’n Eienskap wat eie aan die mens is
Jodie is die eienaar van ’n onderneming wat boedelverkope behartig. Hy is besig om ’n vrou te help om haar oorlede suster se huishoudelike items te sorteer en te verkoop. Terwyl hy in ’n ou vuurherd rondsoek, vind hy ’n paar ou hengeltrommels. Wanneer hy in een van hulle kyk, kan hy sy oë nie glo nie. Binne-in is daar rolle $100-note wat in foelie toegedraai is—ter waarde van R512 000! Jodie is alleen in die vertrek. Wat moet hy doen? Moet hy stilletjies die trommel neem of moet hy vir sy kliënt sê dat hy die geld gevind het?
JODIE se dilemma beklemtoon een van die eienskappe wat ons van redelose diere onderskei. The World Book Encyclopedia sê: “Een van die mens se besondere eienskappe is om te kan nadink en vrae te vra oor wat ons moet en nie moet doen nie.” ’n Honger hond wat ’n stukkie vleis op ’n piekniektafel vind, sal beslis nie wonder of hy dit moet eet of nie. Jodie het egter die vermoë om die sedelikheid van sy besluit te oorweeg. As hy die kontant hou, steel hy, maar dit is onwaarskynlik dat hy gevang sal word. Die geld behoort nie aan hom nie, maar sy kliënt weet nie dat dit bestaan nie. Buitendien sal die meeste mense in Jodie se gemeenskap dink dat hy dom is om die kontant vir sy kliënt te gee.
Wat sou jy gedoen het as jy Jodie was? Jou antwoord op hierdie vraag sal afhang van die gedrags- of etiese kode waarvolgens jy besluit het om te lewe.
Wat beteken etiek?
“Etiek” is al beskryf as “die studie van vrae oor wat sedelik reg en verkeerd is” (Collins Cobuild English Dictionary). Die skrywer Eric J. Easton sê: “‘Etiek’ en ‘sedelikheid’ het dieselfde grondbetekenis. Eersgenoemde is afkomstig van Grieks (ethikos) en laasgenoemde van Latyn (moralis), en al twee verwys na die gesag wat gebruike en tradisies het.”
Oor ’n lang tydperk het godsdiens in die reël die etiese standaarde voorgeskryf waarvolgens mense lewe. God se Woord, die Bybel, het in baie gemeenskappe ’n groot invloed gehad. Maar al hoe meer mense regoor die wêreld het die verskillende godsdiensstandaarde verwerp omdat hulle meen dat dit onprakties is en dat die Bybel se sedewet verouderd is. Wat het die leemte gevul? Die boek Ethics in Business Life sê dat “sekulêre denke . . . die gesag oorgeneem het wat voorheen aan godsdiens behoort het”. In plaas van hulle tot godsdiensbronne te wend, soek baie mense leiding by sekulêre deskundiges in die etiek. Die bio-etikus Paul McNeill sê: “Ek dink dat etici die sekulêre priesters is. . . . Mense praat nou in terme van etiek, terwyl hulle dalk vroeër in terme van godsdiens gepraat het.”
Hoe onderskei jy tussen reg en verkeerd wanneer jy voor moeilike besluite te staan kom? Word jou etiese standaarde deur God of deur jóú bepaal?