Werksekerheid en -bevrediging word bedreig
“DIE reg om te werk”, is ’n basiese reg van alle mense, sê die Universele Verklaring van Menseregte, wat deur die Verenigde Nasies uitgereik is. Maar daardie reg word nie altyd gewaarborg nie. Werksekerheid hang van baie dinge af—van hoe gesond die plaaslike ekonomie is tot wat die stand van die wêreldmark is. Maar wanneer mense hulle werk verloor of hulle werk bedreig word, lei dit dikwels tot betogings, onluste en stakings. Daar is min lande wat nie hierdeur geraak word nie. Selfs die woord “werk”, het een skrywer gesê, “is, en was nog altyd, ’n woord wat kragtige emosies wek”.
Werk is om baie redes vir ons belangrik. Nie alleen voorsien dit ons van ’n inkomste nie, maar dit dra ook by tot ons geestes- en emosionele welsyn. Werk bevredig die mens se begeerte om ’n produktiewe lid van die samelewing te wees en ’n doel in die lewe te hê. Dit gee ons ook ’n mate van selfrespek. Daarom verkies sommige om aan te hou werk, al het hulle meer as genoeg geld om in hulle behoeftes te voorsien of al kan hulle aftree. Ja, werk is so belangrik dat ’n tekort aan werksgeleenthede gewoonlik ernstige maatskaplike probleme kan laat ontstaan.
Aan die ander kant is daar diegene wat wel werk het, maar soveel druk by die werk moet verduur dat hulle hulle werksbevrediging verloor. Weens vandag se uiters mededingende markte verminder al hoe meer firmas byvoorbeeld hulle personeel om die koste te besnoei. Dit kan verdere eise aan die res van die werkers stel, wat gevolglik ’n groter werklas moet dra.
Moderne tegnologie, wat veronderstel is om die lewe makliker en die werk doeltreffender te maak, het moontlik tot die druk by die werksplek bygedra. Met rekenaars, faksmasjiene en die Internet kan mense byvoorbeeld nou hulle werk aan die einde van die dag huis toe neem, wat dit moeilik maak om tussen die huis en die kantoor te onderskei. Vir een werker was sy maatskappy se roepradio en -selfoon soos ’n onsigbare leiband, met sy baas aan die ander kant.
’n Vrees wat in ons vinnig veranderende ekonomiese en werksklimaat onder baie ouer mense toeneem, is dat hulle voor hulle tyd as nutteloos beskou sal word. In verband hiermee het die voormalige Kommissaris van Menseregte Chris Sidoti gesê: “Die algemene siening is blykbaar dat mense wat ouer as 40 is, nie rekenaars en nuwe tegnologie onder die knie sal kry nie.” Gevolglik word talle goeie werkers wat voorheen as in die fleur van hulle lewe beskou is, nou gesien as te oud om nuttig te wees. Hoe tragies tog!
Dit is te verstane dat werketiek en lojaliteit aan die firma in onlangse jare ’n knou gekry het. “Wanneer maatskappye mense oorboord gooi elke keer as daar net ’n effense skommeling in die aandelemark is, word lojaliteit teenoor die maatskappy iets van die verlede”, sê die Franse tydskrif Libération. “’n Mens moet natuurlik werk, maar vir jouself, nie vir die maatskappy nie.”
Ten spyte van hierdie toenemende probleme is werk nog steeds ’n basiese menslike behoefte. Hoe kan ’n mens dus in ons vinnig veranderende tye ’n gebalanseerde beskouing van sekulêre werk ontwikkel en terselfdertyd ’n gevoel van sekerheid en werksbevrediging behou?
[Prent op bladsy 3]
Moderne tegnologie het moontlik tot die druk by die werksplek bygedra