Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 4/15 bl. 4-7
  • Wanneer God se wil op aarde geskied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer God se wil op aarde geskied
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se wil gedurende ’n tyd van opstand
  • “Laat u wil geskied”—in volle mate
  • God se Koninkryk—die aarde se nuwe heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ’n Geskil wat jou raak
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Sal ons aarde ooit vernietig word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 4/15 bl. 4-7

Wanneer God se wil op aarde geskied

TOE Jesus sy dissipels leer bid het: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”, het hy gepraat as iemand wat in die hemel saam met die Vader geleef het (Matteus 6:10; Johannes 1:18; 3:13; 8:42). In sy voormenslike bestaan het Jesus die tyd beleef toe alles wat in die hemel en op die aarde gebeur het, in ooreenstemming met God se wil was. Dit was vreugdevolle tye van voldoening waarin baie tot stand gebring is.—Spreuke 8:27-31.

God het heel eerste geesskepsele voortgebring—“sy engele, magtig in krag, wat sy woord uitvoer”. Hulle was en is “sy dienaars, wat sy wil doen” (Psalm 103:20, 21). Het elkeen sy eie wil gehad? Ja, en met die grondlegging van die aarde het hierdie “seuns van God begin juig” (Job 38:7). Hulle gejuig het getoon dat hulle persoonlik behae geskep het in God se voorneme, en hulle het hulle wil na syne geskik.

Nadat God die aarde geskep het, het hy dit voorberei sodat mense daarop kon woon en toe die eerste man en vrou geskep (Genesis, hoofstuk 1). Was dit ook iets om oor te juig? Die geïnspireerde verslag sê: “Daarna het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed”, ja, foutloos, volmaak.—Genesis 1:31.

Wat was God se wil vir ons eerste ouers en hulle nageslag? Volgens Genesis 1:28 was dit ook baie goed: “God [het] hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees.’” Om daardie wonderlike opdrag uit te voer, sou ons eerste ouers moes bly lewe—vir ewig—en so ook hulle nageslag. Tragedie, ongeregtigheid, hartseer of die dood was glad nie ter sprake nie.

Dit was ’n tyd toe God se wil in die hemel sowel as op die aarde geskied het. Diegene wat sy wil gedoen het, sou groot vreugde daaruit put. Wat het verkeerd geloop?

’n Onverwagte uitdaging is ten opsigte van God se wil gerig. Nee, dit was nie onoplosbaar nie. Maar dit was die begin van ’n lang tydperk van hartseer en droefheid wat tot groot verwarring oor God se wil vir die mensdom sou lei. Ons almal is slagoffers daarvan. Wat was daardie uitdaging?

God se wil gedurende ’n tyd van opstand

Een van die ‘geesseuns van God’ het ’n geleentheid gesien om met God se wil vir die mens in te meng, met die doel om homself te bevoordeel. Hoe meer hierdie geesskepsel die moontlikheid oorweeg het, hoe uitvoerbaarder het dit gelyk en hoe aantrekliker het dit geword (Jakobus 1:14, 15). Hy het dalk geredeneer dat God verplig sou wees om ’n mededingende soewereiniteit te duld as die eerste mensepaar oorgehaal kon word om na hom pleks van na God te luister. Hy het dalk gereken dat God hulle nie sou teregstel nie, omdat dit sou beteken dat God se voorneme gefaal het. Jehovah God sou eerder sy voorneme moes aanpas en die posisie moes aanvaar van sy geesseun wat nou deur Sy menseskepping gehoorsaam sou word. Daardie rebel is later heel gepas Satan, dit wil sê “Teenstander”, genoem.—Job 1:6, voetnoot in NW.

Satan het aan sy begeerte toegegee en die vrou genader. Hy het haar aangespoor om God se wil te ignoreer en om sedelik onafhanklik te word, deur te sê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. . . . Julle [sal] sekerlik soos God . . . word deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:1-5). Vir die vrou het dit bevrydend geklink, en sy het dít aanvaar wat vir haar na ’n beter lewe gelyk het. Later het sy haar man oorreed om by haar aan te sluit.—Genesis 3:6.

Dit was nie God se wil vir die twee nie. Dit was húlle wil. En dit sou rampspoedige gevolge hê. God het vroeër vir hulle gesê dat so ’n weg tot hulle dood sou lei (Genesis 3:3). Hulle is nie geskep om met sukses onafhanklik van God te wees nie (Jeremia 10:23). Daarbenewens sou hulle onvolmaak word, en onvolmaaktheid en die dood sou nou aan hulle nageslag oorgedra word (Romeine 5:12). Satan kon nie hierdie gevolge ongedaan maak nie.

Het hierdie verwikkelinge God se voorneme, of wil, vir die mens en die aarde vir ewig verander? Nee (Jesaja 55:9-11). Maar dit het wel geskille laat ontstaan wat besleg moes word: Kan die mens “soos God . . . word deur goed en kwaad te ken”, soos Satan beweer het? Kan ons dus, as ons genoeg tyd het, self bepaal wat reg en verkeerd is, wat voordelig en skadelik is, in alle aspekte van die lewe? Verdien God algehele gehoorsaamheid omdat sy manier van regeer die beste is? Verdien sy wil ons heelhartige ondersteuning? Hoe sal jy antwoord?

Daar was net een manier om hierdie geskille voor die oë van die hele intelligente skepping te besleg: Laat diegene wat onafhanklikheid wou hê, ’n sukses daarvan probeer maak. Om hulle eenvoudig dood te maak, sou nie die geskille besleg wat geopper is nie. As die mensdom toegelaat sou word om lank genoeg voort te bestaan, sou dit die saak oplos, omdat die gevolge duidelik sou word. God het te kenne gegee dat hy sake op hierdie manier sou hanteer toe hy vir die vrou gesê het dat sy kinders sou hê. So sou ’n mensegesin in aansyn kom. Dit is te danke hieraan dat ons vandag lewe!—Genesis 3:16, 20.

Maar dit het nie beteken dat God mense en die opstandige geesseun sou toelaat om te doen net wat hulle wou nie. God het nie afstand gedoen van sy soewereiniteit nie, en hy het ook nie sy voorneme laat vaar nie (Psalm 83:18). Hy het dit duidelik gemaak toe hy voorspel het dat die aanstigter van die opstand uiteindelik verbrysel sal word en dat alle slegte gevolge ongedaan gemaak sal word (Genesis 3:15). Uit die staanspoor is die mensegesin dus verligting belowe.

Intussen het ons eerste ouers hulleself en hulle toekomstige nageslag afgesny van God se heerskappy. As God hulle teen al die hartseer gevolge van hulle besluit wou beskerm, sou hy om elke hoek en draai sy wil op hulle moes afdwing. Dit sou dieselfde gewees het as om hulle glad nie toe te laat om onafhanklik te probeer lewe nie.

Individue kon natuurlik God se heerskappy kies. Hulle kon leer wat God se wil vir mense gedurende hierdie tyd is en na die beste van hulle vermoë daarvolgens lewe (Psalm 143:10). Hulle sou egter nie immuun teen probleme wees nie, nie solank die geskil van die mensdom se algehele onafhanklikheid nog nie besleg was nie.

Die gevolge van persoonlike keuse het vroeg reeds duidelik geword. Die eersgeborene van die mensegesin, Kain, het sy broer Abel doodgemaak omdat “sy eie werke goddeloos was, maar dié van sy broer regverdig” (1 Johannes 3:12). Dit was nie God se wil nie, want God het Kain gewaarsku en hom later gestraf (Genesis 4:3-12). Kain het die sedelike onafhanklikheid gekies wat Satan aangebied het; hy het dus sy “oorsprong by die bose gehad”. Ander het dieselfde gedoen.

Meer as 1 500 jaar later in die mensegeskiedenis het ‘die aarde verdorwe geraak voor die oë van die ware God, en die aarde het vol geweld geraak’ (Genesis 6:11). Beslissende optrede was nodig om te voorkom dat die aarde verderf word. God het opgetree deur ’n aardwye vloed te bring en die enigste regverdige familie op aarde, te beskerm—Noag, sy vrou, sy seuns en hulle vrouens (Genesis 7:1). Ons almal stam van hulle af.

Gedurende die mensegeskiedenis sedertdien het God leiding voorsien vir diegene wat opreg begeer om sy wil te leer ken. Hy het lojale manne geïnspireer om sy woorde neer te skryf vir enigeen wat sy leiding wil hê. Hierdie woorde is in die Bybel opgeteken (2 Timoteus 3:16). Hy het getroue mense liefdevol toegelaat om in ’n verhouding met hom te kom, om selfs sy vriende te word (Jesaja 41:8). En hy het hulle die nodige krag gegee om staande te bly onder die moeilike beproewinge wat die mensdom ondervind het gedurende hierdie millenniums van onafhanklikheid (Psalm 46:1; Filippense 4:13). Hoe dankbaar kan ons tog wees vir al hierdie dinge!

“Laat u wil geskied”—in volle mate

Wat God tot dusver gedoen het, is nie al wat hy vir die mensdom gaan doen nie. Die Christenapostel Petrus het geskryf: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Hierdie simboliese taal verwys na ’n nuwe regeringsowerheid oor die mensdom en ’n nuwe mensegemeenskap onder daardie regering.

Die profeet Daniël het duidelik geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. . . . Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Hierdie profesie voorspel dat die teenswoordige gedoemde stelsel van dinge tot ’n einde gaan kom, en dat die Koninkryk van God, of sy regering, dit gaan vervang. Watter goeie nuus is dit tog nie! Die konflikte en selfsug wat vandag se wêreld met geweld vul en wat weer eens dreig om die aarde te verderf, sal eendag iets van die verlede wees.

Wanneer sal hierdie dinge gebeur? Jesus se dissipels het gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Jesus het onder andere gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:3, 14.

Dit is algemene kennis dat hierdie predikingswerk nou wêreldwyd gedoen word. Jy het moontlik al in jou eie buurt gesien hoe dit gedoen word. In sy boek These Also Believe skryf professor Charles S. Braden: “Jehovah se Getuies het letterlik die aarde met hulle getuieniswerk gedek. . . . Geen godsdiensgroep in die wêreld het groter ywer en volharding geopenbaar om die goeie nuus van die Koninkryk te probeer versprei as Jehovah se Getuies nie.” Die Getuies verkondig hierdie goeie nuus ywerig in meer as 230 lande en in byna 400 tale. Hierdie voorspelde werk is nog nooit op so ’n wêreldskaal gedoen nie. Dit is een van talle bewyse dat die tyd nou nader kom vir daardie Koninkryk om menseregerings te vervang.

Die Koninkryk wat volgens Jesus verkondig sou word, is dieselfde een waarvoor hy ons in sy modelgebed leer bid het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Ja, daardie Koninkryk is die instrument wat God sal gebruik om sy voorneme, sy wil, met die mensdom en die aarde uit te voer.

Wat beteken dit? Laat Openbaring 21:3, 4 antwoord: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’” Dan sal God se wil inderdaad op die aarde en in die hemel geskied—in volle mate.a Sal jy nie graag hierin wil deel nie?

[Voetnoot]

a As jy meer oor God se Koninkryk wil leer, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of na een van die adresse op bladsy 2 van hierdie tydskrif skryf.

[Prent op bladsy 5]

Onafhanklikheid van God se wil het tragiese gevolge gehad

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel