Lesse uit die verslag van Jesus se geboorte
MILJOENE word gefassineer deur die gebeure wat met Jesus se geboorte verband hou. Dit blyk uit die talle kriptonele en Kersspele wat regoor die wêreld gedurende Kerstyd gesien kan word. Hoewel die gebeure rondom Jesus se geboorte fassinerend is, is dit nie in die Bybel opgeteken om mense te vermaak nie. Dit vorm eerder deel van die hele Skrif wat deur God geïnspireer is om te onderrig en om dinge reg te stel.—2 Timoteus 3:16.
As God wou gehad het dat Christene Jesus se geboorte moes vier, sou die Bybel die presiese datum gegee het. Doen die Bybel dit? Nadat die 19de-eeuse Bybelgeleerde Albert Barnes gemeld het dat Jesus gebore is toe herders in die nag buite was om hulle kuddes op te pas, het hy tot dié slotsom gekom: “Hieruit is dit duidelik dat ons Redder voor die 25ste Desember gebore is . . . Dit is koud gedurende daardie tyd, en veral in die hoogliggende en bergagtige streke om Betlehem. God het die tyd van [Jesus se] geboorte verswyg. . . . Dit was ook nie belangrik om die tyd te weet nie; as dit was, sou God die verslag daarvan bewaar het.”
Daarenteen toon die vier Evangelieskrywers duidelik op watter dag Jesus gesterf het. Dit was op die dag van die Pasga, wat op die 14de van die Joodse maand Nisan, in die noordelike lente, gehou is. Verder het Jesus sy volgelinge spesifiek beveel om daardie dag tot sy gedagtenis te herdenk (Lukas 22:19). Daar is glad nie so ’n opdrag in die Bybel om Jesus se geboortedag, of dié van enige ander persoon, te vier nie. Ongelukkig kan geskille oor die datum van Jesus se geboorte die belangriker gebeure wat omstreeks daardie tyd plaasgevind het, oorskadu.
Ouers wat deur God gekies is
Watter soort ouers het God uit die duisende gesinne in Israel gekies om sy Seun groot te maak? Het Hy faktore soos vernaamheid en rykdom as belangrik beskou? Nee. Jehovah het eerder op die ouers se geestelike eienskappe gelet. Kyk byvoorbeeld in Lukas 1:46-55 na die loflied wat Maria gesing het nadat sy vertel is van haar voorreg om die moeder van die Messias te word. Sy het onder andere gesê: “My siel maak Jehovah groot . . . omdat hy die nederige posisie van sy slavin aanskou het.” Sy het haarself beskou as iemand met ’n “nederige posisie”, Jehovah se slavin. Nog belangriker, die pragtige lofbetuigings in Maria se lied toon dat sy ’n geestelike persoon was wat die Skrif goed geken het. Hoewel sy ’n sondige nakomeling van Adam was, was sy die ideale keuse om die aardse moeder van God se Seun te wees.
Wat van Maria se man, wat Jesus se pleegvader geword het? Josef was ’n man met praktiese kennis van timmermanswerk. Omdat hy bereid was om hard te werk met sy hande, kon hy vir ’n gesin voorsien wat uiteindelik uit vyf seuns en ten minste twee dogters bestaan het (Matteus 13:55, 56). Josef was nie ryk nie. Toe die tyd vir Maria aangebreek het om haar eersgebore seun by God se tempel aan te bied, moes Josef seker teleurgesteld gewees het dat hy nie ’n skaap as offer kon bring nie. Hulle moes maar gebruik maak van ’n voorsiening vir die armes. Aangaande die moeder van ’n pasgebore seun het God se wet gesê: “As sy nie ’n skaap kan bekostig nie, dan moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem, een as ’n brandoffer en een as ’n sondoffer, en die priester moet vir haar versoening doen, en sy sal rein wees.”—Levitikus 12:8; Lukas 2:22-24.
Die Bybel sê dat Josef “regverdig was” (Matteus 1:19). Hy het byvoorbeeld nie geslagsomgang met sy vrou, wat nog ’n maagd was, gehad tot ná Jesus se geboorte nie. Dit het enige misverstand voorkom oor wie Jesus se werklike vader was. Dit kon nie maklik vir ’n pasgetroude paartjie gewees het om onder dieselfde dak te woon en nie geslagsomgang te hê nie, maar dit het getoon dat hulle albei die voorreg waardeer het dat hulle gekies is om God se Seun groot te maak.—Matteus 1:24, 25.
Soos Maria, was Josef ’n geestelike persoon. Hy het elke jaar sy werk gestaak en sy gesin op die drie dae lange reis van Nasaret na Jerusalem geneem om die jaarlikse Pasgafees by te woon (Lukas 2:41). Ook het Josef ongetwyfeld die jong Jesus geleer om elke week vir aanbidding na die plaaslike sinagoge te gaan, waar God se Woord gelees en verduidelik is (Lukas 2:51; 4:16). Daar kan dus geen twyfel bestaan dat God die regte aardse moeder en pleegvader vir sy Seun gekies het nie.
’n Wonderlike seën vir nederige herders
Al was dit baie moeilik vir sy vrou, wat nou nege maande swanger was, het Josef na die stad van sy voorvaders gereis om geregistreer te word, soos die keiser beveel het. Toe die paartjie in Betlehem aankom, kon hulle nie blyplek in die oorvol stad vind nie. Weens omstandighede moes hulle dus in ’n stal bly, waar Jesus gebore en in ’n krip neergelê is. Om hulle geloof te versterk, het Jehovah aan die nederige ouers bevestiging gegee dat hierdie geboorte werklik God se wil is. Het hy ’n afvaardiging van vooraanstaande ouer manne uit Betlehem gestuur om die paartjie hierdie versekering te gee? Nee. Jehovah God het dit eerder aan hardwerkende herders geopenbaar wat die nag buite deurgebring het terwyl hulle hulle kuddes opgepas het.
God se engel het aan hulle verskyn en vir hulle gesê om na Betlehem te gaan, waar hulle die pasgebore Messias “in ’n krip” sou vind. Was hierdie nederige manne geskok of verleë om te hoor dat die pasgebore Messias in ’n stal is? Glad nie! Hulle het sonder meer hulle kuddes daar gelaat en na Betlehem gegaan. Toe hulle Jesus vind, het hulle vir Josef en Maria vertel wat God se engel gesê het. Dit het ongetwyfeld die paartjie se geloof versterk dat alles volgens God se voorneme verloop. “Toe het die herders teruggegaan, en hulle het God verheerlik en geloof oor alles wat hulle gehoor en gesien het” (Lukas 2:8-20). Ja, Jehovah het die regte keuse gemaak toe hy hierdie dinge aan die godvresende herders geopenbaar het.
Uit die voorgaande leer ons watter soort mense ons moet wees om Jehovah se guns te geniet. Ons hoef nie vernaamheid of rykdom te soek nie. Ons moet eerder soos Josef, Maria en die herders gehoorsaam aan God wees en ons liefde vir hom bewys deur geestelike belange voor materiële dinge te stel. Ja, goeie lesse kan geleer word as ons peins oor die verslag van die gebeure wat omstreeks die tyd van Jesus se geboorte plaasgevind het.
[Prent op bladsy 7]
Waarop dui die feit dat Maria twee duiwe geoffer het?
[Prent op bladsy 7]
God het verkies om Jesus se geboorte aan ’n paar nederige herders bekend te maak