Staan neutraliteit in die weg van Christelike liefde?
OM ’N Christen te wees, behels meer as om net die Bybel te lees, te bid en gesange te sing op ’n Sondag. Dit behels dat ons dinge doen vir God sowel as vir mense. Die Bybel sê: “Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Johannes 3:18). Jesus het opregte besorgdheid teenoor ander betoon, en Christene wil hom navolg. Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om altyd “baie [te hê] om in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Maar wat is die werk van die Here? Sluit dit pogings in om die regeringsbeleid tot voordeel van die armes en onderdruktes te verander? Is dit wat Jesus gedoen het?
Hoewel mense Jesus aangespoor het om in politieke sake in te meng of kant te kies, het hy geweier om dit te doen. Hy het Satan se aanbod verwerp om hom mag oor al die koninkryke van die wêreld te gee, hy het geweier om betrokke te raak by ’n argument oor die betaling van belasting, en toe ’n gewilde beweging hom koning wou maak, het hy padgegee (Matteus 4:8-10; 22:17-21; Johannes 6:15). Maar sy neutraliteit het hom nie verhinder om werk te doen wat ander tot voordeel gestrek het nie.
Jesus het gekonsentreer op die dinge wat vir ander blywende voordele kon bring. Toe hy die vyfduisend gevoed het en siekes gesond gemaak het, het dit wel tydelike verligting vir ’n paar mense gebring, maar sy leringe het ewige seëninge vir die hele mensdom in die vooruitsig gestel. Jesus het bekend geword, nie as ’n organiseerder van noodleniging nie, maar bloot as “die Leermeester” (Matteus 26:18; Markus 5:35; Johannes 11:28). Hy het gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig.”—Johannes 18:37.
Iets beters as ’n politieke boodskap
Die waarheid wat Jesus mense geleer het, was nie ’n politieke teorie nie. Dit het eerder gedraai om die Koninkryk waarvan hy self die Koning sou wees (Lukas 4:43). Hierdie Koninkryk is ’n hemelse regering, en dit sal alle menseregerings vervang en blywende vrede vir die mensdom bring (Jesaja 9:6, 7; 11:9; Daniël 2:44). Dit is derhalwe die enigste ware hoop vir die mensdom. Sal dit dan nie ’n groter blyk van liefde wees om so ’n betroubare hoop vir die toekoms te verkondig as om ander aan te spoor om op mense te vertrou vir ’n veilige toekoms nie? Die Bybel sê: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes. Gelukkig is hy wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop op Jehovah sy God is” (Psalm 146:3-5). Jesus het sy dissipels dus nie uitgestuur om ’n beter manier te verkondig om regerings te organiseer nie, maar het hulle eerder geleer om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig.—Matteus 10:6, 7; 24:14.
Dít is dus “die werk van die Here” wat Christenpredikers beveel is om te doen. Omdat daar van onderdane van God se Koninkryk vereis word om mekaar lief te hê, sal die Koninkryk daarin slaag om armoede uit die weg te ruim deur die mensdom se middele eweredig te versprei (Psalm 72:8, 12, 13). Dít is goeie nuus en is beslis iets wat verkondig moet word.
Vandag is Jehovah se Getuies in 235 lande georganiseer vir hierdie “werk van die Here”. In ooreenstemming met Jesus se bevel het hulle ’n eerbiedige gesindheid teenoor alle regerings (Matteus 22:21). Maar hulle slaan ook ag op hierdie woorde aan sy volgelinge: “Julle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, maar ek [het] julle uit die wêreld uitgekies.”—Johannes 15:19.
Sommige wat by die politiek betrokke was, het veranderinge in hulle lewe aangebring nadat hulle ’n noukeurige studie van die Bybel gemaak het. ’n Italiaanse politikus wat ’n lid was van die Katolieke Aksie, ’n organisasie wat deur die kerk beheer word, het gesê: “Ek het by die politiek betrokke geraak omdat ek gevoel het dat ’n mens ’n aktiewe bydrae moet lewer tot die politieke en maatskaplike ontwikkeling van die gemeenskap.” Nadat hy as burgemeester bedank het sodat hy God se Koninkryk as een van Jehovah se Getuies kon verkondig, het hy verduidelik waarom die pogings van opregte mense in die politiek misluk. “Die wêreld is wat dit is, nie omdat goeie mense nie probeer het om maatskaplike toestande te verbeter nie, maar eerder omdat die opregte pogings van die minderheid tot niet gemaak word deur die goddeloosheid van die meerderheid.”
Die feit dat ware Christene geen deel aan die politiek het nie en die enigste ware hoop vir die mensdom verkondig, verhinder hulle nie om ander op praktiese maniere te help nie. Diegene wat gehelp word om onderdane van God se Koninkryk te word, leer om verderflike gesindhede te verander, om gesag te respekteer, om hulle gesinslewe te verbeter en ’n gebalanseerde beskouing van materiële rykdom te hê. Selfs nog belangriker, Jehovah se Getuies help mense om ’n hegte verhouding met God te geniet.
Verkondigers van God se Koninkryk is nuttige lede van die gemeenskap waarin hulle lewe. Maar dit is nie al nie; hulle help mense om hulle vertroue te stel in ’n regering wat ’n werklikheid is en wat blywende vrede sal bring vir almal wat God liefhet. Weens hulle neutraliteit kan hierdie Christene die blywendste en praktiesste hulp voorsien wat vandag beskikbaar is.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Van politieke aktivis tot verkondiger van God se Koninkryk
Átila het as ’n seun geleer van bevrydingsteologie by die priesters in sy gemeente in Belém, Brasilië. Hy het daarvan gehou om te hoor dat die mensdom uiteindelik van onderdrukking bevry sal word en het by ’n aktivistegroep aangesluit, waar hy geleer het om protesoptogte en lydelike versetkampanjes te organiseer.
Maar Átila het dit ook geniet om die groep se kinders te leer met behulp van ’n boek wat aan hom gegee is, Luister na die Groot Onderwyser.a Dit het van goeie gedrag en gehoorsaamheid aan die owerheid melding gemaak. Átila het begin wonder waarom diegene wat bevrydingsteologie ondersteun, nie Jesus se hoë sedelike standaarde volg nie en waarom party van die onderdruktes vergeet wanneer hulle ’n magsposisie verkry. Hy het hom aan die groep onttrek. Later het Jehovah se Getuies aan sy deur geklop en met hom oor God se Koninkryk gepraat. Hy het weldra die Bybel gestudeer en geleer wat die ware oplossing vir die onderdrukking van die mensdom is.
Omstreeks daardie tyd het Átila ’n Katolieke seminaar oor geloof en die politiek bygewoon. “Dit is twee kante van dieselfde muntstuk”, het die instrukteurs verduidelik. Hy het ook ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon. Wat ’n verskil! Om maar net een ding te noem, niemand het gerook, gedrink of vuil grappe vertel nie. Hy het besluit om saam met hulle aan die predikingswerk deel te neem, en hy is kort daarna gedoop. Nou kan hy sien waarom bevrydingsteologie nie die ware oplossing vir die probleme van die armes is nie.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prente op bladsy 6]
Die neutraliteit van Christenbedienaars verhinder hulle nie om ander te help nie