Lewensverhaal
Klein opofferings het vir ons groot seëninge meegebring
SOOS VERTEL DEUR GEORGE EN ANN ALJIAN
Ek en my vrou sou nooit kon dink dat ons eendag “onderrigter” met “muis” sou verwar nie. Ons het nooit verwag dat ons in ons sestigerjare vreemde geskrewe karakters sou bestudeer in ’n poging om met mense uit die Verre-Ooste te kommunikeer nie. Tog is dit wat ek en Ann in die laat 1980’s gedoen het. Maar laat ons vertel hoe die klein opofferings wat ons oor die jare heen gemaak het, tot baie seëninge gelei het.
MY FAMILIE is van Armeense afkoms, en ek het aan die Armeense Kerk behoort. Ann was ’n Rooms-Katoliek. Ons het tot ’n vergelyk gekom wat ons godsdiensoortuigings betref toe ons in 1950 getroud is. Ek was 27 jaar oud en Ann was 24. Ons het in ’n woonstel bokant my droogskoonmakery gaan bly in die stad Jersey, New Jersey, VSA. Teen daardie tyd het ek die onderneming al sowat vier jaar gehad.
In 1955 het ons ’n pragtige huis met drie slaapkamers in Middletown, New Jersey, gekoop. Die huis was omtrent 60 kilometer van my onderneming af, waar ek ses dae per week gewerk het. Ek het elke aand laat by die huis gekom. My enigste kontak met Jehovah se Getuies was wanneer hulle van tyd tot tyd na my winkel toe gekom en Bybellektuur by my gelaat het. Ek het die lektuur met groot belangstelling gelees. Hoewel my onderneming die meeste van my tyd en aandag in beslag geneem het, het ek ’n diepe respek vir die Bybel ontwikkel.
Ek het kort daarna uitgevind dat die Wagtoring se radiostasie, WBBR, Bybeltoesprake uitsaai gedurende die tyd dat ek na my winkel toe en terug gery het. Ek het aandagtig na hierdie toesprake geluister, en my belangstelling het in so ’n mate toegeneem dat ek die Getuies gevra het om my te besoek. In November 1957 het George Blanton my by my huis besoek en ’n Bybelstudie met my begin.
Ons gesin word verenig in rein aanbidding
Hoe het Ann hieroor gevoel? Laat sy julle vertel.
“Aanvanklik het ek hom hewig teëgestaan. Ek het soveel steurnisse gedurende George se Bybelstudie veroorsaak dat hy besluit het om die studie op ’n ander plek te hou, wat hy agt maande lank gedoen het. Gedurende daardie tyd het George op Sondae vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Ek het toe besef dat hy ernstig was oor sy Bybelstudie, want dit was sy enigste af dag. Tog was hy steeds ’n goeie man en vader—en selfs in groter mate—en my gesindheid het begin verander. Trouens, soms wanneer ek die koffietafel afgestof en niemand gekyk het nie, het ek die Ontwaak! wat George altyd daar gelos het, opgetel en gelees. Ander kere het George vir my Ontwaak!-artikels gelees wat nie spesifiek oor leerstellings gehandel het nie, maar wat altyd die aandag op die Skepper gevestig het.
“Een aand, terwyl George uit was vir sy Bybelstudie saam met broer Blanton, het ek ’n publikasie opgetel wat ons tweejarige seuntjie, George, op die tafeltjie langs my bed gesit het. Dit het gehandel oor watter hoop daar vir die dooies is. Hoewel ek moeg was, het ek dit begin lees omdat my ouma kort tevore oorlede is en ek baie neerslagtig gevoel het. Ek het onmiddellik die Bybelwaarheid begryp dat die dooies nie êrens ly nie en dat hulle in die toekoms opgewek sal word. Ek het teen dié tyd penregop in die bed gesit, aandagtig verder gelees en punte onderstreep wat ek vir George wou wys wanneer hy ná sy Bybelstudie by die huis kom.
“My man kon skaars glo dat ek dieselfde mens was. Toe hy by die huis weg is, het ek hom teëgestaan, en nou was ek in ekstase oor die wonderlike Bybelwaarhede wat ek geleer het! Ons het tot in die vroeë oggendure oor die Bybel gepraat. George het verduidelik wat God se voorneme met die aarde is. Ek het hom daardie selfde nag gevra of hy sy studie by die huis kon hê sodat ek dit kon bywoon.
“Broer Blanton het voorgestel dat die kinders bysit tydens ons studie. Ons het gedink dat hulle te klein is, want hulle was maar net twee en vier jaar oud. Maar broer Blanton het vir ons Deuteronomium 31:12 gewys, wat sê: ‘Laat die volk bymekaarkom, die manne en die vroue en die kindertjies, . . . sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer.’ Ons het daardie raad waardeer en die kinders selfs laat antwoord tydens die Bybelstudie. Ons het ons antwoorde saam voorberei, maar het nooit vir hulle gesê wat om te antwoord nie. Ons voel dat dit ons kinders gehelp het om die waarheid hulle eie te maak. Ons sal altyd dankbaar wees teenoor broer Blanton vir sy raad wat ons gesin gehelp het om geestelik te groei.”
Uitdagings wat opofferings geverg het
Noudat ons verenig was in ons studie van die Bybel, het ons voor nuwe uitdagings te staan gekom. Aangesien my winkel so ver van die huis af was, het ek gewoonlik nie voor negeuur in die aand by die huis gekom nie. Gevolglik kon ek nie in die week vergaderinge bywoon nie, hoewel ek dit op Sondae kon doen. Teen daardie tyd het Ann al die vergaderinge bygewoon en vinnig vordering gemaak. Ek wou ook al die vergaderinge bywoon, en ek wou ’n betekenisvolle gesinstudie hou. Ek het geweet dat ek opofferings sou moes maak. Ek het dus besluit om my winkelure te verkort, al sou ek dalk van my klante verloor.
Dit het baie goed uitgewerk. Ons het die gesinstudie net so belangrik soos die ander vyf weeklikse vergaderinge by die Koninkryksaal beskou. Ons het dit ons sesde vergadering genoem. Daarom is dit op ’n spesifieke dag en tyd gehou—elke Woensdag om 8:00 nm. Ná aandete, terwyl ons in die kombuis die laaste skottelgoed weggepak het, het een van ons soms gesê: “Dis amper tyd vir die ‘vergadering’!” Ann het met die studie begin as ek laat was, en ek het oorgeneem sodra ek by die huis gekom het.
Nog iets wat ons as ’n gesin sterk en verenig gehou het, was om die dagteks saam te lees in die oggend. Maar dit was nie so maklik om dit reg te kry nie. Almal het op verskillende tye opgestaan. Ons het dit bespreek en besluit om almal dieselfde tyd op te staan, om 6:30 vm. ontbyt te eet en dan die dagteks saam te bespreek. Ons het baie daarby baat gevind. Toe ons seuns groot was, het hulle besluit om Betheldiens te betree. Ons het gevoel dat hierdie daaglikse besprekings tot hulle geestelikheid bygedra het.
Voorregte ná ons doop verg groter opofferings
Ek is in 1962 gedoop, en nadat ek my onderneming 21 jaar lank gehad het, het ek dit verkoop en plaaslik werk gekry om nader aan my gesin te wees sodat ons Jehovah saam kon dien. Dit het die weg berei vir baie seëninge. Ons het dit ons doelwit gemaak om almal die voltydse bediening te betree. Dit het vroeg in die 1970’s begin toe ons ouer seun, Edward, ’n voltydse bedienaar, of gewone pionier, geword het pas nadat hy met skool klaargemaak het. ’n Bietjie later het ons seun George begin pionier, en kort daarna Ann. Hulle al drie het my baie aangemoedig deur vir my van die ondervindinge te vertel wat hulle in die velddiens gehad het. Ons het as ’n gesin bespreek wat ons kon doen om ons lewe te vereenvoudig sodat ons almal in die voltydse diens kon wees. Ons het besluit om die huis te verkoop. Ons het 18 jaar lank in daardie huis gewoon en ons gesin daar grootgemaak. Ons was werklik baie lief vir ons huis, maar Jehovah het ons besluit geseën.
Edward is in 1972 na Bethel genooi, en George in 1974. Hoewel ek en Ann hulle gemis het, het ons nie bly dink aan hoe lekker dit sou gewees het as hulle in ons omgewing gewoon, getrou en kinders gehad het nie. Ons was eerder verheug dat ons seuns Jehovah by Bethel dien.a Ons stem saam met die woorde in Spreuke 23:15, wat sê: “My seun, as jou hart wys geword het, sal my hart bly wees, ja myne.”
Ons word spesiale pioniers
Ons twee seuns was in Bethel en ons het voortgegaan om te pionier. Toe, eendag in 1975, het ons ’n brief ontvang waarin ons genooi is om spesiale pionierdiens te doen in ontoegekende gebied in die Clinton-distrik, Illinois. Wat ’n verrassing was dit tog nie! Dit het beteken dat ons New Jersey moes verlaat, waar ons naby ons seuns in New York was en waar ons vriende en familie was. Maar ons het dit beskou as ’n toewysing van Jehovah af en die opoffering gemaak, wat tot nuwe seëninge gelei het.
Nadat ons etlike maande in die ontoegekende gebied gewerk het, het ons begin om vergaderinge in ’n gemeenskapsaal in Carlyle, Illinois, te hou. Maar ons wou ’n permanente plek hê om te vergader. ’n Plaaslike broer en sy vrou het ’n stuk grond gekry met ’n klein kothuis daarop wat ons kon huur. Ons het dit skoongemaak—buitetoilet inkluis—en dit in ’n klein vergaderplek omskep. Ons onthou nog ’n nuuskierige perd wat sy kop dikwels by die venster ingesteek het om te kyk wat by die vergadering aan die gang was!
Mettertyd is die Carlyle-gemeente gestig, en ons is bly dat ons ’n aandeel daaraan kon hê. Ons het die hulp gehad van ’n jong pionieregpaar, Steve en Karil Thompson, wat ook in die ontoegekende gebied kom werk het. Die Thompsons was ’n hele paar jaar daar en het later die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en ’n sendingtoewysing in Oos-Afrika ontvang, waar hulle in die reisende werk dien.
Ons klein vergaderplek het gou te beknop geraak, en ons het ’n groter saal nodig gehad. Dieselfde plaaslike broer en sy vrou het ons weer te hulp gekom en eiendom gekoop wat geskikter was vir ’n Koninkryksaal. Hoe verheug was ons tog toe ons ’n paar jaar later na die toewyding van ’n nuwe Koninkryksaal in Carlyle genooi is! Ek het die voorreg gehad om die toewydingstoespraak te hou. Ons toewysing daar was vir ons ’n wonderlike ondervinding, ’n seën van Jehovah.
Ons betree ’n nuwe veld
In 1979 het ons ’n nuwe toewysing in Harrison, New Jersey, ontvang. Daar het ons ongeveer 12 jaar lank gedien. Gedurende daardie tyd het ons ’n Bybelstudie met ’n Chinese vrou begin, en dit het tot baie ander studies met Chinese mense gelei. Intussen het ons uitgevind dat duisende Chinese studente en gesinne in ons gebied woon. Dit het ons aangespoor om Chinees te leer. Hoewel ons elke dag tyd opsy moes sit om die taal te leer, het dit gelei tot talle aangename Bybelstudies met Chinese mense in ons gebied.
Gedurende daardie jare het ons talle komiese ondervindinge gehad, veral in ons pogings om Chinees te praat. Eendag het Ann haar voorgestel as ’n “Bybelmuis” pleks van ’n “Bybelonderrigter”. Die woorde is baie dieselfde. Die huisbewoner het geglimlag en gesê: “Kom asseblief in. Ek het nog nooit voorheen met ’n Bybelmuis gepraat nie.” Ons sukkel nog steeds met die taal.
Toe is ons na ’n ander plek in New Jersey gestuur waar ons verder in die Chinese veld kon werk. Later is ons genooi om na Boston, Massachusetts, te gaan, waar daar toe al sowat drie jaar ’n Chinese groep was. Dit was ons voorreg om die afgelope sewe jaar saam met hierdie groep te werk en die vreugde te smaak om te sien hoe dit op 1 Januarie 2003 ’n gemeente word.
Geseën vir ons selfopoffering
In Maleagi 3:10 lees ons Jehovah se uitnodiging aan sy volk om hulle gawes en offerandes te bring sodat hy sy seëninge kan uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie. Ons het ’n onderneming opgegee wat my na aan die hart gelê het. Ons het ons huis verkoop, waarvoor ons baie lief was. En ons het ander dinge prysgegee. Maar in vergelyking met die seëninge was die opofferings klein.
En watter ryk seëninge het Jehovah tog op ons uitgestort! Ons het die bevrediging gehad om te sien hoe ons kinders gunstig op die waarheid reageer, ons het die vreugde gehad om voltyds aan ’n lewensreddende bediening deel te neem en ons het gesien hoe Jehovah in ons behoeftes voorsien. Ja, ons klein opofferings het vir ons groot seëninge meegebring!
[Voetnoot]
a Hulle dien nog steeds getrou by Bethel—Edward en sy vrou, Connie, by Patterson en George en sy vrou, Grace, by Brooklyn.
[Prent op bladsy 25]
Louise en George Blanton saam met Ann, 1991
[Prent op bladsy 26]
Die Koninkryksaal in Carlyle, toegewy op 4 Junie 1983
[Prent op bladsy 27]
Saam met die pas gestigte Chinese gemeente in Boston
[Prent op bladsy 28]
Saam met Edward, Connie, George en Grace