Waar ware aanbidding en heidense godsdiens gebots het
DIE ruïnes van eertydse Efese, aan die weskus van Turkye, is nou al meer as ’n eeu lank ’n plek waar intensiewe argeologiese navorsing gedoen word. Etlike geboue is herbou en talle vondste is deur wetenskaplikes bestudeer en geïnterpreteer. Gevolglik is Efese een van die gewildste toeriste-aantreklikhede in Turkye.
Wat is oor Efese ontdek? Watter beeld kan vandag gevorm word van daardie fassinerende ou metropolis? ’n Besoek aan die ruïnes van Efese asook aan die Efese-museum in Wene, Oostenryk, sal ons help om te verstaan hoe ware aanbidding en heidense godsdiens in Efese gebots het. Maar kom ons kry eers ’n bietjie agtergrond.
’n Gesogte plek
Onrus en migrasie was gedurende die 11de eeu v.G.J. algemene verskynsels in Eurasië. Ioniese Grieke het gedurende hierdie tydperk die weskus van Klein-Asië begin koloniseer. Daardie vroeë nedersetters het in aanraking gekom met mense wat bekend was vir hulle aanbidding van ’n moedergodin, ’n godheid wat later die Efesiese Artemis genoem sou word.
In die middel van die sewende eeu v.G.J. het nomadiese Kimmeriërs van die Swart See in die noorde gekom om Klein-Asië te plunder. Later, omstreeks 550 v.G.J., het koning Kroisos van Lidië aan bewind gekom, ’n magtige heerser wat beroemd was vir sy ontsaglike rykdom. Met die uitbreiding van die Persiese ryk het koning Kores die Ioniese stede, waaronder Efese, onderwerp.
In 334 v.G.J. het Aleksander van Masedonië met sy krygstog teen Persië begin en sodoende die nuwe heerser van Efese geword. Efese het ná Aleksander se ontydige dood in 323 v.G.J. in die gedrang gekom in ’n magstryd tussen sy generaals. In 133 v.G.J. het Attalus III, die kinderlose koning van Pergamum, Efese aan die Romeine bemaak, en so het dit deel geword van die Romeinse provinsie Asië.
Ware aanbidding bots met heidense godsdiens
Toe die apostel Paulus in die eerste eeu G.J. teen die einde van sy tweede sendingreis na Efese gekom het, het hy ’n stad met sowat 300 000 inwoners gevind (Handelinge 18:19-21). Gedurende sy derde sendingreis het Paulus na Efese teruggekeer en met hernieude vrymoedigheid in die sinagoge oor die Koninkryk van God gepraat. Maar ná drie maande het die Jode se teenstand hewiger geword, en Paulus het besluit om sy daaglikse toesprake eerder in die skoolouditorium van Tirannus te hou (Handelinge 19:1, 8, 9). Sy predikingsbedrywigheid het twee jaar lank voortgeduur en het gepaardgegaan met buitengewone kragtige werke, soos wonderdadige genesings en die uitdrywing van demone (Handelinge 19:10-17). Geen wonder dat baie mense gelowiges geword het nie! Ja, Jehovah se woord het geseëvier, sodat ’n groot aantal van dié wat tevore toorkunste beoefen het, hulle waardevolle boeke gewillig verbrand het.—Handelinge 19:19, 20.
Paulus se suksesvolle predikingswerk het nie net baie mense beweeg om hulle aanbidding van die godin Artemis te laat vaar nie, maar het ook die toorn verwek van diegene wat hierdie heidense aanbidding bevorder het. Die vervaardiging van silwertempeltjies van Artemis was ’n winsgewende bedryf. Omdat die silwersmede se handel bedreig is, het ’n sekere Demetrius hulle opgesteek om in oproer te kom.—Handelinge 19:23-32.
Die konfrontasie het ’n klimaks bereik toe die skare twee uur lank histeries geskreeu het: “Groot is Artemis van die Efesiërs!” (Handelinge 19:34). Nadat die opskudding bedaar het, het Paulus sy mede-Christene weer eens aangemoedig, en toe het hy sy reis voortgesit (Handelinge 20:1). Die feit dat hy na Masedonië vertrek het, het egter nie die agteruitgang van die gedoemde kultus van Artemis gestuit nie.
Die tempel van Artemis wankel
Die kultus van Artemis was stewig gevestig in Efese. Voor die tyd van koning Kroisos was die moedergodin Kubele die hoofkarakter van die godsdienslewe in daardie gebied. Deur ’n mitiese verwantskap tussen Kubele en die Griekse gode te skep, het Kroisos gehoop om ’n godsdiensfiguur tot stand te bring wat vir Grieke sowel as nie-Grieke aanvaarbaar sou wees. Met sy ondersteuning het werk aan die tempel van Kubele se opvolger, Artemis, in die middel van die sesde eeu v.G.J. begin.
Die tempel was ’n mylpaal in Griekse argitektuur. Nog nooit tevore is sulke groot marmerblokke gebruik om ’n gebou van hierdie aard en grootte op te rig nie. Daardie tempel is in 356 v.G.J. deur ’n brand vernietig. Die herboude tempel was net so luisterryk en was ’n belangrike bron van werksgeleenthede asook ’n groot aantreklikheid vir pelgrims. Dit was ongeveer 50 meter breed en 105 meter lank en is gebou op ’n platform wat ongeveer 73 meter breed en 127 meter lank was. Dit is beskou as een van die sewe wêreldwonders. Maar nie almal was gelukkig daarmee nie. Die filosoof Heraklitus van Efese het die donker paadjie na die altaar met die duisternis van verdorwenheid vergelyk, en volgens hom was die tempelsedes erger as dié van diere. Vir die meeste mense het dit egter gelyk asof die heiligdom van Artemis in Efese nooit sou verval nie. Die geskiedenis het die teendeel bewys. Die boek Ephesos—Der neue Führer (Efese—die nuwe gids) sê: “Teen die tweede eeu het die aanbidding van Artemis en van ander gevestigde gode van die panteon skerp afgeneem.”
In die derde eeu G.J. is Efese deur ’n hewige aardbewing geskud. Daarbenewens is die indrukwekkende skatte van die tempel van Artemis deur seevarende Gote van die Swart See geplunder, wat toe die tempel aan die brand gesteek het. Die bogenoemde boek sê: “Hoe kon Artemis veel langer as die beskermster van die stad beskou word, aangesien sy oorwin is en nie in staat was om haar eie woning te beskerm nie?”—Psalm 135:15-18.
Teen die einde van die vierde eeu G.J. het keiser Teodosius I uiteindelik “die Christelike godsdiens” as die Staatsgodsdiens bevestig. Die klipwerk van die eens indrukwekkende tempel van Artemis is weldra opgebreek en as boumateriaal gebruik. Die aanbidding van Artemis het geheel en al verdwyn. ’n Ongenoemde waarnemer wat kommentaar gelewer het oor ’n epigram wat die tempel as ’n wêreldwonder van die Oudheid verheerlik, het gesê: “Dit is nou ’n uiters verlate en ellendige plek.”
Van Artemis tot die “moeder van God”
Paulus het die ouer manne van die gemeente in Efese gewaarsku dat “onderdrukkende wolwe” ná sy vertrek te voorskyn sou kom en dat manne uit hulle eie midde sou opstaan en “verdraaide dinge [sou] spreek” (Handelinge 20:17, 29, 30). Dit is presies wat plaasgevind het. Gebeure toon dat valse godsdiens in Efese beoefen is in die vorm van die afvallige Christelike godsdiens.
In 431 G.J. is die derde algemene konsilie in Efese byeengeroep, waar die geskil oor die natuur van Christus bespreek is. Ephesos—Der neue Führer verduidelik: “Die oorwinning van die Aleksandryne, wat gesê het dat Christus alleenlik een natuur het, naamlik die goddelike, . . . was beslissend.” Die gevolge was verreikend. “Die besluit wat in Efese geneem is, waardeur Maria van die status van draer van Christus tot die status van draer van God verhef is, het nie net die grondslag vir die kultus van Maria gelê nie, maar ook die eerste groot skeuring in die kerk veroorsaak. . . . Die debat duur tot vandag toe voort.”
Die aanbidding van Kubele en Artemis is dus vervang deur die aanbidding van Maria, die “draer van God”, of die “moeder van god”. Volgens die boek “is die Kultus van Maria in Efese . . . vandag nog ’n lewende tradisie, wat nie sonder die Kultus van Artemis verklaar kan word nie.”
In die asblik van die geskiedenis
Ná die kwyning van die aanbidding van Artemis het die ondergang van Efese gekom. Aardbewings, malaria en die geleidelike toeslikking van die hawe het die lewe in die stad al hoe moeiliker gemaak.
Teen die sewende eeu G.J. het Islam met sy omvattende uitbreiding begin. Islam het hom nie daartoe beperk om Arabiese stamme onder sy ideologie te verenig nie. Arabiese vlote het Efese regdeur die sewende en agtste eeu G.J. geplunder. Efese se lot is eens en vir altyd beslis toe die hawe heeltemal toegeslik en die stad ’n puinhoop geword het. Van daardie luisterryke metropolis het daar net een klein nedersetting met die naam Ajasoluk (nou Selçuk) oorgebly.
’n Besoek aan die ruïnes van Efese
Om ’n idee te kry van die voormalige glorie van Efese, kan ’n mens sy ruïnes besoek. As jy jou toer by die boonste ingang begin, sal jy onmiddellik beloon word met ’n pragtige uitsig oor die Straat van Curetes tot by die Biblioteek van Celsus. Aan die regterkant van die straat sal die Odeon—’n klein teater wat in die tweede eeu G.J. gebou is—jou aandag trek. Dit het sitplek vir sowat 1 500 mense gehad en was waarskynlik nie net as ’n raadsaal gebruik nie, maar ook vir openbare vermaak. Aan weerskante van die Straat van Curetes is daar geboue, soos die Staatsagora waar Staatsaangeleenthede bespreek is, die tempel van Hadrianus, ’n paar openbare fonteine en terrashuise—wonings van vooraanstaande Efesiërs.
Die elegante Biblioteek van Celsus, wat in die tweede eeu G.J. opgerig is, is ’n pragtige gebou. Sy groot aantal boekrolle is in nisse in ’n groot leeskamer gehou. Die vier beelde in die manjifieke fasade van die gebou het tipiese eienskappe uitgebeeld wat van ’n hooggeplaaste Romeinse staatsamptenaar soos Celsus verwag is, naamlik: Sofia (wysheid), Arete (deug), Ennoia (toegewydheid) en Episteme (kennis of begrip). Die oorspronklike beelde kan in die Efese-museum in Wene gesien word. ’n Massiewe deur langs die voorhof van die biblioteek lei jou na die Tetragonos-agora, die markplein. Op hierdie yslike plein, wat omring was deur oordekte wandelpaadjies, het die mense hulle daaglikse sake gedoen.
Hierna kom jy by Marmerweg uit, wat na die groot teater lei. Ná die laaste uitbreiding in die tyd van keiserlike Rome het die teater sitplek vir omtrent 25 000 toeskouers gehad. Die fasade was ryklik versier met pilare, reliëfwerk en beelde. ’n Mens kan jou duidelik die groot opskudding voorstel wat Demetrius die silwersmid veroorsaak het onder die skare wat daar bymekaargekom het.
Die straat wat van die groot teater na die stad se hawe loop, is indrukwekkend. Dit is ongeveer 500 meter lank en 11 meter breed, en daar is pilare aan weerskante. Die teatergimnasium en die hawegimnasium, wat albei vir fisiese oefening gebruik is, is ook langs hierdie pad gebou. Die imposante hawepoort aan die onderpunt van die straat was die poort tot die wêreld, en hier kom ons kort toer deur van die wêreld se fassinerendste ruïnes tot ’n einde. Daar is ’n houtmodel van hierdie geskiedkundige metropolis sowel as ’n hele paar gedenkwaardighede in die Efese-museum in Wene.
Wanneer ’n mens deur die museum loop en die beeld van die Efesiese Artemis sien, kan jy nie help om te dink aan die volharding van die vroeë Christene in Efese nie. Hulle moes woon in ’n stad wat diep betrokke was by spiritisme en wat deur godsdiensvooroordeel verblind is. Die aanbidders van Artemis het die Koninkryksboodskap hewig teëgestaan (Handelinge 19:19; Efesiërs 6:12; Openbaring 2:1-3). In daardie onontvanklike milieu het ware aanbidding wortelgeskiet. Hierdie aanbidding van die ware God sal ook seëvier wanneer hedendaagse valse godsdiens tot ’n einde kom, net soos die eertydse aanbidding van Artemis.—Openbaring 18:4-8.
[Kaart/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MASEDONIË
Swart See
KLEIN-ASIË
Efese
Middellandse See
EGIPTE
[Prent op bladsy 27]
Ruïnes van die tempel van Artemis
[Prente op bladsy 28, 29]
1. Biblioteek van Celsus
2. Arete, van naby beskou
3. Marmerweg, wat na die groot teater lei