Vrae van lesers
• Hoe kan ons God se heilige gees bedroef, aangesien dit nie ’n persoon is nie?
Die apostel Paulus het geskryf: “Moenie God se heilige gees . . . bedroef nie” (Efesiërs 4:30). Party beskou hierdie woorde as ’n aanduiding dat die heilige gees ’n persoon is. Maar publikasies van “die getroue bestuurder” het al dikwels skriftuurlike en geskiedkundige bewyse verskaf dat die vroeë Christene die heilige gees nie beskou het as ’n persoon en ook nie as ’n god wat gelyk is aan die Allerhoogste en deel is van ’n sogenaamde Drie-eenheid nie (Lukas 12:42).a Paulus het derhalwe nie na God se heilige gees as ’n persoon verwys nie.
God se heilige gees is sy onsigbare werkende krag (Genesis 1:2). Jesus sou “met heilige gees” doop, net soos Johannes met water gedoop het (Lukas 3:16). Op Pinkster 33 G.J. is ongeveer 120 dissipels “met heilige gees vervul”—ongetwyfeld nie met ’n persoon nie (Handelinge 1:5, 8; 2:4, 33). Hierdie gesalfdes het ’n hemelse hoop ontvang, en God se gees het hulle gelei in ’n lewe van getrouheid (Romeine 8:14-17; 2 Korintiërs 1:22). Die gees het goddelike vrugte in hulle voortgebring en hulle gehelp om die sondige “werke van die vlees”, wat God se onguns kon meebring, te vermy.—Galasiërs 5:19-25.
As ons knegte van God met ’n aardse hoop is, is ons nie met heilige gees gesalf nie. Nietemin kan ons net soveel van God se gees hê as diegene met die hemelse hoop. Daarom kan ook ons die gees bedroef. Maar hoe?
As ons skriftuurlike raad ignoreer wat onder die leiding van die heilige gees opgeteken is, kan ons neigings ontwikkel wat daartoe kan lei dat ons opsetlik teen die gees sondig, Jehovah se guns verloor en uiteindelik vernietig word (Matteus 12:31, 32). Ons beoefen dalk nie reeds growwe sonde nie, maar dit kan die begin wees van ’n verkeerde weg, een wat ons uiteindelik in stryd met die leiding van die gees kan laat optree. Onder sulke omstandighede sal ons die heilige gees bedroef.
Hoe kan ons dan voorkom dat ons God se gees bedroef? Ons moet beslis ons denke en dade beheer. In sy brief aan die Efesiërs, hoofstuk 4, het die apostel Paulus gewaarsku teen die neiging om onware stellings te maak, lank kwaad te bly, lui te wees en ongepaste spraak te gebruik. Wat doen ons in werklikheid as ons, nadat ons ons beklee het met “die nuwe persoonlikheid”, na sulke dinge terugkeer? Ons tree dan in stryd met die geesgeïnspireerde raad van God se Woord, die Bybel, op. Sodoende sal ons die heilige gees bedroef.
In Efesiërs hoofstuk 5 lees ons Paulus se raad dat ons ’n wellustige belangstelling in hoerery moet vermy. Die apostel spoor medegelowiges ook aan om skandelike gedrag en onwelvoeglike skertsery te vermy. As ons nie God se heilige gees wil bedroef nie, moet ons hierdie raad in gedagte hou wanneer ons vermaak kies. Waarom sou ons enige belangstelling hierin wil toon deur daaroor te praat, daarvan te lees en op televisie of elders daarna te kyk?
Ons kan natuurlik die gees op ander maniere bedroef. Jehovah se gees bevorder eenheid in die gemeente; maar gestel ons versprei skadelike skinderpraatjies of moedig klieke in die gemeente aan. Sou ons dan nie werk teen die leiding van die gees, wat eenheid wil bevorder nie? In algemene sin sou ons die gees bedroef, soos dié wat verdeeldhede in die gemeente in Korinte veroorsaak het (1 Korintiërs 1:10; 3:1-4, 16, 17). Ons sou ook die gees bedroef as ons doelbewus respek vir geesaangestelde manne in die gemeente ondermyn.—Handelinge 20:28; Judas 8.
Dit is dus duidelik dat ons ons gesindheid en dade moet ondersoek in die lig van wat ons weet oor die leiding van die heilige gees, soos in die Bybel en in die Christengemeente gesien kan word. Laat ons ook “met heilige gees bid”, ons aan die invloed daarvan onderwerp en altyd optree in ooreenstemming met wat in God se geïnspireerde Woord opgeteken staan (Judas 20). Mag ons vasbeslote wees om nooit die gees te bedroef nie, maar om altyd daardeur gelei te word, tot eer van Jehovah se heilige naam.
• Jesus Christus het gesê dat dit net so moeilik vir ’n ryk man is om in die Koninkryk in te gaan, as wat dit vir ’n kameel is om deur die oog van ’n naald te probeer gaan. Het Jesus ’n letterlike kameel en ’n letterlike naald in gedagte gehad?
Die drie skriftuurlike aanhalings van hierdie stelling is byna dieselfde. Volgens Matteus en Markus se verslag het Jesus gesê: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.”—Matteus 19:24; Markus 10:25.
Party naslaanwerke voer aan dat die “oog van ’n naald” ’n klein poort in een van Jerusalem se groot poorte was. As die groot poort in die aand gesluit was, kon die klein poort gebruik word. Na bewering kon ’n kameel daardeur gaan. Is dit wat Jesus in gedagte gehad het?
Klaarblyklik nie. Jesus het waarskynlik verwys na ’n naald waarmee naaldwerk gedoen is. Aangesien antieke been- asook metaalnaalde al in daardie gebied gevind is, moes dit ’n algemene huishoudelike item gewees het.
Verskeie leksikograwe is dit eens dat dit na ’n letterlike naald verwys. Die Griekse woord vir “naald” in Matteus 19:24 en Markus 10:25 (rha·phisʹ) kom van ’n werkwoord wat “naaldwerk doen” beteken. En die Griekse woord wat in Lukas 18:25 gevind word (be·loʹne), word gebruik om na ’n letterlike chirurgiese naald te verwys. Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words sê: “Die gedagte dat ‘die oog van ’n naald’ op klein poorte van toepassing is, lyk na ’n moderne idee; daar is geen bewys uit die ou tyd daarvoor nie. Die Here het die stelling gemaak om iets uit te druk wat vir mense onmoontlik is, en dit is glad nie nodig om die situasie te probeer versag deur aan te voer dat die naald na iets anders as die gewone instrument verwys nie.”—1981, Deel 3, bladsy 106.
Party beweer dat “kameel” in hierdie verse vertaal moet word met “tou”. Die Griekse woorde vir tou (kaʹmi·los) en kameel (kaʹme·los) is soortgelyk. Maar die Griekse woord vir “kameel”, en nie die een vir “tou” nie, verskyn in Matteus 19:24 in die oudste bestaande Griekse manuskripte van Matteus se Evangelie (die Sinaïtiese, die Vatikaan Nr. 1209 en die Aleksandrynse). Na bewering het Matteus sy Evangelie oorspronklik in Hebreeus geskryf en dit dalk self in Grieks vertaal. Hy het presies geweet wat Jesus gesê het en het derhalwe die regte woord gebruik.
Jesus het dus van ’n letterlike naald en ’n letterlike kameel gepraat. Hy het dit gebruik om die onmoontlikheid van iets te beklemtoon. Maar het Jesus bedoel dat geen ryk man ooit in die Koninkryk kon ingaan nie? Nee, want Jesus se stelling moes nie letterlik opgeneem word nie. Hy het ’n hiperbool gebruik om toe te lig dat, net soos ’n letterlike kameel nie deur die oog van ’n werklike naald kan gaan nie, dit onmoontlik vir ’n ryk man is om in die Koninkryk in te gaan as hy vashou aan sy rykdom en Jehovah nie eerste in sy lewe stel nie.—Lukas 13:24; 1 Timoteus 6:17-19.
Jesus het hierdie stelling gemaak net nadat ’n ryk jong heerser die wonderlike voorreg van die hand gewys het om Jesus se volgeling te word (Lukas 18:18-24). ’n Welgestelde persoon wat groter liefde het vir sy besittings as vir geestelike dinge, kan nie verwag om die ewige lewe onder die Koninkryksreëling te ontvang nie. Daar was egter wel ryk mense wat Jesus se dissipels geword het (Matteus 27:57; Lukas 19:2, 9). ’n Ryk persoon wat bewus is van sy geestelike behoefte en hom tot God wend vir hulp, kan dus godgegewe redding ontvang.—Matteus 5:3; 19:16-26.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.