Vrae van lesers
In baie wêrelddele is dit gebruiklik om trougeskenke te gee. Watter skriftuurlike beginsels moet ons in gedagte hou wanneer ons sulke geskenke gee of ontvang?
Die Bybel keur dit goed as geskenke met die regte beweegrede en by die regte geleentheid gegee word. Ware Christene word deur die Bybel aangespoor om hulle vrygewige Voorsiener, Jehovah, na te volg wanneer hulle aan ander gee (Jakobus 1:17). Die apostel Paulus het mede-Christene gemaan: “Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.” Christene word dus aangemoedig om vrygewig te wees.—Hebreërs 13:16; Lukas 6:38.
Wat van die gebruik in party lande om by ’n spesifieke winkel ’n geskenklys of -tafel te hê? ’n Paartjie wat op trou staan, gaan na ’n winkel en maak ’n lys van geskenke wat hulle graag wil ontvang of laat die geskenke op ’n tafel in die winkel uitstal. Familie en vriende van die paartjie word dan na daardie winkel verwys om ’n item op die lys of tafel te koop. Uit ’n praktiese oogpunt beskou, spaar so ’n reëling mense die moeite om ure lank na ’n geskenk te soek, en die bruidspaar hoef nie ongewenste geskenke by ’n winkel om te ruil nie.
’n Paartjie wat op trou staan, moet self besluit of hulle so ’n reëling gaan volg. ’n Christen moet egter daarop let dat hy gebruike vermy wat in stryd kan wees met Bybelbeginsels. Gestel byvoorbeeld ’n verloofde paartjie stel ’n lys op wat baie duur items bevat. In so ’n geval sal dit dalk onmoontlik wees vir dié wat volgens ’n streng begroting lewe, om ’n geskenk te koop, of hulle kan voel dat dit beter sal wees om die uitnodiging na die troue van die hand te wys omdat dit vir hulle ’n verleentheid sal wees om ’n goedkoop geskenk te neem. Een Christenvrou het geskryf: “Dit raak net te veel. Ek het nog altyd probeer om vrygewig te wees, maar in die laaste tyd is die vreugde wat dit my verskaf het om te gee, daarmee heen.” Hoe jammer sal dit tog wees as ’n troue ontmoediging veroorsaak!
’n Mens moet diegene wat geskenke gee, beslis nie laat voel dat hulle geskenk slegs aanvaarbaar sal wees as dit by ’n sekere winkel gekoop word of in ’n sekere prysklas val nie. Jesus Christus het immers getoon dat ’n gewer se hartstoestand, en nie die materiële waarde van die gawe nie, in God se oë die belangrikste is (Lukas 21:1-4). Die apostel Paulus het eweneens oor barmhartigheidsgawes aan die behoeftiges geskryf: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:7.
Volgens die Bybel is daar niks mee verkeerd as jy vir die ontvanger van ’n geskenk aandui dat jy die gewer is deur dalk ’n briefie by die geskenk in te sluit nie. Maar soms is dit die gebruik om vir almal wat teenwoordig is, te sê wie die gewer is. Hierdie gebruik kan probleme veroorsaak. Dié wat geskenke gee, wil moontlik anoniem bly om nie onnodige aandag op hulleself te vestig nie. Sulke individue volg die beginsel in Matteus 6:3, waar Jesus sê: “Maar jy, wanneer jy barmhartigheidsgawes gee, moenie jou linkerhand laat weet wat jou regterhand doen nie.” Ander meen miskien dat die gee van geskenke iets is wat tussen die gewer en die ontvanger moet bly. Wat meer is, wanneer daar gesê word wie watter geskenk gegee het, kan dit daartoe lei dat geskenke vergelyk word, wat ‘wedywering kan aanwakker’ (Galasiërs 5:26). Christene wil beslis voorkom dat enigiemand ongemaklik of verleë voel deur die name van die gewers voor almal bekend te maak.—1 Petrus 3:8.
Ja, as ons in ooreenstemming met die beginsels in God se Woord optree, sal dit altyd geluk verskaf om geskenke te gee.—Handelinge 20:35.