Wanneer?
9. Wanneer is Jesus georden, en deur wie?
9 Kom ons kyk na die voorbeeld van Jesus Christus om te sien wanneer en deur wie iemand georden word. Hy het nie ’n ordeningsertifikaat of ’n graad van die een of ander kweekskool gehad om te bewys dat hy ’n bedienaar was nie, en hy is nie deur enige mens georden nie. Waarom kan ons dan sê dat hy ’n bedienaar was? Omdat Jesaja se geïnspireerde woorde in hom vervul is: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus . . . bekend te maak” (Lukas 4:17-19; Jesaja 61:1). Hierdie woorde laat geen twyfel dat Jesus die opdrag ontvang het om goeie nuus te verkondig nie. Van wie het hy dit ontvang? Aangesien Jehovah se gees hom vir die werk gesalf het, is Jesus ongetwyfeld deur Jehovah God georden. Wanneer het dit gebeur? Jehovah se gees het oor Jesus gekom toe hy gedoop is (Lukas 3:21, 22). Hy is derhalwe by sy doop georden.
10. Deur wie word ’n Christenbedienaar “voldoende bekwaam” gemaak?
10 Wat van Jesus se eerste-eeuse volgelinge? Hulle posisie as bedienaars het ook van Jehovah gekom. Paulus het gesê: “Die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God, wat ons inderdaad voldoende bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees” (2 Korintiërs 3:5, 6). Hoe maak Jehovah sy aanbidders bekwaam om bedienaars te wees? Dink aan die voorbeeld van Timoteus, na wie Paulus verwys het as “God se bedienaar in die goeie nuus oor die Christus”.—1 Tessalonisense 3:2.
11, 12. Hoe het Timoteus tot ’n bedienaar gevorder?
11 Die volgende woorde aan Timoteus help ons om te verstaan hoe hy ’n bedienaar geword het: “Bly jy egter in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo, aangesien jy weet by watter persone jy dit geleer het en dat jy van kleintyd af die heilige geskrifte geken het, wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus” (2 Timoteus 3:14, 15). Die grondslag van Timoteus se geloof, wat hom sou beweeg om ’n openbare bekendmaking te doen, was kennis van die Skrif. Was persoonlike Skriflesing al wat hiervoor nodig was? Nee. Timoteus het hulp nodig gehad om juiste kennis en geestelike begrip te verkry van wat hy gelees het (Kolossense 1:9). Timoteus is dus ‘oortuig om te glo’. Aangesien hy die Skrif “van kleintyd af” geken het, moes sy eerste onderrigters sy moeder en grootmoeder gewees het, want sy vader was klaarblyklik nie ’n gelowige nie.—2 Timoteus 1:5.
12 Maar vir Timoteus was daar meer by betrokke om ’n bedienaar te word. Om maar een ding te noem, sy geloof is versterk deur omgang met Christene in nabygeleë gemeentes. Hoe weet ons dit? Want toe Paulus Timoteus die eerste keer ontmoet het, is die jong man “gunstig vermeld deur die broers in Listra en Ikonium” (Handelinge 16:2). Boonop het sekere broers in daardie tyd briewe aan die gemeentes geskryf om hulle te versterk. En opsieners het hulle besoek om hulle op te bou. Sulke voorsienings het Christene soos Timoteus gehelp om geestelik vooruitgang te maak.—Handelinge 15:22-32; 1 Petrus 1:1.
13. Wanneer is Timoteus as bedienaar georden, en waarom sal jy sê dat sy geestelike vooruitgang nie daar geëindig het nie?
13 Met die oog op Jesus se opdrag wat in Matteus 28:19, 20 opgeteken staan, kan ons daarvan seker wees dat Timoteus se geloof hom op die een of ander stadium beweeg het om Jesus na te volg en gedoop te word (Matteus 3:15-17; Hebreërs 10:5-9). Dit was ’n simbool van Timoteus se heelhartige toewyding aan God. By sy doop het Timoteus ’n bedienaar geword. Van toe af het sy lewe, sy krag en alles wat hy besit het, aan God behoort. Dit was ’n wesenlike deel van sy aanbidding, “’n heilige diens”. Maar Timoteus het nie daarna op sy louere gerus nie. Hy het aangehou om geestelik te groei, en hy het ’n geestelik volwasse Christenbedienaar geword. Timoteus het hierdie vooruitgang gemaak weens sy intieme assosiasie met ryp Christene soos Paulus, sy eie persoonlike studie en sy ywerige predikingsbedrywighede.—1 Timoteus 4:14; 2 Timoteus 2:2; Hebreërs 6:1.
14. Hoe vorder iemand wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het vandag tot ’n bedienaar?
14 Vandag is ordening vir die Christelike bediening soortgelyk. Iemand wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, word deur middel van ’n Bybelstudie gehelp om van God en sy voornemens te leer (Handelinge 13:48). Die persoon leer om Bybelbeginsels in sy lewe toe te pas en betekenisvolle gebede tot God te rig (Psalm 1:1-3; Spreuke 2:1-9; 1 Tessalonisense 5:17, 18). Hy assosieer met ander gelowiges en maak gebruik van alles wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien en gereël word (Matteus 24:45-47; Spreuke 13:20; Hebreërs 10:23-25). Sodoende volg hy ’n sistematiese opleidingsprogram.
15. Wat gebeur wanneer iemand gedoop word? (Sien ook voetnoot.)
15 Eindelik, nadat die Bybelstudent ’n liefde vir Jehovah God en ’n sterk geloof in die losprysofferande opgebou het, wil hy hom geheel en al aan sy hemelse Vader toewy (Johannes 14:1). Hy doen hierdie toewyding in ’n persoonlike gebed en word dan gedoop as ’n openbare simbool van daardie private handeling. Sy doop is sy ordeningsplegtigheid omdat hy dan erken word as ’n dienaar van God wat ten volle aan hom toegewy is, ’n di·aʹko·nos. Hy moet afgeskeie van die wêreld bly (Johannes 17:16; Jakobus 4:4). Hy het sy hele wese aangebied as “’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is”, sonder voorbehoud of voorwaardes (Romeine 12:1).b Hy is God se bedienaar in navolging van Christus.
Wat is die Christelike bediening?
16. Wat was party van Timoteus se verantwoordelikhede as ’n bedienaar?
16 Wat het die bediening van Timoteus behels? Hy het spesiale pligte as ’n reisgenoot van Paulus gehad. En toe hy ’n ouer man geword het, het Timoteus hard gewerk om mede-Christene te onderrig en te versterk. Maar die vernaamste aspek van sy bediening was om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak, soos dit ook die geval met Jesus en Paulus was (Matteus 4:23; 1 Korintiërs 3:5). Paulus het vir Timoteus gesê: “Bly jy egter in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangelis, voer jou bediening ten volle uit.”—2 Timoteus 4:5.
17, 18. (a) Aan watter bediening neem Christene deel? (b) Hoe belangrik is die predikingswerk vir ’n Christenbedienaar?
17 Dit is dieselfde met Christenbedienaars van vandag. Hulle neem deel aan ’n openbare bediening, ’n evangelisasiewerk, om mense se aandag te vestig op redding op grond van Jesus se offerande en om sagmoediges te leer om Jehovah se naam aan te roep (Handelinge 2:21; 4:10-12; Romeine 10:13). Hulle gee bewyse uit die Bybel dat die Koninkryk die enigste hoop vir die lydende mensdom is en toon dat dinge selfs nou beter kan wees as ons volgens Goddelike beginsels lewe (Psalm 15:1-5; Markus 13:10). Maar ’n Christenbedienaar verkondig nie ’n maatskaplike evangelie nie. Hy leer mense eerder dat ‘godvrugtige toegewydheid belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe’.—1 Timoteus 4:8.
18 Die meeste bedienaars dien weliswaar ook op ander maniere, en dit verskil van Christen tot Christen. Baie het gesinsverpligtinge (Efesiërs 5:21–6:4). Ouer manne en bedieningsknegte het pligte in die gemeente (1 Timoteus 3:1, 12, 13; Titus 1:5; Hebreërs 13:7). Baie Christene help om Koninkryksale te bou. Party het die wonderlike voorreg om as vrywilligers in een van die Wagtoringgenootskap se Bethelhuise te werk. Maar alle Christenbedienaars neem deel aan die verkondiging van die goeie nuus. Daar is geen uitsonderings nie. Deelname aan hierdie werk identifiseer iemand in die openbaar as ’n ware Christenbedienaar.
Die gesindheid van ’n Christenbedienaar
19, 20. Watter gesindheid moet Christenbedienaars aankweek?
19 Die meeste van die Christendom se bedienaars verwag dat hulle spesiale respek gegee moet word, en hulle neem titels aan soos “eerwaarde” en “vader”. Maar ’n Christenbedienaar weet dat Jehovah alleen verering verdien (1 Timoteus 2:9, 10). Geen Christenbedienaar maak aanspraak op sulke groot respek of begeer spesiale titels nie (Matteus 23:8-12). Hy weet dat die basiese betekenis van di·a·ko·niʹa “diens” is. Die werkwoord wat hieraan verwant is, word soms in die Bybel gebruik in verband met persoonlike dienste, soos om mense by ’n tafel te bedien (Lukas 4:39; 17:8; Johannes 2:5). Selfs al is die gebruik daarvan met betrekking tot die Christelike bediening op ’n hoër vlak, is ’n di·aʹko·nos nog steeds ’n kneg.
20 Geen Christenbedienaar het dus rede om ’n hoë dunk van homself te hê nie. Ware Christenbedienaars—selfs dié met spesiale verantwoordelikhede in die gemeente—is nederige slawe. Jesus het gesê: “Wie ook al onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en wie ook al onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Matteus 20:26, 27). Toe Jesus vir sy dissipels getoon het wat die regte gesindheid is om aan te kweek, het hy hulle voete gewas—die werk van die geringste slaaf (Johannes 13:1-15). Wat ’n nederige diens tog! Christenbedienaars dien Jehovah God en Jesus Christus derhalwe met nederigheid (2 Korintiërs 6:4; 11:23). Hulle openbaar ootmoed terwyl hulle mekaar dien. En wanneer hulle die goeie nuus verkondig, dien hulle hulle ongelowige medemens uit onselfsugtigheid.—Romeine 1:14, 15; Efesiërs 3:1-7.
Volhard in die bediening
21. Hoe is Paulus beloon omdat hy in die bediening volhard het?
21 Vir Paulus het dit volharding geverg om ’n bedienaar te wees. Hy het vir die Kolossense gesê dat hy baie gely het sodat hy die goeie nuus aan hulle kon verkondig (Kolossense 1:24, 25). Maar omdat hy volhard het, het baie die goeie nuus aangeneem en bedienaars geword. Hulle is as seuns van God en broers van Jesus Christus verwek, met die vooruitsig om net soos hy geesskepsele in die hemel te word. Wat ’n wonderlike beloning vir volharding!
22, 23. (a) Waarom het hedendaagse Christenbedienaars volharding nodig? (b) Watter wonderlike vrugte word deur Christelike volharding voortgebring?
22 Volharding is vandag nodig vir diegene wat waarlik God se bedienaars is. Baie worstel daagliks met siektes of probleme wat met die ouderdom gepaardgaan. Ouers werk hard—baie van hulle sonder ’n huweliksmaat—om hulle kinders groot te maak. Kinders op skool weerstaan moedig die verkeerde invloede waardeur hulle omring word. Baie Christene het te kampe met groot ekonomiese probleme. En baie word vervolg of ly ontberinge weens vandag se ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’! (2 Timoteus 3:1). Ja, die nagenoeg sesmiljoen hedendaagse bedienaars van Jehovah kan saam met die apostel Paulus sê: “In elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan: deur baie te verduur” (2 Korintiërs 6:4). Christenbedienaars gee nie moed op nie. Hulle moet waarlik geprys word vir hulle volharding.
23 Daarbenewens bring volharding wonderlike vrugte voort, soos in Paulus se geval. Deur te volhard, behou ons ons hegte verhouding met Jehovah en verbly ons sy hart (Spreuke 27:11). Ons versterk ons eie geloof en maak dissipels, wat die Christenbroederskap groter maak (1 Timoteus 4:16). Jehovah het sy bedienaars onderskraag en hulle bediening geseën in hierdie laaste dae. Gevolglik is die laastes van die 144 000 ingesamel, en miljoene ander het die vaste hoop om ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet (Lukas 23:43; Openbaring 14:1). Die Christelike bediening is inderdaad ’n bewys van Jehovah se barmhartigheid (2 Korintiërs 4:1). Mag almal van ons dit as iets kosbaars beskou en dankbaar wees dat die vrugte daarvan vir ewig geniet sal word.—1 Johannes 2:17.
[Voetnote]
a Die Griekse woord di·aʹko·nos is die oorsprong van die woord “diaken”, ’n ampsdraer in die kerk. In kerke waar vroue diakens kan wees, word hulle diakonesse genoem.
b Hoewel Romeine 12:1 spesifiek op gesalfde Christene van toepassing is, geld die beginsel ook vir die “ander skape” (Johannes 10:16). Hulle ‘verbind hulle met Jehovah om hom te dien en om die naam van Jehovah lief te hê, ten einde sy knegte te word’.—Jesaja 56:6, NW.
Kan jy verduidelik?
• Watter verantwoordelikheid het alle eerste-eeuse Christene gehad?
• Wanneer en deur wie word ’n Christenbedienaar georden?
• Watter gesindheid moet ’n Christenbedienaar aankweek?
• Waarom moet ’n Christenbedienaar ondanks moeilikhede volhard?
[Prente op bladsy 16, 17]
Timoteus is van kleintyd af God se Woord geleer. Hy het ’n geordende bedienaar geword toe hy gedoop is
[Prent op bladsy 18]
Doop simboliseer toewyding aan God en dui aan dat iemand as ’n bedienaar georden word
[Prent op bladsy 20]
Christenbedienaars is gewillig om te dien