Jesus se familie—Wie was hulle?
IN BAIE dele van die wêreld sien ’n mens gedurende Desember dikwels tonele van die kindjie Jesus in die tere sorg van sy moeder, Maria, en sy pleegvader, Josef. Selfs diegene wat nie bely dat hulle Christene is nie, vind hierdie gesinstonele moontlik aantreklik. Die aandag word gewoonlik op Jesus gevestig, maar wat leer ons uit die Skrif oor Jesus se aardse familie?
Jesus se familieagtergrond was baie interessant. Hy is uit ’n maagd met die naam Maria gebore en het so ’n lid van die mensdom geword. Volgens die Bybel is sy lewe deur middel van heilige gees uit die hemel oorgeplaas na Maria se moederskoot (Lukas 1:30-35). Voordat Maria wonderdadig swanger geword het met Jesus, het sy aan ’n man met die naam Josef verloof geraak, wat dus Jesus se pleegvader sou word.
Ná Jesus se geboorte het Josef en Maria ander kinders gehad, Jesus se halfbroers en -susters. Dit blyk uit wat inwoners van Nasaret later oor Jesus gevra het: “Is hy nie die timmerman se seun nie? Is sy moeder se naam nie Maria, en dié van sy broers Jakobus en Josef en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie?” (Matteus 1:25; 13:55, 56; Markus 6:3). Hieruit kan ons aflei dat Jesus se naaste familie uit sy ouers, vier broers en ten minste twee susters bestaan het.
Vandag glo sommige mense egter nie dat Jesus se broers en susters Josef en Maria se kinders was nie. Waarom nie? “Die Kerk”, sê die New Catholic Encyclopedia, “het van die begin af geleer dat Maria altyd ’n maagd was. In die lig hiervan kan daar dus geen twyfel bestaan dat Maria geen ander kinders gehad het nie.” Dieselfde naslaanwerk beweer dat die Griekse woorde vir “broer” en “suster” kan verwys na “’n persoon of persone wat deur ’n godsdienstige of ander gemeenskaplike band verenig is”, of na familie, moontlik neefs en niggies.
Is dit werklik die geval? Selfs sommige Katolieke teoloë stem nie saam met die tradisionele leerstelling nie en steun die beskouing dat Jesus vleeslike broers en susters gehad het. John P. Meier, voormalige president van die Katolieke Bybelgenootskap van Amerika, het geskryf: “Wanneer die N[uwe] T[estament] adelphos [broer] nie bloot figuurlik of in beeldspraak gebruik nie, maar eerder om ’n fisiese of wetlike verhouding aan te dui, beteken dit slegs vol- of halfbroer, en niks anders nie.”a Ja, die Skrif toon dat Jesus broers en susters gehad het wat vir Josef en Maria gebore is.
Die Evangelies meld ook ander familielede van Jesus, maar kom ons vestig nou ons aandag op Jesus se naaste familie en kyk wat ons by hulle kan leer.
[Voetnoot]
a “Die broers en susters van Jesus uit ’n ekumeniese oogpunt”, deur J. P. Meier, The Catholic Biblical Quarterly, Januarie 1992, bladsy 21.