God gee werklik vir jou om
DIT is net natuurlik om tot God om hulp te roep wanneer ons in nood verkeer. Hy is immers “groot en oorvloedig in krag; sy verstand is onbeskryflik” (Psalm 147:5). Hy is in die allerbeste posisie om ons te help om ons probleme die hoof te bied. Verder nooi die Bybel ons om ‘ons hart voor hom uit te stort’ (Psalm 62:8). Waarom meen soveel mense dan dat God nie hulle gebede verhoor nie? Beteken dit dat hy nie omgee nie?
Moenie gou wees om God te verkwalik omdat hy oënskynlik niks doen nie. Dink eerder terug aan toe jy ’n kind was. Het jy ooit jou ouers daarvan beskuldig dat hulle jou nie liefhet as hulle nie aan al jou versoeke wou toegee nie? Baie kinders doen dit. Maar toe jy grootgeword het, het jy besef dat liefde op baie maniere geopenbaar word en dat dit nie noodwendig liefdevol is om ja te sê vir alles wat ’n kind wil hê nie.
Net so beteken dit nie dat Jehovah ons ignoreer as hy nie altyd ons gebede verhoor soos ons wil hê hy moet nie. Feit is dat God op baie maniere sy besorgdheid oor almal van ons toon.
“Deur hom het ons lewe”
Eerstens is dit danksy God dat “ons lewe en beweeg en bestaan” (Handelinge 17:28). Die feit dat hy aan ons lewe gegee het, is tog sekerlik ’n blyk van sy liefdevolle besorgdheid oor ons!
Verder voorsien Jehovah wat ons nodig het om aan die lewe te bly. Ons lees: “Hy laat groen gras uitspruit vir die diere, en plante tot nut van die mens, om voedsel uit die aarde te laat voortkom” (Psalm 104:14). Trouens, ons Skepper voorsien meer as net die basiese lewensbenodigdhede. Hy gee mildelik ‘reëns uit die hemel en vrugbare tye en vul ons harte geheel en al met voedsel en vrolikheid’.—Handelinge 14:17.
Tog wonder sommige dalk: ‘As God ons dan so liefhet, waarom laat hy lyding toe?’ Ken jy die antwoord op daardie vraag?
Is dit God se skuld?
Die mens het baie van sy lyding oor homself gebring. Byvoorbeeld, die gevare van sekere hoërisikoaktiwiteite is welbekend. Mense maak hulle nogtans skuldig aan geslagsonsedelikheid, misbruik alkohol en ander dwelms, gebruik tabak, neem deel aan waagsport, ry te vinnig, ensovoorts. Wie se skuld is dit as sulke gevaarlike gedrag lyding tot gevolg het? God s’n, of is dit die skuld van die een wat onverstandig optree? God se geïnspireerde Woord sê: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.
Daarbenewens doen mense mekaar dikwels leed aan. Wanneer ’n nasie oorlog verklaar, is God tog sekerlik nie verantwoordelik vir die lyding wat dit tot gevolg het nie. Is dit God se skuld as ’n misdadiger iemand aanval en dit tot beserings of die dood lei? Natuurlik nie! Moet ons God blameer as ’n diktator diegene onder sy mag onderdruk, martel of vermoor? Dit sou onredelik wees.—Prediker 8:9.
Maar wat van die miljoene wat in volslae armoede lewe of honger ly? Is dit God se skuld? Nee. Ons planeettuiste voorsien oorgenoeg voedsel vir almal (Psalm 10:2, 3; 145:16). Dit is die oneweredige verspreiding van die godgegewe oorvloed wat tot wydverspreide honger en armoede lei. En mense se selfsug keer dat daardie probleem opgelos word.
Die grondoorsaak
Wie se skuld is dit dan wanneer iemand siek word of weens ouderdom sterf? Sal dit jou verbaas om te weet dat God selfs daarvoor nie die skuld moet kry nie? God het die mens nie geskep om oud te word en te sterf nie.
Toe die eerste mensepaar, Adam en Eva, in die tuin van Eden geplaas is, het Jehovah hulle die vooruitsig gegee om vir ewig op ’n aardse paradys te lewe. Dit is egter duidelik dat hy wou hê dat die aarde bewoon moes word deur mense wat hulle erfenis sou waardeer. Daarom het hy hulle vooruitsig op toekomstige lewe aan voorwaardes onderhewig gemaak. Adam en Eva sou net in die Paradys kon lewe solank hulle onderworpe gebly het aan hulle liefdevolle Skepper.—Genesis 2:17; 3:2, 3, 17-23.
Ongelukkig het Adam en Eva in opstand gekom. Eva het besluit om na Satan die Duiwel te luister. Hy het vir haar ’n leuen vertel en in werklikheid gesê dat God iets goeds van haar weerhou. Sy het dus ’n onafhanklike weg ingeslaan en “soos God [probeer wees] deur goed en kwaad te ken”. Adam het by haar aangesluit in haar opstand.—Genesis 3:5, 6.
Toe hulle op hierdie manier gesondig het, het Adam en Eva getoon dat hulle nie die ewige lewe verdien nie. Hulle het die rampspoedige gevolge van sonde ondervind. Hulle krag en energie het afgeneem, en uiteindelik het hulle gesterf (Genesis 5:5). Hulle opstand het egter baie ernstiger gevolge gehad. Ons ly nog steeds weens Adam en Eva se sonde. Die apostel Paulus het geskryf: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Ja, weens Adam en Eva se opstand het sonde en die dood soos ’n kwaadaardige siekte deur die hele mensdom versprei.
Die grootste bewys dat God omgee
Beteken dit dat God se menseskepping permanent bederf is? Nee, en dit bring ons by die grootste bewys dat God vir ons omgee. Hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het, het God die middel voorsien om die mensdom van sonde en die dood los te koop. Die loskoopprys was Jesus se volmaakte lewe, wat hy gewillig ten behoewe van ons gegee het (Romeine 3:24). Daarom het die apostel Johannes geskryf: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Danksy hierdie uitsonderlike liefdeblyk het ons weer die vooruitsig om vir ewig te lewe. Paulus het aan die Romeine geskryf: “Deur een daad van regverdiging [lei dit] vir alle soorte mense tot regverdigverklaring vir die lewe.”—Romeine 5:18.
Ons kan seker wees dat daar op God se bestemde tyd geen lyding of dood meer op die planeet Aarde sal wees nie. Die toestande wat in die boek Openbaring voorspel word, sal heers: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Jy sê dalk: ‘Ek sal dit nooit in my lewe sien nie.’ Maar die feit is dat jy wel kan. En selfs al sterf jy, kan God jou opwek (Johannes 5:28, 29). Dit is God se voorneme vir ons, en dit is wat gaan gebeur. Hoe ver van die waarheid is dit tog om te sê dat God nie vir die mensdom omgee nie!
“Kom nader aan God”
Dit is vertroostend om te weet dat God ’n langtermynoplossing het wat die probleem van menselyding permanent uit die weg sal ruim. Maar wat van nóú? Wat kan ons doen as ons ’n geliefde aan die dood afstaan of as ons kind siek word? Wel, dit is nog nie God se tyd om siekte en die dood uit die weg te ruim nie. Die Bybel toon dat ons ’n bietjie langer sal moet wag voordat dit reggestel word. Maar God het ons nie sonder hulp gelaat nie. Die dissipel Jakobus het gesê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Ja, ons Skepper nooi ons om ’n hegte persoonlike verhouding met hom te hê, en diegene wat dit doen, is altyd bewus van sy ondersteuning, selfs in die moeilikste situasies.
Hoe kom ons nader aan God? Koning Dawid het ’n soortgelyke vraag sowat drie millenniums gelede gevra: “O Jehovah, . . . wie sal op u heilige berg woon?” (Psalm 15:1). Dawid het sy eie vraag beantwoord toe hy verder gesê het: “Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek. Hy het nie met sy tong gelaster nie. Sy metgesel het hy geen kwaad aangedoen nie” (Psalm 15:2, 3). Met ander woorde, Jehovah verwelkom diegene wat die weg volg wat Adam en Eva verwerp het. Hy kom nader aan diegene wat sy wil doen.—Deuteronomium 6:24, 25; 1 Johannes 5:3.
Hoe kan ons God se wil doen? Ons moet leer wat “goed en aangenaam in die oë van ons Redder, God,” is en dan daarvolgens handel (1 Timoteus 2:3). Dit behels dat ons juiste kennis van God se Woord, die Bybel, inneem (Johannes 17:3; 2 Timoteus 3:16, 17). Meer is nodig as om maar net die Bybel te lees. Ons moet die eerste-eeuse Jode in Berea navolg wat Paulus se getuienis gehoor het. Aangaande hulle lees ons: “Hulle het die woord met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was.”—Handelinge 17:11.
’n Noukeurige studie van die Bybel versterk vandag eweneens ons geloof in God en help ons om ’n hegte verhouding met hom aan te kweek (Hebreërs 11:6). Dit help ons ook om te verstaan presies hoe Jehovah met die mensdom handel—nie net tot hulle korttermynvoordeel nie, maar veral tot die langtermynvoordeel van almal wat die regte gesindheid het.
Beskou die kommentare van ’n paar Christene wat ’n hegte verhouding met God het. “Ek het Jehovah só lief, en ek het soveel om hom voor te bedank”, sê die 16-jarige Danielle. “Hy het vir my liefdevolle ouers gegee wat hom opreg liefhet en my volgens sy Woord geleer het.” ’n Christen in Uruguay skryf: “My hart loop oor van waardering, en ek wil Jehovah bedank vir sy onverdiende goedhartigheid en sy vriendskap.” God verwelkom selfs diegene wat nog baie jonk is. Die sewejarige Gabriela sê: “Ek is liewer vir God as vir enigiets in die hele wêreld! Ek het my eie Bybel. Ek hou baie daarvan om van God en sy Seun te leer.”
Vandag is daar wêreldwyd miljoene wat van harte saamstem met die psalmis se woorde: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom” (Psalm 73:28). Hulle is gehelp om probleme die hoof te bied waarvoor hulle nou te staan kom, en hulle het die vaste hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (1 Timoteus 4:8). Waarom stel jy jou dit nie ten doel om ‘nader aan God te kom’ nie? Ons het die besliste versekering dat “hy . . . nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). Ja, God gee werklik vir jou om!
[Prente op bladsy 5]
Jehovah se besorgdheid oor ons kan op baie maniere gesien word
[Prent op bladsy 7]
Selfs jong kinders kan nader aan God kom
[Prente op bladsy 7]
Vandag help Jehovah ons om te volhard. Op sy bestemde tyd sal hy siekte en die dood uit die weg ruim