Ek het my oë en hart op die prys gevestig gehou
SOOS VERTEL DEUR EDITH MICHAEL
In die vroeë dertigerjare het ons buite St. Louis, Missouri, VSA, gewoon toe een van Jehovah se Getuies ons besoek het. Op daardie oomblik het die wasgoedlyn gebreek, en my ma se spierwit klere het in die modder beland. Sy het die boeke wat aangebied is, geneem, net sodat die vrou sou gaan, en daarna het sy hulle op ’n rak neergesit en daarvan vergeet.
DIT was die jare van die depressie, en my pa het sy werk verloor. Eendag het hy gevra of daar enigiets in die huis was om te lees. My ma het hom van die boeke vertel. Hy het hulle begin lees, en ná ’n ruk het hy uitgeroep: “Vrou, dis die waarheid!”
“Ag, dis net een of ander godsdiens wat geld wil hê soos al die ander”, het sy geantwoord. My pa het egter vir haar gesê om te sit en die tekste saam met hom na te slaan. Nadat sy dit gedoen het, was sy ook oortuig. Daarna het hulle na die Getuies begin soek en het uitgevind dat hulle in ’n gehuurde saal naby die middel van St. Louis vergader, ’n saal wat ook vir danse en ander funksies gebruik is.
My pa en ma het my saamgeneem—ek was ongeveer drie jaar oud—en die saal gevind, maar daar was ’n dans aan die gang. My pa het uitgevind wanneer die vergaderinge gehou word, en ons het teruggegaan. Ons het ook ’n weeklikse Bybelstudie naby ons huis begin bywoon. Dit is in die huis van die vrou gehou wat ons die eerste keer besoek het. “Bring gerus julle seuns ook saam”, het sy gesê. My ma was skaam om te sê dat hulle nie skoene het nie. Toe sy uiteindelik die situasie verduidelik het, is daar vir hulle skoene gegee, en my broers het die vergaderinge saam met ons begin bywoon.
Hulle het vir my ma ’n velddiensgebied naby ons huis gegee, en sy het van huis tot huis begin getuig. Ek het saam met haar gegaan en agter haar geskuil. Voor sy leer bestuur het, het ons meer as ’n kilometer geloop om ’n bus te haal wat ons na die vergaderinge in St. Louis geneem het. Ons het nooit van die vergaderinge af weggebly nie, selfs wanneer ons ys en sneeu moes trotseer.
In 1934 is my ma en pa gedoop. Ek wou ook gedoop word en het aangehou totdat my ma ’n ouer Getuie gevra het om met my daaroor te praat. Hy het baie vrae gevra op ’n manier wat ek kon verstaan. Toe het hy vir my ouers gesê dat ek nie verhinder moet word om gedoop te word nie; dit kan my geestelike groei benadeel. Ek is dus die volgende somer gedoop, toe ek nog maar ses was.
Ek was baie lief vir die boekie Home and Happiness, wat ek altyd by my gehou het, en selfs wanneer ek geslaap het, het ek dit onder my kussing gehad. Ek het my ma oor en oor gevra om dit vir my te lees totdat ek dit uit die hoof geken het. Op die agterblad was daar ’n prent van ’n dogtertjie in die Paradys met ’n leeu. Ek het gesê dat ek die dogtertjie is. Daardie prent het my gehelp om my oë op die prys van lewe in God se nuwe wêreld te hou.
Ek was baie skaam, maar al het ek gebewe, het ek altyd vrae tydens die gemeentelike Wagtoring-studie beantwoord.
Ongelukkig was my pa bang dat hy sy werk sou verloor, en daarom het hy opgehou om met die Getuies om te gaan. My broers het dieselfde gedoen.
Die voltydse bediening
My ma het pioniers, oftewel voltydse bedienaars, toegelaat om hulle woonwa in ons agterplaas te parkeer, en ná skool het ek saam met hulle in die bediening uitgegaan. Kort voor lank wou ek ’n pionier wees, maar my pa wou niks daarvan hoor nie, aangesien hy gemeen het dat ek meer skoolopleiding moes ontvang. My ma het hom op die ou end oorreed om my toe te laat om ’n pionier te word. In Junie 1943, toe ek 14 was, het ek dus die voltydse diens betree. Ek het deeltydse en soms voltydse sekulêre werk gedoen om tot huishoudelike uitgawes by te dra. Ek het nogtans die maandelikse doelwit van 150 uur in die predikingswerk bereik.
Mettertyd het ek ’n pioniermaat gevind, Dorothy Craden, wat in Januarie 1943 die pionierdiens betree het toe sy 17 was. Sy was ’n vroom Katoliek, maar ná ses maande van Bybelstudie is sy gedoop. Sy was baie jare lank ’n bron van bemoediging en krag vir my, en ek vir haar. Ons het gehegter as susters geword.
Ons het van 1945 af saam as pioniers in klein dorpies in Missouri gedien waar daar geen gemeentes was nie. In Bowling Green het ons ’n vergaderplek opgeknap; my ma het ons kom help. Daarna het ons elke week al die huise in die dorp besoek en die mense na ’n openbare toespraak genooi wat ons gereël het broers van St. Louis moes kom hou. Ons het ’n weeklikse bywoning van tussen 40 en 50 gehad. Later het ons dieselfde in Louisiana gedoen, waar ons ’n Vrymesselaarstempel gehuur het. Om die huurkoste van die sale te dek, het ons bydraebussies uitgesit, en elke week is alle koste gedek.
Daarna het ons Mexiko, Missouri, toe gegaan, waar ons ’n gebou met ’n winkelfront gehuur het. Ons het dit opgeknap sodat die gemeentetjie daar dit kon gebruik. Die gebou het aangrensende kamers gehad waarin ons gewoon het. Ons het ook gehelp om openbare toesprake in Mexiko te reël. Daarna het ons na die staat se hoofstad, Jefferson City, gegaan, waar ons elke oggend van die week staatsamptenare in hulle kantore besoek het. Ons het in ’n vertrek bo die Koninkryksaal gewoon saam met Stella Willie, wat soos ’n ma vir ons was.
Van daar af het ons drie na die dorpe Festus en Crystal City gegaan, wat naby mekaar was. Ons het in ’n omgeboude hoenderhok agter die huis van ’n belangstellende gesin gewoon. Aangesien daar geen gedoopte mans was nie, het ons al die vergaderinge gehou. As ’n deeltydse werk het ons skoonheidsmiddels verkoop. Ons het min materiële dinge gehad. Trouens, ons kon nie bekostig om die gate in ons skoene te laat regmaak nie, met die gevolg dat ons elke oggend nuwe karton daarin gesit het, en in die aand het ons elkeen ons enigste rok gewas.
Vroeg in 1948, toe ek 19 was, het ek en Dorothy uitnodigings na die 12de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge ontvang. Ná die kursus van vyf maande het die eenhonderd studente op 6 Februarie 1949 gegradueer. Dit was ’n baie gelukkige tyd. My ouers het Kalifornië toe getrek, en my ma het al die pad van daar af gekom om teenwoordig te wees.
Ons gaan na ons toewysing
Agt-en-twintig gegradueerdes is na Italië gestuur—ses, onder meer ek en Dorothy, na die stad Milaan. Op 4 Maart 1949 het ons van New York af op die Italiaanse skip Vulcania vertrek. Die reis het 11 dae geduur, en die onstuimige see het die meeste van ons seesiek gemaak. Broer Benanti het na die seehawe Genua gekom om ons te ontmoet en ons per trein na Milaan terug te neem.
Toe ons by die sendinghuis in Milaan aankom, het ons blomme in elkeen van ons kamers gevind wat ’n jong Italiaanse meisie daar gesit het. Jare later het hierdie meisie, Maria Merafina, Gilead toe gegaan, na Italië teruggekeer, en ek en sy het saam in ’n sendinghuis gedien!
Die oggend nadat ons in Milaan aangekom het, het ons by die badkamervenster uitgekyk. In die straat agter die sendinghuis was ’n groot gebombardeerde woonstelgebou. ’n Amerikaanse bomwerper het per ongeluk ’n bom afgegooi wat al 80 gesinne in die gebou gedood het. Op ’n ander tyd het die bomme ’n fabriek gemis en ’n skool getref en 500 kinders het hulle lewe verloor. Die mense het dus nie veel van die Amerikaners gehou nie.
Mense was moeg vir oorlog. Baie mense het gesê dat hulle nie na bomskuilings sou gaan as nog ’n oorlog uitbreek nie, maar dat hulle by die huis sou bly en die gas sou oopdraai en daar sou sterf. Ons het hulle verseker dat ons nie daar was om die Verenigde State of enige ander mensgemaakte regering te verteenwoordig nie, maar die Koninkryk van God, wat ’n einde sal bring aan alle oorloë en die lyding wat dit veroorsaak.
In die groot stad Milaan het die enigste gemeente van sowat 20 in die sendinghuis vergader. Die gebied was toe nog nie vir velddiens ingedeel nie, en daarom het ons in ’n groot woonstelgebou begin getuig. By die eerste deur het ons mnr. Giandinotti ontmoet, wat wou hê dat sy vrou die kerk moes verlaat, en daarom het hy een van ons publikasies geneem. Mev. Giandinotti was ’n opregte vrou en het baie vrae gehad. “Ek sal bly wees as julle Italiaans leer praat”, het sy gesê, “sodat julle my die Bybel kan leer.”
Die plafonne in hulle woonstel was hoog en die lig was flou, gevolglik het sy saans haar stoel op die tafel gesit om naby die lig te wees om die Bybel te lees. “As ek die Bybel met julle studeer”, het sy gevra, “kan ek nog kerk toe gaan?” Ons het vir haar gesê dat sy self moes besluit. Sy het Sondagoggende kerk toe gegaan en in die middae na ons vergaderinge gekom. Maar eendag het sy gesê: “Ek gaan nie meer kerk toe nie.”
“Waarom nie?” het ons gevra.
“Omdat hulle nie leer wat die Bybel sê nie, en ek het die waarheid gevind deur die Bybel saam met julle te studeer.” Sy is gedoop en het met baie vroue gestudeer wat elke dag kerk toe gegaan het. Later het sy vir ons gesê dat sy die studie sou stopgesit het en waarskynlik nooit die waarheid sou geleer het as ons vir haar gesê het om nie kerk toe te gaan nie.
Nuwe toewysings
Mettertyd is ek en Dorothy, saam met vier ander sendelinge, na die Italiaanse stad Triëst gestuur, wat destyds deur Britse en Amerikaanse troepe beset is. Daar was toe net ongeveer tien Getuies, maar hierdie syfer het gegroei. Ons het drie jaar in Triëst gepreek, en toe ons daar weg is, was daar 40 Koninkryksverkondigers, waarvan 10 pioniers was.
Ons volgende toewysing was die stad Verona, waar daar nie ’n gemeente was nie. Maar toe die kerk druk op die sekulêre owerheid geplaas het, is ons gedwing om die plek te verlaat. Ek en Dorothy is na Rome gestuur. Daar het ons ’n gemeubileerde vertrek gehuur, en ons het gebied naby die Vatikaan gewerk. Terwyl ons daar was, het Dorothy Libanon toe gegaan om met John Chimiklis te trou. Ons was byna 12 jaar lank saam, en ek het haar werklik gemis.
In 1955 is ’n nuwe sendinghuis in ’n ander deel van Rome geopen in ’n straat wat die Nuwe Appiese Weg genoem is. Een van die vier sendelinge in die sendinghuis was Maria Merafina, die meisie wat blomme in ons kamers gesit het op die aand wat ons in Milaan aangekom het. ’n Nuwe gemeente is in hierdie deel van die stad gestig. Ná die internasionale byeenkoms in Rome daardie somer was ek bevoorreg om die streekbyeenkoms in Neurenberg, Duitsland, by te woon. Wat ’n ondervinding was dit tog om diegene te ontmoet wat soveel onder Hitler se regime verduur het!
Terug Amerika toe
In 1956 het ek, as gevolg van gesondheidsprobleme, met siekteverlof na die Verenigde State teruggekeer. Maar ek het altyd my oë gevestig gehou op die prys wat ek sal ontvang as ek Jehovah nou en in die eindelose toekoms in sy nuwe wêreld dien. Ek het beplan om na Italië terug te keer. Maar ek het Orville Michael ontmoet, wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gedien het. Ons is getroud ná die internasionale byeenkoms in 1958 in die stad New York.
Kort daarna het ons na Front Royal, Virginië, verhuis, waar ons dit geniet het om saam met ’n klein gemeente te dien. Ons het in ’n woonstelletjie agter die Koninkryksaal gewoon. Ons is uiteindelik in Maart 1960 genoodsaak om na Brooklyn terug te keer om sekulêre werk te vind sodat ons ons rekeninge kon betaal. Ons het snags in verskillende banke gewerk sodat ons in die voltydse diens kon bly.
Terwyl ons in Brooklyn was, het my pa gesterf, en my man se ma het ’n ligte beroerteaanval gehad. Ons het dus besluit om na Oregon te verhuis om naby ons ma’s te wees. Ons het albei deeltydse sekulêre werk gevind en het daar in die pionierdiens voortgegaan. In die herfs van 1964 het ons en ons ma’s per motor oor die breedte van die land gery om die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Pittsburgh, Pennsilvanië, by te woon.
Tydens ons besoek aan Rhode-eiland het ’n kringopsiener, Arlen Meier, en sy vrou ons aangespoor om na die staat se hoofstad, Providence, te verhuis, waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ons ma’s het ons aangespoor om hierdie nuwe toewysing te aanvaar, daarom het ons, ná ons na Oregon teruggekeer het, die meeste van ons huisraad verkoop en verhuis.
Weer na Gileadskool
Gedurende die somer van 1965 het ons ’n streekbyeenkoms by Yankee-stadion bygewoon. Daar het ons as ’n egpaar vir Gileadskool aansoek gedoen. Ongeveer ’n maand later was ons verbaas om aansoekvorms te ontvang, wat binne 30 dae teruggestuur moes word. Ek was bekommerd dat ek na ’n verafgeleë land sou moes gaan, aangesien my ma nie te gesond was nie. Maar sy het my aangespoor: “Vul daardie aansoeke in. Jy weet dat jy altyd enige diensvoorreg moet aanvaar wat Jehovah jou bied!”
Daarmee is die saak opgelos. Ons het die aansoekvorms ingevul en ingestuur. Wat ’n verrassing was dit tog om uitnodigings na die 42ste klas te ontvang, wat op 25 April 1966 begin het! Gileadskool is destyds in Brooklyn, New York, gehou. Minder as vyf maande later, op 11 September 1966, het 106 van ons gegradueer.
Na Argentinië toegewys
Twee dae ná ons graduering was ons op pad na Argentinië op die Peruaanse lugredery. Toe ons in Buenos Aires aankom, het die takopsiener, Charles Eisenhower, ons by die lughawe ontmoet. Hy het ons gehelp om deur die doeane te kom en ons toe na die takkantoor geneem. Ons het een dag gehad om uit te pak en ons tuis te maak; toe het ons Spaanse klasse begin. Ons het die eerste maand 11 uur per dag Spaans bestudeer. Gedurende die tweede maand het ons die taal vier uur per dag bestudeer en aan die velddiens begin deelneem.
Ons was vyf maande in Buenos Aires en is daarna na Rosario toegewys, ’n groot stad ongeveer vier uur noord per trein. Nadat ons 15 maande lank daar gedien het, is ons verder noord na Santiago del Estero gestuur, ’n stad in ’n warm provinsie in ’n woestyn. Terwyl ons daar was, het my moeder in Januarie 1973 gesterf. Ek het haar in vier jaar nie gesien nie. Wat my in my droefheid help onderskraag het, was die vaste hoop van die opstanding sowel as die wete dat ek gedien het waar my ma wou hê ek moes wees.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.
Die mense in Santiago del Estero was vriendelik, en dit was maklik om Bybelstudies te begin. Toe ons in 1968 daar aangekom het, was daar ongeveer 20 of 30 wat vergaderinge bygewoon het, maar agt jaar later was daar meer as honderd in ons gemeente. Daarbenewens was daar twee nuwe gemeentes van tussen 25 en 50 verkondigers in nabygeleë dorpies.
Weer terug Amerika toe
As gevolg van gesondheidsprobleme is ons in 1976 na die Verenigde State as spesiale pioniers toegewys—na Fayetteville, Noord-Carolina. Daar was baie Spaanssprekende mense daar van Sentraal- en Suid-Amerika, die Dominikaanse Republiek, Puerto Rico en selfs Spanje. Ons het baie Bybelstudies gehad, en mettertyd is ’n Spaanse gemeente gestig. Ons was byna agt jaar lank in daardie toewysing.
Ons moes egter nader aan my skoonma wees, wat al bejaard en gestremd was. Sy het in Portland, Oregon, gewoon, en ons het dus ’n nuwe toewysing na die Spaanse gemeente in Vancouver, Washington, ontvang, wat nie ver van Portland is nie. Die gemeente was klein toe ons in Desember 1983 daar aangekom het, maar ons sien talle nuwelinge.
In Junie 1996 het ek 53 jaar van voltydse diens voltooi, en op 1 Januarie 1996 het my man 55 jaar voltooi. Gedurende hierdie baie jare het ek die voorreg gehad om honderde te help om ’n kennis van die waarheid van God se Woord te verkry en hulle lewe aan Jehovah toe te wy. Baie van hulle dien nou as ouer manne en voltydse bedienaars.
Soms word ek gevra of ek nie spyt is dat ek nooit kinders gehad het nie. Feit is dat Jehovah my met talle geestelike kinders en kleinkinders geseën het. Ja, ek het ’n ryk en vol lewe in Jehovah se diens gehad. Ek kan my met Jefta se dogter vereenselwig, wat haar lewe in tempeldiens deurgebring het en nooit kinders gehad het nie vanweë haar groot diensvoorreg.—Rigters 11:38-40.
Ek onthou nog hoe ek my aan Jehovah toegewy het toe ek maar nog ’n klein dogtertjie was. Die prent van die Paradys is nou nog net so helder in my verstand as wat dit destyds was. My oë en hart is steeds gevestig op die prys van eindelose lewe in God se nuwe wêreld. Ja, my begeerte is om Jehovah te dien, nie net sowat 50 jaar nie, maar vir ewig—onder sy Koninkryksheerskappy.
[Prent op bladsy 23]
Dorothy Craden, met haar hande op my skouers, en medepioniers in 1943
[Prent op bladsy 23]
In Rome, Italië, met medesendelinge in 1953
[Prent op bladsy 25]
Saam met my man