‘Julle moet só bid’
KEN jy die woorde van die Onse Vader? Dit is ’n modelgebed wat Jesus Christus sy volgelinge geleer het. Gedurende sy beroemde Bergpredikasie het Jesus gesê: “Julle moet dan só bid” (Matteus 6:9). Aangesien Jesus dit gegee het, word dit ook soms die gebed van die Here genoem en nie net die Onse Vader nie.—Latyn, Paternoster.
Miljoene mense regoor die wêreld ken die Onse Vader uit die kop en sê dit dikwels op, miskien daagliks. In onlangse jare het baie hierdie gebed by skole en openbare geleenthede opgesê. Waarom word die Onse Vader so hooggeag?
Die derde-eeuse teoloog Siprianus het geskryf: “Watter gebed kan meer geestelike waarde hê as die een wat Christus vir ons gegee het . . . ? Watter gebed tot die Vader kan meer waarheid bevat as die een wat aan ons oorgedra is deur die Seun wat die Waarheid is?”—Johannes 14:6.
In sy kategismus beskou die Rooms-Katolieke Kerk die Onse Vader as “die fundamentele gebed vir Christene”. The World Book Encyclopedia gee erkenning aan die belangrike plek wat hierdie gebed in alle godsdienste van die Christendom beklee en noem dit een van die “basiese verklarings van die Christelike geloof”.
Daar moet egter erken word dat baie mense wat die Onse Vader opsê, dit nie ten volle verstaan nie. “As jy enigsins ’n Christelike agtergrond het, kan jy waarskynlik die Onse Vader aframmel sonder om asem te skep”, sê die Kanadese koerant Ottawa Citizen, “maar jy sal dalk sukkel om dit stadig en met begrip op te sê.”
Is dit werklik belangrik om ons gebede tot God te verstaan? Waarom het Jesus die Onse Vader vir ons gegee? Wat beteken dit vir jou? Kom ons ondersoek nou hierdie vrae.