Nugtere denke lei tot wyse optrede
STEL jou hierdie toneel voor: Jesus Christus verduidelik dat godsdiensvyande in Jerusalem hom gaan laat ly en dan gaan doodmaak. Sy intieme vriend, die apostel Petrus, kan dit nie glo nie. Trouens, hy neem Jesus eenkant toe en bestraf hom. Petrus is ongetwyfeld opreg en waarlik besorg. Maar hoe beskou Jesus Petrus se denke? “Gaan agter my, Satan!” sê Jesus. “Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”—Matteus 16:21-23.
Wat ’n skok moes dit tog vir Petrus gewees het! Hy was in hierdie geval “’n struikelblok” vir sy geliefde Heer pleks van ’n hulp en steunpilaar vir hom. Hoe het dit gebeur? Petrus het moontlik voor ’n algemene tekortkoming in mensedenke geswig—om net te glo wat hy wou glo.
Moenie selfversekerd wees nie
Iets wat ons nugtere denke kan bedreig, is ’n neiging om selfversekerd te wees. Die apostel Paulus het mede-Christene in eertydse Korinte gewaarsku: “Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korintiërs 10:12). Waarom het Paulus dit gesê? Omdat hy blykbaar geweet het hoe maklik dit vir mensedenke is om verdraaid te word—selfs vir die verstande van Christene om “verderf [te] word, weg van die opregtheid en die kuisheid wat die Christus toekom”.—2 Korintiërs 11:3.
Dit het met ’n hele geslag van Paulus se voorouers gebeur. Jehovah het destyds vir hulle gesê: “Julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en ook is my weë nie julle weë nie” (Jesaja 55:8). Hulle het “in hulle eie oë wys” geword, met rampspoedige gevolge (Jesaja 5:21). Daarom is dit beslis verstandig om te kyk hoe ons nugtere denke kan behou, en sodoende soortgelyke rampspoed kan vermy.
Waak teen vleeslike denke
Sommige in Korinte is grootliks beïnvloed deur vleeslike denke (1 Korintiërs 3:1-3). Hulle het groter klem gelê op menslike filosofieë as op God se Woord. Die Griekse denkers van daardie tyd was ongetwyfeld baie slim. Maar in God se oë was hulle dwaas. Paulus het gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Ek sal die wysheid van die wyse mense laat vergaan, en die intelligensie van die intellektuele mense sal ek opsy stoot.’ Waar is die wyse? Waar die skrifgeleerde? Waar die debatteerder van hierdie stelsel van dinge? Het God nie die wysheid van die wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Korintiërs 1:19, 20). Daardie intellektuele mense is deur “die gees van die wêreld” gerig en nie deur die gees van God nie (1 Korintiërs 2:12). Hulle filosofieë en idees het nie met Jehovah se denke ooreengestem nie.
Die eintlike bron van sulke vleeslike denke is Satan die Duiwel, wat die slang gebruik het om Eva te verlei (Genesis 3:1-6; 2 Korintiërs 11:3). Hou hy nog steeds vir ons gevaar in? Ja! Volgens God se Woord het Satan in so ’n mate mense se ‘verstande verblind’ dat hy nou “die hele bewoonde aarde mislei” (2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:9). Hoe belangrik is dit tog om op ons hoede te wees vir sy planne!—2 Korintiërs 2:11.
Pasop vir “die bedrieëry van mense”
Die apostel Paulus het ook gewaarsku teen “die bedrieëry van mense” (Efesiërs 4:14). Hy het met “bedrieglike werkers” te doen gehad wat voorgegee het dat hulle die waarheid verkondig, maar dit in werklikheid verdraai het (2 Korintiërs 11:12-15). Om hulle doel te bereik, wend hierdie manne hulle dalk tot ’n selektiewe gebruik van bewyse, emosionele taal, misleidende halwe waarhede, slinkse insinuasies en selfs blatante leuens.
Propagandiste gebruik dikwels ’n woord soos “sekte” om ander in ’n slegte lig te stel. Toe ’n aanbeveling aan die Parlementêre Vergadering van die Raad van Europa voorgelê is, is daar aan die hand gedoen dat amptenare wat ondersoek instel na nuwe godsdiensgroepe, “hierdie term eerder moet vermy”. Waarom? Die gevoel was dat die woord “kultus” ’n uiters negatiewe konnotasie het. Verder het hy gesê: “Vir die publiek is ’n sekte vandag ’n uiters bose of gevaarlike groep.” Griekse intellektuele het die apostel Paulus eweneens valslik daarvan beskuldig dat hy ’n “babbelaar”, of ’n “saadpikker” is. Hulle wou impliseer dat hy niks anders as ’n onsinnige babbelaar is nie, iemand wat net brokkies kennis optel en herhaal. In werklikheid het Paulus “die goeie nuus van Jesus en die opstanding bekend gemaak”.—Handelinge 17:18; voetnoot in NW.
Werk die tegnieke van propagandiste? Ja. Dit het al ’n groot rol daarin gespeel om etniese en godsdienshaat te wek deur mense ’n verwronge beskouing van ander nasies of godsdienste te gee. Baie het dit al gebruik om ongewilde minderheidsgroepe in die oë van ander te verlaag. Adolf Hitler het sulke metodes met sukses gebruik toe hy die Jode en ander uitgebeeld het as “minderwaardig”, “boos” en ’n “bedreiging” vir die Staat. Moet nooit toelaat dat sulke bedrieëry jou denke vergiftig nie.—Handelinge 28:19-22.
Moenie jouself bedrieg nie
Dit is ook maklik om onsself te bedrieg. Trouens, dit is dalk baie moeilik om menings waaroor ons baie sterk voel, prys te gee of selfs te bevraagteken. Waarom? Want ons raak verknog aan ons beskouings. Dan kan ons onsself bedrieg deur te rasionaliseer—deur redes te versin om oortuigings wat in werklikheid verkeerd of misleidend is, te probeer regverdig.
Dit het met party eerste-eeuse Christene gebeur. Hulle het God se Woord geken, maar hulle het nie toegelaat dat dit hulle denke rig nie. Op die ou end het hulle hulleself “met valse redenering bedrieg” (Jakobus 1:22, 26). Een aanduiding dat ons dalk die slagoffer van hierdie soort selfbedrog geword het, is as ons kwaad word wanneer iemand ons oortuigings bevraagteken. Pleks van kwaad te word, is dit verstandig om ’n oop gemoed te behou en aandagtig te luister na wat ander sê—al voel ons seker dat ons mening reg is.—Spreuke 18:17.
Delf na “die kennis van God”
Wat kan ons doen om nugtere denke te behou? Daar is baie hulp beskikbaar, maar ons moet bereid wees om daarvoor te werk. Die wyse koning Salomo het gesê: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind” (Spreuke 2:1-5). Ja, as ons ons inspan om ons verstand en hart met die waarhede van God se Woord te vul, sal ons ware wysheid, insig en onderskeidingsvermoë verkry. Trouens, ons sal na dinge delf wat baie waardevoller is as silwer of enige ander materiële skat.—Spreuke 3:13-15.
Wysheid en kennis is beslis noodsaaklik vir nugtere denke. “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word”, sê God se Woord, “sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig, om jou te verlos van die slegte weg, van die mens wat verdorwe dinge spreek, van dié wat die paaie van regskapenheid verlaat om in die weë van duisternis te wandel.”—Spreuke 2:10-13.
Dit is veral belangrik dat God se denke ons rig in tye van spanning of gevaar. Sterk emosies soos woede of vrees kan dit moeilik maak om nugter te dink. “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree”, sê Salomo (Prediker 7:7). Dit kan selfs daartoe lei dat ons “woedend vir Jehovah” word (Spreuke 19:3). Hoe so? Deur God te blameer vir ons probleme en dit as ’n verskoning te gebruik om dinge te doen wat nie in ooreenstemming met sy wette en beginsels is nie. Laat ons eerder nederig luister na wyse raadgewers wat ons deur middel van die Skrif probeer help, en nie altyd dink dat ons beter weet nie. En wanneer dit nodig is, moet ons bereid wees om selfs sterk standpunte te laat vaar as dit duidelik word dat dit verkeerd is.—Spreuke 1:1-5; 15:22.
‘Hou aan om God te vra’
Ons lewe in verwarrende en gevaarlike tye. Dit is noodsaaklik dat ons gereeld bid vir Jehovah se leiding as ons goeie oordeel aan die dag wil lê en verstandig wil optree. “Moet julle oor niks kwel nie”, skryf Paulus, “maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). As ons nie die wysheid het om ingewikkelde probleme of beproewinge te hanteer nie, moet ons “aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt”.—Jakobus 1:5-8.
Die apostel Petrus het besef dat mede-Christene wysheid moet openbaar en het probeer om ‘hulle helder denkvermoëns op te wek’. Hy wou hê dat hulle “die woorde . . . onthou wat vantevore deur die heilige profete gespreek is en die gebod van die Here en Redder”, Jesus Christus (2 Petrus 3:1, 2). As ons dit doen en toelaat dat ons gedagtes altyd deur Jehovah se Woord gerig word, sal ons nugtere denke hê en verstandig optree.
[Prente op bladsy 21]
Vroeë Christene het hulle denke laat vorm deur goddelike wysheid en nie deur filosofiese redenasies nie
[Erkennings]
Filosowe van links na regs: Epikurus: Photograph taken by courtesy of the British Museum; Cicero: Reproduced from The Lives of the Twelve Caesars; Plato: Roma, Musei Capitolini
[Prente op bladsy 23]
Gebed en ’n studie van God se Woord is noodsaaklik