‘As jy gekommandeer word’
“JY DAAR! Hou dadelik op waarmee jy besig is en kom dra vir my hierdie pak.” Hoe dink jy sou ’n besige Jood in die eerste eeu gereageer het as ’n Romeinse soldaat dit vir hom gesê het? In sy Bergpredikasie het Jesus aanbeveel: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Hoe sou Jesus se toehoorders daardie raad verstaan het? En wat behoort dit vandag vir ons te beteken?
Om die antwoorde te kry, moet ons iets weet van verpligte diens in die ou tyd. In Jesus se dag was die bewoners van Israel maar alte bekend met daardie gebruik.
Verpligte diens
Daar is reeds uit die 18de eeu v.G.J. bewyse van verpligte diens (of, korvee) in die Nabye-Ooste. Administratiewe tekste uit die antieke Siriese stad Alalakh praat van korveespanne wat deur die regering opgeroep is vir persoonlike diens. In Ugarit, aan die Siriese kus, was pagboere onderworpe aan soortgelyke pligte tensy die koning hulle daarvan vrygestel het.
Volke wat verower of onderwerp is, is natuurlik dikwels ingespan om dwangarbeid te verrig. Egiptiese onderdrukkers het die Israeliete verplig om as slawe vir hulle bakstene te maak. Die Israeliete het later Kanaänitiese inwoners van die Beloofde Land slawearbeid laat verrig, en Dawid en Salomo het soortgelyke gebruike beoefen.—Eksodus 1:13, 14; 2 Samuel 12:31; 1 Konings 9:20, 21.
Toe die Israeliete ’n koning gevra het, het Samuel verduidelik watter regmatige eise die koning aan hulle sou kon stel. Hy sou sy onderdane gebruik om strydwadrywers en ruiters te wees, om te ploeg en te oes, om wapens te maak, ensovoorts (1 Samuel 8:4-17). Gedurende die bouwerk aan Jehovah se tempel is vreemdelinge wel aan slaafse dwangarbeid onderwerp, maar “Salomo het nie een van die kinders van Israel ’n slaaf gemaak nie; want hulle was die krygsmanne en sy knegte en sy vorste en sy adjudante en hoofde van sy strydwadrywers en van sy ruiters”.—1 Konings 9:22.
Aangaande die Israeliete wat aan bouprojekte gewerk het, sê 1 Konings 5:13, 14: “Koning Salomo het deurentyd diegene wat tot dwangarbeid opgeroep is, uit die hele Israel laat opkom; en diegene wat tot dwangarbeid opgeroep is, was dertigduisend man. En hy het hulle in groepe van tienduisend per maand na die Libanon gestuur. ’n Maand het hulle op die Libanon gebly, twee maande by hulle huis.” “Daar bestaan geen twyfel nie”, sê een geleerde, “dat die Israelitiese en Judese konings van korvee gebruik gemaak het om onbetaalde arbeid te kry vir hulle bouwerk sowel as vir werk op die kroongrond.”
Onder Salomo was die las swaar. Dit was so erg dat, toe Rehabeam gedreig het om hierdie laste swaarder te maak, die hele Israel in opstand gekom en die beampte gestenig het wat oor dié was wat tot dwangarbeid opgeroep is (1 Konings 12:12-18). Maar die gebruik is nie afgeskaf nie. Asa, Rehabeam se kleinseun, het mense uit Juda opgeroep om die stede Geba en Mispa te bou, en “niemand was vrygestel nie”.—1 Konings 15:22.
Onder Romeinse oorheersing
Die Bergpredikasie toon dat eerste-eeuse Jode geweet het dat hulle ‘gekommandeer’ kon word. Hierdie uitdrukking vertaal die Griekse woord ag·ga·reuʹo, wat oorspronklik verband gehou het met die werk van Persiese koeriers. Hulle het die gesag gehad om mense, perde, skepe of enigiets anders te kommandeer wat hulle nodig gehad het om staatsaangeleenthede vinnig af te handel.
In Jesus se dag is Israel deur die Romeine beset, wat van ’n soortgelyke stelsel gebruik gemaak het. In die Oosterse provinsies kon verpligte werk, benewens normale belasting, op ’n gereelde grondslag of in buitengewone omstandighede van die bevolking geëis word. Sulke pligte sou op sy beste ongewild wees. Daarbenewens was ongemagtigde beslaglegging op diere, drywers of waens vir staatsvervoer iets algemeens. Volgens die geskiedkundige Michael Rostovtzeff het administrateurs die gebruik “sonder sukses probeer reguleer en sistematiseer, want solank die gebruik bestaan het, sou dit noodwendig bose gevolge hê. Edik op edik is uitgevaardig deur die prefekte, wat in alle eerlikheid die eiemagtigheid en die onderdrukking wat inherent was aan die stelsel, probeer stopsit het . . . Maar die gebruik het onderdrukkend gebly.”
“Enigiemand kon gekommandeer word om die leër se bagasie ’n sekere afstand te dra”, sê een Griekse geleerde, en “enigiemand kon gedwing word om enige diens te verrig wat die besettingsmag op hom wou lê”. Dit het met Simon van Sirene gebeur, wat deur Romeinse soldate “gekommandeer” is om Jesus se folterpaal te dra.—Matteus 27:32.
Rabbynse tekste verwys ook na hierdie ongewilde gebruik. Een rabbi is byvoorbeeld gekommandeer om mirtebome na ’n paleis te vervoer. Arbeiders kon van hulle werkgewers weggeneem word en ander take gegee word, terwyl die werkgewers nog steeds hulle loon moes betaal. Pakdiere of osse kon gekommandeer word. As hulle hoegenaamd terugbesorg is, was hulle waarskynlik nie in ’n toestand om verder te kan werk nie. Jy kan sien waarom kommandering sinoniem was met beslaglegging. ’n Joodse spreuk het dus gesê: “Angareia is soos die dood.” Een geskiedskrywer sê: “’n Dorpie kon heeltemal te gronde gaan as ploegosse in plaas van goedgekeurde trekdiere vir angareia gekommandeer is.”
Jy kan jou net voorstel hoe ongewild hierdie dienste was, veral aangesien dit dikwels op aanmatigende en onregverdige wyse opgelê is. As ’n mens in gedagte hou hoeveel haat die Jode gekoester het vir die nie-Joodse magte waardeur hulle oorheers is, kan jy verstaan in watter mate die vernedering om gedwing te word om sulke lastige arbeid te verrig, hulle gegrief het. Geen bestaande wet sê vir ons presies hoe ver ’n burger gedwing kon word om ’n las te dra nie. Baie sou waarskynlik nie bereid wees om een tree verder te gaan as wat die wet vereis het nie.
Nogtans was dít die gebruik waarna Jesus verwys het toe hy gesê het: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Toe hulle dit gehoor het, het party sekerlik gedink dat hy onredelik was. Presies wat het hy bedoel?
Hoe Christene moet reageer
Eenvoudig gestel, Jesus het vir sy toehoorders gesê dat hulle, as iemand met gesag hulle dwing om die een of ander soort wettige diens te verrig, dit gewillig en sonder gegriefdheid moes uitvoer. Hulle moes dus ‘wat aan die keiser behoort, aan die keiser’ betaal, maar nie die verpligting uit die oog verloor om ‘wat aan God behoort, aan God’ te betaal nie.—Markus 12:17.a
Daarbenewens het die apostel Paulus Christene gemaan: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas. Daarom het hy wat die owerheid teëstaan, teen die reëling van God stelling ingeneem . . . As jy doen wat sleg is, moet jy vrees: want dit is nie verniet dat hy die swaard dra nie.”—Romeine 13:1-4.
Jesus en Paulus het dus erken dat ’n koning of ’n regering die reg het om straf uit te deel aan diegene wat nie aan hulle eise gehoor gee nie. Watter soort straf? Die Griekse filosoof Epiktetus, van die eerste en tweede eeu G.J., voorsien een antwoord: “As daar ’n onvoorsiene eis is, en ’n soldaat neem jou jong esel, laat dit gaan. Moet jou nie teësit nie, moenie murmureer nie, sodat jy nie slae kry asook die esel verloor nie.”
Maar in antieke sowel as hedendaagse tye, het Christene soms gevoel dat hulle nie met ’n rein gewete aan die eise van die regering kon voldoen nie. Soms was die gevolge ernstig. Party Christene is tot die dood veroordeel. Ander het baie jare in die tronk deurgebring omdat hulle geweier het om deel te neem aan dinge wat na hulle mening hulle neutraliteit sou skend (Jesaja 2:4; Johannes 17:16; 18:36). By ander geleenthede het Christene gevoel dat hulle kon doen wat van hulle gevra is. Party Christene voel byvoorbeeld dat hulle met ’n rein gewete onder ’n burgerlike owerheid algemene dienste in die gemeenskap kan verrig. Dit behels moontlik dat hulle hulp aan die bejaardes of gestremdes verleen, as brandweermanne dien, strande skoonmaak, in parke, woude of biblioteke werk, ensovoorts.
Situasies verskil natuurlik van land tot land. Daarom moet elke Christen sy Bybelopgeleide gewete volg wanneer hy besluit om eise na te kom of nie.
Die tweede myl
Die beginsel wat Jesus geleer het, naamlik om gewillig te wees om regmatige versoeke uit te voer, geld nie net vir regeringsvereistes nie, maar ook vir alledaagse menseverhoudinge. Byvoorbeeld, iemand met gesag oor jou vra jou moontlik om iets te doen wat jy nie eintlik wil doen nie, maar wat nie in stryd met God se wet is nie. Hoe sal jy reageer? Jy voel dalk dat onredelike eise aan jou tyd en energie gestel word en toon dalk jou verontwaardiging. Die gevolg kan kwade gevoelens wees. Aan die ander kant, as jy dit met ’n stuurse houding uitvoer, kan jy jou innerlike vrede verloor. Die oplossing? Doen wat Jesus aanbeveel het—gaan die tweede myl saam. Moenie net doen wat jy gevra is nie, maar doen selfs meer as wat gevra is. Doen dit gewillig. Met hierdie gemoedstemming sal jy nie meer voel dat jy misbruik word nie, en tog sal jy vry wees om die meester van jou eie optrede te wees.
“Baie mense gaan deur die lewe en doen net die dinge wat hulle gedwing word om te doen”, sê een skrywer. “Vir hulle is die lewe ’n sware las, en hulle is altyd moeg. Ander doen meer as wat van hulle vereis word en gee mildelik van hulleself.” In werklikheid bied baie situasies die keuse om net een myl onder dwang te gaan—of twee. In die eerste geval wil ’n persoon dalk op sy regte staan. In die tweede sal hy dalk sy lonendste ondervindinge geniet. Watter soort persoon is jy? Jy sal waarskynlik baie gelukkiger en baie produktiewer wees as jy jou bedrywighede kan beskou, nie as blote pligte of dinge wat jy moet doen nie, maar as dinge wat jy wil doen.
En sê nou jy is iemand wat gesag het? Dit is baie duidelik dat dit nie liefdevol of Christelik is om jou gesag te gebruik om ander te dwing om onwillig te doen wat jy hulle vra nie. “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen”, het Jesus gesê. Maar dit is nie die Christelike manier nie (Matteus 20:25, 26). ’n Outoritêre benadering lewer moontlik resultate op, maar hoeveel beter sal die verhoudinge onder al die betrokkenes tog nie wees as vriendelike en gepaste versoeke met respekvolle en vriendelike samewerking beantwoord word nie! Ja, ’n bereidwilligheid om twee myl te gaan en nie net een nie, kan jou lewe werklik verryk.
[Voetnoot]
a Vir ’n volledige bespreking van wat dit vir Christene beteken om “aan die keiser terug [te betaal] wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort”, sien Die Wagtoring, 1 Mei 1996, bladsye 15-20.
[Venster op bladsy 25]
MISBRUIK VAN KOMMANDERING IN DIE OU TYD
Kommandering is dikwels gebruik as ’n voorwendsel om dienste af te dreig, soos gesien kan word uit regulasies om hierdie misbruike te voorkom. In 118 v.G.J. het Ptolemeus Euergetes II van Egipte beveel dat sy amptenare “geeneen van die bewoners van die land vir private dienste mag kommandeer nie of enige van hulle beeste vir hulle eie doeleindes mag opeis (aggareuein) nie”. Verder: “Niemand mag . . . bote om hoegenaamd enige rede vir sy eie gebruik opeis nie.” In ’n inskripsie uit 49 G.J., in die Tempel van die Groot Oase, Egipte, het die Romeinse prefek Vergilius Capito erken dat soldate dinge onwettig opgeëis het, en hy het beveel dat “niemand . . . enigiets mag neem of opeis nie, tensy hy ’n skriftelike magtiging van my het”.
[Prent op bladsy 24]
Simon van Sirene is gekommandeer
[Prent op bladsy 26]
Baie Getuies het tyd in die tronk deurgebring omdat hulle by hulle Christelike standpunt gebly het