Eusebius—“Die vader van kerkgeskiedenis”?
IN DIE jaar 325 G.J. het die Romeinse keiser Konstantyn alle biskoppe na Nicea ontbied. Sy doel: om die hoogs omstrede geskil oor God se verhouding tot sy Seun te besleg. Onder die aanwesiges was die man wat as die geleerdste van sy tyd beskou is, Eusebius van Sesarea. Eusebius het die Skrif ywerig bestudeer en was ’n verdediger van Christelike monoteïsme.
By die Konsilie van Nicea het “Konstantyn self as die voorsitter opgetree”, sê die Encyclopædia Britannica, “en hy het die besprekings ywerig gelei en persoonlik . . . die beslissende formule voorgelê wat die verhouding van Christus tot God uitdruk in die geloofsbelydenis wat deur die konsilie uitgereik is, dié ‘van een wese met die Vader‘ . . . Oorweldig deur die keiser, het die biskoppe, met die uitsondering van net twee, die geloofsbelydenis onderteken, baie van hulle teen hulle sin.” Was Eusebius een van die uitsonderings? Watter les kan ons leer uit die standpunt wat hy ingeneem het? Kom ons kyk na die agtergrond van Eusebius—sy kwalifikasies en projekte.
Sy merkwaardige geskrifte
Eusebius is waarskynlik omstreeks 260 G.J. in Palestina gebore. Op ’n vroeë ouderdom het hy ’n aanhanger geword van Pamfilus, ’n opsiener van die kerk in Sesarea. Eusebius het by die teologiese skool van Pamfilus aangesluit en ’n ywerige student geword. Hy het goed gebruik gemaak van Pamfilus se uitstekende biblioteek. Eusebius het hom aan sy studies gewy, veral aan die studie van die Bybel. Hy het ook ’n lojale vriend van Pamfilus geword en later na homself verwys as “Eusebius van Pamfilus”.
Oor sy strewes het Eusebius gesê: “Dit is my doelwit om ’n verslag te skryf van die opeenvolging van die heilige Apostels sowel as van die tye wat verstryk het sedert die dag van ons Verlosser tot op ons dag; om te vertel hoeveel en watter belangrike gebeure blykbaar in die geskiedenis van die kerk plaasgevind het; en om diegene te noem wat in die vernaamste gemeentes van die kerk gesag gevoer en die leiding geneem het, asook diegene wat in elke geslag die woord van God mondelings of in geskrewe vorm verkondig het.”
Eusebius word onthou vir sy hoogaangeskrewe werk getiteld Geskiedenis van die Christelike Kerk. Die tien dele daarvan wat omstreeks 324 G.J. gepubliseer is, word as die belangrikste kerkgeskiedenis uit die Oudheid beskou. Hierdie prestasie het Eusebius bekend laat word as die vader van kerkgeskiedenis.
Benewens Kerkgeskiedenis het Eusebius ook Kroniek geskryf, wat uit twee dele bestaan het. Die eerste deel was ’n opsomming van wêreldgeskiedenis. In die vierde eeu het dit die standaardteks geword wat in verband met wêreldchronologie geraadpleeg is. Die tweede deel het datums van geskiedkundige gebeure bevat. Met behulp van parallelle kolomme het Eusebius die opeenvolging van die koninklikes van verskillende nasies uiteengesit.
Eusebius het twee ander geskiedkundige werke geskryf, met die titels Martelare van Palestina en Die lewe van Konstantyn. Eersgenoemde dek die jare 303-10 G.J. en bespreek martelare van daardie tydperk. Eusebius was ’n ooggetuie van daardie gebeure. Laasgenoemde werk, wat as ’n stel van vier boeke uitgegee is ná die dood van keiser Konstantyn in 337 G.J., het waardevolle geskiedkundige besonderhede bevat. Dit is nie bloot geskiedenis nie, maar hoofsaaklik ’n lofrede.
Die apologetiese werke van Eusebius sluit ’n antwoord in aan Hierokles—’n Romeinse goewerneur van sy tyd. Toe Hierokles teen die Christene geskryf het, het Eusebius ’n verdediging in reaksie daarop geskryf. Daarbenewens het hy 35 boeke ter ondersteuning van die goddelike outeurskap van die Skrif geskryf, wat as die belangrikste en uitvoerigste werk in sy soort beskou word. Die eerste 15 boeke is geskryf in ’n poging om die Christene se aanvaarding van die heilige geskrifte van die Hebreërs te regverdig. Die ander 20 voer bewyse aan om te toon dat dit reg is vir Christene om verder te gaan as die Joodse leringe en nuwe beginsels en gebruike aan te neem. Saam lewer hierdie boeke ’n omvattende verdediging van die Christelike godsdiens soos Eusebius dit verstaan het.
Eusebius het sowat 80 jaar oud geword (ca.260-ca.340 G.J.) en was een van die produktiefste skrywers van die Oudheid. Sy geskrifte omvat die gebeure van die eerste drie eeue tot die tyd van keiser Konstantyn. In die laaste deel van sy lewe het hy na sy werk as skrywer sowel as na sy pligte as biskop van Sesarea omgesien. Hoewel Eusebius hoofsaaklik bekend is as ’n geskiedskrywer, was hy ook ’n apologeet, topograaf, prediker, kritikus en ’n teksverklarende skrywer.
Sy tweevoudige motief
Waarom het Eusebius sulke ongeëwenaarde, groot projekte aangepak? Die antwoord lê in sy oortuiging dat hy in ’n oorgangstydperk gelewe het wat ’n nuwe era sou inlui. Hy het gevoel dat besondere gebeure in vorige geslagte plaasgevind het en dat ’n geskrewe rekord vir die nageslag nodig was.
Eusebius het nog ’n strewe gehad—dié van apologeet. Hy het geglo dat die Christelike godsdiens van goddelike oorsprong was. Maar party het teen hierdie idee gestry. Eusebius het geskryf: “Dit is my strewe om ook die name en getalle en tye te voorsien van diegene wat weens liefde vir verandering die grootste dwalinge begaan het en verklaar het dat hulle die ontdekkers is van kennis, sogenaamde kennis, terwyl hulle soos wrede wolwe die kudde van Christus genadeloos verwoes het.”
Het Eusebius homself as ’n Christen beskou? Blykbaar het hy, want hy het na Christus as “ons Verlosser” verwys. Hy het gesê: “Dit is my doel . . . om van die onheil te vertel wat onmiddellik oor die hele Joodse nasie gekom het as gevolg van hulle sameswering teen ons Verlosser, en om die maniere en tye op te teken waarop die goddelike woord deur die heidene aangeval is, en om die karakter te beskryf van diegene in verskillende tydperke wat dit ten spyte van bloed en foltering verdedig het, en om die belydenisse te beskryf wat in ons dag gedoen is sowel as die genadige en goedhartige steun wat ons Verlosser hulle almal gegee het.”
Sy deeglike navorsing
Die aantal boeke wat Eusebius self gelees en na verwys het, is ontsaglik groot. Dit is slegs deur Eusebius se geskrifte dat talle vooraanstaande persone van die eerste drie eeue van die Gewone Jaartelling bekend geword het. Nuttige verslae wat op belangrike verwikkelinge lig werp, word net in sy geskrifte gevind. Dit is uit inligtingsbronne wat nie meer bestaan nie.
Eusebius het sy gegewens vlytig en deeglik versamel. Dit wil voorkom of hy met groot sorg tussen betroubare en onbetroubare verslae probeer onderskei het. Nogtans is sy werk nie foutloos nie. Daar is tye dat hy mense en hulle dade verkeerd interpreteer en selfs verkeerd verstaan. Wat chronologie betref, is hy soms onakkuraat. Eusebius was ook nie baie skeppend in die manier waarop hy sy materiaal aangebied het nie. Ten spyte van duidelike tekortkominge word sy talle werke egter as ’n kosbare skat beskou.
’n Liefhebber van die waarheid?
Eusebius was besorg oor die onopgeloste geskil oor wat die Vader se verhouding tot die Seun is. Het die Vader voor die Seun bestaan, soos Eusebius geglo het? Of het die Vader en die Seun nog altyd saam bestaan? “As hulle nog altyd saam bestaan het”, het hy gevra, “hoe sal die Vader dan Vader wees en die Seun Seun?” Hy het selfs sy opvatting met skriftuurlike verwysings gestaaf en Johannes 14:28 aangehaal, wat sê dat ‘die Vader groter is as Jesus’, en Johannes 17:3, waar daar na Jesus verwys word as die een wat “uitgestuur” is deur die enigste ware God. Eusebius het na Kolossense 1:15 en Johannes 1:1 verwys en aangevoer dat die Logos, of die Woord, “die beeld van die onsigbare God” is—God se Seun.
Wat egter verbasend is, is dat Eusebius aan die einde van die Konsilie van Nicea die teenoorgestelde beskouing ondersteun het. In stryd met sy skriftuurlike standpunt dat God en Christus nie gelykes is wat nog altyd saam bestaan het nie, het hy hom aan die keiser se kant geskaar.
’n Les wat geleer kan word
Waarom het Eusebius ingegee by die Konsilie van Nicea en ’n onskriftuurlike leerstelling ondersteun? Het hy politieke oogmerke gehad? Waarom het hy die konsilie in die eerste plek bygewoon? Hoewel al die biskoppe ontbied is, het net ’n breukdeel—300—dit bygewoon. Was Eusebius dalk bang dat hy sy sosiale status sou verloor? En waarom het keiser Konstantyn hom so hooggeag? By die konsilie het Eusebius aan die keiser se regterhand gesit.
Eusebius het blykbaar Jesus se vereiste dat Sy volgelinge “geen deel van die wêreld” moet wees nie, geïgnoreer (Johannes 17:16; 18:36). “Egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie?” het die dissipel Jakobus gevra (Jakobus 4:4). En hoe gepas is Paulus se vermaning tog: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie”! (2 Korintiërs 6:14). Laat ons afgeskeie van die wêreld bly terwyl ons die Vader “met gees en waarheid aanbid”.—Johannes 4:24.
[Prent op bladsy 31]
Fresko wat die Konsilie van Nicea uitbeeld
[Erkenning]
Scala/Art Resource, NY
[Foto-erkenning op bladsy 29]
Courtesy of Special Collections Library, University of Michigan