Wie is die regte leier vir vandag?
In 1940 was daar ’n leierskapkrisis in die Britse parlement. Die 77-jarige David Lloyd George, wat na die debat geluister het, het Brittanje gedurende die Eerste Wêreldoorlog na oorwinning gelei, en sy jare in die politiek het hom in staat gestel om die werk van hoë amptenare deeglik te beoordeel. Hy het op 8 Mei in ’n toespraak voor die Laerhuis gesê: “Die nasie is bereid om enige opoffering te maak, solank hulle leierskap het, solank die Regering duidelik toon wat sy doelwitte is en solank die nasie vol vertroue is dat diegene wat hulle lei, hulle bes doen.”
DIE woorde van Lloyd George toon duidelik dat mense verwag dat hulle leiers bevoeg moet wees en opregte pogings moet aanwend om dinge te verbeter. ’n Verkiesingsveldtogwerker het dit so gestel: “Wanneer mense vir ’n president stem, stem hulle vir iemand aan wie hulle hulle lewe, hulle toekoms, hulle kinders toevertrou.” Dit is ’n ontsaglike taak om na hierdie verantwoordelikheid om te sien. Waarom?
Ons wêreld is vol probleme waarvoor daar geen oplossings is nie. Watter leier het byvoorbeeld al getoon dat hy genoeg wysheid en krag het om misdaad en oorlog uit die weg te ruim? Wie onder vandag se leiers het die middele en medelye om elke mens van voedsel, skoon water en gesondheidsorg te voorsien? Wie het die kennis en vasberadenheid om die omgewing te beskerm en te herstel? Wie het die bevoegdheid en mag om die hele mensdom van ’n lang en gelukkige lewe te verseker?
Mense kan dit nie doen nie
Party leiers het weliswaar ’n mate van sukses behaal. Maar hulle kan hoogstens ’n paar dekades lank dien—en wie kom ná hulle? Een van die bevoegste leiers wat nog geleef het, koning Salomo van eertydse Israel, het oor hierdie vraag nagedink. Hy het tot die volgende slotsom gekom: “Ek, ja ek, het al my harde werk gehaat waaraan ek hard gewerk het onder die son, wat ek sal agterlaat vir die mens wat ná my sal kom. En wie weet of hy wys of dwaas sal wees? Tog sal hy die beheer oorneem oor al my harde werk waaraan ek hard gewerk het en waarin ek wysheid getoon het onder die son. Ook dit is nietigheid.”—Prediker 2:18, 19.
Salomo het nie geweet of sy opvolger sy goeie werk sou voortsit of dit alles ongedaan sou maak nie. Die kringloop van ou heersers wat met nuwes vervang word, was vir Salomo “nietigheid”. Ander Bybelvertalings noem hierdie proses “vergeefs”, of “sinloos”. Een vertaling sê: “Dit maak nie sin nie.”
Soms word geweld gebruik om ’n verandering van heersers teweeg te bring. Bekwame leiers is al vermoor terwyl hulle hulle werk gedoen het. Abraham Lincoln, ’n hooggeagte president van die Verenigde State, het eenkeer vir ’n gehoor gesê: “Ek is gekies om ’n kort tydjie ’n belangrike amp te beklee en is nou, in julle oë, mag verleen wat gou tot ’n einde sal kom.” Sy dienstydperk was inderdaad kort. Ten spyte van alles wat hy gedoen het en sy begeerte om meer vir die mense te doen, het president Lincoln sy land net vier jaar lank gelei. Aan die begin van sy tweede ampstermyn is hy vermoor deur ’n man wat ’n verandering in leierskap wou hê.
Selfs die beste menseleiers kan nie hulle eie toekoms verseker nie. Moet jy dan op hulle vertrou om joune te verseker? Die Bybel sê: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes.” Die Byington-vertaling gee die laaste deel van vers 4 soos volg weer: “Daardie dag is sy welwillendheid heeltemal daarmee heen.”—Psalm 146:3, 4.
Die raad om nie op menseleiers te vertrou nie, is dalk moeilik om te aanvaar. Maar die Bybel sê nie dat die mensdom nooit goeie, bestendige leierskap sal hê nie. “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer”, sê Jesaja 32:1. Jehovah God, die mens se Skepper, het “’n koning”, ’n Leier, voorberei wat binnekort volle beheer oor die aarde se aangeleenthede sal oorneem. Wie is hy? Bybelprofesieë identifiseer hom.
Beslis bekwaam om te lei
Tweeduisend jaar gelede het ’n engel vir ’n jong Joodse vrou met die naam Maria gesê: “Jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:31-33). Ja, Jesus van Nasaret is die Koning waarvan Bybelprofesieë praat.
Godsdienstige kunswerke beeld Jesus dikwels uit as ’n baba, as ’n ondervoede swakkeling of as ’n askeet wat hom willoos onderwerp aan alles wat oor hom kom. Hierdie beelde boesem nie vertroue in hom as Heerser in nie. Maar die ware Jesus Christus van die Bybel het grootgeword en was ’n energieke, welgevormde man vol ywer en geesdrif. En hy het ander eienskappe gehad wat hom vir leierskap bekwaam gemaak het (Lukas 2:52). ’n Paar aspekte van sy uitstaande persoonlikheid word hieronder bespreek.
Jesus het volmaakte onkreukbaarheid gehandhaaf. Hy was so eerlik en opreg in sy handelinge dat hy sy vyande in die openbaar uitgedaag het om ’n geldige aantyging teen hom te maak. Hulle kon nie (Johannes 8:46). Sy ongeveinsde leringe het talle opregte mense oortuig om sy volgelinge te word.—Johannes 7:46; 8:28-30; 12:19.
Jesus was ten volle aan God toegewy. Hy was so vasbeslote om sy godgegewe werk te volbring dat geen teenstander—mens of demoon—hom kon keer nie. Gewelddadige aanvalle het hom nie bang gemaak nie (Lukas 4:28-30). Moegheid en honger het hom nie ontmoedig nie (Johannes 4:5-16, 31-34). Hoewel sy vriende hom verlaat het, het hy nooit sy doelwit uit die oog verloor nie.—Matteus 26:55, 56; Johannes 18:3-9.
Jesus was baie besorg oor mense. Hy het voedsel voorsien vir dié wat honger was (Johannes 6:10, 11). Hy het die terneergedruktes vertroos (Lukas 7:11-15). Hy het blindes laat sien, dowes laat hoor en siekes genees (Matteus 12:22; Lukas 8:43-48; Johannes 9:1-6). Hy het sy hardwerkende apostels aangemoedig (Johannes, hoofstukke 13-17). Hy was “die goeie herder” wat na sy skape omgesien het.—Johannes 10:11-14.
Jesus was bereid om te werk. Hy het sy apostels se voete gewas om hulle ’n belangrike les te leer (Johannes 13:4-15). Sy eie voete het vuil geword terwyl hy die goeie nuus langs die stowwerige paaie van Israel verkondig het (Lukas 8:1). Selfs toe hy van plan was om op “’n eensame plek” te rus, het hy nogtans die skares verder onderrig toe hulle hom gevolg het (Markus 6:30-34). Hy het dus ’n voorbeeld van ywer vir alle Christene gestel.—1 Johannes 2:6.
Jesus het sy toewysing uitgevoer en die aarde verlaat. As ’n beloning vir sy getrouheid het Jehovah God hom koningskap en onsterflikheid in die hemel gegee. Die Bybel sê van die verrese Jesus: “Christus, noudat hy uit die dode opgewek is, [sterf] nie meer . . . nie; die dood is nie meer meester oor hom nie” (Romeine 6:9). Jy kan seker wees dat hy beslis die beste Leier vir die mensdom is. Wanneer Christus Jesus volle beheer oor die aarde oorneem, sal dit nie nodig wees om iemand anders mag te gee nie, en ’n verandering in leierskap sal ook nooit nodig wees nie. Hy sal nooit onttroon word nie, en sy werk sal nooit deur ’n onbekwame opvolger ongedaan gemaak of bederf word nie. Maar presies wat sal hy tot voordeel van die mensdom doen?
Wat hierdie nuwe leier sal doen
Psalm 72 gee ons ’n paar profetiese besonderhede van hoe hierdie volmaakte, onsterflike Koning sal heers. In verse 7 en 8 lees ons: “In sy dae sal die regverdige bloei, en die oorvloed van vrede totdat die maan nie meer is nie. En hy sal onderdane hê van see tot see en van die Rivier tot aan die eindes van die aarde.” Onder sy voordelige heerskappy sal die bewoners van die aarde ewige en ononderbroke veiligheid geniet. Hy sal alle bestaande wapens vernietig en selfs die begeerte na konflik uit die mens se hart verwyder. Diegene wat ander vandag soos roofsugtige leeus aanval of soos kwaai bere teenoor hulle naaste optree, sal hulle geaardheid heeltemal verander het (Jesaja 11:1-9). Daar sal ’n oorvloed van vrede wees.
Psalm 72 sê verder in verse 12 tot 14: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.” Die geringes, armes en geteisterdes sal deel word van een gelukkige mensegesin, verenig onder die leierskap van die Koning Jesus Christus. Hulle lewe sal gekenmerk word deur vreugde, nie deur pyn en wanhoop nie.—Jesaja 35:10.
Vers 16 belowe: “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.” Vandag ly miljoene mense op die aarde honger. Politiek en hebsug verhinder dikwels die regverdige verspreiding van genoeg voedsel, sodat menigtes, veral kinders, van die honger sterf. Maar onder die heerskappy van Jesus Christus sal hierdie probleem verdwyn. Die aarde sal geseën wees met ’n oorvloed smaaklike voedsel. Die hele mensdom sal goed gevoed wees.
Sal jy daarvan hou om hierdie seëninge van goeie leierskap te geniet? Indien wel, wil ons jou aanmoedig om meer omtrent die Leier te leer wat binnekort volle beheer oor die aarde sal uitoefen. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om dit te doen. Jy sal nie teleurgestel word nie, want Jehovah God sê van sy Seun: “Ek, ja ek, het my koning ingehuldig op Sion, my heilige berg.”—Psalm 2:6.
[Venster op bladsy 5]
SKIELIK NIE MEER AAN BEWIND NIE
’n Heerser kan gewoonlik op die respek en ondersteuning van sy onderdane staatmaak as hy vir hulle ’n redelike mate van vrede en veilige lewenstoestande teweegbring. Maar as mense om die een of ander rede vertroue in hom verloor, sal iemand anders moontlik kort voor lank die bewind oorneem. Hieronder is ’n paar voorbeelde van toestande wat daartoe gelei het dat magtige heersers skielik nie meer aan bewind was nie.
Swak lewenstoestande. Teen die laat 18de eeu moes talle Franse burgers hoë belasting betaal, en kos was skaars. Hierdie toestande het bygedra tot die Franse Revolusie, wat daartoe gelei het dat koning Lodewyk XVI in 1793 na die guillotine gestuur is.
Oorlog. Die Eerste Wêreldoorlog het ’n einde gemaak aan die heerskappy van party van die magtigste keisers in die geskiedenis. Byvoorbeeld, in 1917 het ’n oorlogverwante voedseltekort in St. Petersburg, Rusland, die Februarierevolusie tot gevolg gehad. Hierdie opstand het tsaar Nikolaas II onttroon en tot Kommunistiese heerskappy gelei. In November 1918 wou Duitsland vrede hê, maar die Geallieerdes wou nie ophou veg totdat daar ’n bewindsverandering was nie. Gevolglik is die Duitse keiser Wilhelm II gedwing om na Nederland te vlug.
Begeerte na ’n ander regeringstelsel. In 1989 is die Ystergordyn verwyder. Regeringstelsels wat so hard soos klip voorgekom het, het verbrokkel toe hulle onderdane Kommunisme verwerp het en ander regeringsvorms tot stand gebring het.
[Prente op bladsy 7]
Jesus het honger mense gevoed, siekes genees en ’n voortreflike voorbeeld vir alle Christene gestel
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Lloyd George: Photo by Kurt Hutton/Picture Post/Getty Images