Vrae van lesers
Jehovah het veelwywery toegelaat onder sy eertydse knegte, die Israeliete, maar hy laat dit nie vandag toe nie. Verander sy standaarde?
Jehovah het nie sy beskouing van veelwywery verander nie (Psalm 19:7; Maleagi 3:6). Dit was nie van die begin af deel van sy reëling vir die mens nie, en dit is ook nie vandag nie. Toe hy Eva as ’n vrou vir Adam geskep het, het Jehovah gesê dat die goddelike standaard een vrou vir een man is. “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.”—Genesis 2:24.
Toe Jesus Christus op aarde was, het hy hierdie standaard herhaal in ’n antwoord aan diegene wat hom oor egskeiding en hertroue uitgevra het. Hy het gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees.” Jesus het bygevoeg: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, [pleeg] egbreuk” (Matteus 19:4-6, 9). Hieruit is dit dus duidelik dat dit op egbreuk neerkom as ’n man nog ’n vrou of vroue neem.
Waarom is veelwywery dan in die ou tyd toegelaat? Onthou dat die gebruik nie sy oorsprong by Jehovah gehad het nie. Die eerste man waarvan ons in die Bybel lees wat meer as een vrou gehad het, was Lameg, ’n nakomeling van Kain (Genesis 4:19-24). Toe Jehovah die Vloed van Noag se dag gebring het, het Noag en sy drie seuns elkeen net een vrou gehad. Alle veelwywers is in die Vloed vernietig.
Eeue later toe Jehovah die Israeliete as sy volk gekies het, het hulle reeds veelwywery beoefen, hoewel dit blykbaar baie algemener was om net een vrou te hê. God het nie van gesinne vereis om uitmekaar te gaan as daar meer as een vrou was nie. Hy het die gebruik eerder streng beheer.—Eksodus 21:10, 11; Deuteronomium 21:15-17.
Die feit dat veelwywery slegs tydelik geduld is, kan nie net gesien word uit Jesus se woorde oor Jehovah se oorspronklike standaard vir die huwelik nie, maar ook uit wat die apostel Paulus onder inspirasie van God se heilige gees geskryf het. Hy het gesê: “Laat elke man . . . sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man” (1 Korintiërs 7:2). Paulus is ook geïnspireer om te skryf dat enige man wat as ’n opsiener of ’n bedieningskneg in die Christengemeente aangestel word, “die man van een vrou” moet wees.—1 Timoteus 3:2, 12; Titus 1:6.
Toe die Christengemeente dus sowat 2 000 jaar gelede gestig is, het Jehovah nie langer veelwywery geduld nie. Op daardie stadium het die standaard vir die huwelik teruggekeer na wat dit in die begin was toe God die man en vrou geskep het: een man, een vrou. Vandag is dit regoor die wêreld die standaard onder God se volk.—Markus 10:11, 12; 1 Korintiërs 6:9, 10.