Vrae van lesers
◼ Sommige geleerdes beweer dat “kameel” in Mattheüs 19:24 deur “tou” vervang moet word. Dit lui: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan.” Watter woord is korrek?
Sekere Bybelgeleerdes maak verkeerdelik die gevolgtrekking dat Jesus se woorde hier oorspronklik in Aramees opgeteken is. Die Aramese woord (gam·la’ʹ) wat in sulke vertalings gebruik word, kan “kameel” beteken. Na gelang van die konteks kan dit egter ook as “’n groot tou en ’n balk” vertaal word. Maar volgens Papias van Hiërapolis, moontlik ’n tydgenoot van die apostel Johannes, het Mattheüs sy evangelieverslag oorspronklik in Hebreeus, nie Aramees nie, geskryf en dit daarna in Grieks vertaal. Die Hebreeuse woord vir kameel (ga·malʹ) is heel anders as die woorde wat met tou (cheʹvel) of koord (‛avothʹ) vertaal word, en Mattheüs sou gewis die korrekte Griekse woord gekies het.
Die oudste en betroubaarste Griekse manuskripte (Sinaiticus en Vatican No. 1209) het die woord kaʹme·los, wat kameel beteken. Dieselfde woord word in Mattheüs 23:24 gebruik, waar daar min twyfel bestaan dat “kameel” bedoel word.
Deur die eeue heen het sommige probeer om Jesus se skerp hiperbool te versag. Party het hul selfs vryhede met die heilige teks veroorloof. Vanaf ongeveer die vyfde eeu word ’n soortgelyke woord kaʹmi·los in hierdie teks in sommige Griekse manuskripte gevind. Hierdie ongebruiklike woord beteken “tou, skeepskabel”. Volgens A Greek-English Lexicon of the New Testament deur Arndt en Gingrich “hoort [dit] nie in die NT [Nuwe Testament] nie”. Grekiste Westcott en Hort skryf hierdie vervanging toe aan die vyfde-eeuse voorgewende Christen Cyrillus van Alexandrië, wat beweer het dat die woord (kaʹme·los) wat deur Mattheüs gebruik is kabel kan beteken, en gesê het: “Dit is die gewoonte van diegene wat bedrewe is in seevaart om die dikker kabels ‘kamele’ te noem.” Maar Westcott en Hort sê van hierdie gedagte: “Dit is beslis verkeerd.”
Volgens een naslaanwerk “verraai” die gedagte van ’n groot kameel wat probeer om deur die oog van ’n piepklein naald te pas “Oosterse oordrywing”. Trouens, The Babylonian Talmud sê in ’n bespreking oor party persone wat beroemd was omdat hulle so uitgeslape was dat dit gelyk het asof hulle die onmoontlike regkry: “Hulle trek ’n olifant deur die oog van ’n naald.” Jesus het dus ’n tipiese Oosterse beeld gebruik om die onmoontlikheid van iets by wyse van ’n duidelike teenstelling te beklemtoon. Dit sal inderdaad onmoontlik wees om enige groot voorwerp—hetsy ’n tou, kameel of olifant—deur ’n naald se oog te steek.
Jesus het nie gesê dat dit vir ’n ryk persoon onmoontlik is om die lewe te verkry nie, want sommige welgestelde persone het sy volgelinge geword (Mattheüs 27:57; Lukas 19:2, 9; Johannes 19:38, 39). Maar net voordat Jesus hierdie ‘kwaai woorde’ gesê het, het ’n ryk jongman puik geestelike geleenthede van die hand gewys omdat hy sy “baie besittings” liewer gehad het (Mattheüs 19:16-22). Dit sal vir enige ryk man met hierdie gesindheid onmoontlik wees om die ewige lewe te beërf. So ’n persoon kan net met uitermatige hulp van God verander en die redding ontvang wat deur God se krag moet kom.—Mattheüs 19:25, 26.