Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 9/15 bl. 26-30
  • Martin Luther—die man en sy nalatenskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Martin Luther—die man en sy nalatenskap
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Luther se studies
  • Verontwaardig oor aflaatbriewe
  • “Son en maan” reageer
  • September-Bybel in groot aanvraag
  • Talentvolle vertaler en produktiewe skrywer
  • Luther se nalatenskap
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Is godsdiensgeskiedenis vir jou van enige nut?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1990
  • Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 9/15 bl. 26-30

Martin Luther—Die man en sy nalatenskap

“NA BEWERING is meer boeke oor [Martin Luther] geskryf as oor enigiemand anders in die geskiedenis, buiten sy eie heer, Jesus Christus.” So het die tydskrif Time gesê. Luther se woorde en dade het bygedra tot die begin van die Hervorming—’n godsdiensbeweging wat as “die betekenisvolste revolusie in die geskiedenis van die mensdom” beskryf word. Hy het sodoende gehelp om die godsdienssituasie in Europa te verander en die Middeleeuse era van daardie kontinent af te sluit. Luther het ook die grondslag gelê vir ’n gestandaardiseerde geskrewe Duitse taal. Sy Bybelvertaling bly verreweg die gewildste in die Duitse taal.

Watter soort man was Martin Luther? Hoe het dit gebeur dat hy so ’n impak op Europese aangeleenthede gehad het?

Luther se studies

Martin Luther is in November 1483 in Eisleben, Duitsland, gebore. Al was sy vader ’n kopermynwerker, het hy daarin geslaag om genoeg te verdien om ’n goeie opvoeding vir Martin te verseker. In 1501 het Martin ’n student aan die Universiteit van Erfurt geword. In die universiteit se biblioteek het hy vir die eerste keer die Bybel gelees. “Die boek het my besonder beïndruk”, het hy gesê, “en ek het gehoop dat ek eendag gelukkig genoeg sou wees om so ’n boek te besit.”

Op 22-jarige ouderdom het Luther aangesluit by die Augustynse klooster in Erfurt. Hy het later aan die Universiteit van Wittenberg gestudeer en ’n doktorsgraad in teologie verwerf. Luther het gemeen dat hy nie God se guns waardig is nie en het by tye wanhopig gevoel as gevolg van ’n skuldige gewete. Maar Bybelstudie, gebed en bepeinsing het hom ’n beter begrip help verkry van hoe God sondaars beskou. Luther het besef dat God se guns nie verdien kan word nie. Dit word eerder deur onverdiende goedhartigheid geskenk aan dié wat geloof beoefen.—Romeine 1:16; 3:23, 24, 28.

Hoe het Luther tot die slotsom gekom dat sy nuwe begrip korrek is? Kurt Aland, professor in vroeë kerkgeskiedenis en Nieu-Testamentiese teksnavorsing, het geskryf: “Hy het in sy gedagtes deur die hele Bybel gegaan om vas te stel of hierdie nuutgevonde kennis nog steeds geldig sou wees as dit vergelyk word met ander Bybelse stellings, en hy het gevind dat hy oral bevestiging daarvoor gekry het.” Die leerstelling van regverdigmaking, of redding, deur geloof en nie deur werke, of boetedoening nie, het ’n hoeksteen van Luther se leringe gebly.

Verontwaardig oor aflaatbriewe

Luther se begrip van hoe God sondaars beskou, het hom met die Rooms-Katolieke Kerk laat bots. Daar is destyds algemeen geglo dat sondaars ná hulle dood vir ’n tydperk gestraf word. Maar hierdie tyd kon glo verkort word deur aflaatbriewe wat op gesag van die pous uitgegee is in ruil vir geld. Handelaars soos Johann Tetzel, wat as agent vir aartsbiskop Albert van Mainz opgetree het, het ’n florerende handelsaak gehad deur aflaatbriewe aan die gewone mense te verkoop. Baie het aflaatbriewe as ’n tipe versekering teen toekomstige sondes beskou.

Luther was verontwaardig oor die verkoop van aflaatbriewe. Hy het geweet dat mense nie met God kan onderhandel nie. In die herfs van 1517 het hy sy beroemde 95 stellings geskryf en die kerk van finansiële, leerstellige en godsdiensmisbruike beskuldig. Omdat Luther hervorming voorgestaan het en nie opstand nie, het hy afskrifte van sy stellings aan aartsbiskop Albert van Mainz en aan verskeie geleerdes gestuur. Baie geskiedskrywers beskou 1517 of omstreeks daardie tyd as die begin van die Hervorming.

Dit was nie net Luther wat die misdrywe van die kerk betreur het nie. Honderd jaar vroeër het die Tsjeggiese godsdienshervormer Johannes Hus die verkoop van aflaatbriewe veroordeel. Selfs voor Hus het John Wycliffe van Engeland daarop gewys dat sommige van die kerk se tradisies onskriftuurlik is. Luther se tydgenote Erasmus van Rotterdam en Tyndale van Engeland het aangedring op hervorming. Maar danksy Johannes Gutenberg se uitvinding, in Duitsland, van die drukpers met los letters is Luther se stem luider en verder as die stemme van ander hervormers gehoor.

Gutenberg se pers in Mainz was in 1455 in werking. Teen die eeuwisseling was daar drukperse in 60 Duitse dorpe en 12 ander Europese lande. Vir die eerste keer in die geskiedenis kon die publiek gou ingelig word oor aktuele sake. Luther se 95 stellings is, moontlik sonder sy toestemming, gedruk en versprei. Die kwessie van kerkhervorming was nie langer ’n plaaslike geskil nie. Dit het ’n wydverspreide geskil geword, en Martin Luther het skielik die beroemdste man in Duitsland geword.

“Son en maan” reageer

Europa was eeue lank in die hande van twee magtige instellings: die Heilige Romeinse Ryk en die Rooms-Katolieke Kerk. “Die keiser en die pous het bymekaar gehoort soos die son en maan”, het Hanns Lilje, ’n voormalige president van die Lutherse Wêreldfederasie, verduidelik. Maar daar het groot onsekerheid geheers oor wie die son en wie die maan was. Teen die vroeë 16de eeu was albei instellings nie meer so magtig soos voorheen nie. ’n Gees van verandering het oral geheers.

Pous Leo X het op die 95 stellings gereageer deur Luther met ekskommunikasie te dreig as hy nie sy sienswyse laat vaar nie. Luther het voet by stuk gehou en die pouslike bul wat die dreigement bevat het, in die openbaar verbrand en nog werke gepubliseer wat die vorstedomme aangespoor het om die kerk te hervorm, al is dit ook sonder die pous se goedkeuring. In 1521 het pous Leo X Luther geëkskommunikeer. Toe Luther beswaar maak dat hy sonder ’n regverdige verhoor veroordeel is, het keiser Karel V die hervormer ontbied om voor die Ryksdag, of vergadering, van Worms te verskyn. Luther se 15 dae lange reis in April 1521 van Wittenberg na Worms was soos ’n triomftog. Hy het die publiek se steun gehad, en oral wou mense hom sien.

In Worms het Luther voor die keiser, vorste en die pouslike gesant verskyn. Johannes Hus het in 1415 ’n soortgelyke verhoor in Konstanz gehad en op die brandstapel gesterf. Met die oë van die Kerk en die keiser stip op hom gerig, het Luther geweier om sy sienswyse te laat vaar tensy sy teenstanders hom uit die Bybel verkeerd bewys. Maar niemand kon sy geheue van die Skrif ewenaar nie. Die dokument wat die Edik van Worms genoem is, het die uitslag van die verhoor bekend gemaak. Dit het Luther voëlvry verklaar en sy geskrifte verbied. Aangesien hy deur die pous geëkskommunikeer en deur die keiser voëlvry verklaar is, was sy lewe nou in gevaar.

Toe het iets gebeur wat dramaties sowel as onverwags was. Op sy terugreis na Wittenberg was Luther die slagoffer van ’n skynontvoering wat deur die welwillende Frederik van Sakse gereël is. Dit het Luther buite die bereik van sy vyande geplaas. Luther is in die geheim na die afgesonderde Wartburg-kasteel geneem, waar hy ’n baard gegroei en ’n nuwe identiteit aangeneem het—dié van ’n ridder met die naam Junker Jörg.

September-Bybel in groot aanvraag

Die volgende tien maande het Luther as ’n voortvlugtige van die keiser sowel as die pous in die Wartburg-kasteel gewoon. Die boek Welterbe Wartburg verduidelik dat “die tyd in Wartburg van die produktiefste en skeppendste tydperke in sy lewe was”. Een van sy grootste prestasies, die vertaling van Erasmus se teks van die Griekse Geskrifte in Duits, is daar voltooi. Die werk is in September 1522 gepubliseer sonder om Luther as die vertaler te identifiseer en het as die September-Bybel bekend gestaan. Die prys was 11/2 gulden—gelykstaande aan ’n jaar se loon vir ’n huisbediende. Nietemin was daar ’n verstommende aanvraag na die September-Bybel. Binne 12 maande is 6 000 eksemplare in 2 uitgawes gedruk, en niks minder nie as 69 uitgawes het gedurende die volgende 12 jaar die lig gesien.

In 1525 het Martin Luther getrou met Katharina von Bora, ’n voormalige non. Katharina het die vermoë gehad om huishoudelike sake goed te organiseer en het met gemak aan die eise van haar man se vrygewigheid voldoen. Luther se huishouding het later nie net ’n vrou en ses kinders ingesluit nie, maar ook vriende, geleerdes en vlugtelinge. Later in sy lewe het Luther soveel aansien as ’n raadgewer gehad dat geleerdes wat gaste in sy huis was, hulle met pen en papier gewapen het om sy opmerkings neer te skryf. Hierdie aantekeninge is saamgestel in ’n bundel wat Luthers Tischreden (Luther se Tafelgesprekke) genoem is. Dit het ’n tyd lank, met uitsondering van die Bybel, die beste verspreiding in die Duitse taal gehad.

Talentvolle vertaler en produktiewe skrywer

Teen 1534 het Luther sy vertaling van die Hebreeuse Geskrifte voltooi. Hy het die vermoë gehad om ’n balans te handhaaf tussen styl, ritme en woordeskat. Die resultaat was ’n Bybel wat gewone mense kon verstaan. Luther het kommentaar gelewer oor sy vertaalmetode en geskryf: “Ons moet met die moeder in haar huis, die kinders op straat en die gewone man by die mark gesels en dan hulle monde dophou om te sien hoe hulle praat en dienooreenkomstig vertaal.” Luther se Bybel het die grondslag help lê vir ’n gestandaardiseerde skryftaal wat later regoor Duitsland aanvaar is.

Luther se talent as vertaler het hand aan hand gegaan met sy vaardigheid as skrywer. Regdeur sy lewe as ’n werkende man het hy glo elke twee weke ’n verhandeling geskryf. Party hiervan was net so omstrede soos die skrywer. Sy vroeë geskrifte het ’n snydende styl gehad, en die punt van Luther se pen het beslis nie met die jare stomp geword nie. Sy latere verhandelings het al hoe venyniger geword. Volgens die Lexikon für Theologie und Kirche openbaar Luther se werke die “mateloosheid van sy woede” en ’n “gebrek aan nederigheid en liefde” sowel as ’n “groot verantwoordelikheidsin teenoor sy lewenstaak”.

Toe die opstand van die kleinboere uitgebreek en bloed in die vorstedomme gevloei het, is Luther gevra om sy mening oor die opstand te gee. Was die kleinboere se klagtes teen hulle leenhere gegrond? Luther het nie sy gewildheid probeer verseker deur ’n antwoord te gee wat die meerderheid tevrede sou stel nie. Hy het geglo dat God se knegte diegene in gesagsposisies moet gehoorsaam (Romeine 13:1). Luther het dit onomwonde veroordeel en gesê dat die opstand met geweld onderdruk moet word. “Laat wie ook al kan, steek, slaan, doodmaak”, het hy gesê. Hanns Lilje het genoem dat hierdie antwoord Luther hom “sy unieke gewildheid gekos het wat hy tot op daardie stadium onder die mense gehad het”. Verder het Luther se latere verhandelings oor daardie Jode wat geweier het om hulle tot die Christelike godsdiens te bekeer, veral Oor die Jode en hulle leuens, veroorsaak dat baie die skrywer as anti-Semities bestempel het.

Luther se nalatenskap

Die Hervorming, wat deur manne soos Luther, Calvyn en Zwingli bevorder is, het daartoe gelei dat ’n nuwe benadering tot godsdiens ontstaan het, wat Protestantisme genoem is. Luther se grootste nalatenskap aan Protestantisme was sy grondleer van regverdigmaking deur geloof. Elkeen van die Duitse vorstedomme het hulle óf by die Protestantse óf by die Katolieke geloof geskaar. Protestantisme het versprei en gewild geword in Skandinawië, Switserland, Engeland en Nederland. Vandag het dit honderdmiljoene aanhangers.

Baie wat nie met al Luther se opvattings saamstem nie, het nogtans groot agting vir hom. Die voormalige Duitse Demokratiese Republiek, wat Eisleben, Erfurt, Wittenberg en Wartburg binne sy grense gehad het, het in 1983 die 500ste herdenking van Luther se geboorte gevier. Hierdie Sosialistiese Staat het hom as ’n vername figuur in die Duitse geskiedenis en kultuur erken. Ook het ’n Katolieke teoloog van die 1980’s die impak wat Luther gehad het, opgesom en gesê: “Niemand wat ná Luther gekom het, kon hom ewenaar nie.” Professor Aland het geskryf: “Elke jaar is daar ten minste 500 nuwe publikasies oor Martin Luther en die Hervorming—en boonop in feitlik al die hooftale van die wêreld.”

Martin Luther het ’n skerp verstand, ’n besonderse geheue, ’n aanleg vir woorde en ’n produktiewe werketiek gehad. Hy was ook ongeduldig en beledigend en het heftig gereageer op wat hy as huigelary beskou het. Op sy sterfbed in Eisleben in Februarie 1546 het vriende vir Luther gevra of hy nog oortuig was van die opvattings wat hy vir ander geleer het. “Ja”, het hy geantwoord. Luther het gesterf, maar baie hou nog vas aan hierdie opvattings.

[Prent op bladsy 27]

Luther was gekant teen die verkoop van aflaatbriewe

[Erkenning]

Mit freundlicher Genehmigung: Wartburg-Stiftung

[Prent op bladsy 28]

Luther het geweier om sy sienswyse te laat vaar tensy sy teenstanders hom uit die Bybel verkeerd bewys

[Erkenning]

From the book The Story of Liberty, 1878

[Prente op bladsy 29]

Luther se kamer in die Wartburg-kasteel, waar hy die Bybel vertaal het

[Erkenning]

Albei foto’s: Mit freundlicher Genehmigung: Wartburg-Stiftung

[Foto-erkenning op bladsy 26]

From the book Martin Luther The Reformer, 3rd Edition, published by Toronto Willard Tract Depository, Toronto, Ontario

[Foto-erkenning op bladsy 30]

From the book The History of Protestantism (Vol. I)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel