‘Hulle het weggeseil na Siprus’
DIT is hoe die boek Handelinge die verslag begin oor die wedervaringe van die Christensendelinge Paulus, Barnabas en Johannes Markus toe hulle Siprus omstreeks 47 G.J. besoek het (Handelinge 13:4). Siprus was destyds, soos vandag, uiters strategies geleë in die oostelike deel van die Middellandse See.
Die Romeine het met begerige oë na die eiland gekyk, en dit het in 58 v.G.J. onder hulle beheer gekom. Voor daardie tyd het Siprus ’n veelbewoë geskiedenis gehad. Dit is beset deur die Fenisiërs, die Grieke, die Assiriërs, die Perse en die Egiptenaars. Die Kruisvaarders, die Franke en die Venesiërs het in die Middeleeue gekom, gevolg deur die Ottomane. In 1914 het die Britte die eiland geannekseer en daaroor geheers totdat dit in 1960 onafhanklik geword het.
Vandag is toerisme ’n groot bron van inkomste, maar in Paulus se dag was Siprus ryk aan natuurlike hulpbronne, wat die Romeine gebruik het om Rome se skatkiste te vul. Koper is vroeg in die eiland se geskiedenis ontdek, en teen die einde van die Romeinse era is daar na raming 250 000 ton koper ontgin. Hierdie bedryf het egter ’n groot deel van die digte woudgebied vernietig om die smeltproses aan die gang te hou. Baie van die eiland se woude het al verdwyn teen die tyd dat Paulus daar aangekom het.
Siprus onder die Romeine
Volgens die Encyclopædia Britannica het Julius Caesar en, ná hom, Markus Antonius Siprus aan Egipte gegee. Maar onder Augustus het dit weer onder Romeinse besit gekom en is dit—soos Lukas, die skrywer van Handelinge, heel tereg meld—deur ’n prokonsul regeer, wat direk verantwoordelik was aan Rome. Sergius Paulus was prokonsul toe Paulus daar gepreek het.—Handelinge 13:7.
Die Pax Romana, die internasionale vrede wat deur Rome gehandhaaf is, het die uitbreiding van die myne en industrieë van Siprus bevorder, wat die handel laat floreer het. Inkomste is ook verhoog deur die teenwoordigheid van die Romeinse leër en die pelgrims wat daarheen gestroom het om Afrodite, die beskermgodin van die eiland, te vereer. Gevolglik is nuwe paaie en hawens gebou en swierige openbare geboue opgerig. Grieks was steeds die amptelike taal en—buiten die Romeinse keiser—is Afrodite, Apollo en Zeus deur baie aanbid. Die mense was baie welvarend en het ’n ryk sosiale en kulturele lewe geniet.
Dit was die milieu wat Paulus aangetref het toe hy Siprus deurkruis en mense van die Christus geleer het. Maar die Christelike godsdiens is na Siprus geneem voordat Paulus daar aangekom het. Die verslag in Handelinge sê vir ons dat sommige van die vroeë Christene ná die dood van die eerste Christenmartelaar, Stefanus, na Siprus gevlug het (Handelinge 11:19). Barnabas, Paulus se metgesel, was ’n boorling van Siprus, en aangesien hy die eiland goed geken het, was hy ongetwyfeld ’n uitstekende gids vir Paulus op hierdie predikingsreis.—Handelinge 4:36; 13:2.
Paulus se reis
Dit is nie maklik om te bepaal presies watter roete Paulus op Siprus gevolg het nie. Maar argeoloë het ’n redelik goeie idee van die uitstekende padnetwerk van die Romeinse era. Vanweë die eiland se geografie moet selfs die moderne hoofweë vandag dieselfde roete volg as wat daardie vroeë sendelinge waarskynlik gekies het.
Paulus, Barnabas en Johannes Markus het van Seleukië na die hawe van Salamis geseil. Waarom na Salamis, aangesien Pafos die hoofstad en vernaamste seehawe was? Om maar een ding te noem, Salamis was aan die ooskus geleë, slegs 200 kilometer van Seleukië op die vasteland. Hoewel die Romeine Pafos die hoofstad gemaak het in die plek van Salamis, het Salamis die kulturele, opvoedkundige en kommersiële sentrum van die eiland gebly. Die Joodse gemeenskap in Salamis was redelik groot, en die sendelinge het “die woord van God in die sinagoges van die Jode begin verkondig”.—Handelinge 13:5.
Vandag is daar net ruïnes van Salamis oor. Nietemin getuig argeologiese ontdekkings van die stad se eertydse glorie en rykdom. Die markplein, die middelpunt van die politieke en godsdienstige lewe, het die onderskeiding dat dit moontlik die grootste Romeinse agora is wat nog in die Mediterreense streek opgegrawe is. Daardie ruïnes, wat uit die tyd van Augustus Caesar dateer, het aan die lig gebring dat daar mosaïekvloere met ingewikkelde ontwerpe was, asook gimnasiums, ’n indrukwekkende stelsel van baddens, ’n stadion en amfiteater, luisterryke grafkelders en ’n groot teater met sitplek vir 15 000 mense! Daar naby is die ruïne van ’n indrukwekkende tempel van Zeus.
Maar Zeus kon nie keer dat aardbewings die stad verwoes nie. ’n Groot aardbewing in 15 v.G.J. het die grootste deel van Salamis met die grond gelyk gemaak, hoewel Augustus dit daarna herbou het. In 77 G.J. is dit weer deur ’n aardbewing vernietig, waarna dit nog ’n keer herbou is. In die vierde eeu het ’n reeks aardbewings Salamis verwoes, en dit het nooit weer sy vroeëre glorie gehad nie. Teen die Middeleeue was sy hawe toegespoel en verlate.
Daar word nie gesê hoe die mense van Salamis op Paulus se predikingswerk gereageer het nie. Maar Paulus moes ook vir ander gemeenskappe getuig. Van Salamis af het die sendelinge ’n keuse van drie hoofroetes gehad: een na die noordkus, oor die Kyrenia-bergreeks; ’n ander een weswaarts oor die Mesaoria-vlakte deur die sentrale deel van die eiland en ’n derde al langs die suidkus.
Volgens tradisie het Paulus die derde roete gevolg. Dit loop deur vrugbare landbougebied met kenmerkende rooi grond. Sowat 50 kilometer in ’n suidwestelike rigting nader die roete die stad Larnaca, voordat dit noordwaarts swenk na die binneland.
‘Deur die hele eiland’
Die hoofweg het ’n mens kort voor lank by die eertydse stad Ledra gebring. Vandag is Nicosia, die hedendaagse hoofstad, op hierdie terrein gebou. Enige bewyse van die eertydse stadstaat het verdwyn. Maar binne die 16de-eeuse Venesiese mure wat die sentrale deel van Nicosia omring, is ’n besige, nou straatjie bekend as Ledrastraat. Ons weet nie of Paulus na Ledra gereis het of nie. Die Bybel sê net vir ons dat hulle ‘die hele eiland deurgegaan het’ (Handelinge 13:6). The Wycliffe Historical Geography of Bible Lands sê dat “dit waarskynlik dui op ’n relatief volledige toer van die Joodse gemeenskappe op Siprus”.
Paulus wou beslis soveel mense moontlik op Siprus bereik. Hy het dus moontlik ’n suidelike roete gevolg van Ledra af deur Amatus en Kourion—twee groot kosmopolitaanse stede met florerende bevolkings.
Kourion was hoog bo die see op kranse geleë wat feitlik regaf loop na die strande daaronder. Hierdie luisterryke Grieks-Romeinse stad is deur dieselfde aardbewing getref wat Salamis in 77 G.J. vernietig het. Daar is die ruïne van ’n tempel wat aan Apollo gewy was en uit 100 G.J. dateer. Die stadion het sitplek vir 6 000 toeskouers gehad. Die weelderige lewenstyl van baie in Kourion kan gesien word in die pragtige mosaïekwerk wat die vloere van selfs privaat villas versier het.
Na Pafos
Van Kourion af loop die skilderagtige roete verder weswaarts deur wynland, terwyl dit geleidelik hoër klim totdat die pad, heel onverwags, vinnig afdaal en teen die steilte afkronkel na strande bedek met spoelklippies. Volgens Griekse mitologie is dít die plek waar die godin Afrodite as ’n pasgeborene uit die see verskyn het.
Afrodite was die gewildste van die Griekse godhede op Siprus en is tot die tweede eeu G.J. met groot toewyding aanbid. Pafos was die sentrum van die aanbidding van Afrodite. Elke lente is daar ’n groot fees ter ere van haar gehou. Pelgrims uit Klein-Asië, Egipte, Griekeland en selfs Persië het na Pafos toe gekom vir die feesvieringe. Toe Siprus onder die heerskappy van die Ptolemeë was, is die Sipriote blootgestel aan die aanbidding van die Farao’s.
Pafos was die Romeinse hoofstad van Siprus en die setel van die prokonsul, en in dié stad is kopermunte geslaan. Ook Pafos is in die aardbewing van 15 v.G.J. vernietig, en soos in die geval van Salamis het Augustus die fondse voorsien om die stad te herbou. Opgrawings het die weelderige lewenstyl van die rykes in die eerste-eeuse Pafos aan die lig gebring—breë strate, ryklik versierde privaat villas, musiekskole, gimnasiums en ’n amfiteater.
Dít was die Pafos wat Paulus, Barnabas en Johannes Markus besoek het, en dit was hier dat die prokonsul Sergius Paulus—“’n intelligente man”—“vurig begeer [het] om die woord van God te hoor” ondanks hewige teenkanting van die towenaar Elimas. Die prokonsul was “verstom . . . oor die leer van Jehovah”.—Handelinge 13:6-12.
Ná ’n suksesvolle predikingsreis op Siprus het die sendelinge hulle werk in Klein-Asië voortgesit. Daardie eerste sendingreis van Paulus was ’n mylpaal in die verspreiding van die ware Christelike godsdiens. Die boek St. Paul’s Journeys in the Greek Orient noem dit “die eintlike begin van die Christelike sending en van . . . Paulus se sendingloopbaan”. Dit sê voorts: “Omdat dit by die kruising lê van die seeroetes na Sirië, Klein-Asië en Griekeland, het Siprus na die beste plek vir die eerste fase van ’n sendingreis gelyk.” Maar dit was net ’n vroeë fase. Twintig eeue later gaan die Christelike sendingwerk nog steeds voort, en daar kan waarlik gesê word dat die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk letterlik “die mees afgeleë deel van die aarde” bereik het.—Handelinge 1:8.
[Kaarte op bladsy 20]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
SIPRUS
NICOSIA (Ledra)
Salamis
Pafos
Kourion
Amatus
Larnaca
KYRENIA-GEBERGTE
MESAORIA-VLAKTE
TROODOS-GEBERGTE
[Prent op bladsy 21]
Terwyl hy in Pafos was, het Paulus, gevul met heilige gees, die towenaar Elimas met blindheid getref