Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Wat kan ons by Safan en sy familie leer?
Safan was ’n kopiïs en sekretaris vir koning Josia van Juda. As ’n invloedryke man in die koninkryk het Safan die koning se kampanje ondersteun om ware aanbidding te herstel. Twee van Safan se seuns het na die profeet Jeremia omgesien. En ’n ander seun en twee kleinseuns het eweneens hulle invloed gebruik om ware aanbidding te bevorder. Net so moet ons ook ons middele en invloed gebruik om ware aanbidding te ondersteun.—12/15, bladsye 19-22.
• Hoe het Irene Hochstenbach daarin geslaag om met ’n gebrek saam te leef en Jehovah te dien?
Toe sy sewe jaar oud was, het sy haar gehoor verloor. Al is sy doof, het sy geleer om met ander te kommunikeer en reis sy nou saam met haar man (’n reisende opsiener) terwyl hy gemeentes in Nederland bedien.—1/1, bladsye 23-6.
• Watter twee nuwe studiehulpe is by die “Ywerige Koninkryksverkondigers”-streekbyeenkomste vrygestel?
Christene regoor die wêreld was verheug om Aanbid die enigste ware God te ontvang, wat gebruik kan word om met nuwelinge te studeer wat hulle studie in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei voltooi het; die ander nuwe boek is Kom nader aan Jehovah, wat die aandag vestig op Jehovah se eienskappe en handelinge. Dit toon ook hoe ons hom kan navolg deur sy eienskappe te openbaar.—1/15, bladsye 23-4.
• Wat beteken Spreuke 12:5: “Die gedagtes van die regverdiges is geregtigheid”?
Selfs die gedagtes van goeie mense is sedelik rein en gerig op wat redelik en regverdig is. Aangesien regverdige mense deur liefde vir God en hulle medemens gemotiveer word, is hulle beweegredes goed.—1/15, bladsy 30.
• Wat kan ’n mens help om ’n gebalanseerde beskouing van werk te verkry?
Dit is goed om van kleins af die regte beskouing van werk geleer te word. Die Bybel spoor ons aan om ’n goeie werketiek te hê en luiheid te vermy (Spreuke 20:4). Dit moedig Christene ook aan om nie te betrokke by hulle werk te raak nie. Ons moet besef dat diens aan God die eerste plek in ons lewe moet beklee (1 Korintiërs 7:29-31). Daarbenewens is ware Christene vol vertroue dat God hulle nooit sal versaak nie.—2/1, bladsye 4-6.
• Waar maak die Bybel die eerste keer melding van ’n altaar?
Dit is in Genesis 8:20, waar dit verwys na die altaar wat Noag gebou het toe hy ná die Vloed uit die ark gekom het. Maar Kain en Abel het heel waarskynlik altare gebruik vir hulle offers (Genesis 4:3, 4).—2/15, bladsy 28.
• Hoe kan sommige Christene hulle veranderde omstandighede benut?
Sommige het veranderinge in hulle werk aanvaar—of geskep—sodat hulle meer tyd vir die bediening kon hê. Ander het hulle tyd en voorregte in God se diens uitgebrei toe hulle gesinsverantwoordelikhede verminder het, soos toe hulle kinders volwassenes geword het en getroud is.—3/1, bladsye 19-22.
• Hoe help die voorbeelde van Jona en die apostel Petrus ons om ander te sien soos Jehovah hulle sien?
Ons weet watter foute Jona en Petrus in hulle denke gehad het en hoe hulle op toetse van geloof en gehoorsaamheid gereageer het. Maar Jehovah het ongetwyfeld goeie eienskappe in hulle gesien en aangehou om hulle in sy diens te gebruik. Wanneer ander ons aanstoot gee of teleurstel, kan ons konsentreer op hulle goeie eienskappe wat ons dalk in die verlede aantreklik gevind het en op die goeie wat God in hulle sien.—3/15, bladsye 16-19.
• Waarom verskil die nommeringstelsel in die boek Psalms in verskillende Bybelvertalings?
Daar is ’n verskil tussen die nommeringstelsel van die boek in die oorspronklike Hebreeus en die Griekse vertaling daarvan in die Septuagint. Moderner vertalings kan verskil, afhangende daarvan of dit op die Hebreeuse teks of op die Septuagint gebaseer is.—4/1, bladsy 31.