Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 9/1 bl. 8-13
  • Maak Jehovah jou vertroue

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak Jehovah jou vertroue
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorkom ’n algemene hindernis in die weg van vertroue in Jehovah
  • Waarom laat Jehovah lyding toe?
  • Wat dit beteken om op Jehovah te vertrou
  • Waarom laat God lyding toe?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Almal sal vry wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Waarom laat God lyding toe?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Hoekom is daar soveel pyn en lyding?
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 9/1 bl. 8-13

Maak Jehovah jou vertroue

“U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah, my vertroue van my jeug af.”—PSALM 71:5.

1. Voor watter uitdaging het die herderseun Dawid te staan gekom?

DIE man was ’n reus van byna drie meter. Geen wonder dat al die soldate in die gevegslinie van Israel bang was om teen hom te veg nie! Week na week, elke oggend en elke aand, het die Filistynse reus Goliat die leër van Israel uitgetart en uitgedaag om ’n baasvegter te stuur om teen hom te kom veg. Uiteindelik is die uitdaging aanvaar, nie deur ’n soldaat nie, maar deur ’n jong seun. Die herderseun Dawid het klein in vergelyking met sy teenstander gelyk. Hy het dalk selfs minder as Goliat se pantser en wapens geweeg! En tog het hierdie jong man die reus aangedurf en ’n ewige simbool van moed geword.—1 Samuel 17:1-51.

2, 3. (a) Waarom kon Dawid met soveel vertroue voor Goliat staan? (b) Watter twee stappe gaan ons bespreek wat ons sal help om Jehovah ons vertroue te maak?

2 Wat het Dawid hierdie moed gegee? Beskou die woorde wat blykbaar deur Dawid in sy latere jare geskryf is: “U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah, my vertroue van my jeug af” (Psalm 71:5). Ja, as ’n jong man het Dawid volkome op Jehovah vertrou. Toe hy voor Goliat gestaan het, het hy gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met ’n spies en met ’n werpspies, maar ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs, die God van die gevegslinies van Israel, wat jy uitgetart het” (1 Samuel 17:45). Goliat het op sy groot krag en sy wapens vertrou, maar Dawid het op Jehovah vertrou. Dawid het die Soewereine Heer van die heelal aan sy kant gehad; waarom sou hy dus ’n blote mens vrees, ongeag hoe groot of hoe goed gewapen hy was?

3 Wens jy, terwyl jy van Dawid lees, dat jou eie vertroue in Jehovah groter was? Baie van ons voel moontlik so. Kom ons kyk dus na twee stappe wat ons kan neem om Jehovah ons vertroue te maak. Eerstens is daar ’n algemene hindernis in die weg van sulke vertroue wat ons geheel en al moet oorkom. Tweedens moet ons uitvind presies wat dit behels om op Jehovah te vertrou.

Oorkom ’n algemene hindernis in die weg van vertroue in Jehovah

4, 5. Waarom vind baie mense dit moeilik om vertroue in God te stel?

4 Wat verhinder mense om hulle vertroue in God te stel? Dikwels is dit omdat party verward is oor waarom slegte dinge gebeur. Baie word geleer dat God verantwoordelik is vir lyding. Wanneer ’n tragedie plaasvind, sê geestelikes dalk dat God die slagoffers “geneem” het om saam met hom in die hemel te wees. Verder leer baie godsdiensleiers mense dat God elke gebeurtenis wat in hierdie wêreld plaasvind—waaronder elke tragedie en goddelose daad—lank gelede voorbeskik het. Dit sou moeilik wees om vertroue te stel in so ’n gevoellose God. Satan, wat die verstande van die ongelowiges verblind, is gretig om al hierdie “leringe van demone” te bevorder.—1 Timoteus 4:1; 2 Korintiërs 4:4.

5 Satan wil hê dat mense hulle vertroue in Jehovah moet verloor. Daardie vyand van God wil nie hê dat ons moet weet wat die werklike oorsake van menselyding is nie. En as ons die skriftuurlike redes vir lyding geleer het, wil Satan hê dat ons dit moet vergeet. Daarom is dit goed dat ons van tyd tot tyd drie basiese redes hersien waarom daar lyding in die wêreld is. As ons dit doen, kan ons in ons hart seker wees dat Jehovah nie verantwoordelik is vir die probleme wat ons in die lewe ervaar nie.—Filippense 1:9, 10.

6. Hoe identifiseer 1 Petrus 5:8 een rede vir menselyding?

6 Een rede vir menselyding is dat Satan die onkreukbaarheid van Jehovah se getroue knegte wil ondermyn. Hy het Job se onkreukbaarheid probeer ondermyn. Satan het daarin misluk, maar hy het nie tou opgegooi nie. As die heerser van hierdie wêreld is hy daarop uit om Jehovah se getroue knegte te “verslind” (1 Petrus 5:8). Dit sluit elkeen van ons in! Satan wil hê dat ons moet ophou om Jehovah te dien. Daarom blaas hy dikwels vervolging aan. Hoewel sulke lyding pynlik is, het ons alle rede om dit te verduur. Daardeur help ons om Satan ’n leuenaar te bewys en so behaag ons Jehovah (Job 2:4; Spreuke 27:11). Namate Jehovah ons die krag gee om vervolging te verduur, word ons vertroue in hom groter.—Psalm 9:9, 10.

7. Watter rede vir lyding help Galasiërs 6:7 ons om te identifiseer?

7 ’n Tweede rede vir lyding word in hierdie beginsel gevind: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Soms saai mense deur slegte keuses te maak en maai hulle ’n mate van lyding as gevolg daarvan. Hulle kies dalk om roekeloos te bestuur en maak ’n ongeluk. Baie kies om sigarette te rook, wat tot hartkwale of longkanker kan lei. Diegene wat kies om hulle aan onsedelike gedrag skuldig te maak, ly dikwels weens verbrokkelde gesinne, verlies aan selfrespek, seksueel oordraagbare siektes en ongewenste swangerskappe. Mense gee God dalk die skuld vir sulke lyding, maar hulle is in werklikheid slagoffers van hulle eie slegte besluite.—Spreuke 19:3.

8. Waarom ly mense volgens Prediker 9:11?

8 ’n Derde rede vir lyding word in Prediker 9:11 gemeld: “Ek het teruggekeer en onder die son gesien dat die vinniges nie die wedloop het nie en die sterkes ook nie die geveg nie, en dat die wyses ook nie die voedsel het nie en dié met begrip ook nie die rykdom nie, en dat selfs dié wat kennis het, nie die guns het nie; want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.” Soms is mense bloot op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Ongeag watter sterk of swak punte ons mag hê, lyding en die dood kan onverwags oor enigeen van ons kom. In Jesus se dag het ’n toring in Jerusalem byvoorbeeld omgeval en 18 lewens geëis. Jesus het getoon dat dit nie gebeur het omdat God daardie mense vir vorige sondes gestraf het nie (Lukas 13:4). Nee, Jehovah is nie verantwoordelik vir sulke lyding nie.

9. Watter aspek omtrent lyding verstaan baie mense nie?

9 Dit is belangrik dat ons ’n paar van die oorsake van lyding verstaan. Maar daar is ’n aspek van die saak wat baie mense moeilik vind om te verstaan. Dit is: Waarom laat Jehovah God lyding toe?

Waarom laat Jehovah lyding toe?

10, 11. (a) Wat het volgens Romeine 8:19-22 met “die hele skepping” gebeur? (b) Hoe kan ons bepaal wie die skepping aan nietigheid onderwerp het?

10 ’n Gedeelte in die apostel Paulus se brief aan die Romeine werp lig op hierdie belangrike onderwerp. Paulus het geskryf: “Die skepping wag met gretige verwagting op die openbaring van die seuns van God. Want die skepping is aan nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het, op grond van hoop dat die skepping self ook van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word en die glorieryke vryheid van die kinders van God sal hê. Want ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.”—Romeine 8:19-22.

11 Om die punt van hierdie verse te snap, moet ons eers ’n paar sleutelvrae beantwoord. Byvoorbeeld: Wie het die skepping aan nietigheid onderwerp? Party sê dat dit Satan is; ander dat dit Adam is. Maar nie een van hulle kon die skepping onderwerp het nie. Waarom nie? Omdat die een wat die skepping aan nietigheid onderwerp, dit “op grond van hoop” doen. Ja, hy gee die hoop dat getroue mense uiteindelik “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak sal word”. Nie Adam of Satan kon so ’n hoop bied nie. Net Jehovah kon. Dit is dus duidelik dat hý die een is wat die skepping aan nietigheid onderwerp het.

12. Watter verwarring het ontstaan oor die identiteit van “die hele skepping”, en hoe kan hierdie vraag beantwoord word?

12 Maar wat is “die hele skepping” waarna hierdie verse verwys? Party sê dat “die hele skepping” na die hele sigbare wêreld verwys, wat die diere en plante insluit. Maar het diere en plante die vooruitsig om “die glorieryke vryheid van die kinders van God” te verkry? Nee (2 Petrus 2:12). “Die hele skepping” kan dus net na die mensdom verwys. Dít is die skepping wat weens die opstand in Eden deur sonde en die dood geraak word en dringend hoop nodig het.—Romeine 5:12.

13. Wat het die opstand in Eden aan die mensdom gedoen?

13 Presies wat het daardie opstand aan die mensdom gedoen? Paulus beskryf die gevolge daarvan met een woord: nietigheid.a Volgens een naslaanwerk beskryf hierdie woord “die nietigheid van ’n voorwerp wat nie funksioneer soos dit moet nie”. Mense is gemaak om vir ewig te lewe, om saam te werk as ’n volmaakte, verenigde gesin wat na ’n paradysaarde omsien. In plaas daarvan lei hulle ’n kort, pynlike en dikwels frustrerende lewe. Dit is soos Job dit gestel het: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Inderdaad nietigheid!

14, 15. (a) Watter getuienis het ons dat Jehovah se vonnis oor die mensdom regverdig was? (b) Waarom het Paulus gesê dat die skepping “nie uit eie wil” aan nietigheid onderwerp is nie?

14 Nou kom ons by die sleutelvraag: Waarom het “die Regter van die hele aarde” die mensdom aan hierdie pynlike, frustrerende lewe onderwerp? (Genesis 18:25). Was dit regverdig van hom? Wel, onthou wat ons eerste ouers gedoen het. Toe hulle teen God in opstand gekom het, het hulle hulle geskaar aan die kant van Satan, wat ’n verreikende uitdaging teen Jehovah se soewereiniteit gerig het. Deur hulle dade het hulle die aantyging gesteun dat die mens beter daaraan toe is sonder Jehovah en as hy oor homself regeer onder die leiding van ’n opstandige geesskepsel. Toe Jehovah die rebelle vonnis, het hy in werklikheid vir hulle gegee wat hulle wou hê. Hy het die mens toegelaat om oor homself te regeer onder die invloed van Satan. Watter besluit kon onder hierdie omstandighede regverdiger gewees het as om die mensdom aan nietigheid te onderwerp, maar op grond van hoop?

15 Dit was natuurlik nie die skepping se “eie wil” nie. Ons word as slawe van sonde en verderflikheid gebore sonder enige keuse in die saak. Jehovah het egter in sy barmhartigheid toegelaat dat Adam en Eva voortlewe en kinders voortbring. Hoewel ons, as hulle nakomelinge, aan die nietigheid van sonde en die dood onderwerp is, het ons die geleentheid om te doen wat Adam en Eva versuim het om te doen. Ons kan na Jehovah luister en uitvind dat sy soewereiniteit regverdig en volmaak is, terwyl menseheerskappy onafhanklik van Jehovah net pyn, frustrasie en nietigheid tot gevolg het (Jeremia 10:23; Openbaring 4:11). En Satan se invloed vererger sake net. Die mensegeskiedenis getuig van hierdie waarhede.—Prediker 8:9.

16. (a) Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah nie verantwoordelik is vir die lyding wat ons vandag in die wêreld sien nie? (b) Watter hoop het Jehovah liefdevol voorsien vir getroue mense?

16 Dit is duidelik dat Jehovah gegronde redes gehad het om die mensdom aan nietigheid te onderwerp. Beteken dit egter dat Jehovah die oorsaak is van die nietigheid en lyding waaronder elkeen van ons vandag gebuk gaan? Wel, dink aan ’n regter wat ’n regverdige vonnis oor ’n misdadiger uitspreek. Die veroordeelde ly dalk baie terwyl hy sy vonnis uitdien; maar kan hy tereg die regter blameer en sê dat hy die oorsaak van sy lyding is? Beslis nie! Ook het goddeloosheid nooit sy oorsprong by Jehovah nie. Jakobus 1:13 sê: “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie.” Verder moet ons onthou dat Jehovah hierdie vonnis “op grond van hoop” uitgespreek het. Hy het op liefdevolle wyse gereël dat getroue nakomelinge van Adam en Eva die einde van nietigheid sal sien en hulle in “die glorieryke vryheid van die kinders van God” sal verlustig. Die getroue mensdom sal tot in alle ewigheid nie bekommerd hoef te wees dat die hele skepping ooit weer in ’n pynlike toestand van nietigheid sal verval nie. Die regverdige manier waarop Jehovah sake hanteer het, sal die regmatigheid van sy soewereiniteit vir ewig en altyd bevestig het.—Jesaja 25:8.

17. Hoe moet ’n hersiening van die redes vir lyding in vandag se wêreld ons raak?

17 Vind ons, terwyl ons hierdie redes vir menselyding hersien, enige gronde daarvoor om Jehovah die skuld te gee vir goddeloosheid of om ons vertroue in hom te verloor? Inteendeel, so ’n studie gee ons rede om hierdie woorde van Moses te beaam: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy” (Deuteronomium 32:4). As ons van tyd tot tyd oor hierdie feite peins, sal dit ons begrip daarvan vernuwe. Wanneer ons dan voor beproewinge te staan kom, sal ons Satan se pogings weerstaan om twyfelgedagtes by ons te saai. Maar wat van die tweede stap wat aan die begin genoem is? Wat behels dit om op Jehovah te vertrou?

Wat dit beteken om op Jehovah te vertrou

18, 19. Met watter woorde spoor die Bybel ons aan om op Jehovah te vertrou, maar watter verkeerde idees het party in dié verband?

18 God se Woord spoor ons aan: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spreuke 3:5, 6). Dit is pragtige, bemoedigende woorde. Daar is beslis niemand in die ganse heelal wat betroubaarder as ons geliefde hemelse Vader is nie. Nietemin is dit makliker om daardie woorde in Spreuke te lees as om dit toe te pas.

19 Baie het ’n verkeerde begrip van wat dit beteken om op Jehovah te vertrou. Party dink dat sulke vertroue bloot ’n gevoel is, ’n soort salige emosie wat van nature in die hart moet opkom. Ander glo blykbaar dat vertroue in God beteken dat ons van hom kan verwag om ons teen elke moeilike situasie te beskerm, elke probleem van ons op te los, elke uitdaging in ons daaglikse lewe te laat uitwerk net soos ons gehoop het—en boonop onmiddellik! Maar sulke idees is ongegrond. Vertroue is veel meer as ’n blote gevoel, en dit is nie onrealisties nie. Vir volwassenes behels vertroue dat hulle ingeligte, weldeurdagte besluite neem.

20, 21. Wat behels vertroue in Jehovah? Lig toe.

20 Let weer eens op wat Spreuke 3:5 sê. Dit stel vertroue in Jehovah teenoor vertroue in ons eie begrip, wat te kenne gee dat ons nie albei kan doen nie. Beteken dit dat ons nie ons begripsvermoëns mag gebruik nie? Nee, want Jehovah, wat ons hierdie vermoëns gegee het, verwag dat ons dit in ons diens aan hom gebruik (Romeine 12:1). Maar waarop steun, of vertrou, ons? As ons denke nie in ooreenstemming met Jehovah s’n is nie, kan ons ons afvra of ons werklik aanvaar dat sy wysheid oneindig hoër as ons s’n is (Jesaja 55:8, 9). Om op Jehovah te vertrou, beteken dat ons toelaat dat sy denke ons denke rig.

21 Ter toeligting: Dink aan ’n klein kindjie wat op die agterste sitplek van ’n motor sit terwyl sy ouers voor sit. Sy pa is agter die wiel. As ’n probleem tydens die reis opduik—’n vraag oor die regte roete om te volg of moontlik ’n probleem met die weer of die toestand van die pad—hoe reageer ’n gehoorsame kind wat sy ouers vertrou? Skree hy van agter af wat sy pa moet doen en hoe hy moet bestuur? Bevraagteken hy sy ouers se besluite of weier hy om te luister wanneer hy daaraan herinner word om sy sitplekgordel aan te hou? Nee, hy vertrou van nature op sy ouers om sulke sake te hanteer, al is hulle onvolmaak. Jehovah is ons volmaakte Vader. Behoort ons nie volkome op hom te vertrou, veral wanneer ons voor moeilike situasies te staan kom nie?—Jesaja 30:21.

22, 23. (a) Waarom moet ons op Jehovah vertrou wanneer ons voor probleme te staan kom, en hoe kan ons dit doen? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

22 Spreuke 3:6 toon egter dat ons ‘ag moet slaan op Jehovah in al ons weë’, nie net wanneer ons voor moeilike situasies te staan kom nie. Die daaglikse besluite wat ons dus in ons lewe neem, moet ons vertroue in Jehovah weerspieël. Wanneer probleme opduik, moet ons nie moed verloor, paniekerig raak of weier om Jehovah se leiding te aanvaar oor die beste manier om sake te hanteer nie. Ons moet beproewinge beskou as geleenthede om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun, om Satan ’n leuenaar te help bewys en om gehoorsaamheid aan te kweek, asook ander eienskappe wat Jehovah behaag.—Hebreërs 5:7, 8.

23 Ons kan ons vertroue in Jehovah toon ongeag watter struikelblokke dalk voor ons opdoem. Ons doen dit deur ons gebede en deur op Jehovah se Woord en sy organisasie te vertrou vir leiding. Maar op watter spesifieke maniere kan ons vertroue in Jehovah openbaar wanneer ons voor probleme in vandag se wêreld te staan kom? Ons volgende artikel sal daardie onderwerp bespreek.

[Voetnoot]

a Die Griekse woord wat Paulus vir “nietigheid” gebruik het, is dieselfde woord wat ons vind in die Griekse Septuagint vir die uitdrukking wat Salomo herhaaldelik in die boek Prediker gebruik het, soos in die uitdrukking “alles is nietigheid!”—Prediker 1:2, 14; 2:11, 17; 3:19; 12:8.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het Dawid getoon dat hy Jehovah sy vertroue gemaak het?

• Wat is vandag drie oorsake van menselyding, en waarom is dit goed om dit van tyd tot tyd te hersien?

• Watter vonnis het Jehovah oor die mensdom uitgespreek, en waarom was dit ’n regverdige vonnis?

• Wat behels dit om op Jehovah te vertrou?

[Prente op bladsy 8]

Dawid het Jehovah sy vertroue gemaak

[Prent op bladsy 10]

Jesus het getoon dat Jehovah nie daarvoor verantwoordelik was toe ’n sekere toring in Jerusalem omgeval het nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel