Vrae van lesers
Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink”?
Paulus het na die herdenking van Jesus se dood verwys en geskryf: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig, totdat hy kom” (1 Korintiërs 11:25, 26). Party meen dat die woord “dikwels” hier te kenne gee dat Christus se dood gereeld, oftewel baie keer, gevier moet word. Daarom vier hulle dit meer as een keer per jaar. Is dit wat Paulus bedoel het?
Dit is nou byna 2 000 jaar sedert Jesus die herdenking van sy dood ingestel het. Al word die Gedenkmaal selfs net een keer per jaar gevier, beteken dit nog steeds dat dit sedert 33 G.J. dikwels gevier is. Maar in die konteks van 1 Korintiërs 11:25, 26 het Paulus bespreek hoe die Gedenkmaal gehou moet word en nie hoe dikwels nie. In die oorspronklike Grieks het hy nie die woord pol·laʹkis gebruik, wat “dikwels” of “gereeld” beteken nie. Hy het eerder die woord ho·saʹkis gebruik, wat “so dikwels as” beteken, ’n idioom wat “wanneer ook al”, “elke keer as” beteken. Paulus het gesê: ‘Elke keer as julle dit doen, hou julle aan om die dood van die Here te verkondig.’a
Hoe dikwels moet Jesus se dood dan herdenk word? Dit is gepas om dit net een keer per jaar te doen. Dit is waarlik ’n herdenking, en herdenkings word gewoonlik jaarliks gehou. Daarbenewens het Jesus gesterf op die dag van die Joodse Pasga, wat een keer per jaar gehou is. Paulus het heel gepas na Jesus verwys as “Christus, ons pasga”, aangesien Jesus se offerdood die lewe moontlik gemaak het vir geestelike Israel, net soos die eerste Pasgaoffer die natuurlike Israeliete se eersgeborenes in Egipte van die dood gered en die nasie se bevryding van slawerny bewerkstellig het (1 Korintiërs 5:7; Galasiërs 6:16). Hierdie verband met die jaarlikse Joodse Pasga is ’n verdere bewys dat die herdenking van Jesus se dood net een keer per jaar gehou moet word.
Paulus het Jesus se dood ook met ’n ander jaarlikse Joodse fees, die Versoendag, verbind. In Hebreërs 9:25, 26 lees ons aangaande Jesus: “Ook is dit nie om homself dikwels te offer nie, soos die hoëpriester wel van jaar tot jaar [op die Versoendag] in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie. . . . Maar nou het hy hom eens en vir altyd aan die voleinding van die stelsels van dinge geopenbaar om sonde deur die opoffering van homself weg te doen.” Aangesien Jesus se offerande die jaarlikse Versoendagoffer vervang het, is dit gepas om sy dood jaarliks te herdenk. Daar is geen skriftuurlike rede om die Gedenkmaal meer dikwels te vier nie.
In ooreenstemming hiermee sê die geskiedskrywer John Laurence von Mosheim dat dit die tweede-eeuse Christene in Klein-Asië se gewoonte was om Jesus se dood “op die veertiende dag van die eerste Joodse maand [Nisan]” te herdenk. Eers in latere jare het dit in die Christendom gebruiklik geword om dit meer as een keer per jaar te vier.
[Voetnoot]
a Vergelyk die verslag in 1 Samuel 1:3, 7. Hier verwys “elke keer as” (in die moderne vertaling van die Hebreeus) na gebeure wat “jaar na jaar”, of een keer per jaar, plaasgevind het, wanneer Elkana en sy twee vrouens na die tabernakel in Silo gegaan het.