Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 2/15 bl. 15-20
  • Waak teen bedrog

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waak teen bedrog
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom is daar vandag soveel bedrog?
  • Waak teen bedrog deur afvalliges
  • Waak teen selfbedrog
  • Waak teen Satan se leuens
  • Beskerm jouself teen bedrog
  • Sal jy ag slaan op Jehovah se duidelike waarskuwings?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Waak daarteen om bedrieg te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Praat die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Jongmense—moenie bedrieg word nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 2/15 bl. 15-20

Waak teen bedrog

“Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur . . . leë bedrog.”—KOLOSSENSE 2:8.

1-3. (a) Watter voorbeelde toon dat bedrog in byna alle aspekte van die daaglikse lewe voorkom? (b) Waarom moet ons nie verbaas wees oor die bedrog in die wêreld nie?

“WIE van julle het nog nooit ’n kliënt gehad wat vir julle leuens vertel het nie?” ’n Paar jaar gelede het ’n regsprofessor ’n opname gedoen deur daardie vraag te vra. Die uitslag? Hy verduidelik: “Uit die duisende regsgeleerdes was daar net een wat nog nooit ’n kliënt gehad het wat vir hom ’n leuen vertel het nie.” Die rede? “Die regsgeleerde het pas by ’n groot regsfirma begin praktiseer en het nog nie met ’n kliënt gepraat nie.” Hierdie ondervinding lig ’n droewige waarheid toe—leuens en bedrog is algemeen in vandag se wêreld.

2 Bedrog neem baie vorme aan en kom in byna alle aspekte van die hedendaagse lewe voor. Mediaberigte bevat tallose voorbeelde hiervan—politici wat leuens vertel oor hulle dade, rekenmeesters en regsgeleerdes wat maatskappywinste oordryf, adverteerders wat verbruikers mislei, eisers wat versekeringsmaatskappye bedrieg, om maar net ’n paar te noem. Dan is daar godsdiensbedrog. Die geestelikes mislei groot getalle mense deur valse leerstellings te verkondig, soos die onsterflikheid van die siel, die helse vuur en die Drie-eenheid.—2 Timoteus 4:3, 4.

3 Moet ons verbaas wees oor al hierdie bedrog? Nie werklik nie. Die Bybel het aangaande “die laaste dae” gewaarsku: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:1, 13). As Christene moet ons op ons hoede wees vir misleidende idees wat ons van die waarheid af kan wegkeer. Twee vrae ontstaan dus: Waarom is bedrog vandag so algemeen, en hoe kan ons daarteen waak dat ons bedrieg word?

Waarom is daar vandag soveel bedrog?

4. Waarom is bedrog volgens die Bybel so algemeen in die wêreld?

4 Die Bybel verduidelik waarom bedrog so algemeen is in hierdie wêreld. Die apostel Johannes het geskryf: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Daardie “bose” is Satan die Duiwel. Aangaande hom het Jesus gesê: “Hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.” Is dit dan enigsins verbasend dat hierdie wêreld die gees, die waardes en die bedrieglike karaktertrekke van hulle heerser weerspieël?—Johannes 8:44; 14:30; Efesiërs 2:1-3.

5. Hoe het Satan sy bedrieglike pogings in hierdie tyd van die einde verskerp, en op wie spits hy hom veral toe?

5 In hierdie tyd van die einde het Satan sy pogings verskerp. Hy is na die aarde neergewerp. Hy weet dat sy tydjie kort is, en hy het “groot toorn”. Omdat hy vasbeslote is om soveel mense as moontlik tot ’n val te bring, ‘mislei hy die hele bewoonde aarde’ (Openbaring 12:9, 12). Satan maak nie net nou en dan gebruik van bedrog nie. Nee, hy is onverbiddelik in sy pogings om die mensdom te mislei.a Hy gebruik elke bedrieglike metode in sy arsenaal—waaronder kullery en verraad—om die verstande van ongelowiges te verblind en hulle van God af weg te hou (2 Korintiërs 4:4). Hierdie meesterbedrieër is veral daarop uit om diegene te verslind wat God “met gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:24; 1 Petrus 5:8). Moet nooit vergeet dat Satan as ’t ware beweer het nie: ‘Ek kan enigiemand van God af wegkeer’ (Job 1:9-12). Kom ons kyk nou na die “bedrieglike taktiek” wat Satan gebruik en hoe ons daarteen kan waak.—Efesiërs 6:11, Jewish New Testament.

Waak teen bedrog deur afvalliges

6, 7. (a) Wat beweer afvalliges dalk? (b) Hoe toon die Skrif duidelik wat afvalliges wil bereik?

6 Satan gebruik lank reeds afvalliges in sy pogings om God se knegte te mislei (Matteus 13:36-39). Afvalliges beweer dalk dat hulle Jehovah aanbid en in die Bybel glo, maar hulle verwerp die sigbare deel van sy organisasie. Party keer selfs terug na die godonterende leerstellings van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 17:5; 2 Petrus 2:19-22). Die Bybelskrywers het onder goddelike inspirasie kragtige woorde gebruik om die beweegredes en metodes van afvalliges aan die kaak te stel.

7 Wat wil afvalliges bereik? Vir die meeste van hulle is dit nie genoeg om net die geloof te verlaat wat hulle voorheen moontlik as die waarheid beskou het nie. Hulle wil dikwels ander saam met hulle neem. In plaas van uit te gaan en hulle eie dissipels te maak, probeer baie afvalliges “om die dissipels [dit wil sê, Christus se dissipels] agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:29, 30). Die apostel Paulus het hierdie dringende waarskuwing in verband met valse onderrigters gegee: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer” (Kolossense 2:8). Beskryf dit nie wat baie afvalliges probeer doen nie? Soos ’n ontvoerder ’n niksvermoedende slagoffer van sy gesin af wegvoer, probeer afvalliges lede van die gemeente wat vertroue in hulle het, hulle prooi maak en hulle van die kudde af weglok.

8. Watter metodes gebruik afvalliges om hulle doel te bereik?

8 Watter metodes gebruik afvalliges om hulle doel te bereik? Hulle maak dikwels gebruik van verdraaide feite, halwe waarhede en blatante leuens. Jesus het geweet dat sy volgelinge aangeval sou word deur diegene wat “allerhande bose leuens teen [hulle] sou spreek” (Matteus 5:11, Today’s English Version). Sulke kwaadwillige teenstanders sou onwaarhede versprei met die doel om ander te bedrieg. Die apostel Petrus het teen afvalliges gewaarsku wat “valse woorde” sou gebruik, “bedrieglike leringe” sou versprei en ‘die Skrif sou verdraai’ om hulle eie oogmerke te bevorder (2 Petrus 2:3, 13; 3:16). Ongelukkig slaag afvalliges daarin om ‘die geloof van party te ondermyn’.—2 Timoteus 2:18.

9, 10. (a) Hoe kan ons daarteen waak dat afvalliges ons bedrieg? (b) Waarom ontstel dit ons nie dat ons begrip van God se voorneme soms aangepas moet word nie?

9 Hoe kan ons daarteen waak dat afvalliges ons bedrieg? Deur ag te slaan op die raad in God se Woord, wat sê: “[Hou] dié in die oog . . . wat, in stryd met die leer wat julle geleer het, verdeeldheid veroorsaak en tot struikeling aanleiding gee, en vermy hulle” (Romeine 16:17). Ons “vermy hulle” deur hulle redenasies—hetsy in persoon, in gedrukte vorm of op die Internet—te verwerp. Waarom neem ons so ’n standpunt in? Eerstens, omdat God se Woord vir ons sê om dit te doen, en ons is vol vertroue dat Jehovah altyd ons belange op die hart dra.—Jesaja 48:17, 18.

10 Tweedens, ons is lief vir die organisasie wat ons die kosbare waarhede geleer het wat ons so duidelik afskei van Babilon die Grote. Terselfdertyd besef ons dat ons kennis van God se voorneme nie volmaak is nie; ons begrip is al deur die jare heen aangepas. Lojale Christene is tevrede om op Jehovah te wag vir al hierdie verfynings (Spreuke 4:18). Intussen sal ons nie die organisasie verlaat wat God goedvind om te gebruik nie, want ons sien die duidelike bewyse dat sy seën daarop rus.—Handelinge 6:7; 1 Korintiërs 3:6.

Waak teen selfbedrog

11. Waarom is onvolmaakte mense geneig om hulleself te bedrieg?

11 Onvolmaakte mense het ’n neiging wat Satan gou is om uit te buit—selfbedrog. “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat”, sê Jeremia 17:9. En Jakobus het geskryf: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word” (Jakobus 1:14). As ons hart verlok word, kan dit in werklikheid sonde vir ons begeerlik laat lyk, as iets wat aangenaam en onskadelik is. So ’n beskouing is bedrieglik, want as ’n mens jou oorgee aan sonde, lei dit uiteindelik tot jou ondergang.—Romeine 8:6.

12. Op watter maniere kan selfbedrog ons verstrik?

12 Selfbedrog kan ons maklik verstrik. Die verraderlike hart kan ’n ernstige persoonlikheidsgebrek rasionaliseer of verskonings maak vir ’n growwe sonde (1 Samuel 15:13-15, 20, 21). Ons desperate hart kan ook na maniere soek om twyfelagtige gedrag te regverdig. Neem byvoorbeeld die kwessie van vermaak. Sekere vorme van vermaak is heilsaam en aangenaam. Maar baie van die vermaak wat hierdie wêreld aanbied—in rolprente en televisieprogramme en op die Internet—is onwelvoeglik en onsedelik. Dit is maklik om onsself daarvan te oortuig dat ons na verderflike vermaak kan kyk sonder dat dit enige skade sal doen. Party redeneer selfs: ‘Dit kwel nie my gewete nie; wat kan dus daarmee verkeerd wees?’ Maar sulke persone ‘bedrieg hulleself met valse redenering’.—Jakobus 1:22.

13, 14. (a) Watter skriftuurlike voorbeeld toon dat ons gewete nie altyd ’n betroubare gids is nie? (b) Hoe kan ons waak teen selfbedrog?

13 Hoe kan ons waak teen selfbedrog? Om mee te begin, ons moet onthou dat die mens se gewete nie altyd betroubaar is nie. Beskou die geval van die apostel Paulus. Voordat hy ’n Christen geword het, het hy volgelinge van Christus vervolg (Handelinge 9:1, 2). Sy gewete het hom moontlik nie op daardie tydstip gekwel nie. Maar dit was beslis nie reg opgelei nie. ‘Ek was onkundig en het in ’n gebrek aan geloof opgetree’, het Paulus gesê (1 Timoteus 1:13). Die blote feit dat ’n sekere vorm van vermaak nie ons gewete pla nie, is dus op sigself geen waarborg dat dit reg is nie. Slegs ’n gesonde gewete wat behoorlik opgelei is deur God se Woord, kan ’n betroubare gids wees.

14 As ons selfbedrog wil vermy, is daar ’n paar nuttige wenke wat ons in gedagte moet hou. Ondersoek jouself biddend (Psalm 26:2; 2 Korintiërs 13:5). Eerlike selfondersoek kan jou bewus maak van veranderinge wat jy in jou beskouing of gedrag moet aanbring. Luister na ander (Jakobus 1:19). Aangesien selfondersoek geneig is om eensydig te wees, is dit verstandig om na die onbevooroordeelde mening van ryp mede-Christene te luister. As jy vind dat jou besluite of optrede deur gebalanseerde, ervare medegelowiges bevraagteken word, kan jy jou gerus afvra: ‘Is my gewete dalk nie behoorlik opgelei nie of bedrieg my hart my moontlik?’ Voed jou gereeld met die Bybel en Bybelpublikasies (Psalm 1:2). As jy dit doen, sal dit jou help om jou gedagtes, gesindhede en gevoelens in ooreenstemming met godvrugtige beginsels te hou.

Waak teen Satan se leuens

15, 16. (a) Watter leuens gebruik Satan om ons te probeer bedrieg? (b) Hoe kan ons voorkom dat ons deur sulke leuens bedrieg word?

15 Satan gebruik ’n verskeidenheid leuens in sy pogings om ons te bedrieg. Hy probeer ons oortuig dat materiële besittings vir ons geluk en bevrediging verskaf, en tog is die teenoorgestelde dikwels waar (Prediker 5:10-12). Hy wil ons wysmaak dat hierdie goddelose stelsel vir ewig sal bestaan, hoewel daar duidelike bewyse is dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Satan bevorder die idee dat dit geen kwaad kan doen om ’n onsedelike lewenswyse te volg nie, hoewel genotsoekers dikwels die wrange vrugte van hulle dade pluk (Galasiërs 6:7). Hoe kan ons voorkom dat ons deur sulke leuens bedrieg word?

16 Vind baat by Bybelse voorbeelde. Die Bybel bevat waarskuwende voorbeelde van individue wat deur Satan se leuens bedrieg is. Hulle het ’n liefde vir materiële dinge gehad, die dringendheid van die tye uit die oog verloor of hulle aan onsedelikheid oorgegee—alles met slegte gevolge (Matteus 19:16-22; 24:36-42; Lukas 16:14; 1 Korintiërs 10:8-11). Leer uit hedendaagse voorbeelde. Ongelukkig is daar soms Christene wat hulle gevoel van dringendheid verloor en begin dink dat hulle iets goeds misloop omdat hulle God dien. Hulle verlaat dalk die waarheid om ’n lewe van sogenaamde genot te lei. Maar sulke persone is “op glibberige grond”, want vroeër of later sal hulle goddelose dade hulle inhaal (Psalm 73:18, 19). Ons sal verstandig wees as ons uit ander se foute leer.—Spreuke 22:3.

17. Waarom bevorder Satan die leuen dat Jehovah ons nie liefhet en dat ons nie waarde in Sy oë het nie?

17 Daar is nog ’n leuen wat Satan al met welslae gebruik het—die leuen dat Jehovah ons nie liefhet nie en dat ons geen waarde in Sy oë het nie. Satan bestudeer onvolmaakte mense al duisende jare lank. Hy weet goed dat ontmoediging ons kan verswak (Spreuke 24:10). Daarom bevorder hy die leuen dat ons geen waarde in God se oë het nie. As ons “neergewerp” voel en begin glo dat Jehovah nie vir ons omgee nie, kan ons in die versoeking kom om tou op te gooi (2 Korintiërs 4:9). Dit is presies wat die groot Bedrieër wil hê ons moet doen! Hoe kan ons dan daarteen waak dat ons deur hierdie sataniese leuen bedrieg word?

18. Hoe verseker die Bybel ons van Jehovah se liefde?

18 Neem persoonlik ter harte wat die Bybel oor God se liefde vir ons sê. God se Woord gebruik soms treffende illustrasies om ons te verseker dat Jehovah ons as individue raaksien en liefhet. Hy sit jou trane in sy “leersak”, wat beteken dat hy die trane wat jy stort in jou stryd om getrou te bly, sien en onthou (Psalm 56:8). Hy weet wanneer jy ‘gebroke van hart’ is en hy is op sulke tye naby jou (Psalm 34:18). Hy ken elke besonderheid omtrent jou, insluitende die aantal “hare op [jou] kop” (Matteus 10:29-31). Bowenal het God “sy enigverwekte Seun gegee” ten behoewe van jou (Johannes 3:16; Galasiërs 2:20). Soms vind jy dit dalk moeilik om te glo dat sulke tekste op jou persoonlik van toepassing is. Ons moet egter geloof stel in wat Jehovah vir ons sê. Hy wil hê dat ons moet glo dat hy ons liefhet, nie net as ’n groep nie, maar as individue.

19, 20. (a) Waarom is dit belangrik om die sataniese leuen dat Jehovah jou nie liefhet nie, te herken en te verwerp? (b) Hoe het ’n reisende opsiener neerslagtiges gehelp?

19 Herken en verwerp die leuen. As jy weet dat iemand ’n leuen vertel, sal jy jou nie maklik deur hom laat bedrieg nie. So ook kan die wete dat Satan jou die leuen wil laat glo dat Jehovah jou nie liefhet nie, ’n kragtige hulpmiddel wees. In reaksie op ’n artikel in Die Wagtoring wat oor Satan se taktiek gewaarsku het, het een Christen gesê: “Ek het nooit besef dat Satan my gevoelens gebruik om my te ontmoedig nie. Hierdie kennis gee my die motivering om teen hierdie gevoelens te stry.”

20 Beskou die ondervinding van ’n reisende opsiener in ’n land in Suid-Amerika. Wanneer hy herdersbesoeke doen by medegelowiges wat neerslagtig is, vra hy hulle dikwels: ‘Glo jy aan die Drie-eenheid?’ Die neerslagtige persoon antwoord gewoonlik: ‘Natuurlik nie’, want hy weet dit is een van Satan se leuens. Die reisende ouer man vra dan: ‘Glo jy aan die helse vuur?’ Weer eens is die antwoord: ‘Natuurlik nie!’ Dan sê die reisende ouer man vir hulle dat daar nog ’n sataniese leuen is wat gewoonlik nie as een herken word nie. Hy vestig hulle aandag op bladsy 249, paragraaf 21, van die boek Kom nader aan Jehovah,b wat die leuen dat Jehovah ons nie as individue liefhet nie, blootlê. Die reisende opsiener sê dat sy hulp aan neerslagtiges om hierdie sataniese leuen te herken en te verwerp, positiewe resultate opgelewer het.

Beskerm jouself teen bedrog

21, 22. Waarom is ons nie in die duister omtrent Satan se bedrieglike metodes nie, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

21 Gedurende hierdie finale deel van die laaste dae kan ons verwag dat Satan sal voortgaan om ’n vloedgolf leuens en bedrog te versprei. Gelukkig het Jehovah ons nie in die duister gelaat omtrent Satan se bedrieglike metodes nie. Die Bybel en die Bybelpublikasies van “die getroue en verstandige slaaf” stel die Duiwel se bose metodes duidelik aan die kaak (Matteus 24:45). Omdat ons gewaarsku is, kan ons dus gereed wees daarvoor.—2 Korintiërs 2:11.

22 Laat ons dan waak teen die redenasies van afvalliges. Mag ons vasbeslote wees om die subtiele strik van selfbedrog te vermy. En laat ons al Satan se leuens herken en verwerp. As ons dit doen, sal ons ’n goeie verhouding behou met “die God van waarheid”, wat bedrog haat.—Psalm 31:5; Spreuke 3:32.

[Voetnote]

a Aangaande die vorm van die werkwoord wat in Openbaring 12:9 as “mislei” vertaal word, sê een naslaanwerk dat dit “dui op ’n ononderbroke aksie wat ’n gewoonte geword het”.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Onthou jy?

• Waarom is daar vandag soveel bedrog in die wêreld?

• Hoe kan ons daarteen waak dat afvalliges ons bedrieg?

• Hoe kan ons waak teen enige neiging tot selfbedrog?

• Hoe kan ons voorkom dat ons deur sataniese leuens bedrieg word?

[Prent op bladsy 17]

Moenie jouself bedrieg wanneer dit by vermaak kom nie

[Prent op bladsy 18]

Waak teen selfbedrog deur biddend selfondersoek te doen, na ander te luister en jou gereeld met God se Woord te voed

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel