‘Die getroue slaaf’ deurstaan die toets!
“Dit is die vasgestelde tyd vir die oordeel om by die huis van God te begin.”—1 Petrus 4:17.
1. Wat het Jesus gevind toe hy die “slaaf” geïnspekteer het?
OP Pinkster 33 G.J. het Jesus ’n “slaaf” aangestel om voedsel op die regte tyd aan sy “huisknegte” te voorsien. In 1914 is Jesus as Koning op die troon geplaas, en kort daarna was dit tyd om daardie “slaaf” te inspekteer. Hy het gevind dat die “slaaf” hom grotendeels ‘getrou en verstandig’ betoon het. Gevolglik het hy hom “oor al sy besittings” aangestel (Matteus 24:45-47). Maar daar was ook ’n bose slaaf, wat nie getrou of verstandig was nie.
“Daardie bose slaaf”
2, 3. Waar het “daardie bose slaaf” vandaan gekom, en hoe het dit ontwikkel?
2 Jesus het van die bose slaaf gepraat onmiddellik nadat hy “die getroue en verstandige slaaf” bespreek het. Hy het gesê: “As daardie bose slaaf ooit in sy hart sou sê: ‘My heer talm om te kom’, en sy medeslawe sou begin slaan en saam met die verstokte dronkaards sou eet en drink, sal die heer van daardie slaaf op ’n dag kom dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur wat hy nie weet nie en hom met die grootste strengheid straf en hom sy deel by die huigelaars toewys. Dáár sal sy gehuil en die gekners van sy tande wees” (Matteus 24:48-51). Die uitdrukking “daardie bose slaaf” vestig ons aandag op Jesus se voorgaande woorde oor die getroue en verstandige slaaf. Ja, die “bose slaaf” het uit die geledere van die getroue slaaf gekom.a Hoe?
3 Voor 1914 het baie lede van die ‘getroue slaaf’-klas groot verwagtinge gehad om die Bruidegom daardie jaar in die hemel te ontmoet, maar hulle verwagtinge is nie vervul nie. As gevolg van hierdie en ander verwikkelinge was baie teleurgesteld en het ’n paar verbitterd geword. Party van hulle het hulle voormalige broers met woorde begin “slaan” en met “verstokte dronkaards”, godsdiensgroepe van die Christendom, begin omgaan.—Jesaja 28:1-3; 32:6.
4. Wat het Jesus gedoen met die “bose slaaf” en met almal wat dieselfde gees getoon het?
4 Hierdie voormalige Christene is as die “bose slaaf” geïdentifiseer, en Jesus het hulle met “die grootste strengheid” gestraf. Hoe? Hy het hulle verwerp, en hulle het hulle hemelse hoop verbeur. Hulle is egter nie dadelik vernietig nie. Hulle moes eers ’n tydperk van gehuil en gekners van tande in ‘die duisternis buite’ die Christengemeente verduur (Matteus 8:12). Sedert daardie vroeë dae het ’n paar ander gesalfdes ’n soortgelyke slegte gees geopenbaar en hulle met die “bose slaaf” geïdentifiseer. Party van die “ander skape” het hulle ontrouheid nagevolg (Johannes 10:16). Al hierdie vyande van die Christus beland in dieselfde geestelike “duisternis daar buite”.
5. Hoe het die getroue en verstandige slaaf gereageer, in teenstelling met die “bose slaaf”?
5 Nietemin het die getroue en verstandige slaaf dieselfde toetse as “daardie bose slaaf” deurgemaak. Hulle het nie verbitterd geword nie, maar het hulle eerder laat reghelp (2 Korintiërs 13:11). Hulle liefde vir Jehovah en hulle broers is versterk. Gevolglik was hulle “’n pilaar en stut van die waarheid” gedurende hierdie onstuimige “laaste dae”.—1 Timoteus 3:15; 2 Timoteus 3:1.
Verstandige en dwase maagde
6. (a) Hoe het Jesus die verstandigheid van sy ‘getroue slaaf’-klas toegelig? (b) Watter boodskap het gesalfde Christene voor 1914 verkondig?
6 Nadat Jesus van “daardie bose slaaf” gepraat het, het hy twee gelykenisse gegee om te toon waarom party gesalfde Christene getrou en verstandig sou wees en ander nie.b Om verstandigheid toe te lig, het hy gesê: “Die koninkryk van die hemele [sal] soos tien maagde word wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. Vyf van hulle was dwaas, en vyf was verstandig. Want die dwases het hulle lampe geneem, maar het geen olie saam met hulle geneem nie, maar die verstandiges het olie in hulle houers saam met hulle lampe geneem” (Matteus 25:1-4). Die tien maagde laat ons aan gesalfde Christene voor 1914 dink. Hulle het uitgewerk dat die bruidegom, Jesus Christus, op die punt gestaan het om te verskyn. Hulle het dus “uitgegaan” om hom te ontmoet en met vrymoedigheid verkondig dat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 sou eindig.—Lukas 21:24.
7. Wanneer en waarom het gesalfde Christene as ’t ware “aan die slaap geraak”?
7 Hulle was reg. Die vasgestelde tye van die nasies het wel in 1914 geëindig, en God se Koninkryk onder Christus Jesus het begin regeer. Maar dit was in die onsigbare hemele. Op aarde het die mensdom die voorspelde “wee” begin ondervind (Openbaring 12:10, 12). ’n Tyd van toetsing het gevolg. Gesalfde Christene het nie ’n duidelike begrip van sake gehad nie en het dus gedink dat ‘die bruidegom talm’. Omdat hulle verward was en voor die vyandigheid van die wêreld te staan gekom het, het hulle oor die algemeen traag geword en die georganiseerde openbare predikingswerk feitlik gestaak. Soos die maagde in die gelykenis het hulle in geestelike sin “ingesluimer en aan die slaap geraak”, net soos ontroue verklaarde Christene ná die dood van Jesus se apostels gedoen het.—Matteus 25:5; Openbaring 11:7, 8; 12:17.
8. Wat het gelei tot die geroep: “Hier is die bruidegom!” en wat was dit tyd vir gesalfde Christene om te doen?
8 Toe het daar in 1919 iets onverwags gebeur. Ons lees: “In die middel van die nag het daar ’n geroep opgegaan: ‘Hier is die bruidegom! Gaan uit om hom te ontmoet.’ Toe het al daardie maagde opgestaan en hulle lampe gereedgemaak” (Matteus 25:6, 7). Net toe dinge op hulle donkerste gelyk het, was daar ’n oproep om bedrywig te raak! In 1918 het Jesus, “die boodskapper van die verbond”, na Jehovah se geestelike tempel gekom om God se gemeente te inspekteer en te reinig (Maleagi 3:1). Nou moes gesalfde Christene uitgaan en hom in die aardse voorhowe van daardie tempel ontmoet. Dit was tyd vir hulle om ‘lig te versprei’.—Jesaja 60:1; Filippense 2:14, 15.
9, 10. Waarom was party Christene in 1919 “verstandig” en party “dwaas”?
9 Maar wag! In die gelykenis het party van die jong vroue ’n probleem gehad. Jesus het verder gesê: “Die dwases het vir die verstandiges gesê: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe is besig om uit te gaan’” (Matteus 25:8). Sonder olie sou die lampe nie lig gee nie. Lampolie laat ons dus dink aan God se Woord van waarheid en sy heilige gees, wat ware aanbidders in staat stel om ligdraers te wees (Psalm 119:130; Daniël 5:14). Voor 1919 het verstandige gesalfde Christene ywerig daarna gestreef om God se wil vir hulle te onderskei, ten spyte van hulle tydelik verswakte toestand. Daarom was hulle gereed toe die oproep kom om lig te versprei.—2 Timoteus 4:2; Hebreërs 10:24, 25.
10 Maar sekere gesalfdes was nie bereid om opofferinge te maak of hulle in te span nie—hoewel hulle ’n sterk begeerte gehad het om saam met die Bruidegom te wees. Toe dit dan tyd geword het om bedrywig te raak in die verkondiging van die goeie nuus, was hulle nie gereed nie (Matteus 24:14). Hulle het selfs probeer om hulle ywerige metgeselle te vertraag deur as ’t ware van hulle olie te vra. Hoe het die verstandige maagde in Jesus se gelykenis geantwoord? Hulle het gesê: “Miskien is daar nie heeltemal genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer na dié wat dit verkoop en koop vir julleself” (Matteus 25:9). Lojale gesalfde Christene in 1919 het eweneens geweier om enigiets te doen wat húlle vermoë om lig te dra, sou belemmer. Hulle het die inspeksie dus deurstaan.
11. Wat het met die dwase maagde gebeur?
11 Jesus sluit af: “Terwyl [die dwase maagde] gaan koop het, het die bruidegom daar aangekom, en die maagde wat gereed was, het saam met hom na die huweliksfees ingegaan; en die deur is gesluit. Agterna het die res van die maagde ook gekom en gesê: ‘Meneer, meneer, maak vir ons oop!’ Hy het geantwoord en gesê: ‘Ek vertel julle die waarheid: Ek ken julle nie’” (Matteus 25:10-12). Ja, party was nie voorbereid op die Bruidegom se aankoms nie. Hulle het dus nie die inspeksie deurstaan nie en die geleentheid verbeur om die hemelse huweliksfees by te woon. Hoe tragies tog!
Die gelykenis van die talente
12. (a) Wat het Jesus gebruik om getrouheid toe te lig? (b) Wie was die man wat “na die buiteland gegaan” het?
12 Nadat Jesus verstandigheid toegelig het, het hy getrouheid toegelig. Hy het gesê: “Dit is net soos toe ’n man, wat op die punt gestaan het om na die buiteland te reis, sy slawe ontbied en sy besittings aan hulle toevertrou het. En vir een het hy vyf talente gegee, vir ’n ander twee, vir nog ’n ander een, vir elkeen volgens sy eie vermoë, en hy het na die buiteland gegaan” (Matteus 25:14, 15). Die man in die gelykenis is Jesus, wat “na die buiteland gegaan” het toe hy in die jaar 33 G.J. opgevaar het hemel toe. Maar voor sy hemelvaart het Jesus “sy besittings” aan sy getroue dissipels toevertrou. Hoe?
13. Hoe het Jesus ’n groot veld van bedrywigheid voorberei en sy “slawe” gemagtig om handel te dryf?
13 Gedurende sy aardse bediening het Jesus ’n groot veld van bedrywigheid begin voorberei deur die goeie nuus van die Koninkryk deur die hele land van Israel te verkondig (Matteus 9:35-38). Voordat hy “na die buiteland gegaan” het, het hy daardie veld aan sy getroue dissipels toevertrou en gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:18-20). Met hierdie woorde het Jesus sy “slawe” gemagtig om handel te dryf tot sy terugkeer, “elkeen volgens sy eie vermoë”.
14. Waarom is daar nie van almal verwag om in dieselfde mate handel te dryf nie?
14 Dié uitdrukking dui daarop dat nie alle eerste-eeuse Christene dieselfde omstandighede of moontlikhede gehad het nie. Party, soos Paulus en Timoteus, was vry om ’n baie groot aandeel aan die predikings- en onderrigtingswerk te hê. Ander se omstandighede het moontlik hulle vryheid van optrede ernstig beperk. Party Christene was byvoorbeeld slawe, ander was sieklik, bejaard of het gesinsverantwoordelikhede gehad. Sekere gemeentelike voorregte was natuurlik nie vir alle dissipels beskikbaar nie. Gesalfde vroue en party gesalfde mans het nie in die gemeente onderrig nie (1 Korintiërs 14:34; 1 Timoteus 3:1; Jakobus 3:1). Maar wat hulle persoonlike situasie ook al was, al Christus se gesalfde dissipels—mans en vroue—het die toewysing gehad om handel te dryf, om hulle geleenthede en omstandighede goed te benut in die Christelike bediening. Hulle hedendaagse eweknieë doen dieselfde.
Die tyd vir inspeksie breek aan!
15, 16. (a) Wanneer was dit tyd om afrekening te hou? (b) Watter nuwe geleenthede om ‘handel te dryf’, is aan getroues gegee?
15 Die gelykenis gaan verder: “Ná ’n lang tyd het die heer van daardie slawe gekom en met hulle afrekening gehou” (Matteus 25:19). In 1914—beslis ’n lang tyd ná 33 G.J.—het Christus Jesus sy koninklike teenwoordigheid begin. Drie en ’n half jaar later, in 1918, het hy na God se geestelike tempel gekom en Petrus se woorde vervul: “Dit is die vasgestelde tyd vir die oordeel om by die huis van God te begin” (1 Petrus 4:17; Maleagi 3:1). Dit was tyd om afrekening te hou.
16 Wat het die slawe, Jesus se gesalfde broers, met die Koning se “talente” gedoen? Van 33 G.J. af, met inbegrip van die jare voor 1914, het baie hulle ingespan om vir Jesus ‘handel te dryf’ (Matteus 25:16). Selfs gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle ’n sterk begeerte geopenbaar om die Heer te dien. Nou was dit gepas om aan getroues nuwe geleenthede te gee om ‘handel te dryf’. Die tyd van die einde van hierdie stelsel van dinge het aangebreek. Die goeie nuus moes wêreldwyd verkondig word. “Die oes van die aarde” moes gemaai word (Openbaring 14:6, 7, 14-16). Die laaste lede van die koringklas moes gevind word en “’n groot menigte” ander skape moes ingesamel word.—Openbaring 7:9; Matteus 13:24-30.
17. Hoe het getroue gesalfde Christene ‘in die vreugde van hulle heer ingegaan’?
17 Die oestyd is ’n vreugdevolle tyd (Psalm 126:6). Dit is dan gepas dat Jesus, toe hy in 1919 groter verantwoordelikheid aan sy getroue gesalfde broers toevertrou het, gesê het: “Jy was oor ’n paar dinge getrou. Ek sal jou oor baie dinge aanstel. Gaan in die vreugde van jou heer in” (Matteus 25:21, 23). En die vreugde van die Heer as pas gekroonde Koning van God se Koninkryk oortref enigiets wat ons ons kan voorstel (Psalm 45:1, 2, 6, 7). Die ‘getroue slaaf’-klas deel in daardie vreugde deur die Koning te verteenwoordig en sy belange op aarde te vermeerder (2 Korintiërs 5:20). Hulle vreugde kan gesien word in die profetiese woorde van Jesaja 61:10: “Ek sal my vir seker in Jehovah verheug. My siel sal bly wees in my God. Want hy het my met die klere van redding beklee.”
18. Waarom het party nie die inspeksie deurstaan nie, en met watter gevolg?
18 Ongelukkig het party nie die inspeksie deurstaan nie. Ons lees: “Die een wat die een talent ontvang het, [het] vorentoe gekom en gesê: ‘Heer, ek het geweet dat u ’n veeleisende man is, wat oes waar u nie gesaai het nie en bymekaarmaak waar u nie uitgewan het nie. En ek het bang geword en weggegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort’” (Matteus 25:24, 25). Party gesalfde Christene het eweneens nie “handel gedryf” nie. Voor 1914 het hulle nie hulle hoop geesdriftig aan ander bekend gemaak nie, en in 1919 wou hulle nie daarmee begin nie. Hoe het Jesus op hulle vermetelheid gereageer? Hy het al hulle voorregte weggeneem. Hulle is ‘in die duisternis daar buite uitgegooi, waar hulle gehuil en die gekners van hulle tande sou wees’.—Matteus 25:28, 30.
Die inspeksie duur voort
19. In watter opsig duur die inspeksieproses voort, en wat is alle gesalfde Christene vasbeslote om te doen?
19 Die meerderheid van diegene wat gedurende die tyd van die einde Christus se gesalfde slawe sou word, het Jehovah natuurlik nog nie gedien toe Jesus sy inspeksie in 1918 begin het nie. Het hulle die inspeksie vrygespring? Glad nie. In 1918/19, toe die getroue en verstandige slaaf die toets as ’n klas deurstaan het, het die inspeksieproses maar net begin. Individuele gesalfde Christene bly onder inspeksie totdat hulle verseëling permanent gemaak word (Openbaring 7:1-3). Omdat hulle dit besef, is Christus se gesalfde broers vasbeslote om aan te hou om getrou ‘handel te dryf’. Hulle is vasbeslote om verstandig te wees en ’n oorvloedige voorraad olie te behou sodat die lig helder sal skyn. Elkeen van hulle het die versekering dat Jesus hom in die hemelse woonplek sal ontvang wanneer hy in getrouheid aan die einde van sy lewe kom.—Matteus 24:13; Johannes 14:2-4; 1 Korintiërs 15:50, 51.
20. (a) Wat is die ander skape vasbeslote om vandag te doen? (b) Waarvan is gesalfde Christene bewus?
20 Die groot menigte ander skape het hulle gesalfde broers nagevolg. Hulle is bewus dat hulle kennis van God se voornemens groot verantwoordelikheid meebring (Esegiël 3:17-21). Gevolglik sal ook hulle, met behulp van Jehovah se Woord en heilige gees, sorg dat hulle voorraad olie oorvloedig bly deur middel van studie en omgang. En hulle laat hulle lig skyn deur aan die predikings- en onderrigtingswerk deel te neem en sodoende saam met hulle gesalfde broers ‘handel te dryf’. Gesalfde Christene is egter deeglik bewus dat die talente aan húlle toevertrou is. Hulle moet rekenskap gee van hoe die Here se besittings op aarde bestuur word. Al is daar min van hulle, kan hulle nie hulle verantwoordelikheid op die groot menigte afskuif nie. Daarom gaan die getroue en verstandige slaaf voort om die leiding te neem om na die Koning se sake om te sien, terwyl hulle dankbaar is vir die ondersteuning van toegewyde lede van die groot menigte. Laasgenoemde erken die verantwoordelikheid van hulle gesalfde broers en beskou dit as ’n voorreg om onder hulle toesig te werk.
21. Watter vermaning is van voor 1919 tot vandag toe op alle Christene van toepassing?
21 Hoewel hierdie twee gelykenisse lig werp op gebeure wat om en by 1919 plaasgevind het, is hulle dus in beginsel op alle ware Christene dwarsdeur die laaste dae van toepassing. Al is die vermaning wat Jesus aan die einde van die gelykenis van die tien maagde gegee het, eerstens op gesalfde Christene voor 1919 van toepassing, is dit eweneens nog altyd in beginsel op elke Christen van toepassing. Mag ons almal dan Jesus se woorde ter harte neem: “Hou dus aan waak, want julle weet nie die dag en ook nie die uur nie.”—Matteus 25:13.
[Voetnote]
a Ná die dood van die apostels het “onderdrukkende wolwe” eweneens uit die geledere van gesalfde Christen- ouer manne gekom.—Handelinge 20:29, 30.
b Sien Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, uitgegee deur Jehovah se Getuies, hoofstukke 5 en 6, vir nog ’n bespreking van Jesus se gelykenis.
Kan jy verduidelik?
• Wanneer het Jesus sy volgelinge geïnspekteer, en wat het hy gevind?
• Waarom het party gesalfde Christene die gees van “daardie bose slaaf” ontwikkel?
• Hoe kan ons toon dat ons geestelik verstandig is?
• In watter opsig kan ons in navolging van Jesus se getroue gesalfde broers bly ‘handel dryf’?
[Venster op bladsy 16]
WANNEER KOM JESUS?
In Matteus hoofstukke 24 en 25 word daar in verskillende kontekste gesê dat Jesus “kom”. Dit is nie vir hom nodig om fisies te beweeg om te “kom” nie. Hy “kom” eerder in die sin dat hy sy aandag tot die mensdom of tot sy volgelinge wend, dikwels om te oordeel. In 1914 het hy dus “gekom” om sy teenwoordigheid as gekroonde Koning te begin (Matteus 16:28; 17:1; Handelinge 1:11). In 1918 het hy as boodskapper van die verbond “gekom” en diegene wat beweer het dat hulle Jehovah dien, begin oordeel (Maleagi 3:1-3; 1 Petrus 4:17). By Armageddon sal hy “kom” om oordeel aan Jehovah se vyande te voltrek.—Openbaring 19:11-16.
Die koms (of, aankoms) waarna ’n paar keer in Matteus 24:29-44 en 25:31-46 verwys word, is by “die groot verdrukking” (Openbaring 7:14). Daarteenoor het die koms waarna ’n paar keer in Matteus 24:45 tot 25:30 verwys word, te doen met die feit dat hy verklaarde dissipels van 1918 af oordeel. Dit sou nie redelik wees om byvoorbeeld te sê dat die beloning van die getroue slaaf, die veroordeling van die dwase maagde en die veroordeling van die trae slaaf, wat die Heer se talent weggesteek het, sal plaasvind wanneer Jesus by die groot verdrukking “kom” nie. Dit sou te kenne gee dat baie van die gesalfdes dan ontrou bevind sal word en dus vervang sal moet word. Openbaring 7:3 toon egter dat al Christus se gesalfde slawe teen daardie tyd permanent “verseël” sal wees.
[Prent op bladsy 14]
Die “bose slaaf” het geen seëninge in 1919 ontvang nie
[Prent op bladsy 15]
Die wyse maagde was gereed toe die bruidegom aangekom het
[Prent op bladsy 17]
Die getroue slawe het “handel gedryf”
Die trae slaaf het nie
[Prente op bladsy 18]
Die gesalfdes en die “groot menigte” gaan voort om hulle lig te laat skyn