Saulus se predikingswerk wek vyandskap
DIE Jode in Damaskus kon dit nie verstaan nie. Hoe kon ’n vurige verdediger van ortodoksie ’n afvallige word? Saulus het immers die mense wat Jesus se naam aangeroep het, in Jerusalem vervolg. Hy het na Damaskus gekom om die dissipels hier te vervolg. Maar nou verkondig hý dat dieselfde veragte misdadiger wat vir godslastering aan ’n paal gehang is, die Messias is! Het Saulus sy verstand verloor?—Handelinge 9:1, 2, 20-22.
Dalk was daar ’n verklaring. Ander wat in dieselfde groep saam met Saulus van Jerusalem af gereis het, het waarskynlik gepraat oor wat op die pad gebeur het. Toe hulle Damaskus genader het, het daar skielik ’n helder lig rondom hulle geflits, en hulle het almal op die grond geval. Hulle het ook die geluid van ’n stem gehoor. Niemand behalwe Saulus is beseer nie. Hy het op die pad gelê. Toe hy uiteindelik opgestaan het, moes ander reisigers hom in Damaskus inlei omdat hy niks kon sien nie.—Handelinge 9:3-8; 26:13, 14.
’n Teenstander word ’n voorstander
Wat het op die pad na Damaskus met Saulus gebeur? Het die lang reis of die hitte van die middagson hom dalk aangetas? Hedendaagse skeptici, wat vasbeslote is om ’n natuurlike verklaring te vind, noem moontlikhede soos ylhoofdigheid, hallusinasies, ’n ernstige sielkundige krisis as gevolg van die wroeging van Saulus se gekwelde gewete, ’n senuwee-ineenstorting en ’n veronderstelde vatbaarheid vir epilepsie.
In werklikheid het Jesus Christus in daardie verblindende lig aan Saulus verskyn en hom oorreed dat Hy die Messias is. Sommige prente wat hierdie episode uitbeeld, toon hoe Saulus van ’n perd afval. Hoewel dit moontlik is, sê die Bybel eenvoudig dat hy “op die grond geval” het (Handelinge 22:6-11). Watter letterlike val Saulus ook al ondervind het, dit was nie naastenby so groot soos die val uit die aansien van sy posisie nie. Hy moes nou erken dat Jesus se volgelinge die waarheid verkondig het. Vir Saulus was daar geen ander uitweg as om by hulle aan te sluit nie. Saulus, wat ’n aggressiewe vyand van Jesus se boodskap was, het nou een van die ywerigste voorstanders daarvan geword. Toe hy weer kon sien en gedoop is, het “Saulus . . . al hoe meer krag verkry en . . . die Jode wat in Damaskus gewoon het, oorbluf, aangesien hy logies bewys het dat dit die Christus is”.—Handelinge 9:22.
’n Sluipmoordkomplot misluk
Waarheen het Saulus, wat later Paulus genoem is, ná sy bekering gegaan? Toe hy aan die Galasiërs geskryf het, het hy gesê: “Ek het na Arabië vertrek en weer na Damaskus teruggekom” (Galasiërs 1:17). Die term “Arabië” kan ’n reis na enige deel van die Arabiese Skiereiland beteken. Sommige geleerdes doen aan die hand dat Paulus moontlik na die Siriese Woestyn of na ’n ander plek in die Nabateense koninkryk van Aretas IV gegaan het. Saulus het heel waarskynlik ná sy doop na ’n stil plek gegaan om te peins, net soos Jesus ná sy doop in die wildernis ingegaan het.—Lukas 4:1.
Toe Saulus na Damaskus teruggekeer het, “het die Jode saam beraadslaag om hom om die lewe te bring” (Handelinge 9:23). Die goewerneur wat koning Aretas se verteenwoordiger in Damaskus was, het die stad bewaak om Saulus gevange te neem (2 Korintiërs 11:32). Maar terwyl vyande saamgesweer het om Saulus dood te maak, het Jesus se dissipels sy ontsnapping beplan.
Onder diegene wat die apostel gehelp het om te ontsnap, was Ananias en die dissipels wie se geselskap Saulus net ná sy bekering geniet het (Handelinge 9:17-19).a Sommige wat weens Saulus se predikingswerk in Damaskus gelowiges geword het, het dalk ook gehelp, want Handelinge 9:25 sê: “Sy dissipels [het] hom geneem en hom in die nag deur ’n opening in die muur neergelaat deur hom in ’n mandjie te laat sak.” Die uitdrukking “sy dissipels” verwys moontlik na diegene wat deur Saulus onderrig is. Hoe dit ook al sy, die resultate wat hy in sy bediening behaal het, het waarskynlik die vyandigheid aangeblaas wat daar alreeds teenoor hom was.
’n Les vir ons
Wanneer ons van die gebeure ondersoek wat met Saulus se bekering en doop gepaardgegaan het, kan ons duidelik sien dat hy nie oorbesorg was oor hoe ander hom beskou het nie; ook het hy nie weens hewige teenstand tou opgegooi nie. Vir Saulus was die predikingsopdrag wat hy ontvang het, die belangrikste oorweging.—Handelinge 22:14, 15.
Het jy onlangs tot die oortuiging gekom dat dit belangrik is om die goeie nuus te verkondig? Indien wel, weet jy dat alle ware Christene Koninkryksverkondigers moet wees. Jy moenie verbaas wees as jou bediening soms vyandige reaksies uitlok nie (Matteus 24:9; Lukas 21:12; 1 Petrus 2:20). Die manier waarop Saulus teenstand die hoof gebied het, is navolgenswaardig. Christene wat onder beproewinge volhard en nie tou opgooi nie, sal God se guns geniet. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees.” Nogtans het hy hulle verseker: “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf.”—Lukas 21:17-19.
[Voetnoot]
a Die Christelike godsdiens het Damaskus moontlik ná Jesus se prediking in Galilea of ná Pinkster 33 G.J. bereik.—Matteus 4:24; Handelinge 2:5.
[Prent op bladsy 28]
Saulus het “op die grond geval” toe Jesus aan hom verskyn het
[Prent op bladsy 29]
Saulus het ontsnap toe ’n sluipmoordkomplot in Damaskus teen hom gesmee is