Lewensverhaal
My aandeel aan die wêreldwye goddelike onderrigtingswerk
SOOS VERTEL DEUR ROBERT NISBET
Koning Sobhuza II van Swaziland het my en my broer George by sy koninklike woning verwelkom. Dit was 1936, maar ek onthou ons gesprek nog baie goed. Daardie uitvoerige bespreking met ’n koning was alles deel van my lang verbintenis met ’n groot Bybelonderrigtingswerk. Nou, in my 95ste lewensjaar, kyk ek met vreugde terug op my aandeel aan daardie werk, wat my na vyf verskillende vastelande geneem het.
DIT het alles in 1925 begin toe ’n teeverkoper met die naam Dobson ons gesin in Edinburg, Skotland, begin besoek het. Ek was in my laat tienerjare en het as leerlingapteker gewerk. Hoewel ek nog redelik jonk was, was ek nietemin besorg oor die groot veranderinge wat die wêreldoorlog van 1914-1918 in die gesins- en godsdienslewe van mense teweeggebring het. Met een van sy besoeke het mnr. Dobson die boek The Divine Plan of the Ages by ons gelaat. Die manier waarop dit God uitgebeeld het as ’n intelligente Skepper met ’n spesifieke “plan”, was so redelik en het ooreengestem met die God wat ek wou aanbid.
Ek en my ma het spoedig die vergaderinge van die Bybelstudente begin bywoon, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. In September 1926 het ek en my ma ons toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur middel van waterdoop by ’n streekbyeenkoms in Glasgow. Elke doopkandidaat het ’n vollengte kledingstuk ontvang wat om die enkel vasgemaak het, om bo-oor ons baaikostuums te dra. Destyds is dit beskou as gepaste drag vir so ’n ernstige geleentheid.
In daardie vroeë dae het ons begrip van baie dinge verfyning nodig gehad. Die meeste gemeentelede, indien nie almal nie, het Kersfees gevier. Baie min het aan die veldbediening deelgeneem. Selfs sommige ouer manne het beswaar gemaak teen lektuurverspreiding op ’n Sondag, omdat dit volgens hulle die Sabbat geskend het. Maar Wagtoring-artikels in 1925 het groter klem op tekste soos Markus 13:10 begin lê: “Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word.”
Hoe sou daardie wêreldwye werk verrig word? Met my eerste nederige poging om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem, het ek net vir die huisbewoner gesê dat ek oulike godsdiensboeke verkoop en toe Die harp van God aangebied, ’n boek wat tien belangrike leerstellings van die Bybel verduidelik en dit met die tien snare van ’n harp vergelyk. Later is ons ’n getuieniskaart gegee, waarop ’n kort boodskap was wat die huisbewoner kon lees. Ons het ook toespraakopnames van vier en ’n half minute op ’n draagbare grammofoon gespeel. Die vroeëre modelle was nogal swaar om te dra, maar latere modelle was aansienlik ligter, en sommige kon selfs in ’n vertikale posisie gespeel word.
Van 1925 af tot in die 1930’s het ons ons getuieniswerk na die beste van ons vermoë gedoen. Toe, in die vroeë 1940’s, is daar met die Teokratiese Bedieningskool in al die gemeentes begin. Ons is geleer om die Koninkryksboodskap persoonlik oor te dra deur self met huisbewoners te praat wat bereid was om te luister. Ons het ook geleer hoe belangrik dit is om tuisbybelstudies met belangstellendes te hou. In sekere sin kan ons sê dat dit die beginstadium van die huidige wêreldwye Bybelonderrigtingswerk was.
Aanmoediging van broer Rutherford
My begeerte om ’n groter aandeel aan die onderrigtingswerk te hê, het my beweeg om in 1931 as ’n voltydse pionier in te skryf. Ek sou onmiddellik ná ’n streekbyeenkoms in Londen begin dien. Maar gedurende een middagpouse het broer Joseph Rutherford, wat destyds toesig oor die werk gehou het, gevra om met my te praat. Hy wou graag ’n pionier na Afrika toe stuur. “Sal jy bereid wees om te gaan?” het hy gevra. Hoewel ek ietwat verras was, het ek dit reggekry om met redelike beslistheid te sê: “Ja, ek sal gaan.”
In daardie dae was dit ons hoofdoel om soveel Bybellektuur as moontlik te versprei, en dit het beteken dat ons voortdurend aan die beweeg was. Ek is aangespoor om ongetroud te bly, soos die geval was met die meeste broers in verantwoordelike opsienersposisies in daardie tyd. My gebied het in Kaapstad, die suidelikste punt van Afrika, begin en al langs die oostelike kant van die vasteland gestrek, insluitende die eilande van die Indiese Oseaan wat naby die kus was. Die reis na die westelike grens het my oor die warm sand van die Kalahari-woestyn en op tot by die oorsprong van die Nylrivier by die Victoria-meer geneem. Saam met ’n metgesel moes ek ses maande per jaar in een of meer van die Afrikalande in hierdie uitgestrekte gebied deurbring.
Tweehonderd kartonhouers met geestelike skatte
Toe ek in Kaapstad aankom, is ek 200 kartonhouers met lektuur gewys wat na Oos-Afrika moes gaan. Die lektuur was in vier Europese en vier Asiatiese tale, maar daar was niks in enige van die Afrikatale nie. Toe ek wou weet waarom al daardie lektuur daar was nog voordat ek opgedaag het, het ek uitgevind dat dit vir Frank en Gray Smith bedoel was, twee pioniers wat kort tevore na Kenia toe gegaan het om die predikingswerk te doen. Hulle albei het kort ná hulle aankoms malaria opgedoen, en Frank het ongelukkig gesterf.
Hoewel dit ontstellende nuus was, het dit my nie van plan laat verander nie. Ek en my metgesel, David Norman, het Kaapstad per skip verlaat na ons eerste toewysing, Tanzanië, ongeveer 5 000 kilometer daarvandaan. ’n Reisagent in Mombasa, Kenia, het ons voorraad lektuur gestoor en kartonhouers gestuur na enige bestemming wat ons hom gevra het. Aanvanklik het ons in die sakegebiede—die winkels en kantore—in elke dorp getuig. Ons het van ons lektuur in stelle van 9 boeke en 11 boekies versprei, wat weens hulle verskillende kleure as die reënboogstelle bekend geraak het.
Ons het besluit om volgende na die eiland Zanzibar, ongeveer 30 kilometer van die ooskus af, te gaan. Zanzibar was eeue lank ’n middelpunt van die slawehandel, maar dit was ook bekend vir naeltjies, wat ons oral in die dorp kon ruik. Ons het gesukkel om ons weg te vind, want die dorp was sonder ’n plan uitgelê. Die strate se draaie en kronkels was baie verwarrend, en ons het maklik verdwaal. Ons hotel was gerieflik, maar dit het swaar, versterkte deure en dik mure gehad sodat dit meer na ’n tronk as ’n hotel gelyk het. Ons het nogtans goeie resultate gehad en was verheug om Arabiere, Indiërs en ander te vind wat met graagte ons lektuur geneem het.
Treine, bote en motors
In daardie dae was dit nie maklik om in Oos-Afrika te reis nie. Op pad van Mombasa na die hoogland van Kenia moes ons trein byvoorbeeld stop weens ’n sprinkaanplaag. Die land en die treinspoor was oortrek met miljoene sprinkane wat die spoor so glad gemaak het dat die lokomotief se wiele gegly het. Die enigste oplossing was om die spore voor die trein te was met die vuurwarm water van die lokomotief. Op hierdie manier het ons stadig gevorder totdat ons uiteindelik deur die swerm sprinkane was. En wat ’n verligting was dit tog toe die trein uiteindelik begin klim het en ons die koeler klimaat van die hoogland kon geniet!
Hoewel die kusdorpe maklik per trein of boot bereik kon word, was dit beter om per motor na die plattelandse gebiede te gaan. Ek was bly toe my broer George by my aangesluit het, want toe kon ons ’n redelike groot paneelwa koop wat groot genoeg was vir beddens, ’n kombuis en pakplek, en dit het muskietnet voor die vensters gehad. Ons het ook luidsprekers op die dak vasgemaak. Met hierdie toerusting kon ons gedurende die dag van huis tot huis werk en mense nooi om in die aand na toesprake te kom luister wat op die markpleine gehou is. ’n Gewilde opname wat ons gespeel het, het die tema “Is die hel warm?” gehad. Ons het een keer van Suid-Afrika af na Kenia gereis, ’n 3 000 kilometer lange reis in ons “huis op wiele”, en ons was bly om teen hierdie tyd ’n verskeidenheid boekies in verskillende Afrikatale te hê, wat die plaaslike mense opgewonde by ons geneem het.
Dit was vir ons ’n aangename ondervinding om op sulke reise baie van Afrika se wild te sien. Ná donker het ons natuurlik veiligheidshalwe binne gebly, maar dit was baie geloofversterkend om so ’n verskeidenheid van Jehovah se diereskepping in die natuur te sien.
Teenstand begin
Om voor wilde diere te staan te kom, was egter nie in die minste so erg soos ons ontmoetings met verskillende regeringsamptenare en ontstoke godsdiensleiers wat ons Koninkrykspredikingswerk heel openlik begin teëstaan het nie. Een groot probleem waarmee ons te kampe gehad het, was ’n fanatikus wat homself Mwana Lesa genoem het, wat “Seun van God” beteken, en sy groep wat bekend was as Kitawala, wat ongelukkig “Wagtoring” beteken. ’n Ruk voor ons daar aangekom het, het hierdie persoon talle Afrikane verdrink terwyl hy beweer het dat hy hulle doop. Hy is uiteindelik in hegtenis geneem en gehang. Later het ek die geleentheid gehad om met die laksman te praat en te verduidelik dat hierdie man niks met ons Wagtoringgenootskap te doen gehad het nie.
Ons het ook probleme met talle Europeërs gehad wat, hoofsaaklik om finansiële redes, nie gelukkig met ons onderrigtingswerk was nie. Een pakhuisbestuurder het gekla: “As die wit man in hierdie land wil bly, moet die swart man nie uitvind hoe sy goedkoop arbeid uitgebuit word nie.” Om dieselfde rede het die hoof van ’n goudmynmaatskappy my uit sy kantoor gejaag. Toe het hy my hoogs ontstoke al die pad tot by die straat vergesel.
Die regering van Rhodesië (nou Zimbabwe) is ongetwyfeld deur sulke godsdiens- en kommersiële teenstanders beïnvloed om ons uiteindelik te beveel om die land te verlaat. Ons het hierdie besluit geappelleer en het daarin geslaag om aan te bly, op voorwaarde dat ons nie vir die swart mense getuig nie. Dit was volgens een amptenaar omdat ons lektuur “nie goed vir die verstand van die swart man” was nie. Maar in ander lande is ons onderrigtingswerk onder swart mense nie verhinder nie, dit is selfs verwelkom. Een van hierdie lande was Swaziland.
’n Koninklike verwelkoming in Swaziland
Swaziland is ’n klein, selfregerende landjie van 17 364 vierkante kilometer. Dit is hier waar ons die welsprekende koning Sobhuza II ontmoet het, wat in die begin van die verslag genoem word. Hy het Engels baie goed gepraat, aangesien hy aan ’n Britse universiteit gestudeer het. Hy was informeel geklee en het ons baie welkom laat voel.
Ons gesprek met hom het gehandel oor die aardse Paradys wat God in die vooruitsig stel vir mense wat die regte gesindheid het. Hoewel hy nie baie in daardie onderwerp belanggestel het nie, het hy verduidelik dat ’n verwante saak vir hom van groot belang was. Die koning wou baie graag die lewenstandaarde van die armes en ongeletterdes verbeter. Hy het die gedrag van baie van die Christendom se sendelinge afgekeur wat blykbaar meer belanggestel het in kerklidmaatskap as in onderrigting. Die koning was egter bekend met die bedrywighede van baie van ons pioniers, en hy het ons geprys vir ons Bybelonderrigtingswerk, veral aangesien ons dit sonder betaling of enige voorwaardes gedoen het.
Bybelonderrigting floreer
In 1943 is die Wagtoring-Bybelskool Gilead gestig om sendelinge op te lei. Die klem is nou daarop gelê om terug te gaan na belangstellendes en nie hoofsaaklik op die verspreiding van Bybellektuur nie. In 1950 is ek en George genooi om die 16de klas van Gilead by te woon. Dit is waar ek Jean Hyde die eerste keer ontmoet het, ’n ywerige Australiese suster wat ’n sendingtoewysing in Japan gekry het nadat ons albei gegradueer het. Destyds was ons steeds aangeraai om ongetroud te bly, en daarom het ons vriendskap nie juis verder ontwikkel nie.
Ná ons Gileadopleiding is ek en George na Mauritius, ’n eiland in die Indiese Oseaan, gestuur. Ons het vriende gemaak met die mense, hulle taal geleer en tuisbybelstudies met hulle gehou. Later het my jonger broer William en sy vrou, Muriel, ook aan Gilead gegradueer. Hulle is na my ou predikingsgebied gestuur—Kenia.
Agt jaar het verbygevlieg, en toe in 1958, by die internasionale byeenkoms in New York, het ek Jean Hyde weer raakgeloop. Ons het ons vriendskapsband hernieu en toe verloof geraak. My sendingtoewysing is van Mauritius na Japan verander, en ek en Jean is in 1959 daar getroud. So het ’n baie gelukkige tydperk van sendingwerk vir ons in Hirosjima begin, waar daar toe net een klein gemeentetjie was. Vandag is daar 36 gemeentes in daardie stad.
Sajonara aan Japan
Met verloop van jare het gesondheidsprobleme dit vir ons albei al hoe moeiliker gemaak om met ons sendingwerk voort te gaan, en uiteindelik moes ons Japan verlaat en in Jean se vaderland Australië gaan woon. Dit was ’n hartseer dag toe ons Hirosjima verlaat het. Op die stasieperron het ons sajonara, of totsiens, gesê aan al ons dierbare vriende.
Nou woon ons in Australië, en na die beste van ons beperkte vermoëns gaan ons voort om Jehovah saam met die Armidale-gemeente in die staat Nieu-Suid-Wallis te dien. Wat ’n vreugde is dit tog om al byna agt dekades die skat van Christelike waarheid met soveel mense te deel! Ek het die wonderlike vordering in die Bybelonderrigtingsprogram gesien en persoonlik betekenisvolle geestelike verwikkelinge waargeneem. Geen mens of groep mense kan die lof hiervoor ontvang nie. Soos die psalmis gesê het: “Jehovah het dit teweeggebring; dit is wonderbaar in ons oë.”—Psalm 118:23.
[Prent op bladsy 28]
My broer George by ons “huis op wiele”
[Prent op bladsy 28]
Ek by die Victoria-meer
[Prent op bladsy 29]
Hoërskoolleerlinge wat ’n openbare toespraak in 1938 in Swaziland bygewoon het
[Prente op bladsy 30]
Saam met Jean in 1959 op ons troudag, en vandag