Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 8/15 bl. 10-15
  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is die lede van die “groot menigte” bedienaars?
  • Waarop berus die roeping?
  • Bewys van hulle bediening
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • God se bedienaars bewys hulle bekwaamheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Nou is die dag van redding!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 8/15 bl. 10-15

Moet alle ware Christene bedienaars wees?

“Alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het.”—2 KORINTHIËRS 5:18.

1. Was daar in Paulus se dag ’n geestelikeklas in die gemeente?

IN DIE apostel Paulus se dag “het daar geen onderskeid tussen geestelikes en lekedom bestaan nie, want daar was geen geestelikes nie”. Daardie verbasende verklaring, wat in Londen se Times verskyn het, stel ’n basiese waarheid aangaande die vroeë Christendom. Dit was nie in geestelikes en leke verdeel nie. Beteken dit dat die Christengemeente geen sigbare leiding gehad het nie? En was daar hoegenaamd geen bedienaars nie?

2. Watter soort leiding het in die vroeë gemeente bestaan? (Filippense 1:1)

2 ’n Ruk na Pinkster, 33 G.J., toe die getal gesalfde Christene met duisende toegeneem het, het dit nodig geword om bekwame manne in elke gemeente aan te stel om as opsieners en as bedieningsknegte te dien. Maar hulle het nie ’n geestelikeklas uitgemaak nie. Hulle aanstelling het nie van universiteits- of kweekskoolopleiding afgehang nie. Hulle het nie ’n salaris vir hulle dienste ontvang nie. Hulle was nederige manne met geestelike kwalifikasies wat deur die heilige gees aangestel is om vir die kudde te sorg. Was hulle egter die enigstes wat die ‘evangelie van die Koninkryk’ verkondig het? Was hulle die enigste bedienaars in die gemeente?—Mattheüs 24:14; Handelinge 20:17, 28; 1 Petrus 5: 1-3; 1 Timotheüs 3:1-10.

3, 4. Wie het volgens Paulus aan die Christelike bediening deel gehad?

3 Hierdie vrae word beantwoord deur Paulus se raad in sy briewe aan die Christene in Korinthe. Let op die inleiding van sy tweede brief: “Paulus . . . aan die gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges wat in die hele Achaje is.” Dit ly geen twyfel nie—hy het aan al die gesalfde Christene in Korinthe en Achaje geskryf, nie net aan diegene wat die leiding gegee het nie. Sy kommentaar oor die Christelike bediening is dus baie pertinent vir “al die heiliges”. Op grond van sy en Timotheüs se bedrywigheid het hy geredeneer: “Aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.” “Alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het . . . Ons tree dan op as [ambassadeurs, NW] om Christus wil, asof God deur ons vermaan.” Hy gaan voort: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie, maar in alles beveel ons ons aan as [bedienaars, NW] van God, met baie geduld.”—2 Korinthiërs 1:1; 4:1; 5:18-20; 6:3, 4.

4 Hierdie woorde impliseer dat elke gesalfde Christen ’n bedienaar en ambassadeur vir Christus moet wees. Waarom? Omdat die wêreld, deur sy sonde, “vervreemd van die lewe van God” is en ’n bediening van die versoening nodig het sodat gehoorsame en lojale mense uit alle nasies deur Christus ’n verhouding met die Soewereine Heer Jehovah kan hê.—Efesiërs 4:18; Romeine 5:1, 2.

5, 6. Hoe het Paulus hierdie beskouing in sy brief aan die Romeine bevestig?

5 Aan die gemeente in Rome het Paulus geskryf: “Maar wat sê dit [God se Woord]? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus [in die openbaar] bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”—Romeine 10:8-10, vgl. NW.

6 Het Paulus daardie woorde tot ’n uitgekose groepie gerig? Sy inleiding toon dat dit nie die geval was nie, want hy het geskryf: “Aan al die geliefdes van God . . . wat in Rome is.” Hy het bygevoeg: “In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.” Dit is duidelik dat Paulus sy raad en bemoediging, hoofstuk 10 inkluis, aan die hele gemeente gerig het. Almal het die voorreg gehad om die openbare belydenis te doen. Trouens, hy het sy argument versterk deur by te voeg: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”—Romeine 1:7, 8; 10:14, 15.

7. Hoe verskil die ware Christelike godsdiens van ander gelowe? (Lukas 19:36, 10)

7 Hoe bemoedigend is dit tog vir elke gesalfde Christen! Dit beteken dat hulle almal die vreugde moet smaak om die Koninkryksboodskap van redding aan ander te verkondig. Ja, in God se oë kan en moet hulle voete in ’n figuurlike sin “lieflik” wees. Waarom? Omdat die ware Christelike godsdiens nie ’n egosentriese godsdiens is wat tot selfvoldaanheid, afsondering en geloftes van stilswye lei nie. Inteendeel, dit werk ’n aktiewe Christelike bediening in die hand wat in woord en daad tot uiting kom! Sy volgende uitroep toon hoe bewus Paulus daarvan was: “Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!”—1 Korinthiërs 9:16; Jesaja 52:7.

8. Watter belangrike vrae raak baie persone vandag?

8 Maar wat van die miljoene ware Christene wat nie met die heilige gees gesalf is nie omdat hulle hoop om vir ewig op die aarde te lewe, en nie in die hemel nie? Moet hulle ook bedienaars wees?—Psalm 37:29; 2 Petrus 3:13.

Is die lede van die “groot menigte” bedienaars?

9. Aan watter bedrywigheid neem die lede van die “groot menigte” deel?

9 Die boek Openbaring beantwoord daardie vrae gedeeltelik. Nadat Johannes byvoorbeeld die gesalfde gemeente van 144 000 in ’n gesig gesien het, sê hy: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Diegene wat nou versamel word om die groot verdrukking te oorleef, verberg beslis nie hulle Christelike identiteit nie. Hulle verkondig die bron van hulle redding met “’n groot stem”. Hoe doen hulle dit vandag? Onder meer deur die klein oorblyfsel gesalfdes te help om ander belangrike bedieningsprofesieë en -bevele te vervul.—Openbaring 7:9, 10, 14.

10, 11. (a) Watter bevel het Jesus voor sy hemelvaart aan sy volgelinge gegee? (b) Watter profesie moet in ons dag vervul word?

10 Hierdie talryke menigte speel byvoorbeeld ’n onontbeerlike rol by die vervulling van Jesus se bevel om te preek en te onderrig, wat hy aan sy getroue dissipels in Galilea gegee het. By daardie geleentheid het Jesus gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Daardie bevel is aan alle Christene gegee, nie net aan ’n uitgekose geestelikeklas nie.—Mattheüs 28:18-20; 1 Korinthiërs 15:6.

11 Jesus se bevel hou ook nou verband met die profesie wat hy oor “die voleinding van die wêreld” gegee het. Hy het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hoe is hierdie uitdaging om die Koninkryksboodskap in een geslag wêreldwyd te verkondig die hoof gebied? Die paar duisend gesalfde Christene wat voortdurend minder word, kon beslis nie alleen hierdie lewensreddende werk gedoen het nie. Dit sou ’n onbegonne taak gewees het!—Mattheüs 24:3, 14; Lukas 21:32.

12. Wat erken die gesalfdes vandag geredelik?

12 Die gesalfde “mede-erfgename van Christus” erken geredelik die rol van die meer as tweemiljoen bedienaars van die “groot menigte” wat die Koninkryksboodskap in ’n betreklik kort tydjie oor die hele wêreld verkondig het. Selfs in die dertigerjare van hierdie eeu het talle ware Christene die verantwoordelikheid van die bediening in ander lande aanvaar en aangebied om te dien waar die behoefte groter was. Danksy die selfopofferende voorbeeld van hierdie broers en susters, hetsy van die gesalfdes of van die “ander skape”-klas, het die Koninkrykswerk stewiger wortel geskiet in talle lande in Europa, Afrika, Asië en die Amerikas.—Romeine 8:17.

13. (a) Hoe het Jehovah die werk sedert 1943 bespoedig? (Jesaja 60:22) (b) Watter rol het die lede van die “groot menigte” in sendingwerk gespeel?

13 Voor 1943 het die “getroue en verstandige dienskneg”-klas gesalfde Christene die nodigheid vir ’n sendelingskool gesien sodat Christenbedienaars bykomende opleiding kon ontvang en voorberei kon word om die predikingswerk in talle ander lande te begin doen en dit te bespoedig. Sedert die aanvang daarvan in 1943 tot op 4 Maart 1984 het daardie Gileadskool (“Gilead” beteken in Hebreeus “hoop getuienis”) om en by 6 100 gegradueerdes opgelei, waarvan die meeste buitelandse toewysings rondom die wêreld gekry het. Slegs 292 (4,8 persent) van hierdie Gileadgegradueerdes het bely dat hulle tot die gesalfde klas behoort, wat beteken dat die meerderheid van hierdie spesiaal opgeleide bedienaars tot die “groot menigte” behoort het. Net soos die res van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld het hulle die Christelike bediening as ’n integrerende deel van die Christelike lewe aanvaar toe hulle hulle deur Christus Jesus aan Jehovah toegewy het.—Mattheüs 24:45-47; Hebreërs 10:7.

Waarop berus die roeping?

14, 15. Waarop berus die Christelike roeping tot die bediening? (Mattheüs 22:37-40)

14 Beteken dit dat Christene ’n persoonlike roeping van God moet kry om die bediening te betree? Sommige in die valse Christendom het weliswaar hulle “roeping” as ’n geweldig emosionele ondervinding beskryf, asof God hulle regstreeks tot sy diens geroep het. Maar berus die Christelike bediening hoofsaaklik op iets so kortstondig soos emosie?

15 Waarop berus heilige diens aan God volgens die apostel Paulus? Hy het geskryf: “Dientengevolge versoek ek julle dringend, broers, deur die medelye van God, om julle liggaam aan te bied as ’n slagoffer wat lewend, heilig en aan God welgevallig is, ’n heilige diens met julle denkvermoë [“as ’n daad van intelligente aanbidding”, Phillips; “as skepsele wat met rede begaaf is”, The New English Bible, voetnoot].” Ja, heilige diens aan God berus op rede. Hoe so? Omdat ’n mens se toewyding aan en persoonlike verhouding met Jehovah op kennis van die ware God berus. Hoewel die Christen se roeping tot die bediening op sigself ’n vreugdevolle ervaring is, is dit nie bloot die gevolg van ’n emosionele reaksie nie. Dit het ’n vaste beweegrede —liefde vir God en naaste.—Romeine 12:1, NW; Johannes 17:3.

16. Verhoed voltydse sekulêre werk ’n person om ’n bedienaar te wees? (Handelinge 18:1-5)

16 Maar jy vra dalk: Was daardie vroeë Christene ook bedienaars selfs al het hulle voltyds sekulêre werk gedoen of al was hulle huisvrouens? Ja, hulle was. Hulle kon dalk net ’n klein deeltjie van hulle tyd aan die Christelike bediening wy deur te preek en te onderrig, maar dit was hulle hoofdoel in die lewe. Hulle het geweet dat hulle ‘hulle lig moet laat skyn’ as ware dissipels van Christus. Trouens, hulle was werker-bedienaars lank voordat die Christendom sy werker-priesters gehad het.—Mattheüs 5:16; 1 Petrus 2:9.

Bewys van hulle bediening

17, 18. (a) Watter algemene beginsel het Christus oor ware Christene gestel? (b) Wat is die ware aanbeveling van ’n bedienaar?

17 Hoe bewys Jehovah se Getuies dat hulle bedienaars is as hulle geen diploma of universiteitsgraad het nie? Wel, hoe het die vroeë Christene bewys dat hulle bedienaars is? Christus self het hierdie insig gegee: “So dra elke goeie boom goeie vrugte.” Christenbedienaars moet “goeie vrugte” dra, en dit sluit deelname aan die dissipelmaakwerk in.—Mattheüs 7:17.

18 Die apostel Paulus het dit soos volg verduidelik: “Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.” Hoe word daar op harte geskryf? Deur die prediking van die saadagtige woord van die geloof wat in die hart geplant is. Hierdie saad het dan weer die ontvanger beweeg om dieselfde boodskap van redding aan ander te verkondig.—2 Korinthiërs 3:1-3.

19. Watter onbetwisbare aanbeveling as bedienaars het Jehovah se Getuies?

19 Het Jehovah se Getuies bewys van ’n ‘brief van Christus wat deur hulle as bedienaars berei is’? Die feite spreek vir hulself. In 1931, toe hulle hulle unieke naam aangeneem het, was daar ongeveer 50 000 Getuies wat rondom die wêreld gepreek het. Die rapport vir 1983 toon ’n hoogtepunt van meer as 2 652 000 bedienaars van die Koninkryksevangelie wat aan 46 235 gemeentes verbonde is. Ja, daar is nou feitlik soveel gemeentes as wat daar in 1931 Getuies was! Die waarheid is gedurende die afgelope paar dekades inderdaad op miljoene harte geskryf—en dit is onomstootlike bewys van die bediening van Jehovah se Getuies.—Jesaja 43:10-13, NW.

20. Wat het ons vandag as Christenbedienaars nodig? Watter vrae moet nog beantwoord word?

20 Die behoefte aan Christenbedienaars is vandag groter as ooit tevore. Daar is min tyd en die oes is groot. Dit is des te meer rede vir ons om bevoegde, bekwame bedienaars te wees wat op ’n produktiewe wyse preek en onderrig. Hoe kan ons dit doen? Hoe kan ons effektiewer bedienaars wees? Het Christus en die apostels se voorbeeld vandag vir ons praktiese waarde?—Efesiërs 5:15, 16; Mattheüs 9:37, 38.

Gedagtes vir hersiening

◻ Hoe weet ons dat al Christus se gesalfde volgelinge bedienaars moes wees?

◻ Watter rol speel die “groot menigte” in die hedendaagse bediening?

◻ Waarop berus die Christelike roeping tot die bediening?

◻ Watter bewys van hulle bediening het Jehovah se Getuies?

[Prent op bladsy 11]

Was daar ’n Christelike geestelikeklas in apostoliese tye?

[Prent op bladsy 12]

In 1943 het Gileadskool in South Lansing, New York, geopen. In 1961 is die skool na Brooklyn, New York, verskuif

[Prent op bladsy 13]

ln nuwe fasiliteite naby die Brooklyn-brug gaan Gileadskool voort om bedienaars vir diens in die buiteland voor te berei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel