Van keiseraanbidding tot ware aanbidding
SOOS VERTEL DEUR ISAMOE SOEGIOERA
Hoewel dit in 1945 duidelik was dat Japan die Tweede Wêreldoorlog sou verloor, was ons daarvan oortuig dat die kamikaze (“goddelike wind”) sou waai en die vyand sou vernietig. Kamikaze verwys na die storms in 1274 en 1281 wat twee keer ’n groot deel van die invallende Mongoolse vloot langs die Japannese kus vernietig het, en hulle derhalwe gedwing het om terug te trek.
TOE keiser Hirohito dus op 15 Augustus 1945 aan die nasie gesê het dat Japan aan die Geallieerdes oorgegee het, is die verwagtinge verpletter van ’n honderdmiljoen mense wat aan hom toegewy was. Ek was toe maar ’n skoolseun, en my verwagtinge is ook verpletter. ‘As die keiser nie die lewende God is nie, wie is dan?’ het ek gewonder. ‘Wie moet ek vertrou?’
Tog het Japan se nederlaag in die Tweede Wêreldoorlog in werklikheid vir my en duisende ander Japannese die weg gebaan om van die ware God, Jehovah, te leer. Voordat ek sê watter veranderinge ek moes maak, wil ek julle eers van my godsdiensagtergrond vertel.
Vroeë godsdiensinvloede
Ek is op 16 Junie 1932 in die stad Nagoja as die jongste van vier seuns gebore. My pa het as ’n landmeter vir die stad gewerk. My ma was ’n toegewyde lid van Tenrikio, ’n Sjinto-sekte, en my oudste broer het godsdiensonderrig ontvang om ’n Tenrikio-onderrigter te word. Ek en my ma was baie geheg aan mekaar, en sy het my saamgeneem na hulle vergaderplek vir aanbidding.
Ek is geleer om my hoof te buig en te bid. Die Tenrikio-godsdiens staan geloof voor in ’n skepper wat Tenri O no Mikoto genoem word, asook in tien geringer gode. Die lede daarvan het geloofsgenesing beoefen en klem daarop gelê om ander te dien en hulle oortuigings te verkondig.
As ’n seun was ek baie nuuskierig. Ek het my verwonder oor die maan en die ontelbare sterre in die naghemel, en ek het gewonder hoe ver die ruimte buite ons atmosfeer strek. Dit het my gefassineer om te sien hoe die eierplante en komkommers groei wat ek in my klein tuintjie in die agterplaas geplant het. Dit het my geloof in God versterk wanneer ek na die natuur gekyk het.
Die oorlogsjare
My laerskooljare van 1939 tot 1945 was in dieselfde tydperk as die Tweede Wêreldoorlog. Keiseraanbidding, ’n belangrike deel van Sjinto, is tydens ons skoolopleiding beklemtoon. Ons is in sjoesjin onderrig, wat morele opleiding met ’n nasionalistiese en militaristiese inslag behels het. Vlaghysing, die sing van die volkslied, ’n studie van die keiserlike verordeninge in verband met onderwys en eerbetoning aan ’n foto van die keiser was alles deel van ons skoolroetine.
Ons het ook na die plaaslike Sjinto-tempel gegaan en God gesmeek dat die keiserlike leër die oorwinning moet behaal. Twee van my vleeslike broers het in die leër gedien. Weens my nasionalisties-godsdienstige indoktrinasie het ek my verheug as ek gehoor het dat die Japannese leër welslae behaal het.
Nagoja was ’n sentrum vir die Japannese lugvaartbedryf, daarom was dit ’n vername teiken wat hewig deur die Amerikaanse Lugmag aangeval is. Bedags het die B-29 Superfortress-bomwerpers op ongeveer 9000 meter in formasie oor die stad gevlieg en honderde tonne bomme op die nywerheidsgebiede gegooi. Snags het die bomwerpers so laag gevlieg dat soekligte hulle op 1300 meter opgespoor het. Herhaalde lugaanvalle met brandbomme het verwoestende inferno’s in die woongebiede veroorsaak. Nagoja alleen het 54 lugaanvalle die laaste nege maande van die oorlog gehad, wat baie lyding en meer as 7700 sterfgevalle tot gevolg gehad het.
Teen dié tyd het oorlogskepe begin om tien kusstede te bombardeer, en mense het gesê dat die Amerikaanse magte moontlik naby Tokio kan land. Vroue en jong seuns is opgelei om met bamboesspiese te veg om die land te beskerm. Ons slagspreuk was “Itsjiokoe Sooegiokoesai”, wat beteken “100 miljoen kan eerder sterf as om oor te gee”.
Op 7 Augustus 1945 het ’n koerantopskrif gesê: “Nuwe soort bom op Hirosjima gegooi.” Twee dae later is nog een op Nagasaki gegooi. Dit was atoombomme, en ons het later gehoor dat hulle altesaam meer as 300 000 lewens geëis het. Toe, op 15 Augustus, aan die einde van ’n driloefening met houtgewere, het ons die keiser se toespraak gehoor waarin hy Japan se oorgawe afgekondig het. Ons was oortuig dat ons sou wen, maar nou was ons verpletter.
’n Nuwe hoop ontstaan
Terwyl die Amerikaanse troepe hulle besetting begin het, het ons geleidelik die feit aanvaar dat die Verenigde State die oorlog gewen het. Demokrasie is toe in Japan ingelei, en die land het ook ’n nuwe grondwet gekry wat godsdiensvryheid gewaarborg het. Lewensomstandighede was moeilik, kos was skaars en in 1946 het my pa weens ondervoeding gesterf.
Intussen het ons Engels begin leer in die skool waar ek was, en die NHK-radiostasie het met ’n Engelse geselsprogram begin. Vyf jaar lank het ek elke dag na hierdie gewilde program geluister met ’n handleiding in my hand. Dit het die begeerte in my laat ontstaan om eendag na die Verenigde State toe te gaan. Omdat ek met Sjinto- en Boeddhistiese godsdienste teleurgesteld was, het ek gedink dat die waarheid aangaande God miskien in Westerse godsdienste gevind kan word.
Vroeg in April 1951 het ek Grace Gregory, ’n sendeling van die Wagtoringgenootskap, ontmoet. Sy het voor die Nagoja-stasie gestaan en ’n Engelse eksemplaar van Die Wagtoring en ’n boekie in Japannees oor ’n Bybelonderwerp aangebied. Haar nederigheid om hierdie soort werk te doen, het my beïndruk. Ek het albei publikasies geneem en geredelik tot ’n Bybelstudie ingestem. Ek het belowe om ’n paar dae later vir die Bybelstudie na haar huis toe te gaan.
Toe ek in die trein gaan sit en Die Wagtoring begin lees, het die eerste woord in die eerste artikel, “Jehovah”, my aandag getrek. Ek het nog nooit vantevore hierdie naam gesien nie. Ek het nie gedink dat ek dit in die klein Engels-Japannese woordeboekie sou vind wat ek saam met my gedra het nie, maar dit was wel daarin! “Jehovah . . . , die God van die Bybel.” Nou het ek aangaande die God van die Christelike godsdiens begin leer.
Met my eerste besoek aan die sendinghuis het ek gehoor dat Nathan H. Knorr, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, ’n paar weke later ’n Bybellesing sou lewer. Hy sou Japan saam met sy sekretaris, Milton Henschel, besoek en ook na Nagoja kom. Hoewel ek maar min Bybelkennis gehad het, het ek die toespraak baie geniet, asook die assosiasie met die sendelinge en ander wat daar teenwoordig was.
In ongeveer twee maande het ek uit my studies saam met Grace die basiese waarhede geleer aangaande Jehovah, Jesus Christus, die losprys, Satan die Duiwel, Armageddon en die Paradysaarde. Die goeie nuus van die Koninkryk was presies die soort boodskap waarna ek gesoek het. Toe ek begin studeer het, het ek terselfdertyd ook die gemeentelike vergaderinge begin bywoon. Ek het die vriendelike atmosfeer by hierdie vergaderinge baie geniet, waar die sendelinge vryelik met die Japannese gemeng het en saam met ons op die tatami (gevlegte strooimatte) gesit het.
In Oktober 1951 is die eerste kringbyeenkoms in Japan in die Nakanosjima- Openbare Saal in die stad Osaka gehou. Daar was minder as 300 Getuies in die hele Japan; tog het ongeveer 300 mense die byeenkoms bygewoon, wat byna 50 sendelinge ingesluit het. Ek het selfs ’n klein deeltjie op die program gehad. Wat ek gesien en gehoor het, het my só beïndruk dat ek my in my hart voorgeneem het om Jehovah my hele lewe lank te dien. Die volgende dag is ek gedoop in die lou water van ’n nabygeleë openbare badhuis.
Die vreugde van pionierdiens
Ek wou ’n pionier word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word, maar ek het ook verplig gevoel om vir ons gesin te help sorg. Toe ek genoeg moed bymekaargeskraap het om vir my werkgewer van my begeerte te vertel, was ek verbaas om hom te hoor sê: “Ek sal met graagte my samewerking gee as dit jou gelukkig sal maak.” Dit was vir my moontlik om net twee dae per week te werk, en ek kon nog steeds my ma met huishoudelike uitgawes help. Ek het werklik soos ’n voëltjie gevoel wat uit ’n koutjie vrygelaat is.
Namate toestande verder verbeter het, het ek op 1 Augustus 1954 pionierdiens begin doen in ’n gebied agter Nagoja-stasie, ’n paar minute se stap van die plek waar ek Grace die eerste keer ontmoet het. Ná etlike maande is ek as ’n spesiale pionier na Beppoe gestuur, ’n stad op die westelike eiland Kioesjoe. Tsoetomoe Mioera is saam met my as my maat daarheen gestuur.a Destyds was daar geen gemeente van Jehovah se Getuies op die hele eiland nie, maar nou is daar honderde wat in 22 kringe ingedeel is!
’n Voorsmakie van die nuwe wêreld
Toe broer Knorr Japan weer in April 1956 besoek het, het hy my gevra om ’n paar paragrawe hardop uit ’n Engelse Wagtoring te lees. Hy het nie vir my gesê waarom nie, maar ’n paar maande later het ek ’n brief ontvang wat my genooi het om die 29ste klas van die Gileadsendingskool by te woon. In November daardie jaar het ek dus ’n opwindende reis na die Verenigde State onderneem wat ’n lewenslange droom vervul het. My geloof in Jehovah se sigbare organisasie is versterk toe ek ’n paar maande saam met die groot Bethelgesin in Brooklyn gewoon en gewerk het.
In Februarie 1957 het broer Knorr drie van ons, almal studente, per motor na die Gileadskoolkampus in South Lansing, noord van New York, geneem. Die volgende vyf maande by die Gileadskool het ek ’n voorsmakie van die Paradysaarde gekry terwyl ek in Jehovah se Woord onderrig is en saam met medestudente in ’n pragtige omgewing gewoon het. Tien van die 103 studente, waaronder ek, is na Japan gestuur.
Ek waardeer my toewysings
Daar was ongeveer 860 Getuies in Japan toe ek in Oktober 1957 teruggekeer het. Ek is in die reisende werk as ’n kringopsiener aangestel, maar Adrian Thompson in Nagoja het my eers ’n paar dae lank vir hierdie werk opgelei. My kring het oor ’n gebied gestrek van Sjimizoe, naby die berg Foedji, tot by Sjikokoe-eiland, en dit het groot stede ingesluit soos Kioto, Osaka, Kobe en Hirosjima.
In 1961 is ek as ’n streekopsiener aangestel. Dit het behels dat ek van die noordelike eiland Hokkaido, waar sneeu val, na die subtropiese eiland Okinawa reis en selfs verby die Isjigaki-eilande naby Taiwan, ’n afstand van ongeveer 3000 kilometer.
Toe, in 1963, is ek genooi om ’n tien maande lange kursus van die Gileadskool by die Brooklynse Bethel by te woon. Tydens die kursus het broer Knorr beklemtoon hoe belangrik dit is om die regte gesindheid teenoor werkstoewysings te hê. Hy het gesê dat dit net so ’n belangrike toewysing is om badkamers skoon te maak as wat dit is om in ’n kantoor te werk. As die badkamers nie skoon is nie, het hy gesê, sal die hele Bethelgesin en hulle werk daaronder ly. Later was dit ’n deel van my werk om in die Japannese Bethel toilette skoon te maak, en ek het daardie raad onthou.
Nadat ek na Japan teruggekeer het, is ek weer in die reisende werk uitgestuur. ’n Paar jaar later, in 1966, het ek met Joenko Iwasaki getrou, ’n spesiale pionier wat in die stad Matsoehe gedien het. Lloyd Barry, die destydse takopsiener van Japan, het ’n hartlike troutoespraak gelewer. Joenko het daarna by my in die reisende werk aangesluit.
Ons toewysing het in 1968 verander toe ek gevra is om vertaalwerk by die takkantoor in Tokio te doen. Vanweë die tekort aan kamers het ek daagliks van die voorstad Soemida, in Tokio, na die takkantoor gereis, en Joenko het as ’n spesiale pionier saam met die plaaslike gemeente gedien. Teen hierdie tyd was daar ’n behoefte aan groter takfasiliteite. In 1970 is eiendom dus in Noemazoe gekoop, nie ver van die berg Foedji af nie. Daar is ’n fabriek van drie verdiepings en ’n woongebou opgerig. Voor die bouwerk begin het, is verskeie huise op die perseel gebruik om die Koninkryksbedieningskool te hou, wat gemeentelike opsieners oplei. Ek het die voorreg gehad om die skool te onderrig, en Joenko het vir die studente maaltye voorberei. Dit was opwindend om te sien hoe honderde Christenmans spesiale opleiding vir die bediening ontvang het.
Een middag het ek ’n dringende telegram ontvang. My ma is in die hospitaal opgeneem en sou vermoedelik nie lank lewe nie. Ek het met die ultrasneltrein na Nagoja gereis en my na die hospitaal gehaas. Sy was bewusteloos, maar ek het die nag langs haar bed deurgebring. My ma is vroeg in die oggend oorlede. Terwyl ek na Noemazoe teruggery het, kon ek my trane nie inhou by die gedagte aan die moeilike tye wat sy in haar lewe deurgemaak het en die liefde wat sy aan my betoon het nie. As dit Jehovah se wil is, sal ek haar weer met die opstanding sien.
Kort voor lank was die fasiliteite in Noemazoe te klein vir ons. Daarom is ’n stuk grond van sewe hektaar in die stad Ebina gekoop, en in 1978 het ons die nuwe takkantoorkompleks begin bou. Nou is al die beskikbare ruimte op hierdie eiendom met fabrieke en woongeboue bebou, asook met ’n Byeenkomssaal wat sitplek vir 2800 mense het. Die nuutste byvoeging, wat uit twee 13-verdiepingwooneenhede bestaan, asook uit ’n parkeer-/diensgebou van vyf verdiepings, is vroeër vanjaar voltooi. Ons Bethelgesin bestaan nou uit 530 lede, maar die vergrote fasiliteite kan ongeveer 900 mense huisves.
Baie redes tot vreugde
Dit is opwindend om die vervulling van Bybelprofesieë te sien, ja om te sien hoe “die geringste ’n magtige nasie” word (Jesaja 60:22). Ek onthou nog dat een van my broers my in 1951 gevra het: “Hoeveel Getuies is daar in Japan?”
“Omtrent 260”, het ek geantwoord.
“Is dit al?” het hy neerhalend gevra.
Ek onthou nog dat ek gedink het: ‘Die tyd sal leer hoeveel mense Jehovah na sy aanbidding in hierdie Sjinto-Boeddhistiese land sal trek.’ En Jehovah het die antwoord gegee! Vandag is daar nie meer ontoegekende gebied in Japan waar die predikingswerk gedoen moet word nie, en die aantal ware aanbidders het tot meer as 222 000 in 3800 gemeentes toegeneem!
Die afgelope 44 jaar van my lewe in die voltydse diens—32 saam met my dierbare vrou—was beslis gelukkige jare. Vyf-en-twintig van daardie jare het ek in die Vertaaldepartement in Bethel gedien. In September 1979 is ek ook genooi om ’n lid van die takkomitee van Jehovah se Getuies in Japan te wees.
Dit was ’n voorreg en ’n seën om ’n klein aandeel daaraan te hê om opregte, vredeliewende mense te help om Jehovah te aanbid. Baie het presies gedoen wat ek gedoen het—van keiseraanbidding verander na aanbidding van die enigste ware God, Jehovah. Dit is my opregte begeerte om nog baie te help om aan Jehovah se seëvierende kant te kom en die ewige lewe in die vreedsame nuwe wêreld te verkry.—Openbaring 22:17.
[Voetnoot]
a Sy pa was ’n getroue Getuie wat in 1945 die atoombomontploffing in Hirosjima oorleef het terwyl hy in ’n Japannese gevangenis was. Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1994, bladsye 11-15.
[Prent op bladsy 29]
Skoolopleiding het om keiseraanbidding gedraai
[Erkenning]
The Mainichi Newspapers
[Prent op bladsy 29]
In New York saam met broer Franz
[Prent op bladsy 29]
Saam met my vrou, Joenko
[Prent op bladsy 31]
By my werk in die Vertaaldepartement