Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 8/1 bl. 29-31
  • Leer die kuns aan om taktvol te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer die kuns aan om taktvol te wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is takt?
  • Verstaan die gevoelens van ander
  • Toon dat jy verstaan
  • Wat jy nie moet sê nie
  • Woorde wat genees
  • Taktvol maar ferm
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Bied die Goeie Nuus aan—
    Ons Koninkryksbediening—1988
  • ’n Les in barmhartigheid
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • ’n Les in barmhartigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 8/1 bl. 29-31

Leer die kuns aan om taktvol te wees

PEGGY het gehoor hoe haar seun sy jonger boetie afjak. “Dink jy dit was mooi om so met jou boetie te praat?” het sy gevra. “Kyk net hoe hartseer is hy nou!” Waarom het sy dit gesê? Sy het haar seun die kuns probeer leer om taktvol op te tree en ander se gevoelens in ag te neem.

Die apostel Paulus het sy jonger metgesel Timoteus aangemoedig om “taktvol teenoor almal” te wees. Sodoende sou Timoteus nie ander se gevoelens seermaak nie (2 Timoteus 2:24, voetnoot in NW). Wat is takt? Hoe kan jy op hierdie gebied verbeter? En hoe kan jy ander help om die kuns aan te leer?

Wat is takt?

’n Woordeboek definieer takt as “die vermoë om ’n sensitiewe situasie te onderskei en die bedagsaamste of mees gepaste ding te doen of te sê”. Die woord het oorspronklik na aanraking verwys. Net soos sensitiewe vingers kan voel of iets taai, sag, gepoleer, warm of harig is, kan ’n taktvolle persoon die emosies van ander aanvoel en onderskei hoe sy woorde of dade hulle raak. Maar dit is meer as net ’n kuns; dit behels ’n opregte begeerte om ander nie seer te maak nie.

In die Bybelverslag van Elisa se kneg Gehasi vind ons ’n voorbeeld van iemand wat taktloos was. ’n Sunammitiese vrou wie se seun so pas in haar arms gesterf het, het na Elisa toe gegaan om vertroosting te vind. Toe Gehasi haar vra of dit goed gaan, het sy geantwoord: “Dit gaan goed.” Maar toe sy by die profeet kom, het “Gehasi nader gekom om haar weg te stoot”. Elisa het egter gesê: “Laat haar staan, want haar siel is bitter in haar.”—2 Konings 4:17-20, 25-27.

Hoe kon Gehasi so ongevoelig en taktloos optree? Die vrou het weliswaar nie gesê hoe sy voel toe sy gevra is nie. Maar die meeste mense wys nie sommer hulle gevoelens vir enigiemand nie. Haar emosies moes nietemin op die een of ander manier deurgeskemer het. Elisa het dit blykbaar raakgesien, maar Gehasi het nie, of hy het verkies om dit te ignoreer. Dit lig goed toe waarom mense dikwels taktloos is. Wanneer iemand behep is met hoe belangrik sy werk is, kan hy maklik die behoeftes ignoreer van dié met wie hy te doen het. Hy is amper soos die spreekwoordelike busbestuurder wat so behep daarmee was om betyds te wees dat hy nie gestop het om passasiers op te tel nie.

As ons nie taktloos wil wees soos Gehasi nie, moet ons bedagsaam teenoor mense probeer wees, want ons weet nie hoe hulle werklik voel nie. Ons moet altyd op die uitkyk wees na dinge wat aandui hoe iemand voel en dan met ’n vriendelike woord of daad daarop reageer. Hoe kan jy hierin verbeter?

Verstaan die gevoelens van ander

Jesus het die uitsonderlike vermoë gehad om mense se gevoelens te peil en te onderskei wat die liefdevolste manier sal wees om hulle te behandel. Eenkeer was hy vir ’n maaltyd in die huis van Simon, ’n Fariseër, toe ’n vrou “wat in die stad as ’n sondares bekend gestaan het”, na hom toe gekom het. Weer eens is geen woorde geuiter nie, maar dade het boekdele gespreek. “Sy het ’n albaste fles welriekende olie gebring en ’n plek agter by [Jesus se] voete ingeneem, en sy het gehuil en sy voete met haar trane begin natmaak en hulle met die hare van haar kop afgedroog. Ook het sy sy voete teer gesoen en hulle met die welriekende olie gesalf.” Jesus het besef wat dit alles beteken. En hoewel Simon nie ’n woord gesê het nie, kon Jesus onderskei wat hy by homself gesê het: “As hierdie man ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is.”—Lukas 7:37-39.

Kan jy jou voorstel watter skade dit sou veroorsaak het as Jesus die vrou weggestoot het, of as hy vir Simon gesê het: “Jou onverstandige man! Kan jy nie sien dat sy berouvol is nie?” Jesus was eerder taktvol en het vir Simon ’n illustrasie vertel van ’n man wat een persoon ’n groot skuld en ’n ander ’n veel kleiner skuld kwytgeskeld het. “Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” het Jesus gevra. Jesus het dus nie die indruk geskep dat hy Simon veroordeel nie, maar het hom eerder geprys omdat hy reg geantwoord het. Toe het hy Simon vriendelik gehelp om die talle tekens te onderskei van die vrou se ware gevoelens en haar berou. Jesus het na die vrou gedraai en op liefdevolle wyse aangedui dat hy haar gevoelens verstaan. Hy het vir haar gesê dat haar sondes vergewe is, en toe gesê: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” Hoe moes hierdie taktvolle woorde haar tog nie versterk het in haar voorneme om te doen wat reg is nie! (Lukas 7:40-50). Jesus was taktvol omdat hy gelet het op hoe mense voel en met medelye daarop gereageer het.

Net soos Jesus Simon gehelp het, kan ons ook die ongesproke taal van emosie leer verstaan en ander dan help om dit ook te doen. Bekwame bedienaars kan hierdie kuns soms aan nuwelinge in die Christelike bediening leer. Nadat hulle mense met die goeie nuus besoek het, kan hulle ontleed watter dinge die gevoelens verraai van die mense wat hulle ontmoet het. Was die persoon skugter, skepties, ergerlik of besig? Wat sal die beste manier wees om hom te help? Ouer manne kan ook hulp verleen aan broers en susters wat mekaar aanstoot gegee het omdat hulle taktloos was. Help elkeen om die gevoelens van die ander persoon te verstaan. Voel hy dat hy beledig, geïgnoreer of misverstaan is? Hoe kan ’n liefdevolle benadering hom beter laat voel?

Ouers kan gerus hulle kinders help om medelye aan te kweek, aangesien dit hulle sal beweeg om taktvol op te tree. Peggy se seun, wat aan die begin genoem is, het sy jonger boetie se rooi gesig, bewende onderlip en oë vol trane gesien en besef dat hy sy boetie seergemaak het. Soos sy ma gehoop het, het hy spyt gevoel en belowe om dit nie weer te doen nie. Peggy se twee seuns het goed gebruik gemaak van hierdie kuns wat hulle as kinders aangeleer het, en jare later het hulle produktiewe dissipelmakers en herders in die Christengemeente geword.

Toon dat jy verstaan

Takt is veral belangrik wanneer jy ’n klagte teen iemand het. ’n Mens kan so maklik versuim om ander se waardigheid te respekteer. Dit is altyd gepas om iemand eers vir iets spesifieks te prys. Moenie hom kritiseer nie; konsentreer eerder op die probleem. Verduidelik hoe sy dade jou raak en presies wat jy graag wil hê moet verander. Wees dan bereid om te luister. Dalk het jy hom misverstaan.

Mense wil graag hê dat jy hulle siening moet verstaan, selfs al stem jy nie daarmee saam nie. Jesus het met takt gepraat en getoon dat hy Marta se besorgdheid verstaan. Hy het gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge” (Lukas 10:41). Wanneer iemand ’n probleem noem, moet ’n mens eweneens nie ’n oplossing probeer gee nog voordat jy na die hele verduideliking geluister het nie, maar jy moet eerder takt aan die dag lê en toon dat jy verstaan deur die probleem of klagte in jou eie woorde te herhaal. Dit is ’n liefdevolle manier om te toon dat jy verstaan.

Wat jy nie moet sê nie

Toe koningin Ester haar man wou vra om Haman se plan om die Jode uit te roei, ongedaan te maak, het sy sake taktvol so gereël dat haar man in ’n goeie bui sou wees. Toe eers het sy hierdie netelige saak aangeroer. Maar dit is ook insiggewend om te let op wat sy nie gesê het nie. Sy het dit taktvol vermy om na haar man se aandeel in die bose plan te verwys.—Ester 5:1-8; 7:1, 2; 8:5.

Wanneer broers eweneens ’n Christensuster se ongelowige man besoek, kan hulle hom eerder taktvol uitvra oor sy belangstellings as om dadelik oor die Bybel te begin praat. Ook wanneer ’n vreemdeling in informele kleredrag na die Koninkryksaal kom of wanneer iemand ná ’n lang tyd weer ’n vergadering bywoon, moet hy eerder hartlik verwelkom word as gekritiseer word oor sy kleredrag of afwesigheid. En wanneer jy opmerk dat ’n nuwe belangstellende ’n verkeerde beskouing het, sal dit beter wees om hom nie daar en dan reg te help nie (Johannes 16:12). Takt sluit in dat ’n mens moet weet wat om nie te sê nie.

Woorde wat genees

As jy die kuns van taktvolle spraak aanleer, sal dit jou help om gelukkige verhoudings met ander te geniet, selfs wanneer iemand jou beweegredes verkeerd vertolk en bitter en gegrief voel. Toe die manne van Efraim byvoorbeeld “heftig met [Gideon] probeer rusie soek” het, het sy taktvolle antwoord ’n deeglike verduideliking ingesluit van wat werklik gebeur het sowel as opregte lof vir wat die manne van Efraim wel gedoen het. Hy was taktvol omdat hy in ag geneem het waarom hulle ontsteld was, en sy beskeidenheid het hulle beter laat voel.—Rigters 8:1-3; Spreuke 16:24.

Probeer altyd dink hoe jou woorde ander mense sal raak. As jy jou inspan om taktvol te wees, sal dit jou help om die vreugde te ervaar wat in Spreuke 15:23 beskryf word: “’n Man vind blydskap in die antwoord van sy mond, en hoe goed is ’n woord op die regte tyd tog!”

[Prent op bladsy 31]

Ouers kan hulle kinders leer om meegevoel met ander te hê

[Prent op bladsy 31]

Bekwame Christenbedienaars kan nuwelinge leer om taktvol te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel